DIT IS NET SO ERG
Die Burger, 10 Februarie 1979, bladsy 8
Daar bestaan ’n algemene neiging by ons om vorme van kwaad wat minder opvallende en grusame effekte vertoon, as minder ernstig te beskou as dié wat wel sulke resultate het. ’n Bekende voorbeeld hiervan is die wyse waarop ons die universele gebruik om van ander mense kwaad te praat, as ’n minder ernstige sonde beskou as moord of diefstal.
Selfs in die mees beskaafde geselskap is dit nie vreemd dat harde en onverantwoordelike dinge van ander mense gesê word nie – natuurlik altyd agter hulle rug, want wie is nou so ongemanierd om sommer in ’n man se gesig allerlei lelike dinge van hom te sê? Niemand vind dit ook erg nie. Waarskynlik bely baie min van ons dit in ons binnekamer of teenoor diegene wat ons veronreg het.
Dit is net asof skinder een van die ordentlike sondes geword het waarvan ons blykbaar dink dat dit toelaatbaar is.
En tog is dit volgens die Bybel nie minder ernstig as moord of ander gewelddadige sondes nie. Dit is opmerklik dat Paulus dit opneem onder die sondes wat ’n mens van die Koninkryk uitsluit – tensy jy jou daarvan bekeer. Dit kom immers op uit dieselfde liefdelose wortel waaruit moord, diefstal en alle vorme van veronregting van die naaste opskiet. In wese is dit ook niks minder kwaadaardig as al die soort wanpraktyke nie.
Die feit dat dit nie dadelik skouspelagtige effekte vertoon nie, beteken nie dat dit minder ernstig is as moord, aanranding of verkragting nie. Skindertaal is in staat om mense se lewe totaal te vernietig, en omdat dit ’n pes is wat in die donker wandel, is dit onstuitbaar, onbeheerbaar en uiters effektief. Dit rig mure van vooroordeel op, breek mense se invloed af en kan onnoemlike leed veroorsaak. Intussen gaan die skindertonge en die verspreiders van onware verhale en indrukke rustig hul gang – ordentlik, beskaaf, onvatbaar vir die regsprosedures wat die kwaad in ander gevalle van misdaad aan die kaak stel.
Die ergste is dat daar ook tussen Christene soveel verwydering kan ontstaan, omdat die waarheid nie altyd geëer of selfs gesoek word nie. Baie van die onmin tussen die verskillende kerke hang saam met valse indrukke wat van mekaar bestaan en liefdelose dinge wat van mekaar gesê word, sonder dat die waarheid daarvan gekontroleer word.
Soos wat ’n mens soms in stomme verbasing moet merk watter vreemde indruk mense van jou het, omdat hulle deur allerlei skinderstories onder ’n wanindruk gebring is, so merk ’n mens dikwels ook as lid van ’n kerkgemeenskap dat andere ’n totaal skewe beeld van jou kerk het.
Dit is ondenkbaar hoeveel skade op hierdie manier aan mense persoonlik en aan die saak van Gods koninkryk gedoen word. Dit is iets waarvan·ons onsself moet bekeer. Dit verstik die siel en bedroef die Gees. – WDJ