Beskikbaar

BESKIKBAAR
Die Burger, 23 September 1978, bladsy 8

Die reformatoriese leer van die regverdiging deur die geloof alleen het ingrypende implikasies vir die manier waarop ’n mens in die wêreld staan. Dit hou immers in dat ’n mens ter wille van Christus voor God regverdig gereken word. So ’n mens se diepste werklikheid is dan nie meer in homself geleë nie, maar in Christus.

Dit is nie wat hy in homself is of uit homself kan presteer wat ’n mens se identiteit uitmaak nie. Sy identiteit is dat hy in Christus ’n nuwe skepsel is en dat sy lewe aan hom geskenk word van buite homself.

As die mens dit werklik verstaan, maak dit hom vry van die dodelike binding aan homself wat ons sondige menslike bestaan kenmerk. Hy behoort immers nie meer aan homself nie, en is daarom totaal beskikbaar vir God en vir sy naaste. Daar is ’n bekende gebed van John Wesley waarin hy gesê het: ʺEk is nie langer meer my eie nie, maar Uwe. Maak met my net wat U wil, verbind my met wie U wil; stel my in diens, bring my in lyding; laat my ingespan word vir u werk, of eenkant geplaas word vir U, verhoog word vir U, of verneder word vir U; laat my vol wees of laat my leeg wees; laat my alles besit of laat my niks hê nie. Ek onderwerp myself vrywillig en van harte aan alle dinge wat U behaag – en ek, is tot u beskikking.”

Wanneer ’n mens dit kan bid, nie maar as lippetaal nie, maar in volledige oorgawe, is hy werklik vry, omdat hy ’n dienskneg van Christus is. So ’n mens het nie meer ’n eie selfbeeld wat hy moet verdedig, ’n eie status wat hy moet handhaaf, ’n eie ambisie wat hy moet bevredig en ’n eie sin en wil wat hy teen elke prys wil deurdryf nie. Hy is beskikbaar. Hy kan enige kant uit – solank dit in ooreenstemming met die wil van God is.

Paulus het verstaan wat dit beteken toe hy geskryf het dat hy geleer het om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin hy is. “Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:12 tot 13).

Dit gaan in hierdie totale oorgawe van ’n mens self nie om ’n oplossing van die self nie; inteendeel, dit gaan daarom dat ’n mens jouself vir die eerste keer werklik vind. ’n Mens vind jouself eers as jy jouself prysgee en nie meer krampagtig oor jouself geboë is nie.

’n Mens word eers werklik beskikbaar vir die lewe as jy jou nie meer oor jouself bekommer nie, selfs nie eens meer oor jou gebrekkigheid en swakheid nie, omdat jy dit alles gelowig in die hande lê van die Here wie se eiendom jy is. Dietrich Bonhoeffer het in sy gevangeskap ook diep bewus geword van sy eie innerlike verdeeldheid en swakheid, maar sy triomf was dat hy kon bid: “Wat ek ook al is, Here, U weet dit – ek is Uwe!”

’n Mens kan nie beskikbaar wees vir God en jou medemense solank jy jouself net vir jouself opeis nie. – WDJ