Ons moet leer luister

Ons moet leer luister
Die Burger 5 Augustus 1978

Dit is een van die grootste geheime van die kuns om reg te lewe, dat ’n mens moet leer om na ander te luister. Ons is meestal so vol van wat ons self dink, dat ons weinig ruimte het om te luister na wat ander sê. Ons is so seker daarvan dat ons weet wat hulle dink en wat die regte antwoord op hul vrae is, dat ons dit meestal al aan hulle begin vertel voordat hulle klaar met ons gepraat het om hul probleem aan ons te stel.

Dit is nie net predikante, psigoloë, huweliksraadgewers en sulke professionele mense wat die geheim moet leer om te luister nie. Dit is ook politici en kultuurleiers, onderwysers en dosente, ouers en kinders. Kortom: dit is ons almal wat feitlik elke oomblik van die dag met ander mense te make het en in tallose verhouding situasies verkeer.

Wie van ons ken nie die frustrerende ervaring dat ’n amptenaar êrens agter ’n toonbank met klaarblyklike ergernis ons verhaal aanhoor tot op ’n bepaalde punt, en dan met ongeduld in sy stem en met toeskuiwing van ’n vorm wat ingevul moet word, op ’n vernederende manier die inligting wat ons probeer vra het, aan ons toeblaf nie?

Dit is dié soort houding wat ’n bepaalde beeld geskep het van die amptenaar wat hom wêreldwyd ongewild maak, veral ook omdat die inligting wat hy op die manier verskaf, dikwels ons persoonlike verhaal ignoreer en geen antwoord is op wat ons hom werklik gevra het nie. Sy probleem is egter dat hy ons almal stereotipeer en soos ’n komper net gesette antwoorde ken, waarvan nie afgewyk kan word nie. Hy kan nie bekostig om werklik na elkeen se eie verhaal te luister nie, gedeeltelik omdat hy te besig is, maar gedeeltelik ook omdat dit hom bes moontlik totaal van stryk sou bring as hy ’n oorspronklike antwoord op ’n individuele vraag sou moet uitdink.

Wie dink dat net amptenare aan hierdie soort optrede skuldig is, maak ’n fout. Ons is almal maar geneig om so te wees, en as enigeen van ons vandag ’n amptenaar sou word, sou ons dit waarskynlik op presies dieselfde manier as baie ander amptenare wees. Die amptenaar se moeilikheid is dat ’n bepaalde menslike houding by hom min of meer geïnstitusionaliseer is.

Ons almal skiet egter te kort in die liefde, belangstelling en geduld wat nodig is om werklik na ’n medemens te luister. Ons almal is in wese outoritêr van instelling en geneig om ander mense as dom te behandel.

Hoe totaal anders was Jesus. En hoe totaal anders kan Hy ’n mens maak wat met Sy liefde vervul is. W.D.J.