GEE WAT U VRA
Die Burger, 9 September 1978, bladsy 6
DAAR is ’n beroemde gebed van die kerkvader Augustinus waarin hy onder andere sê: “Gee wat U vra, en vra dan wat U wil”. Hierdie woorde was uiters irriterend vir Augustinus se groot teenstander, Pelagius, wat daarin niks anders kon sien as die miskenning van die mens se vryheid en verantwoordelikheid nie.
Vir Pelagius was Augustinus veels te behep met die mens se sondigheid, sy onvermoë tot die goeie en sy onbekwaamheid uit eie krag aan die eise van Gods wet te voldoen. Hy sou baie liewer aan die mens die boodskap wou deurgee dat hy wel in staat is tot die goeie, as hy maar net wil. Hy was bevrees dat Augustinus se opvattinge sou lei tot morele laksheid en onverskilligheid.
Maar dit is duidelik dat Pelagius die diepte van Augustinus se gedagtes nie gepeil het nie. Augustinus het veel beter as Pelagius verstaan hoe diep die menslike onvermoë tot die goeie lê en hoe onmoontlik dit vir ons is om onafhanklik van God te doen wat in geestelike en morele opsig van ons gevra word.
Augustinus se opvattinge is gedra deur sy eie ervaring en ’n lewe van worsteling met homself, maar dit is veral ook gebaseer op die Bybelse boodskap van die onmag van die mens om homself te bekeer as dit nie aan hom as ’n geskenk van God gegee word nie. En hy het maar alte goed besef dat die beklemtoning van die menslike verantwoordelikheid alleen nie genoeg is om die mens van sy innerlike verkeerdheid te bevry nie. Slegs as God aan ons gee wat Hy van ons vra, kan ons dit ook werklik doen.
Daarin lê egter ook opgesluit dat daar byna geen grens is aan wat die mens wel kan doen as God dit aan hom gee om dit te kan doen nie. As God by voorbaat die krag waarborg vir die verrigting van ’n taak of vir die gehoorsaamheid aan wat Hy van ons vra, kan Hy inderdaad van ons vra net wat Hy wil, en ons sal dit doen.
Daar is dus nie so iets as dat God van ’n mens die onmoontlike verwag nie, want wat by die mens onmoontlik is, is moontlik by God. Wat ons nooit uit eie krag sou kon doen nie, kan ons maklik doen as Hy dit aan ons gee om dit te doen.
Dit geld nie net vir die bekering, die geloof, die oorwinning oor die verkeerde in ons eie lewe en die volharding in ons stryd nie. Dit geld ook vir die baie donker dinge wat oor ons weg kan kom. As ’n mens by voorbaat dink aan wat dit sou moet beteken as jy jou man of vrou deur die dood moet verloor, as jou seun op die grens moet sterf, as jy moet hoor dat jy aan ’n ongeneeslike kwaal ly – en noem maar die dinge op wat ’n mens se lewe kan breek – dan wéét jy: Dit sal te veel wees vir my. Maar as God wil toelaat dat ek langs die donker weg moet gaan en Hy wil dat ek soos ’n Christen dit alles moet deurleef en Hy gee my wat Hy vra, dan sal ek daartoe in staat wees.
God kan aan my gee om die onmoontlike te doen, naamlik om aan myself te sterwe en enkel vir hom te lewe. Hy wil net dat ek sal vra dat Hy dit moet gee. – WDJ