Klemverskuiwing (Geloftedag)

Klemverskuiwing (Geloftedag)
Die Burger 17 Desember 1977

’n Oënskynlike klemverskuiwing kan soms die betekenis van ’n bepaalde saak op ’n ingrypende manier verander en van sy oorspronklike sin berowe. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n mens jouself telkens weer vergewis waarom dit eintlik in elke saak gaan. Dit geld ook vir ons jaarlikse Geloftefees.

Dit kan so maklik gebeur dat ’n mens die aksent op ’n Geloftefees nie meer op die hoofsaak laat val nie, en dan alles skeeftrek. Om te verduidelik wat bedoel word, kan ons na ’n paar voorbeelde van ander klemverskuiwings kyk. Dink maar aan die verering van Maria. Dat Maria op ’n besondere wyse deur God begenadig is om die moeder van Jesus Christus te wees, is sonder meer duidelik. Wanneer ons nou egter op grond van dié begenadiging Maria self sou begin verheerlik. vind daar ’n ongeoorloofde aksentverskuiwing plaas wat alles bederwe.

Talle voorbeelde hiervan vind ons ook in die Bybel. Israel is deur God uitverkies om die draer van sy Woord in die wêreld te wees. Ons vind egter telkens dat die profete Israel daaroor gésel dat hulle die klem van God na hulleself verskuif en meen dat hulle iets besonders is, omdat hulle deur God uitverkies is vir ’n bepaalde taak. En om ’n nog meer blatante voorbeeld te noem: die koperslang wat deur Moses op bevel van God gemaak is as middel tot genesing by ’n bepaalde geleentheid (Num. 21), word deur Israel later bewierook en vereer asof dit die slang is wat die genesing bewerk het (2 Kon. 18:4).

Sulke aksentverskuiwings is fataal. Dit bederf alles Dit verduister die uitsig op God en sy genade, terwyl dit die aandag by die begenadigde mens of by die instrumente van Gods genade bepaal. Daarom is dit ook so treurig as sommige onder ons maar nie wil leer en onthou dat dit ook by Bloedrivier om die genade van God, enkel om gebedsverhoring, gegaan het, nie om die mense wat daar begenadig en verhoor is nie. Elkeen wat die Geloftefees gebruik om op die een of ander wyse die blanke of die Afrikaner of die Westerse beskawing of wat ook al op die voorgrond te stel, voltrek ’n klemverskuiwing wat die ware betekenis van die Geloftefees vernietig. Hy ideologiseer Bloedrivier en lewer ’n ondiens aan almal wat daarby betrokke is

As ’n mens die gelofte van 1838 deurlees, kom jy onder die indruk van die eenvoud daarvan. ’n Bedreigde groepie mense vlug in hulle nood tot God en beloof om, as Hy hulle help, Sy daad in dankbare herinnering te roep en dit ook aan hul nageslag op te lê om dit te doen. En waarlik: God verhoor hulle, soos Hy dit duisende kere vir talle mense in alle lande op allerlei punte van die geskiedenis gedoen het.

Hier vind geen “ekstra” openbaring van God plaas bowe en behalwe wat in die Skrif staan nie. Hier is niks om te ideologiseer nie. Hier is net dankbare blydskap gepas, omdat God Homself nog altyd as die Hoorder van die gebed betoon het, tot Wie alle vlees moet kom. – W.D.J.