Riglyn vir die prediking oor Romeine 1:8-17

Riglyn vir die prediking oor Romeine 1:8-17
in Burger, CW, BA Müller, en DJ Smit. 1993. Riglyne Vir Prediking Oor Regverdiging En Reg. Kaapstad: Lux Verbi, 117 – 126.

Bibliografie
Kommentare
P Althaus (NTD); C K Barrett (BNTC); K Barth (A shorter commentary on Romans); CEB Cranfield (ICC); JD G Dunn (WBC); E Käsemann (HNT); A F N Lekkerkerker (PNT); O Michel (Meyer); Dale Moody (Broadman Bible 10); A Nygren; H N Ridderbos (CNT); Roy Harrisville (Augsburg); H Schlier (Herder).
Homileties
G Eichholtz, HF6, 74-80; K Heim, The Gospel of the cross, 155-168; A M Hunter, Preaching the New Testament, 87-90; H Mönnich, NCPH 24, 134-141; O Noordmans, Verzamelde werken 8, 385-387; CH Preisker, Texte zur predigt 4, 58-59; H Schlag, GdV 6, 48-51.
Aanvullend
P Althaus, Die Theologie Martin Luthers, 195-218; JT Bakker, Coram Deo; JT Bakker; De tweevoudige gerechtigheid, in J T Bakker & JP Boendermaker (reds), Luther na 500 jaar, 30-57; K Barth, Kirchliche Dogmatik IV/1, 573-718; H Berkhof, Crisis der Middenortodoxie; G C Berkouwer, Geloof en rechtvaardiging, 75-100; G C Berkouwer, De Zonde I, 146ev, 243ev; E Brunner, Dogmatik II, 101-131; R Bultmann, Theologie des NT; J Calvyn, Institusie III, hoofstukke XI-XII; G Ebeling, Luther, 110-124; H J Iwand, Glaubensgerechtigkeit, 11-125; W D Jonker, Die Gees van Christus, 58-68; W D Jonker & P F Theron, Vreemde geregtigheid; H-J Kraus, Systematische Theologie, 431-440; H Ridderbos, Paulus. Een ontwerp van zijn theologie; Nederlandse Geloofsbelydenis, art 22-23; Heidelbergse Kategismus, Sondag 7 en 15; Klassieke formulier vir die Heilige Nagmaal.

I EKSEGETIES

  1. Die perikoop onder bespreking staan in die inleiding tot die Romeinebrief. Daarin verklaar Paulus dat hy gedurig bid dat God dit vir hom moontlik sal maak om die gemeente in Rome te besoek, omdat hy weet dat hy ook teenoor die Romeine – soos teenoor alle mense – onder ’n verpligting staan om die evangelie aan hulle te verkondig. Hy is egter steeds verhinder is om dit te doen. Hierop laat Paulus dan die bekende woorde van verse 16-17 hoor. Dié uitspraak bestaan uit drie dele wat in die Grieks almal met die woordjie gar begin: (a) want ek skaam my nie oor die evangelie nie; (b) want die evangelie is ’n krag tot redding vir elkeen wat glo; (c) want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof (Moody).

Paulus wil hiermee sê dat hy nie uit vreesagtigheid weggebly het uit Rome, omdat hy skaam sou wees vir die evangelie in die groot kultuurstad nie. Die evangelie is immers juis, soos die 1933/53-AV dit uitdruk, “’n  krag van God tot redding vir elkeen wat glo … want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe staan: Die regverdige sal uit die geloof lewe” (16-17). Hoe sou Paulus hom vir die evangelie kon skaam, waar dit juis ‘n krag tot genesing en verlossing is vir alle mense is, Jode sowel as Grieke?

Trouens, dit is juis die evangelie wat openbaar dat die geregtigheid van God deur en deur ’n saak van geloof is, soos Habakuk 2:4 ook sê: “Maar die regverdige sal deur die geloof lewe”. Met laasgenoemde uitspraak en aanhaling dui Paulus die tema van sy hele brief aan. Volgens Bultmann vorm die boodskap van die geloofsgeregtigheid die inhoud van Paulus se evangelie. Hierdie tema ontvou Paulus in die volgende hoofstukke van Romeine, totdat dit uitmond in die jubellied van 8:31ev. Daarvandaan dien dit as basis vir sy verstaan van die posisie van Israel, die universaliteit van die heil, en die aard van die nuwe lewe in Christus.

