KWAADWILLIGE KARIKATURE
Die Burger, 15 Oktober 1977, bladsy 8
Een van die magtigste faktore in die bestendiging van verkeerde verhoudinge tussen mense is die vorming van karikatuur beelde van mekaar. ’n Mens wil graag glo dat jou teenstander of vyand ’n goddelose, gemene en haatlike soort mens is wat verdien om verwerp, bestry en desnoods uitgeroei te word. Dit gee jou die gevoel dat jou negatiewe gevoelens teenoor hom nie alleen korrek is nie, maar ook noodsaaklik.
Dit is hierdie sentiment wat deur die propaganda-masjiene van die wêreld uitgebuit word om volkere en selfs blokke van volkere teenoor mekaar op te stel en teen mekaar aan te blaas. Ook in ons persoonlike verhoudinge van mens tot mens is ons geneig om mekaar eerder te benader op grond van die karikatuurbeelde wat ons van mekaar maak, as op grond van wat ons werklik is. Dikwels dra ons beelde van andere in ons kop om, waarin hulle hulself glad nie sou kan herken nie.
Nog onlangs vertel ’n buitelandse besoeker van die vyandige gesindheid wat die jeug in Soweto die Ned Geref Kerk toedra. Selfs die noem van die naam van die kerk is genoeg om by hulle agterdog, wrewel en afkeer op te wek. In hul oë is die Ned Geref Kerk eenvoudig die “apartheidskerk” sonder meer, die beliggaming van liefdelose veragting van swart mense, die bolwerk van Afrikaner-Nasionalisme en Afrikaner-meerderwaardigheid. Daarom oefen hulle ook druk uit op die swart Ned Geref Kerk om alle bande met die blanke kerk te verbreek en selfs sy naam te verander, sodat dit duidelik kan wees dat hy niks met die Ned Geref Kerk te make het nie.
Dit is ’n tipiese voorbeeld van ’n karikatuurbeeld. Plaas maar daarnaas die beeld van die Ned Geref Kerk wat voortkom uit die publikasie van Karl Breyer, “My naaste is my verantwoordelikheid”. Daaruit spreek juis weer die onbaatsugtige liefde en barmhartigheid van die Kerk teenoor mense van ander rasse, veral teenoor dié wat in nood en lyding verkeer. Klaarblyklik is die Ned Geref Kerk tog totaal anders as wat hierdie swart jeug dink.
Kwaadwillige karikatuurbeelde is duiwelswerk, en wie moedswillig by ’n karikatuurbeeld van andere lewe, is skuldig voor God. Tog moet ’n mens jouself afvra hoe ander mense aan hulle spesifieke karikatuurbeeld van jou kom. Karikatuurbeelde is nooit heeltemal gefantaseerde beelde nie. Hulle is wel skewe beelde, omdat hulle bepaalde trekke van ’n persoon buite verhouding vergroot ten koste van andere. Maar hulle het ’n bepaalde waarheidsgrond nodig om te kan ontstaan.
Wanneer dit ons skok dat andere ons so anders sien as wat ons onsself sien, moet dit ons aanspoor om die oorsake van die misverstande uit die weg te ruim. Dit is om Christus ontwil ons plig. – WDJ