Luther na 500 jaar.
Die Burger 1983-10-29
Dit is net aan enkelinge beskore om vyfhonderd jaar ná hul geboorte nog onthou en gehuldig te word. Onder hierdie enkelinge neem Maarten Luther sy besondere plek in.
Oor die hele wêreld word die geboorte van hierdie reformator van die kerk op 10 November 1483 tans in herinnering geroep. Verskeie kongresse en byeenkomste is reeds gehou of sal nog gehou word om sy betekenis vir die verlede en die hede te onderstreep. Dit het ’n egte “Luther-jaar” geword. Die publikasies wat net tot dusver vanjaar oor Luther verskyn het, grens reeds aan die onoorsienlike.
Dit is die merkwaardige van Luther dat dit selfs na vyfhonderd jaar nog moontlik en noodsaaklik is om met hom besig te bly. Sy betekenis in die geskiedenis van die Weste is te groot om eens en vir altyd deurskou en opgesom te word. Dit raak nie net die kerk en die teologie nie, maar ook die algemene geestelike, kulturele en politieke lewe. Daarom kan sy rol in die geskiedenis nie onder een noemer gebring word nie.
Daar is soveel dinamiek in die historiese persoon en optrede van Luther en alles wat daardeur gestimuleer of in beweging gebring is, dat selfs die tydskrif Time in ’n onlangse artikel van Luther gesê het dat hy “vyfhonderd jaar jonk is” omdat hy nog steeds die geeste bly boei en deur sy werke telkens weer nuwe inspirasie bring.
Ongetwyfeld hang hierdie betekenis van Luther met ’n groot aantal faktore saam. Luther het nie soos ’n meteoor uit die hemel geval nie. Hy vorm, soos dit altyd met groot figure is, ’n soort knooppunt in die geskiedenis, waarin allerlei invloede en bewegings wat reeds voor hom werksaam was, in hom as ‘t ware ’n konkrete verpersoonliking gevind het. Terselfdertyd was hy die katalisator vir die totstandkoming van ’n nuwe era wat sonder sy invloed ondenkbaar was.
Al na gelang van die vraag watter element in die geestesgeskiedenis sedert die Kerkhervorming vir ’n mens op die voorgrond staan, sal dit dus ook moontlik wees om die betekenis van Luther verskillend te waardeer. Berkhof skryf êrens dat elke tyd met ’n mate van reg sy eie ideale in Luther weerspieël gesien het. Die teologiese ortodoksie het in hom die man gesien van die suiwer leer. Die tydperk van die Verligting het hom geteken as die bevryder uit die Middeleeuse bygeloof. Die Piëtisme het Luther verstaan as die man van die vrome innerlike belewing. Die vrysinnige Protestantisme het hom gehuldig as die verkondiger van gewetensvryheid teenoor die dwang van die kerklike dogma.
Dit is bekend dat Luther ook telkens opgeëis is deur politieke beweginge. Nou is dit waar dat Luther se optrede ongetwyfeld nie alleen kerklike nie, maar ook ingrypende politieke betekenis gehad het. Trouens, die sukses van sy reformasie sou menslik gesproke onmoontlik gewees het as dit nie kon aansluit by die politieke emansipasie van die Germaanse volke, hul opkomende nasionale bewussyn en hul drang om weg te kom van die gesag van Rome nie.
Daarom is dit ook begryplike dat Luther om politieke redes dikwels as “die groot Duitser” gehuldig is, soms ook deur bewegings en ideologieë wat deur Luther ongetwyfeld met alle mag van sy oortuiging verwerp sou word, soos die Nasionaal-Sosialisme en die huidige Duitse Marxisme.
Vra ons egter na wat die sentrale betekenis van Luther was en wat hy bewus wou doen, dan was dit maar één ding: om die Evangelie weer van sy eeue-lange misvorming te bevry. Omdat dit aan hom geskenk is om dit te mag doen, is talle ander dinge vir hom daarby gevoeg. Sy beslissende betekenis was dat hy die eerste was wat (selfs beter as Augustinus) die dwalinge kon deursien wat sedert die tweede eeu die kerk binnegesluip het, toe die Evangelie verstaan is as ’n nuwe wet. Daardeur is die besef verloor dat slegs die genade van God ’n mens vrymaak, en is die mens met sy eie godsdienstigheid in die sentrum geplaas.
Luther is gebruik om ons die genade te help verstaan, en waar dit gebeur, val ook alle ander dinge in hul regmatige plek terug. Dit sou wonderlik wees as alle herdenkinge van Luther maar tot hierdie sentrale feit kon deurstoot. – W.DJ.