  1. Die gang van Paulus se betoog is duidelik: eers toon hy aan dat alle mense, heidene en Jode, voor God sondaars is en daarom vanweë hulle ongehoorsaamheid in sy regverdige gerig veroordeel moet word (1:18-3:19). Nou is die blye tyding van die evangelie egter dat God in barmhartigheid sy Seun Jesus Christus gegee het om die sondes te versoen en op grond daarvan almal wat in Hom glo, Jode sowel as heidene, ter wille van Christus regverdig te verklaar (3:21-26). God het Hom as soenoffer daargestel om die sondes te bedek van diegene wat in Hom glo. So bewys God dat Hy regverdig is: enersyds deurdat Hy die sonde nie ongestraf gelaat het nie, en andersyds deurdat Hy die sonde nie twee maal straf nie. Omdat Christus gestraf is vir die sonde van die mense, is dit ’n daad van Gods geregtigheid as Hy elkeen wat in Christus glo, regverdig verklaar, dit wil sê, beskou asof hy/sy self ten volle die straf op die sonde ontvang het en dus geen verdere skuld meer het nie. Meer nog: hy/sy word met die geregtigheid van Christus beklee, sodat hy/sy in Gods regverdige oordeel vrygespreek word.

Uit hierdie tekste is dit duidelik hoe sentraal die kruis van Christus in Paulus se prediking staan. Dit is egter eers deur die opstanding van Christus dat dit openbaar geword het (1:4; 8:29, ens). Die opstanding van Christus is vir Paulus die bevestiging van die feit dat in sy kruis die prys vir die sonde ten volle betaal is en dat God daarom die nuwe eskatologiese heilstyd in Hom laat aanbreek het, sodat Hy as die Here deur sy Gees vir Hom ’n gemeente uit verloste Jode en heidene kan vergader wat in Hom voor God volkome geregverdig is (vgl. 1 Kor. 15:14-18).

  1. Dit is belangrik om daarop te let dat Paulus oor die verlossing in regsterminologie praat. Dit gaan in die heil oor skuld waarvoor die mens aangekla is voor die regbank van God, die hemelse Regter. Paulus se evangelie is dat die skuld deur Christus gedra is, sodat almal wat in Hom glo, voor Gods regbank vrygespreek word. Hierdie regstaal is ontleen aan die Joodse denke oor die verlossing (Ridderbos). Oor die heil word in forensiese terme gepraat (forum plek van regspraak). Vir die Jode het die heil beteken dat ’n mens deur God as ’n regverdige beoordeel word en daarom moet jy deur goeie werke daarna strewe om God te behaag. Vir hulle het die regverdiging daarin bestaan dat God die mens op grond van sy/haar inherente geregtigheid regverdig verklaar. Die lig wat vir Paulus opgegaan het, was nou egter juis die blye tyding (evangelie) dat God sy Seun as losprys vir die sonde gegee het, sodat die sondaar in die gerig van God ter wille van Christus vrygespreek word, ondanks al sy/haar sonde.

Dit is die evangelie van die plaasvervangende geregtigheid van Christus, die vreemde geregtigheid, soos Luther later sou sê, op grond waarvan die sondaar geregverdig word, dit is: regverdig verkláár word. In die gewone omgangstaal is die term regverdiging waarskynlik nie meer vir moderne mense verstaanbaar nie. Daarom dat die 1983-AV die term “regverdiging” deurgaans met “vryspraak” vertaal, wat die bedoeling vir die moderne leser waarskynlik makliker sigbaar laat word. Paulus gebruik in sy prediking ook ander terme as die juridiese om aan die betekenis van die heil uitdrukking te gee, maar die juridiese terme is besonder waardevol, omdat hulle uitdruk dat ’n mens in die gerig van God as ’n eenmalige daad met regskrag regverdig verklaar word, sodat daaragter nie weer teruggegaan kan word nie. Die ewige oordeel vind as ‘t ware reeds prolepties aan die kruis plaas in die daad van die regverdiging van die sondaar deur die dood van Christus. Die beslissing het geval. Dit is werklik volbring. Die oordeel is afgehandel. Dit is die blye evangelie.

  1. Hierdie evangelie moet geglo word. Dit is opmerklik hoe sterk Paulus die geloof beklemtoon. In 16-17 kom die een of ander vorm van die woord “glo” vier keer in die Grieks voor. Paulus leer nêrens dat die dood en opstanding van Christus vir alle mense sonder meer verlossende betekenis het nie; hy verbind die regverdiging of vryspraak altyd met die geloof. Vandaar dat op grond van tekste soos Johannes 3:16 en 1 Johannes 2:2 in die gereformeerde teologie gesê is dat die versoening wat Christus bewerk het, wel genoegsaam is vir die sonde van die hele wêreld, maar dat dit slegs diegene wat glo, ten goede sal kom (Dordtse Leerreëls II/3,8). In die geloof val daar dus inderdaad ’n beslissing met betrekking tot die ewige heil van die mens. Hiermee word ’n verbinding gelê tussen die mens en die versoening wat in Christus geskied het. Daarom kan van die geloof gesê word dat dit noodsaaklik vir die redding is (Berkouwer: Geloof en rechtvaardiging).

