DIT LYK ONMOONTLIK
Die Burger, 20 Januarie 1979, bladsy 10
Die boodskap van die evangelie lyk so uiters onprakties en onmoontlik as ’n mens met ’n vleeslike oog daarna kyk. ’n Mens sou immers kan sê dat as die hart van die evangelie daarin klop, dat liefde sterker is as haat, dat barmhartigheid sterker is as die vertrapping van die naaste, dat vriendelikheid sterker is as wrewel en minagting. Die Bybel laat ons immers sien dat God, wat in Homself die liefde, die barmhartigheid en die vriendelikheid vanself is, sterker is as al die gekombineerde magte van die haat en die boosheid waarmee die Satan teen Hom opstaan. En op grond daarvan roep die Bybel ook op om die bose te oorwin deur die goeie.
Maar in die praktyk van die lewe lyk dit alles so anders. Daar merk ons daagliks hoe dit juis die magte van liefdeloosheid, haat en bitterheid, minagting en verwerping van die medemens is wat blykbaar die geskiedenis beheers. Wie van liefde en mildheid praat in die klipharde wêreld van die handel en die industrie, die politiek en die ekonomie, word as ’n onpraktiese idealis beskou – iemand wat miskien goed genoeg is om toesprakies vir vrouens te hou, maar onbruikbaar vir die werklike wêreld waarin ons leef. In dié wêreld geld uiteindelik – hoe gekamoefleerd en gepoleerd dit ook mag wees – niks anders nie as die wet van die oerwoud. Daar is eiebelang die hoogste wet. Dit is al wat sukses kan behaal. “Nice guys come second”.
Binne so ’n klimaat groei ons kinders op. Al geskied dit nooit openlik nie en al word hulle nooit in soveel woorde geleer dat die hoogste wet vir sukses in die lewe die wet van die oerwoud is nie, weet hulle dit tog intuïtief. Dit sit in die lug wat hulle inasem. En dit vind aanklank by hul hart, wat van nature tog niks anders as dit kan verstaan nie.
Daarom is die evangelie ook so vreemd in die wêreld. Dit staan eenvoudig haaks op alles wat vir ons vanselfsprekend lyk. Om tog op een of ander manier met die evangelie te kan saamlewe moet ons natuurlik ’n plan daarmee maak. Daar is baie doeltreffende maniere om lippediens aan die evangelie te bewys, en tog in die praktyk by iets totaal anders as die evangelie te lewe.
Een van die doeltreffendste maniere is om die evangelie in ’n geestelike kompartement te plaas. Dit is iets vir Sondag. Dit is iets vir die kerk. Dit is iets wat ’n soort estetiese en idealistiese waarde bet. Dit gee ’n sekere versiering aan die lewe, waarsonder alles darem te bar en te prosaïes sou wees. Dit bevredig iets in ons, omdat ons, hoe dan ook, tog nie kan ontkom daaraan dat ons wéét dat die ewigheid in die hart van die mens gelê is nie. Net al: die evangelie is nie iets vir die hele lewe nie. As ons by die realiteite kom, is die evangelie vergete.
En ons merk nie dat dit die oorsaak is daarvan dat die wêreld met sy realiteite so ’n chaos is nie. – WDJ