GEE DIT OOR
Die Burger, 26 Augustus 1978, bladsy 8
Miskien ly sommige van ons meer daaronder as ander, maar daar sal tog seker niemand wees wat nie die pyn ken van kwelling, vrees en sorge nie. Veral in die nag kan alles nog soveel vreesliker lyk. Spookbeelde spring in ons verbeelding na vore. Al die verskriklike moontlikhede wat kan gebeur, doem voor ons op. Die sagste bed kan ’n pynbank word. As ’n mens ooit bewus kan word van die mag wat die duiwel oor ons brose vleeslike bestaan het, dan is dit seker op die punt van sy sukses daarmee om ons besorg, bekommerd en bevrees te maak.
’n Dominee wat naby sy aftree-ouderdom was, het eenkeer aan sy gemeente gesê dat hy in sy lewe één groot ding geleer het, en dit is dat die dinge wat hy die meeste gevrees het, nooit gebeur het nie. ’n Mens kan jou voorstel dat daar ’n sug van verligting in meer as een hart geslaak is by die mededeling. Maar almal van ons sal ook besef dat so ’n versekering nog nie genoeg is om ons te help in ons sorge en vrese nie. Wie sê immers dat wat in sy geval waar was, ook in ons lewe waar sal wees? Dit is juis die wese van vrees dat dit aan ons voortower dat dit in ons eie geval nie goed sal gaan nie.
Daar is eintlik net een raad teen vrees en sorge, en dit is om alles aan God oor te gee. Dit is nie maklik nie. ’n Mens kan net jou sorge aan God oorgee as jy Hom werklik vertrou. Vrees en vertroue staan lynreg teenoor mekaar. Dit is dus ’n stryd om iets aan God oor te gee. Ons hele vleeslike natuur met sy ingeboude wantroue teenoor God probeer ons daarvan weerhou. Selfs as ons besluit om ons sorge op Hom te werp, gebeur dit dikwels dat ons net daarna weer van voor af begin pieker en alles weer uit Gods hand terugneem.
En tog is dit moontlik om in hierdie stryd te oorwin. Dit vra oefening en volharding. Dit kos vasberadenheid om nie toe te laat dat vrees en sorge weer in ons hart terugkruip nadat ons dit aan God afgegee het nie. Sonder gebed kan dit nie gebeur nie. Maar so word ons tog meer volwasse in die geloof. Ons slaag daarin om alles so volkome aan God oor te gee dat dit net eenvoudig nie saak maak as selfs die ergste wat ons vrees, tog miskien waar sou word nie.
Stanley Jones skryf dat dit vir ’n volwasse Christen nie meer as ’n uur of twee behoort te kos om weer sy ewewig te herstel nadat hy ernstige geestelike skokke opgedoen het wat sy gemoed hewig ontstel nie. Miskien is dit te optimisties bereken. Maar selfs al sou dit ons langer neem, is dit ’n saak van die grootste belang dat ons onsself daarin moet oefen om te oorwin oor angs en sorge, sodat ons tot rus kan kom in die sekerheid dat ons uiteindelik veilig is in die hand van God.
Omdat dit waar is dat God in Christus al ons benoudhede op Hom geneem het, kan ons met veiligheid ons grootste angste aan Hom oorlaat. Hy sorg vir ons. – WDJ