Krities en sinies

KRITIES EN SINIES
Die Burger, 19 Augustus 1978, bladsy 6

Dit is baie belangrik dat ’n mens jouself moet afvra wat jou basiese instelling teenoor ander mense en ook teenoor die lewe oor die algemeen is. Sonder dat ’n mens dit besef, kan jy ’n suur, negatiewe, hiperkritiese instelling teenoor ander mense en die wêreld in jou omdra. Omdat dit vir jouself en ander soveel skadelike gevolge kan hê, is dit goed as ’n mens dit vroegtydig ontdek.

Daar is natuurlik ’n sin waarin enige mens krities ingestel behoort te wees. Sonder ’n goeie kritiese sin is dit onmoontlik om goed en kwaad, waardevol en waardeloos, blywende betekenis en verbygaande glorie van mekaar te onderskei.

Maar ’n mens kan ook in ’n verkeerde sin krities wees. Dan het jy nie maar net die vermoë om dinge na waarde te takseer nie, maar jy het by voorbaat ’n negatiewe instelling wat meebring dat in die wêreld en in die mense rondom jou bitter weinig is wat guns in jou oë kan vind.

Wie die prooi geword het van ’n hiperkritiese instelling, kom op die lange duur in ’n soort geestelike kramp waarin op ’n siniese wyse altyd weer gesoek word na redes waarom alles en almal neergehaal moet word. Dat dit dan nie meer om ’n gesonde kritiese sin gaan nie, kan daaruit blyk dat by jou ’n element van irrasionele benadering tot mense en dinge opduik. Daar bly immers net enkele dinge oor wat wel nog vir waardering in aanmerking kom, en dit is meestal dinge wat nie soveel van al die ander verskil nie, behalwe dat hulle aan die kritikus self behoort of aan sy enkele vriende, of dat hulle in elk geval saamhang met die een of twee dinge of mense wat hy verabsoluteer en as die maatstaf vir alle andere beskou.

Die kritiese en siniese mens is dus eintlik nie krities genoeg nie. Hy is meer bevooroordeeld as wat hy werklik in die goeie sin van die woord krities is. En daarom openbaar sy hiperkritiese houding dat daar innerlik iets met hom verkeerd is.

Een van die redes waarom ’n mens so maklik in ’n hiperkritiese gees kan verval, is dat dit so geleerd, vernaam en intellektueel voorkom. Dikwels is dit ’n versoeking wat hom ook bepaaldelik aan intelligente en ontwikkelde mense opdring. En tog is dit so onsmaaklik, omdat dit meer ’n soort intellektuele vertoon as werklike intelligensie openbaar.

Maar die grootste tragiek van alles is dat ’n mens in jou hiperkritiese en siniese houding bewys dat dit jou aan liefde ontbreek. Die liefde is mild genoeg om ’n mens positief te maak, selfs in jou kritiek. Dit laat jou waardeer wat daar te waardeer is, omdat dit jou eerder laat soek na wat goed is, as na wat sleg is. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles, sê Paulus in 1 Korintiërs 13. Dit maak ’n mens vry van die innerlike kramp, laat jou jouself vergeet en help jou om eers werklik objektief na ander mense en dinge te kyk.

Waar die Gees van Christus woon, woon ook die liefde. En waar die liefde is, kom daar ’n vreugde wat weier om in negatiwiteit versmoor te word. – WDJ