BELYDENIS: JONKER HET NET DIE LAMP AANGESTEEK
Beeld, Saterdag 17 November 1990.
Het die liefde, die grootste opdrag van Christus, uiteindelik geseëvier op die Kerkeberaad van Rustenburg? Dit is ’n vraag wat ‘n mens jou wel kan afvra in die lig van die onstuimigheid wat nou in die NG Kerk volg op dr. Willie Jonker se sondebelydenis oor apartheid. ’n Gesprek met dr. Louw Alberts, sameroeper en mede-voorsitter van die beraad, die eerste van sy soort ter wêreld, gee helder perspektiewe op wat presies op Rustenburg, en in die Kerk, gebeur het.
Stap ’n mens in dr. Louw Alberts se studeerkamer in, kan jy maklik dink dit is ’n professor in die teologie se werkplek, pleks van ’n befaamde wetenskaplike s’n. Bybels en teologiese en filosofiese werke staan die rakke vol.
Sy wetenskaplike boeke staan in ’n ander kantoor in die stad, verduidelik hy gou. Maar die boeke wat in sy huis is, is dit waarmee hy hom deesdae besig hou. Noudat hy afgetree het, is sy dag voller as ooit, vertel hy. “Maar dit is ’n verdeling tussen volk en vaderland en God en Koninkryk.” Sy bedrywighede op die gebied van die wetenskap en die tegnologie en nywerheid is nog omvangryk, maar sy betrokkenheid op Christelike gebied neem baie van sy tyd in beslag.
So pas was hy die mede-voorsitter van die unieke Kerkeberaad wat verlede week by Rustenburg ten einde geloop het.
Hoekom is hy gevra om as sameroeper van die beraad op te tree?
“Die Staatspresident het gevra om met die kerke te gesels, en daar was geweldige reaksie daarop. Dermate dat besef is dat dit vir hom uiters moeilik gaan wees om na al die menings te luister. Daaruit het die gedagte onstaan (sic) dat die kerke onder mekaar moet praat en dán vir hom sê wat sê die Kerk in sy totaal. Toe is ek genader om die Kerkeberaad byeen te bring.
“Die rede daarvoor is eerstens my lang ervaring van interkerklike aktiwiteite, tweedens my ervaring van bestuur en organisasie, en derdens die feit dat ek nie ’n amptelike posisie in enige kerk het nie. Sodra jy ‘n bepaalde leier of moderator aanwys, skep jy klaar polarisasie.
“Om die hele kerk betrokke te kry, die evangeliese, gereformeerde, pentikostale groepe en meer sosiaal-politieke groepering bymekaar te kry, het mede-voorsitterskap klaarblyklik sin gemaak.
“Ek is voorgestel deur ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en eerw. Frank Chikane is voorgestel deur ’n lid uit die evangeliese beweging. Dit was ’n gebaar van wedersydse vertroue.”
Kerkverteenwoordiging is ’n moeilike begrip. Hy wys daarop dat daar 3 000 onafhanklike swart kerklike bewegings in Suid-Afrika is. Hulle is gegroepeer in verskillende assosiasies, en daar is probeer om dié assosiasies, sowat 80 van hulle, almal te betrek. Só was daar 80 denominasies en kerklike groeperings op die beraad, asook ’n stuk of veertig interkerklike aksies en ander Christelike instansies. Daar was ook sowat dertig buitelandse besoekers, verteenwoordigers van oorsese kerke.
“’n Amerikaanse sakeman het aan my gesê dit is heeltemal uniek in die geskiedenis dat ’n staatshoof hom verwerdig om die kerke te vra wat hulle sê as die kerk in geheel.
Só ’n beraad kón ná ’n uur of twee uitmekaar gespat het – en dit het vier dae lank baie produktief saamgewerk en op ’n hoë noot geëindig.
“Daar is ’n hele aantal terreine waarop die kerke kan saamwerk, soos die hele kwessie van informele onderwys, gesondheid – dink maar net wat die kerke kan doen ten opsigte van Vigs en so kan ’n hele klomp gebiede geïdentifiseer word.
“Maar die hele apartheidsvraagstuk, die sosiaal-politieke kwessie, staan só sentraal dat mense dit raaksien en niks anders nie. As iets baie na aan jou oë lê, kan daar ’n klomp ander goed wees, maar jy sien dit nie raak nie. Dit was die eerste brug wat ons moes oorkom om by die ander goed uit te kom.
“Hoewel die ander dinge ook aangeraak is, het dit tog essensieel hieroor gegaan. Wat die kerk betref, moet dit eerste uit die pad kom, en by ’n volgende beraad sal die ander dinge aan die beurt kom.
“Nou hoekom het dr. Willie Jonker se belydenis dan so op die voorgrond getree? Suiwer omdat dit gegaan het om hierdie tema wat nou reg op die voorgrond is.
“Voorts, die NG Kerk was baie sterk betrokke by die hele geskiedenis van apartheid oor veertig jaar. Die NGK is verreweg die grootste en sterkste kerk onder Afrikaanssprekendes. Derhalwe sal die kerk ’n groot invloed hê op die denke van Afrikaners.
