Hoe vry is ons?

HOE VRY IS ONS?
Die Burger, 24 Februarie 1979, bladsy 8

Daar is deur die eeue veel gestry oor die vraag of ’n mens ’n vrye wil het. Filosowe en teoloë het met ewe veel vuur verdedig dat die mens volkome vry is in sy beslissings én dat die mens geen wilsvryheid het nie, maar heeltemal beheer word deur magte buite hom; deur eie begeertes wat sy hart vul; deur sy eie motiewe en ideale.

Dit is nie maar ’n teoretiese kwessie nie, want vir die praktyk van ons lewe is daaraan veel geleë. Gestel dat die mens heeltemal die produk van faktore buite homself sou wees, dan sou ons hom nie meer verantwoordelik kon hou vir wat hy doen nie, en dit sou lei tot volslae fatalisme. Niemand kan dit regtig aanvaar nie. Die besef van die menslike sedelike verantwoordelikheid is daarvoor te groot.

Gestel egter ons sou aanvaar dat die mens heeltemal vry is in sy wilsbeslissings en deur geen faktore van buite beïnvloed word in sy keuses nie, dan sou dit tog óók nie met die werklikheid strook nie. Ons weet tog dat ’n mens beïnvloed word deur allerlei faktore van binne en buite.

Dat die mens vir sy eie besef vry is in sy keuses en dat hy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar, net soos hy ook deur andere verantwoordelik gehou word, beteken nog nie dat ’n mens absoluut vry is om enigiets te wil nie. Wat ’n mens wil, word tog bepaal deur die soort mens wat hy is. Sy keuse is vry in die sin dat dit sy keuse is en niemand anders s’n nie.

Maar sy keuse word tog bepaal deur die soort oorweging wat vir hom deurslaggewend is, deur die begeertes wat sy hart vul, deur sy eie motiewe en ideale. En nou is dit juis in ’n mens se motiewe, begeertes en wense – die dinge wat die openbaring is van sy eie diepste self – dat hy so totaal onvry kan wees. Juis daarin word dit sigbaar waardeur hy werklik beheer word.

As hy beheer word deur selfliefde, selfsug, trots, onreinheid, oneerlikheid en dergelike dinge, dan ervaar hy dit natuurlik nie as magte wat van buite af oor hom heers nie. Hy ervaar dit as sy eie wil en begeerte om die dinge te doen wat die uitvloeisel is van die verkeerdheid van sy hart, en hy merk nie dat hy daarin onder die heerskappy staan van wat die Bybel die mag van die ongeregtigheid noem nie.

Vryheid om te doen wat ’n mens graag wil, is slawerny onder die mag van die sonde, omdat hyself onder die heerskappy van die sonde verkeer.

Die belangrike vraag is dus nie of ’n mens so iets as ’n vrye wil het nie, maar watter soort vryheid ons het. As ’n mens se hart deur die Gees van God beheers word, is hy vry om te kies in ooreenstemming met die liefde, die vriendelikheid, die geregtigheid. Dit is egte vryheid. Aan die inhoud van ’n mens se vryheid word dit duidelik of dit egte vryheid is en of dit slawerny is. Egte vryheid lê in ’n mens se hart. Slegs wie vry is om die goeie te wil, is werklik vry. – WDJ