Ontvlugting help niks

Ontvlugting help niks.
Die Burger 10 Februarie 1990

ONS almal kom in omstandighede waar ons voel dat ons dit nie kan hanteer nie. Dit is so lastig, so verwarrend en miskien selfs so pynlik dat ons spontane reaksie is om dit weg te wens. Uit selfbeskerming ontwikkel ons verskillende meganismes om onsself in sulke omstandighede te probeer handhaaf. Die voor die hand liggendste is om te probeer ontken dat die omstandighede bestaan. En in elk geval probeer ons om dit soveel as moontlik te ontvlug.

Baie keer voel ons soos die digter van Ps. 55: “Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly; ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af.”

Ons probeer soms om pynlike situasies uit ons bewussyn te verban. Party mense drink hulleself dronk om te kan vergeet. Andere trek die kombers oor hul kop en slaap soos Jona, wat onder in die skip gaan lê en slaap het toe die storm op die see losbars.

Ons wil uit die harde lewe wegkom en in die moederskoot terugkruip om liewer niks met die onvriendelike wêreld te doen te hê nie. Daarom smag ons soms na die dood, en die depressiewe toestand wat soms kan ontstaan, kan selfs tot selfmoord lei.

Gelukkig neem dit nie altyd hierdie ernstige vorm aan nie. Ons probeer ook ander metodes. Een daarvan is om die skuld vir die onaangename situasie op andere te pak en ons so daaraan te onttrek. Ons sien byna daagliks rondom ons hoe mense dit probeer doen met persoonlike probleme, maar ook met die maatskaplike en politieke probleme van ons tyd.

As dit nie vir hul pa of ma, vir die onderwyser, die predikant of die Regering was nie, sê hulle dan, was alles vandag nog reg. Deur die skuld vir die pynlike situasie op andere te pak, probeer hulle hulself daarvan losmaak, asof enigiets opgelos kan word deur vas te stel wie eintlik die oorsaak van die ongelukkigheid is. Ons skop teen andere en selfs teen God net om nie die situasie te hanteer nie.

Maar dit help natuurlik niks. Situasies moet hanteer word, nie ontvlug word nie. Woedebuie, kalmeerpille en die toetrek van ons kop kan tydelik ontlading bied of troos. Ons het egter geen ander keuse nie as om die situasie as werklik te aanvaar en dit onder die oë te sien. Ons moet daardeur heen.

Veral as Christene moet ons verstaan dat God toegelaat het dat ons in die situasie kom. Sy bedoeling daarmee is nooit om ons te vernietig of skade te laat ly nie. As ons ons vertroue op Hom vestig en doen wat reg is, sal selfs die pynlikste situasie vir ons tot ’n seën word. As ons dit reg hanteer, sal ons God later nog daarvoor dank, hoe onwaarskynlik dit nou ook al lyk. – WDJ