“Aanvanklik het die teologiese denke in die NGK die apartheidsfilosofie baie sterk ondersteun. Daar is ’n hele aantal redes daarvoor. Die Afrikanervolk het homself byvoorbeeld in ’n mate parallel gesien met Israel van ouds. En Israel van ouds is altyd gemaan om nie te meng met die heidenvolke nie. Dit het maar net altyd in die geskiedenis in die onderbewussyn bestaan.
“Dit was myns insiens ’n baie sterk beleidsargument om die verkiesing in 1948 te wen. Destyds was kerkleiers baie sterk betrokke by politieke aksies. Die verweefdheid van die Nasionale Party en die NGK het via die kerk se mense gekom en deur sy predikante. Die NGK het nooit op ’n sinode besluit die NP is sý party nie, maar die kerk bestaan uit mense en kerkleiers, en hulle het ’n rol gespeel in die politiek.
“Hierdie sterk invloed van sy topleiers, wat nou kom en sê met die verloop van tyd het die kerk besef sy aanvanklike teologiese denke is ongeregverdig, en wat uitgeloop het op die besluit van die sinode in Bloemfontein, moet begryp word.
“Met dr. Willie Jonker se belydenis het die ding wat reeds in die kerk uitgekristalliseer het, dat ons ons denke totaal moet verander, skielik na die oppervlakte gekom – ek hou van die woord surfaced hier – en skielik ’n hoë profiel gekry.
“Wat jammer is, is dat die Bloemfontein-sinode se beslissings toe eers bekend moes geword het. Ek dink predikante moes tóé reeds hul gemeentes begin inlig het wat die sinode beslis het. Laat ek hulle in ’n mate verskoon: Ons het almal maar net deur die pers geweet wat die sinode gesê het. Die amptelike stukke het nog nie gesirkuleer nie.
“Dit was dus amper ’n verrassing. As die gemeenskap in breë trekke beter voorberei was, sou die “Rustenburg-openbaring” nie so ’n skok gewees het nie.”
Maar ook op Rustenburg het die belydenis ’n groot impak gehad. Hy wil egter ’n verkeerde persepsie uit die weg ruim, sê dr. Alberts. “Die idee het ontstaan dr. Willie Jonker het ’n belydenis teenoor aartsbiskop Tutu gedoen en dr. Tutu het hom vergewe – so amper ’n boetedoening-priester-situasie. Dit was allesbehalwe die geval. Dr. Jonker het namens homself en die Kerk gepraat, en dr. Tutu het namens homself en die swart gemeenskap gepraat.
“Die reaksie was geweldig. Dit was ’n soort katalisator. Want tóé het ’n Engelse professor ’n lesing gelewer en hy het nou behoorlik in die kele van die Engelse kerke afgespring. Hy het gesê daar was net soveel huigelary en verkeerde houdings. Dit het na ’n algemene atmosfeer gelei dat ons besef het ons is almal skuldig, in mindere of meerdere mate, op verskillende gebiede. Daar was nie vingers na mekaar gewys nie, elkeen het die vinger na homself gewys.
“Daar was ’n totale gevoel dat, in mindere of meerdere mate, op verskillende maniere, het die Kerk gefaal. Sonder uitsondering – niemand het gesê ‘ons is onskuldig’ nie. Al was die skuld ook bitterheid en onvergewensgesindheid – skuld was daar. Daar was nie ’n veroordelende houding nie.
“Dit het daartoe gelei dat ons gesê het, nou goed, as ons nou almal erken dinge is nie reg nie, wat moet gebeur? Nou kom jy by restitusie. Daar was heelwat voorstelle. Maar dan kom jy by praktiese goed soos onderwys en landbou en ekonomie wat reggemaak moet word. En ek moet dit nou maar sê, as dit dáárby kom, dan is teoloë nou nie juis die mees kompetente mense om voorstelle te doen nie. Hulle is ’n bietjie soos politici – hulle benader hierdie soort probleme almal met ’n oop mond!
“Gevolglik kom hulle met voorstelle wat in beginsel sin maak, maar as dit kom by die praktiese uitvoering daarvan, dan werk dit nie altyd so goed nie. Daar het dus ’n hele paar voorstelle gekom, maar met sommige het die NGK hom nie vereenselwig nie.
“Maar as jy na die beraad in die geheel kyk, was die verskille op die sekondêre vlak, nie op primêre vlak nie.”
Wat van die beskuldiging dat die beraad ‘n triomf vir die bevrydingsteologie was? “Nee, ek sien dit nie as ’n oorwinning vir bevrydingsteologie nie, ek sien dit as ‘n oorwinning vir gereformeerde teologie, ‘n Bevryding van die teologie, van dit wat teologies verkeerd gemotiveer was in die verlede. As jy iets wat verkeerd gefundeer en geformuleer was, regmaak, is dit bevrydend. Dit is, wat my betref, ’n losmaak van die NGK van selfopgelegde bande.”
Maar nóú volg die reaksie van die publiek, soos lidmate wat uit die NGK bedank en bitter en heftig uitbars. “Nou is dit ’n stryd binne die NG Kerk. Jy sien, nou besef hulle eers wat op Bloemfontein gebeur het. Prof. Jonker het maar net die lampie opgesteek daaroor.
