SELEKTIEWE BEKERING
Die Burger, 13 Januarie 1979, bladsy 8
Bekering is nie iets wat maar net een maal in ’n mens se lewe plaasvind en dan agter die rug is nie. In werklikheid is dit ’n omvattende proses wat ’n mens se hele lewe omspan. Altyd ontdek jy weer nuwe dinge waarvan jy jou behoort te bekeer. Altyd is daar weer rede tot berou en omkeer. Klaarblyklik is die kwaad in ons so radikaal dat ’n hele lewe daarvoor nodig is om dit af te lê.
Daarby word die proses van bekering in ons belemmer deur ’n diepgewortelde weerstand in ons hart teen die volledige omkering van ons lewe. Die ingrypende verandering van ons lewe verloop dan ook nooit sonder stryd nie. Die sonde gee nie maklik die houvas prys wat hy op ons het nie. Daar is naïewe mense wat dit voorstel asof alles in ’n mens se lewe sommer so maklik opeens vernuwe word, sodat geen verset teen die genade meer oorbly nie. Dikwels sê hulle dit uit ’n oppervlakkige ervaring met hulself. Hulle het die diepte van die kwaad wat in hulle woon nog nie by benadering ontdek nie.
Trouens, dit is juis een van die doeltreffende tegnieke van die bose in ons, dat dit ons onder die illusie bring dat ons bekering volkome is en dat daar geen weerstand teen God meer in ons is nie. Solank ons onder die verkeerde indruk verkeer, is ons houtgerus en onoplettend en merk ons self nie in hoeveel opsigte ons nog ongehoorsaam, traag en oneerlik in ons verhouding teenoor God is nie.
Dit hang hiermee saam dat die bose ons daartoe verlei om onsself op ’n selektiewe manier te bekeer. Ons weet dat daar dinge in ons lewe is wat nie reg is nie. Ons voel daar moet iets gebeur. En nou slaag die bose daarin om ons te bedreig deurdat ons bereid word om ons van sekere dinge te bekeer, en dan hierdie selektiewe bekering van ons gebruik as ’n alibi om ons nie werklik radikaal te bekeer nie. Ons bekeer ons dan van die dingetjies wat ons nie te veel kos nie, maar ons hou sorgvuldig die belangrikste dinge agter die hand. Ons maak soos die Ryk Jongman wat bereid was om sy ouers te eer, geen egbreuk te pleeg nie en alles te doen wat die wet mag vra, terwyl hy sorgvuldig sy matelose liefde vir sy besittings uit sy bekering wou uitsluit (Lukas 18:18 en volgende).
Baie mense is bereid om baie godsdienstige dinge te doen, om ure lank te bid, om hul Bybels te lees en die tekste met allerlei kleure potlode te onderstreep. Maar hulle is nie altyd bereid om hul vooroordeel teenoor ander mense te erken of af te lê nie. Christus het gepraat van die Fariseërs wat die muggie uitsif en die kameel insluk, omdat hulle bereid was om tiendes te gee van anys en koljander, maar die swaarste van die wet nagelaat het, naamlik die liefde en die barmhartigheid. Dit is presies wat selektiewe bekering altyd doen. Dit maak ons streng oor ditjies en datjies, terwyl ons harte liefdeloos bly en ons oë geslote vir die werklike kwaad. Bedrieglik is die hart bo alle dinge. – WDJ