VOLWASSENHEID
Die Burger, 30 September 1978, bladsy 10
Daar is in die laaste tyd dikwels gesê dat die mens van ons tyd die stadium van volwassenheid bereik het. In teenstelling tot die mens van vorige eeue, sou die mens van vandag mondig wees, sy kinderskoene uitgetrek het en hom deur redelikheid en saaklikheid laat lei.
Dit was veral Dietrich Bonhoeffer, wat in sy gedagtes en briewe uit die gevangenis beklemtoon het dat die mens mondig geword het en dat hy daarom ook religieloos geword en geleer het om in die wêreld te lewe “asof God nie bestaan nie”. Sedertdien is die gedagte eindeloos herhaal, sodat dit naderhand byna begin lyk asof dit as ’n vanselfsprekende waarheid, ’n aksioma beskou moet word.
En tog is dit eintlik verskriklik pateties as ’n mens daaroor nadink: Want hoe meer die mens van homself sê dat hy mondig en volwasse is, hoe skriller is die kontras wat tussen die aanspraak en die werklikheid van die lewe van die mens sigbaar word. Die chaotiese toestand waarin die wêreld vandag verkeer, is allermins ’n vingerwysing na ’n hoë graad van volwassenheid onder die mense.
Die groot menigte beantwoord ook allermins aan die beskrywing van mondigheid wat Bonhoeffer voor oë gestaan het. Hy mag ’n aantal buitengewone individue geken het wat indruk op hom gemaak het met hul saaklikheid en volwassenheid. Die meeste mense is dit egter klaarblyklik nie.
Selfs die religieloosheid waarvan hy gepraat het, blyk nie waar te wees nie. Ons tyd is al weer geweldig religieus, maar ongelukkig is dit ’n religieusiteit wat volgens Christelike maatstaf ’n valse religieusiteit genoem moet word. Ons beleef die opbloei van magie en mistiek, van bygelowe en ideologieë, en die mens is maar nog net dieselfde wat hy altyd was.
Egte volwassenheid is dan ook nie iets wat ’n mens se deel word as hy homself losgemaak het van God en meen dat hy op sy eie bene kan staan. nie. Dit sou ’n mens eerder kon vergelyk met die ingebeelde volwassenheid van ’n kleuter wat sy pa se hoed opsit en sy skoene aantrek. Op sy beste is dit potsierlik.
Ware volwassenheid het te doen met geestelike en morele kwaliteite wat van sodanige aard is dat dit nie maar deur ’n wilsbesluit tot stand kan kom nie, maar die resultaat is van ’n ingrypende verandering van die menslike natuur, soos dit alleen uit die wedergeboorte kan voortkom.
Die mens wat werklik volwasse is, het ’n rypheid in sy emosionele lewe, in sy wil en denke, in sy reaksies en ambisies – ’n rypheid wat alleen kan voorkom by iemand wat homself hervind het aan die ander kant van die prysgawe van sy ou sondige self in die kruisiging met Christus. Paulus weet van volwassenheid as die opgroei van ’n mens tot die maat van die volle grootte van Christus (Efesiërs 4:13).
Christus is die maatstaf van wat volwassenheid werklik is. Alle ander vorme van “volwassenheid” skiet oneindig ver te kort by wat die mens bedoel is om te wees. – WDJ