Ons ken onsself nie

Ons ken onsself nie
Die Burger 12 September 1981

Ons verkeer almal onder die indruk dat ons onsself ken. Dit is egter ‘n illusie. Wat ons van onsself ken, is uiters oppervlakkig en sterk gekleur deur wat ons begeer om te wees. Ons verwar ons ideaalbeeld van wat ons sou wil wees, met wat ons regtig is. Die gevolg is dat ons onsself dikwels heeltemal anders sien as wat ander mense ons sien.

Ons meen dan dat hulle ons nie goed genoeg ken nie, en dat dit daarom is dat hulle soms sulke onvleiende dinge van ons kan sê. As ons onsself egter beter geken het, sou ons waarskynlik meer as een keer besef het dat hulle indruk van ons meer in ooreenstemming is met die werklikheid as ons eie opvatting van onsself.

Die Bybel is vol van voorbeelde van mense wat van hulself ’n totaal ander beeld gehad het as wat hulle in werklikheid was. Dink maar aan Petrus. In sy eie oë was hy ’n moedige, betroubare, onwrikbare dissipel van Jesus. Hy was onder die indruk dat hy Jesus veel liewer gehad het as die ander dissipels. Hy het selfs gesweer dat, selfs al sou al die ander dissipels Jesus in die steek laat, hy dit nooit sou doen nie. Hy was immers bereid om selfs sy lewe vir Jesus te gee.

Toe die toets egter kom, het Petrus anders geblyk te wees as wat hy self gedink het. Dit is nie dat Petrus bewus oneerlik was toe hy al sy beloftes aan Jesus gedoen het nie. Hy het dit seker baie opreg bedoel. Maar hy het homself nie geken nie. Daarom reageer hy op ’n wyse wat vir homself eintlik ongelooflik is. Ná sy verloëning van Jesus gaan hy na buite en huil bitterlik. Sy trane sou seker nie net trane van berou gewees het nie. Ons kan vermoed dat dit ook trane van diepe teleurstelling in homself was.

Dit is ’n skok as ’n mens tot die ontnugterende ontdekking kom dat jy eintlik baie anders is as wat jy gedink het jy is. Dit is nie vreemd dat Petrus in ’n later ontmoeting met Jesus met aanmerklik groter beskeidenheid oor homself praat nie. Dan is hy nie meer so seker daarvan of hy aan Jesus kan sê dat hy Hom meer liefhet as wat andere Hom liefhet nie. Hy doen dan liewer ’n beroep op die kennis wat Jesus van hom het as die kennis wat hy van homself het: Here, U weet alle dinge. U weet dat ek U liefhet!

Wanneer u weer hoor dat mense onvleiende dinge van u sê, moet u dit nie sonder meer aan kwaadwilligheid van hulle toeskryf nie. Dit kan waar wees, maar u moet die geleentheid gebruik om aan uself te vra of wat hulle sê, nie ten minste in sommige opsigte waar kan wees as ’n mens van buite af na u kyk, en nie net van binne af nie.

Dit is net moontlik dat ons selfkennis gebrekkig kan wees. Dit is net moontlik dat ander mense ons suiwerder kan beoordeel as wat ons onsself kan beoordeel. En laat ons veral bid om ’n egte kennis van onsself, sodat ons nie blind sal wees vir ons eie sonde nie. W.D.J.