Dit gaan veel dieper

DIT GAAN VEEL DIEPER
Die Burger, 17 Februarie 1979, bladsy 8

Die Pous het met sy afwysing van die sogenaamde “teologie van bevryding” tydens sy onlangse besoek aan Mexiko skerp reaksie uitgelok by diegene wat glo dat dit die roeping van die kerk is om homself aan die kant van die onderdruktes te skaar en deel te neem aan hul stryd teen die magte van verdrukking.

Vir hierdie standpunt beroep hulle hulself daarop dat Jesus self in sy aardse lewe altyd die kant van die swakkes, die armes en die verdruktes sou gekies het. Hulle wys ook daarop dat God in die Ou Testament altyd geteken word as die God wat Hom die lot van die weduwees en die wese, die armes en die verdruktes aantrek.

Wat die kerk betref, redeneer hulle dat geloof wat nie in dade uitdrukking vind nie, ‘n dooie geloof is. Die dade waarin die geloof moet blyk, verstaan hulle veral as dade van maatskaplike en politieke betekenis; dade wat help om die wêreld te verander, sodat dit leefbaarder kan word, deurdat reg verskaf word aan die verontregtes en nuwe hoop aan diegene wat uitgelewer is aan die lyding en ellende wat saamhang met hulle hopelose maatskaplike posisie.

Die fout wat hierdie mense in hulle denke maak, is nie daarin geleë dat hulle wys op die deernis en barmhartigheid wat God en Christus teenoor die armes, die lydendes en die verdruktes openbaar nie. Dit lê ook nie daarin dat hulle meen dat ‘n Christen se geloof in dade openbaar moet word nie, en hulle het ook gelyk dat onder dié dade ook dade op die terrein van die maatskaplike en politieke lewe gereken moet word.

Hul fout lê in die subtiele verskuiwing van aksent vanaf die deernis van Christus vir die armes, na die idee van die partydigheid van Christus vir die armes as klas en sy gevolglike deelname aan die revolusionêre stryd teen die rykes as klas. Daarvoor vind ons in die Bybel geen grond nie.

Die indeling van die samelewing in twee klasse kom van Marx af, nie van Jesus nie. Die armes was nie vir Christus ‘n klas met wie se stryd teen die rykes Hy Homself vereenselwig het nie. Natuurlik het Hy Hom hulle lot aangetrek. Maar Hy het Homself ook die lot van die rykes en onderdrukkers aangetrek.

Hy het gekom om alle mense te verlos van die sonde, ryk en arm. En dit gaan veel dieper as ‘n klassestryd. Want agter verdrukking, veronregting en lyding sit die mag van die sonde. Christus het gekom om die werke van die duisternis te verbreek, en dit is iets veel radikaler as revolusie. Dit is wedergeboorte.

Dit beteken geensins dat Christus die rykes dus maar stilswyend toegelaat het om in selfsug voort te lewe terwyl andere van honger sterf nie. Hy het nie ongeregtigheid goedgekeur nie. Maar Hy het óók nie mense verwerp net omdat hulle ryk is of hulle salig gespreek net omdat hulle arm is nie. Christus was teen alle kwaad en lyding en vir alle mense. Sy metode was nie die van geweld nie.

Die verlossing wat Hy bring, lê veel dieper as die wat die revolusionêre belowe. Hy maak immers alle dinge nuut. – WDJ