Miskien gebeur dit nie

Miskien gebeur dit nie
Die Burger, 4 September 1982

Een van die dinge wat ’n mens moet leer as jy ouer word, is om nie te dink dat die wêreld besig is om hand-uit te ruk en baie slegter te word as in die tyd toe jy self jonk was nie. Baie mense wat ouer word, is hopeloos negatief ingestel teenoor veranderinge en nuwe ontwikkelinge wat rondom hulle plaasvind. Hulle vrees vir die ergste as dinge so moet voortduur en daar nie teruggekeer word na die ou paaie nie.

Dit is selfs met Christene so; miskien dikwels juis met hulle. Wie ken nie die beeld van die ou dominee wat met diepe sorg die verloop van dinge rondom hom gadeslaan, sy oë donker poele van bekommernis en sy boodskap één groot waarskuwing teen die aftakeling van norme en die verval van alle deugde nie?

Niemand twyfel daaraan dat baie van die dinge wat hy sê, die waarheid is nie. Ons lewe nou eenmaal in ’n sondige wêreld en in die boek Prediker kan ons al in die Bybel lees dat dit beter is om te sterwe as om gebore te word. Die tendensie in die wêreld is natuurlik dié van ontbinding, en die Bybel waarsku ons ook dat daar aan die einde van die dae swaar tye sal kom.

Maar dit is tog nie al wat ons van die wêreld kan sê nie. Ons kan tog nie ontken dat daar in die wêreld ook kragte aan die werk is in ’n positiewe rigting nie. Is Christus dan nie die Heer van die geskiedenis nie? Is sy Ryk dan nie besig om nog steeds te kom, óók te midde van die verwording en aftakeling wat ons in die wêreld opmerk nie? ’n Gelowige mens moet tog darem ook rede tot dankbaarheid en vreugde kan vind in baie dinge wat in die wêreld gebeur.

Buitendien moet ons nie vergeet dat die ouer geslag altyd deur die geskiedenis van mening was dat die jong geslag losbandig, onverantwoordelik, ongehoorsaam en onstandvastig is nie. Dit mag wees dat al dié dinge in groter mate in ons tyd van ‘n deel van die jeug waar is en dat dit selfs uitgebuit word deur bewegings en groepe wat die jeug graag tot revolusionêre omwentelinge wil aanspoor. Maar ons het geen rede om te dink dat die kragte wat dit sal stuit, vandag noodwendig swakker is as die kragte wat slegte invloede in ons eie geslag gestuit het nie.

Miskien gebeur dit tog nie dat die wêreld hand-uit ruk as ons nie meer daar is om toe te sien dat alles goed gaan nie. Miskien mag dit later tog blyk dat selfs ontwikkelinge wat ons gevrees het en slegs negatief kon beoordeel, onder Gods regering ook positiewe vrugte afgewerp het. Ons oordeel oor dinge is maar beperk. Ons meet die dinge aan ons eie maatstawwe. Ons sal dus graag wil sien dat alles bly soos ons dit verstaan en ken. Maar ons kan kortsigtig wees. ’n Bietjie meer humor en ’n bietjie meer vertroue in God sal ons nie kwaad doen nie. – W.D.J.