Lyding moet verwerk word.
Die Burger 20 April 1991
Dit is altyd pynlik om te ly. Ons hele wese kom daarteen in opstand. Ons is gemaak vir vreugde en ons hart verlang na geluk. Daarom vlug ons spontaan weg van alle lyding en begeer ons om nooit aan enige lyding onderwerp te word nie.
En tog is dit so dat daar niemand van ons is wat nie op een of ander wyse moet ly nie. Ons kan dit nooit heeltemal vermy nie. Nie almal ly op dieselfde wyse nie en alle lyding is ook nie ewe intensief nie. Die spreekwoord sê egter dat elke huis sy kruis het en elke hart sy smart. Ons kan nie alle pyn uit ons lewe ban nie. Die lewe is nie net kortstondig en verganklik nie. Dit is ook vol teleurstelling en leed.
Ons het ook geen belofte in die Bybel dat ons teen alle lyding beskerm sal word nie. Inteendeel, die Bybel is vol voorbeelde van hoe Gods kinders met lyding geworstel het. Die boek Job staan nie verniet in die hart van die Ou Testament nie. Die Psalms is vol van die sugte van die vromes. Profete soos Habakuk twis met God oor die onreg, lyding en verdrukking in die wêreld. Selfs Paulus ken ’n doring in die vlees wat nie van hom weggeneem word nie. Rom. 8 praat oor die sugte van die hele skepping en die kinders van God om van verganklikheid en verydeling bevry te word.
Dit beteken dat ons as mense, en spesifiek as Christene, die kuns moet leer om met lyding saam te lewe. Ons kan dit nie ontvlug nie, maar ons kan leer om op die regte wyse daarteen te stry. Die Bybel gee ons vrymoedigheid om te bid en te worstel om van konkrete gestaltes van ons lyding verlos te word. Maar die Bybel leer ons ook om met lydsaamheid en geduld die deel van ons leed en lyding te verdra wat God nie van ons wegneem nie en dit so geestelik te oorwin.
Die apostel Petrus vermaan die gelowiges om hul lyding op ’n gelowige wyse te verwerk. Hy noem dit selfs ’n voorreg om te ly as hulle doen wat reg is, en hy wys op die geseënde vrug wat lyding in ’n mens se lewe kan hê. Hy herinner hulle daaraan dat hul medegelowiges dwarsdeur die wêreld ook aan lyding onderworpe is (1 Pet. 3-5).
Hoe waar dit ook is dat ons nie maar in dowwe berusting alle lyding as die wil van God moet aanvaar nie, is dit tog ook waar dat daar ’n punt in ons lewe kom waar ons lyding alleen geestelik kan oorwin as ons bereid is om dit op te neem en as ons kruis te dra.
En vir gelowiges is dit die groot troos dat hulle al hul lyding, van watter aard dit ook al is, mag verstaan as lyding saam met Jesus. Ons deel met ons klein bietjie lyding in die lyding waarmee God aan die wêreld ly en in die lyding waaronder sy liewe Seun, Jesus Christus, geknak is.
Maar juis daarom mag ons wat in die opstanding van Christus uit die dode glo, ook soveel vaster hoop op die totale bevryding van alle leed wanneer Hy eenmaal in heerlikheid kom en God alle dinge nuut sal maak. – WDJ