Laaste en voorlaaste dinge

LAASTE EN VOORLAASTE DINGE
Die Burger, 22 Augustus 1987

Alles in die lewe is nie ewe belangrik nie. Daar is dinge wat wesenlik is en ander wat nie wesenlik is nie. Daar is dinge wat in die sentrum, en ander wat op die omtrek van ons bestaan lê. Daar is dinge waarsonder ’n mens desnoods kan klaarkom, maar ander wat so innig aan die lewe self verbonde is dat jy dit absoluut nie kan ontbeer nie.

Die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, het in hierdie opsig gepraat van die laaste en die voorlaaste dinge. Daarmee het Hy bedoel dat daar dinge is wat so fundamenteel is dat dit nie anders genoem kan word nie as die laaste dinge, die dinge wat uiteindelik deurslaggewend is, die finale en beslissende dinge; maar dat daar ook ander dinge in die lewe is wat op sigself wel belangrik kan wees, maar tog nie met die laaste dinge gelykgestel kan word nie.

Dit is een van die grootste geheime van die lewenskuns om te leer om te onderskei tussen hierdie dinge, omdat ons hele instelling teenoor die lewe daarmee gemoeid is. ’n Mens dink in hierdie verband vanself aan die wyse waarop Jesus in sy prediking mense weggeroep het van die sorge van die lewe, van die skatte van die aarde wat deur mot en roes verniel word, van die liefde vir geld en goed en die eie aardse belange, omdat hierdie dinge nie werklik blywend en wesenlik is nie; nie werklik laaste dinge nie, maar dinge wat bestem is om te vergaan.

Daarteenoor stel Jesus die skatte wat in die hemel is, die lewe in gemeenskap met God, die weg van dissipelskap en die soek van die koninkryk van God, as die dinge waarom dit wesenlik gaan. Wat sal dit ’n mens help, vra Jesus, as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor? Of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe? Sy gelykenisse is vol voorbeelde van mense wat hier die verkeerde keuse gedoen het en dan, juis in ’n poging om te gryp na die voorlaaste dinge, die laaste dinge verloor het.

Natuurlik: geen mens kan geheel en al sonder die voorlaaste dinge klaarkom nie. In die aardse lewe is voorlaaste dinge soos kos en klere, ’n huis en ’n werkplek, onderwys en leefbare omstandighede, politieke vryheid en alles wat met die menslike selfverwesenliking saamhang, natuurlik belangrik en selfs noodsaaklik. Maar dit is en bly voorlaaste dinge wat nooit tot laaste dinge verhef mag word nie. Slegs wie in staat is om goed tussen die laaste en die voorlaaste dinge te onderskei, is ook in staat om homself op die regte wyse vir albei hierdie soorte dinge te kan beywer.

Is dit nie tyd dat ons ’n keer in ons eie lewe probeer onderskei tussen die laaste en die voor­ laaste dinge, en vir onsself vasstel of die moeite en ywer wat ons vir elkeen van hierdie groepe aan die dag lê, nog in die regte verhouding is nie? Wat sal dit ons help as ons die hele wêreld win, maar ons siel verloor? – WDJ