IN DIENS DAARVAN
Die Burger, 3 Maart 1979, bladsy 8
Daar is geen mens wat sommer net neutraal leef nie. Daar is altyd bepaalde dinge of waardes, gedagtes en ideale wat ons wil bevorder. Op die een of ander manier staan ons almal in diens van iets wat ons as van die hoogste belang beskou.
Dit is waar dat ons daarby verskillend optree. Afhangende van ’n mens se geaardheid kan jy natuurlik aggressief, vurig en militant vir ’n bepaalde idee veg, of jy kan byna volkome passief maar net in ’n bepaalde rigting rem. Jy kan ’n betoging lei of ’n seepkissie-toespraak hou, of jy kan maar net behoort tot die swyende meerderheid.
Maar wat jy nie kan doen nie, is om heeltemal vir niks te staan nie. Dit is onmoontlik. ’n Mens staan altyd vir iets. Hy dien altyd ’n bepaalde saak.
Dit is noodsaaklik dat ’n mens die tyd sal afstaan om jouself krities af te vra in diens waarvan jy nou eintlik staan. In en deur al die baie dinge waarmee ’n mens elke dag te doen het, is jy tog op ’n konstante manier besig om die wêreld in ’n bepaalde rigting te probeer beïnvloed, om sekere gedagtes te laat posvat of te bestendig, om sekere dinge af te breek en andere op te bou.
Wat is dit wat jy presies daarmee wil bereik? Gestel die diens wat jy aan jou saak lewer, sou só suksesvol wees dat die wêreld in sy geheel gevorm sou word – volgens jou ideaal – hoe sou die wêreld dan gewees het?
Dit is net moontlik dat ’n mens kan ontdek dat die saak waarvoor jy staan, nie ’n baie verhewe karakter dra nie.
Dit kan miskien nie veel meer wees nie as die blote bevrediging van jou eie behoeftes en daarmee klaar. Baie mense leef miskien só.
Iemand het êrens geskryf dat die basiese mag wat die mensdom beheers, doodgewone vraatsug is. Dit is ’n harde oordeel. Dit is veral ’n harde oordeel as ons daaraan dink dat die mensheid oor die algemeen voorgee dat hy in diens staan van baie verhewe ideale: geregtigheid, menseregte, broederskap tussen die volkere en sulke dinge meer.
Blykbaar is ons meesters daarin om die werklike dinge in diens waarvan ons staan, ook vir onsself te verberg agter die masker van loflike ideale. Dan glo ons naderhand self dat ons edel is, terwyl ons dit allermins is.
Ons staan in diens van die ongeregtigheid, maar ons glo kliphard self dat ons in diens staan van die geregtigheid. Dit sou wonderlik gewees het as ons werklik in diens gestaan het van die verhewe dinge waarvan ons voorgee dat dit eintlik is wat ons najaag!
’n Christen behoort in diens te staan van die koninkryk van God, met alles wat dit inhou. Hy behoort in diens te staan van verlossing en vrede, versoening en reg. Hy behoort die saak van Christus in die wêreld met hart en siel te dien.
Dit is pynlik dat ons daarin so dikwels en so gruwelik te kort skiet. Maar dit moet dan ten minste ons eerlike bedoeling en gebed wees om oral en altyd positief die eer van God en die heil van die mense te dien. – WDJ