WEERLOOS
Die Burger, 17 Maart 1979, bladsy 8
Daar is ’n bepaalde sin waarin die geloof weerloos is teenoor die ongeloof. Van ’n mens se geloof kan jy alleen maar getuig, maar jy het dit nie in jou hand om diegene teenoor wie jy getuig, ook werklik te oortuig dat wat jy sê die waarheid is nie. Die dinge wat ons glo, kan nie bewys word op dieselfde manier waarop talle ander dinge in ons lewe wél bewysbaar is nie. Daar is nie ’n gemeenskaplike basis waarop die gelowige en die ongelowige kan gaan staan, ’n neutrale gebied waarop die gelowige aan die ongelowige kan demonstreer dat die geloof waar is en die ongeloof vals nie.
Dit is altyd nog moontlik om die dinge waarvan die gelowige getuig, in ongeloof te weerspreek. Wat vir die gelowige sekere tekens en bevestiginge van sy geloof is, kan deur die ongeloof geïnterpreteer word as niksseggende, natuurlike gebeurtenisse wat ook anders verklaar kan word as op die manier waarop die geloof dit doen.
Die volk Israel trek droogvoets deur die Rooi See. Die Egiptenaars wat hulle agtervolg, verdrink in dieselfde see. Vir Israel is dit ’n duidelike bewys van Gods ingryping in sy geskiedenis. Miriam en die vroue sing beurtsange en die volk loof God vir Sy genade. Maar vir iemand wat van buite die geloof af kyk, is dit moontlik om hierdie hele gebeurtenis as ’n merkwaardige natuurfrats te interpreteer – miskien ook nog om dit wetenskaplik te verklaar.
Die dissipels buk neer by die leë graf van Jesus, en dit is vir hulle ’n onbetwisbare bewys van Sy opstanding. Maar onder die Jode word die verhaal versprei dat sommige dissipels die lyk van Jesus in die nag gesteel en weggesteek, en toe die verhaal versprei het dat Hy opgestaan het. En die moderne mens sê eenvoudig dat dit onmoontlik is vir iemand om weer uit die dood lewend te word, sodat daar, hoe dan ook, tog iets moet gebeur het wat die dissipels laat glo het dat Jesus opgestaan het, maar dat dit natuurlik nie waar kan wees nie.
Ook in ons eie lewe is daar duisend tekens van die handelende teenwoordigheid van God by ons. ’n Mens bid vir iets, en jy ontvang dit. Jy bid oor ’n saak, en daar kom ′n antwoord waarvan jy weet: dit kom van God. Maar jy kan dit nie bewys vir wie dit nie wil glo nie. Jy sien in die natuur rondom jou op duisend plekke die spore van Gods goedheid, en jy getuig daarvan. Maar iemand anders kyk met ’n ander oog na die dinge en hy sien geen enkele spoor van God nie, hoogstens iets van die merkwaardigheid van die natuur.
Dit is die weerloosheid van die geloof teenoor die ongeloof. Tog is dit nie iets om te betreur nie. Geloof is nie mensewerk nie. Dit is ’n gawe van God. As geloof die resultaat van ons bewyse was, sou dit die vrug van insig en in ’n sin selfs ’n menslike prestasie gewees het. Dit sou dan ook weer verlore kan gaan. Maar noudat geloof die vrug is van die oortuigingswerk van die Heilige Gees, is dit, hoe weerloos ook teenoor die ongeloof, sterker as die dood. – WDJ