Ons daaglikse brood

Ons daaglikse brood
Die Burger 1983-01-08

Christus leer ons in die Onse Vader om te bid om ons daaglikse brood. Dikwels herhaal ons die woorde van hierdie gebed sonder om bewus te wees van die ware betekenis van wat ons vra. As ons egter die werklike sin daarvan op ons laat inwerk, sal ons merk dat hierdie bede ’n bepaalde instelling by die bidder veronderstel. En hierdie veronderstelling kan in baie gevalle haaks staan op wat ons is en hoe ons is.

Hierdie bede om die daaglikse brood het vir die dissipels van Jesus ‘n letterlike betekenis gehad. Hulle was arm mense en in die soort bestaan wat hulle saam met Jesus gevoer het, was die daaglikse brood allermins ’n vanselfsprekendheid. Daarom leer Jesus hulle om met volle geloofsvertroue na God op te kyk wat die Gewer is van wat ons nodig het.

Die bede vra daarom ook om die minimum: om brood, en dan net brood vir vandag. Dit is ’n gebed van die armes. Dit staan in die Evangelie van Mattheüs dan ook in dieselfde gedeelte waarin Jesus sê dat ’n mens jou nie moet bekommer oor wat jy sal eet en drink nie, want God sorg vir die lelies van die veld en die voëls van die hemel. Hy sal ook vir die armes sorg en aan hulle die brood gee wat hulle nodig het.

In die mond van mense wat oorvloed het, wat in weelde lewe, wat die een luukse-artikel ná die ander koop, wat meer bekommerd is oor die skommelinge op die aandelemark as oor die paar duisend rand wat hulle maandeliks uitleef, kan hierdie bede maklik betekenisloos word. Dit wil sê: sulke mense, die rykes, kan maklik hul besef van afhanklikheid van God verloor. Dan is die gebed van die armes ’n wanklank in hul mond. Veral as hulle dink dat hulle rég het op al die oorvloed en weelde, en die nood van die armes nie eens meer raaksien nie.

Is die Christendom werklik ’n godsdiens vir die rykes? Kan hulle die taal verstaan van die Onse Vader, hulle wat soveel van ’n eie ryk op aarde het dat die Godsryk maklik uit die gesigsveld verdwyn en die eksistensiële geworpenheid op God feitlik ’n onmoontlikheid word? Het Jesus nie gepraat van die oog van ’n naald nie?

Nee, ook ’n ryk mens kan hom bekeer. Hy kan arm van gees word. Hy kan verstaan dat alles wat hy op aarde besit, eintlik maar aan hom geleen is om in diens van God en sy koninkryk gebruik te word. Hy kan ontdek dat hy, selfs hy, die mees elementêre dinge van die lewe nie kan koop nie: die klop van sy hart, die smaak van sy brood, die rus vir die siel, die hoop op die heerlikheid wat kom. Selfs ’n ryk mens kan leer om in volle geloofsvertroue op God te lewe. Dan kan hy ook die Onse Vader bid

Maar dan sal sy lewe deur Gods genade natuurlik ’n ander kwaliteit kry. Hy sal ’n sober lewe begin lei, nie uit suinigheid nie, maar om andere se bede om die daaglikse brood om Gods wil in vervulling te laat gaan. – W.D.J.