DIS NIE GENOEG NIE
Die Burger, 15 Julie 1978, bladsy 6
Dit is ’n fout om te dink dat die subjektiewe erns en toewyding waarmee ’n mens jou godsdiens beoefen, as sodanig kan bepaal of jou godsdienstigheid die egte artikel is. Daar is so-iets as ’n eiewillige godsdiens wat met groot erns beoefen kan word, maar wat in sigself dwaasheid is, waardeloos en selfs skadelik, omdat dit nie opkom uit die waarheid van God se openbaring nie en dus ook nie in ooreenstemming is met die diens wat God van ons vra nie.
Niemand sal byvoorbeeld kan twyfel aan die subjektiewe erns waarmee talle aanhangers van die nie-Christelike godsdienste hul godsdiens beoefen nie. Dikwels is hul offerbereidheid, selfkastyding en gewilligheid om tot in die fynste besonderhede hul godsdienstige voorskrifte na te kom, vir ’n Christen beskamend. En tog sal geen Christen daaraan twyfel dat daardie soort godsdiens, hoe opreg dit ook bedoel word, God nie kan behaag nie, omdat dit Sy openbaring in Christus nie ken nie en dus in die laaste instansie niks anders as ydelheid kan wees nie.
As ’n mens dit insien, kan jy ook geredelik begryp dat dit moontlik is dat die godsdiens van baie Christene ook nie die toets van egtheid kan deurstaan nie, ondanks die feit dat dit vir hulle groot erns· kan wees. Dit is immers moontlik dat ook hulle eiewillig kan wees in hulle godsdiens en dat hulle met die Bybel in die hand aan die waarheid van Gods Woord kan verbygaan.
Godsdienstigheid sonder meer is dus nie genoeg nie. Daar is so iets as ware godsdiens en valse godsdiens. Godsdiens as sodanig is ’n algemeen menslike verskynsel wat net so sterk deur die sonde aangetas is as enige ander ding wat met die mens te make het. Daarom is dit begryplik dat godsdiens so maklik kan ontaard, skeef kan groei, ja, dat die mens dit selfs kan gebruik as ’n manier om van God weg te vlug. Christus het in sy aardse lewe meer te velde getrek teen die godsdienstige huigelary van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes as teen die ongodsdienstige lewenswandel van die ʺtollenaars en die sondaars”. Die rede daarvoor is nie dat Hy nie sonde van die tollenaars en andere gering geag het nie, maar dat Hy die sonde van die godsdienstige mens wat juis sy godsdiens bewustelik of onbewustelik misbruik om homself teen God te verskans, gevaarliker geag het as die sonde van die openlike ongodsdienstige mens.
’n Mens kan jou godsdiens gebruik as ’n vyeblaar om jou onwil om jouself te bekeer, mee te bedek. Jy kan vir jou ’n godsdiens maak wat jou pas, en dan selfs baie fanatiek wees in die beoefening daarvan, net omdat jy eintlik nie kans sien vir die werklike oorgawe en prysgawe van jouself aan God wat in die Christelike geloof van jou gevra word nie. Dit is nie verniet dat Christus in sy gelykenisse juis die priesters en die Leviete, die mense met die lang gebede en die godsdienstige pligpleginge, so sleg daarvan laat afkom het nie.
Godsdienstigheid as sodanig is nie genoeg nie. Wat gevra word, is ’n godsdiens waarin die wil van God gedoen word. – WDJ