Hy wil hom simpatiek oor dié reaksie uitspreek. “Kyk, die kerk is darem nog vir die Afrikaner ’n baie belangrike stem. Nou is daar baie mense in die NGK wat politiek in die regtervleuel behoort. En nou is dit vir hulle ’n skok om te hoor dat die kerk, op wie se stem hulle darem baie ag slaan, nou ánders praat as wat hulle politieke oortuigings is.
“Want as apartheid sonde is, hoe kan jy dit dan in jou politiek voorstaan? ’n Mens doen wel sonde, maar darem nie so opsetlik en openlik nie. Dus moet jy jou distansieer daarvan, anders sit jy met ‘n gewetensprobleem. Ek het werklik begrip daarvoor dat mense wat apartheid voorstaan, sit met ’n geweldige dilemma as die kerk waartoe hulle behoort, nou sê dit is sonde. Dit is dié dat ons nou hierdie stormagtigheid beleef, en daarvoor het ek begrip en simpatie.
“Wat in die verlede gebeur het, is dat mense so vaagweg ’n idee gehad het wat die kerk sê, maar ons bedryf ons politiek en steur ons nie te veel daaraan nie, want ons het dit mos nie duidelik gehoor nie. Nou het ons dit skielik duidelik gehoor – en dit is die probleem. Nou moet daarmee rekening gehou word.
“Die dag het gekom dat die kerk kyk wat die Bybel sê, ongeag enige politieke party, oor menseverhoudinge.”
Sy eie ervaring van die beraad was dat hy die vier dae saam met mense gelewe en gepraat het wat altyd aan die ontvangkant van apartheid was. “Vir my was die grootste negatiewe produk van apartheid die afbreek van kommunikasie. Ons het nie met mekaar gepraat nie. Ons weet nie wat in mekaar se harte aangaan nie. Hier het ons ’n effense belewenis gehad van die herstel van kommunikasie. Dit was vir my die belangrikste.
“Die apartheidsbeleid van die afgelope veertig jaar het mense se menswaardigheid ten diepste aangetas. My probleem as Christen is dit: Is ons almal na die beeld van God geskape? As jy sê ja, en jy bedryf ’n sisteem wat mense se menswaardigheid aantas, dan tas jy ook die beeld van God aan. Sê jy hulle is nie na die beeld van God geskape nie goed, dit is jou ontsnappingsroete, maar ék kan dit nie sê nie.
“En dan, die primêre taak van die kerk is om die Evangelie van verlossing te verkondig en mense te lei tot ’n persoonlike verhouding met Christus. Tot dusver het die blanke homself in hoofsaak beskou as die draer van die Evangelie. Maar kan jy besef hoe die apartheidsbeleid ook die deure toegemaak het vir die suksesvolle uitdra van die Evangelie? Hierdie beraad, met dr. Jonker se belydenis, kan die deure weer oopmaak vir die suksesvolle mededeling van die Verlossingsboodskap. Die Evangelie self kan geweldig daarby baat.
“Dit sal vir my jammer wees as die opvolgaksies daardie deur wat oopgaan, weer moet toemaak. Dink net – jy is ’n swartmens en daar word op tientalle terreine teen jou gediskrimineer en dan kom hierdie selfde mense en praat met jou oor die liefde van God?! En dan kom daar ’n skuldbelydenis en direk daarna begin die witmense daaroor baklei – hoe nou?”
Die kerk sal voortaan ’n groot rol moet speel om die versoening van gesindhede te bewerkstellig, glo hy. “As ’n mens praat van versoening, maar jy is nie eens bereid om te sê jy is jammer oor gister nie, hoe weet ek jy is eg in jou berou? Dit gaan nie soseer om belydenis en vernedering nie, dit gaan oor die opregte bedoeling van wat jy sê as jy oor versoening praat – en dit is waar jy sê jy is jammer oor gister. Êrens voel die Afrikaner nou hy is tot in die grond verneder. Dit gaan nie daarom nie. Dit gaan om bevestiging van opregtheid.”
In sy sluitingsrede by die beraad het hy dit só opgesom: Dat dit uiteindelik gaan om liefde. “As jy kyk na die kerk se rol in die geskiedenis, en elke keer wat die kerk die mensdom nog in die steek gelaat het, beginnende by die kruisvaarders, die verbranding van onskuldige ou vroue as hekse, die Rooms-Katolieke en Protestantse stryd in Noord-Ierland, élke keer wat die kerk die mensdom en die Here in die steek gelaat het, was dit op die terrein van die liefde.
“As jy sê jy is ’n Christen, is jy ’n volgeling van Christus, en sy grootste eienskap was liefde. As ek nie liefde openbaar nie, kan ek myself nie ’n Christen noem nie. Elke slag as ons die Here gedrop het, dan was dit op die gebied van liefde.
“Ons sal dit wat op Rustenburg plaasgevind het, nie kan realiseer as ons mekaar weer in die steek laat op die gebied van die liefde nie.”