Verootmoediging

VEROOTMOEDIGING
Die Burger, 27 Januarie 1979, bladsy 8

Die woord ootmoed beteken onderworpenheid, nederigheid. In ons spraakgebruik hanteer ons dit selde wanneer ons praat oor ons verhouding tot medemense. Ons reserveer dit byna uitsluitend vir ons verhouding tot God. Daarom het dit vir die meeste van ons die betekenis van selfvernedering voor God, die neerbuiging voor Sy aangesig in die erkenning van ons afhanklikheid van Hom, maar veral ook van ons skuld voor Hom.

In hierdie betekenis word dit ook gebruik as ons van tyd tot tyd onder besondere omstandighede ’n dag van verootmoediging uitroep. Dit is ’n gebaar waarmee ons wil sê dat ons tot stilstand kom en ons voor die aangesig van God stel om daarmee te betuig dat ons onsself aan Hom en sy oordele onderwerp, maar juis só in nederigheid ons toevlug tot Hom neem in ons nood.

Dit is eintlik iets wat die individuele Christen daagliks behoort te doen. Ons hele lewe behoort nie anders as in diepe ootmoed voor God geleef te word nie. Calvyn het die verloëning van onsself voor God en die medemense die kern van die hele Christelike lewenswandel genoem. Daarin lê die ootmoed vanself opgesluit. ’n Gelowige mens is eintlik per definisie ’n ootmoedige mens, anders verstaan hy sy geloof verkeerd.

Maar al is dit ook waar dat ons hele lewe ’n lewe in ootmoed behoort te wees, kom daar tog tye van besondere verootmoediging. Daar kan besonder pynlike situasies opduik. ‘n Mens kan skade en skande belewe. Jy kan mislukkings maak wat jou totaal ontsenu. Jou weg kan doodloop.

Wanneer sulke dinge gebeur, keer ’n Christen in tot die gebed. Hy buig homself laag neer voor God. Hy soek na die doel van God met die verbysterende dinge wat gebeur het. Hy stel sy hart oop voor God. Hy vra wat en waar dit dan verkeerd geloop het. Hy wag en hy luister, totdat die lig weer deurbreek. As hy hom op die regte manier voor God verootmoedig, kom hy anders uit die situasie uit as wat hy daar ingegaan het. Daar vind ’n nuwe inkeer tot God plaas. Daar kom groter versigtigheid, groter afhanklikheid van God.

Wat waar is van die individu, kan ook waar wees van ’n gemeenskap. Wanneer ’n gemeenskap ervaar dat sy weg op verskillende punte doodloop en dat allerlei donker wolke van alle kante rondom hom saampak, is dit tyd om hom te verootmoedig. Maar dan moet dit egte verootmoediging wees, in die sin van opregte en heelhartige selfvernedering voor God.

Dit moet nie in die eerste plek gaan om die uitkoms of die voorspoed wat ons begeer nie, maar om ons verhouding tot God self. Anders kom ons nie bokant die peil van die primitiewe godsdienstigheid uit nie, waar aan God geoffer word sodat Hy die mens kan dien.

Die groot vraag is wat God vir ons wil sê. En of ons werklik bereid is om te luister. Anders is alles tevergeefs. – WDJ