DIE SENDING
Die Burger, 2 September 1978, bladsy 8
In ons tyd word die vraag in alle erns gestel watter reg die aanhangers van één godsdiens het om sendingwerk te doen onder die aanhangers van ander godsdienste. Is alle godsdienste nie maar in wese gelyk nie? Is almal nie maar die relatiewe, gebrekkige, menslike antwoorde op die kontak tussen die mens en die geheimenisvolle werklikheid wat ons God noem nie? Is dit dan nie beter dat die verskillende godsdienste mekaar verdra en eerder met mekaar op ’n vlak van gelykheid in dialoog tree, as om met die pretensie te kom dat een alleen die ware godsdiens is nie?
Dié soort gedagtes is nie nuut nie. Frederik die Grote het al gesê dat elke mens salig sal word volgens sy eie geloof. Lessing het in die agtiende eeu met sy bekende werk “Natan die Wyse” probeer aantoon dat dit onmoontlik is om te weet watter godsdiens die ware is, en dat dit eers maar in die verre toekoms sal blyk watter godsdiens die beste vrugte afgewerp het en homself só as waar bewys het.
Deesdae hoor ons van byeenkomste van aanhangers van verskillende godsdienste wat hulle onderlinge eenheid probeer beklemtoon, en daar word gehoop dat daar uiteindelik één wêreldgodsdiens sal wees. In so ’n gedagteklimaat is daar vir sendingwerk geen plek nie. Dit lyk selfs aanmatigend.
Die Christen kan hom egter nooit daarby neerlê nie. Hy is daarvan oortuig dat alle godsdienste nie gelyk is nie. Hoewel hy nie sal erken dat daar in alle godsdienste ’n element van groot erns kan wees en dat alle godsdienste op die een of ander manier ook goeie vrugte kan afwerp nie, is hy tog daarvan oortuig dat dit in die verskille tussen godsdienste ten diepste om die waarheidsvraag gaan. Vanuit sy ontmoeting met die evangelie van Jesus Christus is hy daarvan oortuig dat die aanspraak van Christus dat Hy die Waarheid en die enigste Weg na die Vader is (Johannes 14:6 tot 9), van sodanige aard is, dat ’n mens dit net kan aanneem of verwerp.
Christus laat Homself nie inpas tussen ander godsdienstige leiers of godsdiens-stigters nie. Hy is nie maar één weg onder andere nie. Die evangelie van Christus kan daarom nie gerelativeer word deur dit saam met andere op één lyn te stel as gelykwaardige menslike pogings om iets van God te probeer verstaan nie. ’n Mens kan nie Christus aanvaar as die Weg en die Waarheid en naas Hom ook nog ruimte daarvoor laat dat ander godsdienste óók die weg na die Vader kan wees nie.
Wie dit aanmatigend of onverdraagsaam noem, bewys daarmee net dat hy nog nie self dié ontmoeting met die evangelie van Christus gehad het nie, want as jy dit gehad het, is dit vir jou geen kwessie van aanmatiging meer nie, maar doodgewoon ’n belydenis van ’n feit waarby jy nie kan verbykom nie.
Solank daar nog mense is wat dié ervaring met die evangelie het, sal die Christelike sending nie geblus kan word nie. Want wie Christus werklik ontmoet het, kan nie anders as om daarvan te getuig dat Hy alleen die Waarheid is nie. – WDJ