Ons is beperk

Ons is beperk
Die Burger 27 Mei 1978

Dit hoort tot ons heiligmaking dat ons bewus moet wees van ons eie beperktheid en dat ons daarom meer beskeie moet wees in ons pogings om die wêreld na ons eie hand te reël. Veral wanneer ons ouer word, is dit soms ’n moeilike les om te leer dat ons nie alle wysheid in pag het nie en dat ons bereid moet wees om ruimte te maak vir die insig van die jonger garde, wat miskien baie beter as ons die aard van hul eie tyd verstaan.

Of ons dit wil erken of nie: as ’n mens ouer as veertig is, is dit nie net jou fisieke moontlikhede wat verminder nie, maar ook jou vermoë om nuwe dinge in te sien. ’n Groot stuk van jou dinamiek en beweeglikheid gaan verlore. Hoe ouer jy word, hoe moeiliker word dit vir jou om soepel genoeg te wees om die eise van die tyd waarin jy leef, te kan ontmoet. Jou vorming is ’n vorming uit die verlede. Jou ideë is idee uit die verlede. Jou perspektief is die perspektief van twintig jaar gelede – of selfs meer. Die struktuur van jou denke is in groot mate onbeweeglik vasgelê.

En nou is die gevaar altyd daar dat ’n mens dan met die beste bedoelinge skade kan doen, eenvoudig omdat jy op ’n kortsigtige manier meen dat jy altyd beter weet as die jonger geslag, wat in jou oë nie by benadering so verantwoordelik en bekwaam as jyself is nie. ’n Mens beroep jou natuurlik op jou meerdere ervaring en wysheid. En wie sal sê dat dit nie waardevol is nie?

Maar juis ’n mens se ervaringe uit die verlede kan ’n struikelblok vorm vir dinamiese en korrekte aksie in die hede, omdat dit ervaringe onder ander omstandighede was toe ander prioriteite en gesigspunte as vandag deurslaggewend was. Jy meen dan dat jy tot die laaste moet stry vir wat reg is, maar jy vergeet dat jy maar ’n beperkte kyk het op wat reg is. Jy verabsoluteer jou stukkie wysheid, asof dit noodwendig die laaste waarheid is.

Die ware wyse mens verstaan hoe noodsaaklik dit is dat ons ruimte moet maak vir andere, veral ook vir ander wat jonger as ons is. Dit is verkeerd van oupa en ouma om hul kinders te wil leer hoe om die kleinkinders op te voed. Daar sit ’n groot stuk wysheid in as oupa en ouma hulself uit liefde en begrip op die agtergrond hou wanneer deur hul kinders gewerk word aan die opvoeding van die kleinkinders. Begeleiding met die gebed is soms beter as ingryping met raad in ’n situasie wat die verantwoordelikheid van andere is. Ons het ons beurt gehad; gun andere nou hul beurt om te handel soos dit vir hulle gegee word om dit te doen.

En dit geld natuurlik nie net vir die terrein ouers en kinders nie, maar ook op die terrein van staat, kerk en maatskappy. Die Woord van God is wel onveranderlik, net soos die Christelike norme. Maar elke geslag se interpretasie en toepassing daarvan is beperk.

Die beste erfenis wat ons aan ons kinders kan nalaat, is nie om die dinge vir hulle te probeer vaslê en reël nie, maar om hulle die openheid vir Gods Woord te leer, sodat hulle in ’n nuwe tyd self die weg van gehoorsaamheid sal kan vind. W.D.J.