Dit is nie vreemd nie

DIT IS NIE VREEMD NIE
Die Burger, 29 Julie 1978, bladsy 8

As ’n mens die Bybelse voorskrifte oor hoe ons behoort te lewe aandagtig bestudeer, val dit jou op dat die Bybel baie selde iets van ons vra wat nie ook buite die Bybel om as goed en reg beskou word nie. Klaarblyklik weet ook die mens buite Christus goed genoeg wat reg en verkeerd is.

Deur die eeue heen het ongelowige en selfs heidense mense verkondig dat liefde beter is as haat, dat eerlikheid en opregtheid en billikheid van alle mense verwag word en dat dit verkeerd is om aan jou medemens iets te doen wat jy nie aan jouself gedoen sou wil hê nie.

Dit is daarom nie so vreemd dat daar buite die kerk dikwels ’n beskamende graad van insig in morele waardes aangetref kan word nie. Dikwels is dit self so dat ongelowiges die kerk in die skadu stel vanweë hulle ywer vir wat moreel reg en goed is. Niemand minder nie as Abraham, die vader van die gelowiges, moes deur ’n heidense koning berispe word oor sy immoraliteit om ’n leuen te vertel oor sy vrou Sara.

Deur die eeue het dit meermale gebeur dat die wêreld al lankal die moraliteit van ’n bepaalde nuwe ontwikkeling gesnap het, terwyl die kerk nog met ’n groot mate van wroeging sukkel om tot helderheid daaroor te kom. So was dit met die kwessie van die afskaffing van slawerny, maar daar sou nog meer sulke voorbeelde genoem kan word. Die bekende Abraham Kuyper het die beroemde uitspraak gemaak dat die wêreld mens dikwels aangenaam kan verras, terwyl die kerk jou kan teleurstel (“de wêreld valt mee en de kerk valt tegen”).

Weer eens is dit is nie so vreemd nie. God het deur sy barmhartigheid nog nie die ongelowige wêreld aan homself oorgelaat nie. Daar is in die wêreld nog baie dinge wat die kwaad beteuel. Een daarvan is die insig in wat moreel reg en verkeerd is. Daardeur laat God homself nie onbetuig in die wêreld wat sonder Hom probeer lewe nie. Hy hou die wêreld nog vas. In die algemene morele besef en selfs in die humanisme moet ons dus tekens sien van Gods geduld wat die chaos in die wêreld nog teëhou en menslike lewe moontlik maak.

Die kerk het geen rede om te smaal oor die natuurlike goedheid en die sin vir menslike waardes wat hy oral rondom hom kan opmerk nie. Hy het eerder rede tot skaamte dat hy soms agterbly by die wêreld in sy insig en ywer wanneer dit om die opheffing van immorele toestande en die vernedering van mense gaan.

Wat die kerk wél het en wat die wêreld nie het nie, is die evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is nie ’n nuwe stel morele reëls nie, maar die boodskap van verlossing wat ’n mens bevry en jou in staat stel om vir die eerste keer op die regte manier te kan doen wat moreel reg is. Die evangelie bring ons in die regte verhouding tot God, tot ons naaste en tot onsself – en dit is die sleutel tot die nuwe lewenswandel waarin reg kan geskied aan die ideaal van die goeie waarvan die onverloste wêreld wel kennis het, maar wat hy nooit uit eie krag kan verwesenlik nie. – WDJ