DIT IS ’N GESKENK
Die Burger, 3 Februarie 1979, bladsy 8
Dit is ’n groot geskenk van God as ’n mens kan leer om andere lief te hê, juis ook mense wat van jou verskil en volgens die normale beginsels van die natuurlike mens vir jou onaanvaarbaar is. Uit ’n mens se eie soek jy net altyd diegene uit wat by jou pas of diegene van wie jy meen dat hulle iets vir jou kan beteken.
Jy bly staan so maklik by diegene wat aan jou verbind is deur bande van bloed of gemeenskaplike belange. Maar God wil hê dat ons liefde veel verder sal strek. Dit behoort almal te omvat wat Hy op ons weg bring.
In hierdie opsig behoort die kerk vir ons ’n uitstekende leerskool te wees, want in die kerk van Christus word alle mense saamgevoeg – nie weens hul natuurlike verwantskap of eendersheid nie, maar op grond van hulle gemeenskaplike verlossing deur Christus. Dit beteken dat ’n mens in die kerk moet kan leer om mense te aanvaar en lief te hê wat jy normaalweg miskien nie eens sou ontmoet het nie, of wat nie tot jou sosiale kring behoort nie. In die kerk kan ’n mens immers nie self bepaal wie jou broeders en susters moet wees nie: hulle word aan jou deur God self gegee.
In ’n pragtige hoofstuk in een van sy boeke oor die Heilige Gees skryf Andrew Murray oor die liefde wat daar tussen Christene behoort te bestaan. Hy wys daarop dat dit opvoedkundig waar is dat die vermoë om te kan onderskei en verskille raak te sien, een van die eerste is wat in kinders ontwikkel. Daarenteen is die vermoë om te kan verbind, om die harmonie te ontdek wat te midde van klaarblyklike verskille bestaan, ’n hoër vaardigheid wat eers later ontwikkel en in sy hoogste werking alleen by die genie aangetref word.
Murray maak dit van toepassing op die lewe van Christene en die kerk. Dit verg nie veel genade, sê hy, om te weet waar ons van ander Christene of kerke verskil nie, maar dit is ’n groot genade as ’n mens die eenheid van die Gees kan ontdek en bewaar ondanks uiterlike verskille. Dit is alleen die mens wat homself aan die Gees van God oorgee, wat kan triomfeer oor die natuurlike afkeer wat ons soms van ander Christene kan hê, en ons in staat stel om die eenheid van die Gees te belewe – óók met hulle wat van ons verskil.
Dit laat ’n mens dink aan die woord van Christus uit die Bergrede oor die tollenaars wat net diegene groet en liefhet wat hulle groet en liefhet. Dit is iets so algemeen mensliks om te doen, dat dus selfs die onverloste mens daartoe in staat is. Maar juis daarom is dit vir ’n dissipel van Christus totaal benede die maat. Die Christelike liefde kan nie bly staan by sulke grense nie. Liefde wat daarby bly staan, is nie Christelike liefde nie.
Daarteenoor is die egte Christelike liefde met sy ruimte en omvattendheid ’n egte geskenk van God wat saamhang met die verlossing self. Maar dit is ’n geskenk waarvoor ook gevra moet word. Want daar is Christene wat dit nog nie ontvang het nie. – WDJ