Tog is dit uit die Nuwe Testament glashelder dat die geloof nie as ’n verdienstelike daad van die mens gesien word nie. Dit is nie ’n voorwaarde waaraan die mens moet voldoen om gered te kan word nie. Die begrip geloof (pistis) is by Paulus altyd die teenoorgestelde van roem (Bultmann). Die geloof is dus nie ’n goeie werk wat die regverdiging verdien nie. Die duidelikste bewys daarvan is dat Paulus in 4:5 sê dat God die goddelose (nie die gelowige nie) regverdig verklaar. Die geloof is nie die grond van die vryspraak nie, maar slegs die weg waarlangs dit ontvang word. Daarom gebruik Berkouwer die term “korrelasie” om die verhouding tussen geloof en Gods vryspraak aan te dui. Daarmee wil hy sê dat die regverdiging en die geloof op mekaar betrokke is, maar nie op sodanige manier dat die geloof as die grond van die regverdiging beskou kan word nie.

In die lig hiervan is die 1983-AV se vertaling in 17: “enkel en alleen omdat hulle glo”, vir misverstand vatbaar. Ook die aanhaling uit Habakuk 2:4 word op hierdie wyse weergegee. Dit is jammer, omdat dit die indruk wek dat die geloof die enigste grond is waarop die vryspraak gebaseer is. Dit is egter nie die bedoeling van Paulus nie. Die verlossing deur die geloof is volgens Romeine 3:24 verniet, sonder enige verdienste. Die geloof is suiwer reseptief, dit erken alleen maar wat God in Christus klaar gedoen het. Die woorde in 17: “uit geloof tot geloof” (vgl. die 1933/53-AV) beteken dan ook: dit is van voor tot agter ’n saak van geloof, dit is sonder meer ’n saak van geloof (en nie van werke nie). Dit is presies wat die reformatoriese sola fide en sola gratia wil sê (vgl. Ef 2:8).

  1. As Paulus die evangelie “’n krag tot redding” noem (16), bedoel hy daarmee dat die evangelie mense verseker dat die verlossing klaar bewerk is in die kruis en opstanding van Christus en dat dit, by diegene wat dit hoor, die geloof oproep waardeur hulle die vryspraak van God omhels om voortaan te gaan lewe as mense wat met die geregtigheid van Christus beklee is. Die geloof in die evangelie word deur Christus self in die krag van die Heilige Gees bewerk. Hy is self die krag van die evangelie (Barth, KD).
  2. As Paulus in 16 sê dat die evangelie ’n krag tot redding is vir elkeen wat glo, “in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die Griek”, herinner hy daaraan dat God sy weg met die wêreld aan die volk Israel ’n besondere plek gegee het. Gods verbond met Abraham is onberoulik en Paulus is met sy hele Romeinebrief eintlik op pad na hoofstukke 9-11 waarin hy die posisie van Israel in die redding van die wêreld aan die orde stel. In 9:4-5 gee hy uitdrukking aan die raaisel daarvan dat Israel as Gods uitverkore volk die Christus kon verwerp, want inderdaad: die verlossing kom uit die Jode (Joh 4:22). Daarom brei God sy hande die hele dag uit na sy hardnekkige volk (Rom 10:21). Die evangelie wat vir die hele wêreld bedoel is, is tog in eerste instansie vir die Jode daar. Van hulle uit sou dit oorvloei na die heidenwêreld (saamgevat in die term “Griek”; 1983-AV: “nie-Jood”). Daarom het ons die evangelie nie anders nie as in die terme van die Ou-Testamentiese regsdenke. Dit kom na ons as wet én evangelie, as boodskap van skuld en vryspraak, van offer én versoening. In sekere sin is die hoofdoel van die brief aan die Romeine om die vraag na die regte interpretasie van die Ou Testament te beantwoord (Barth: A shorter commentary).

II HERMENEUTIES

  1. Die groot probleem waarmee die moderne prediker te make het, is dat die boodskap van die regverdiging/vryspraak deur die geloof alleen, wat in die tyd van Luther opwindende nuus was, in ons tyd eintlik vir baie mense niks meer sê nie. Dit kan daarmee saamhang dat baie mense wat in kerklike kringe grootgeword het, die boodskap van kleins af gehoor en miskien nooit werklik verstaan het nie, maar dit nou as ou nuus beleef. Dit kan ook wees dat die moderne mens geen skuldgevoel teenoor God het nie, en dus eintlik nie weet waarvan hy/sy verlos moet word nie. Die werklikhede van die wet en die evangelie, skuld en vryspraak lê buite hulle belewingswêreld. Bowendien sou ’n uiteensetting van ’n teksgedeelte soos hierdie vir baie mense eerder na dogmatiek klink as na ’n egte preek. Die algemene geestelike klimaat van ons tyd laat mense eerder verlang na ’n bepaalde ervaring, as na ’n eksegetiese verheldering van ’n Skrifteks. Miskien het predikers ook skuld aan die situasie deurdat hulle die boodskap van die regverdiging te rasioneel en nie eksistensieel genoeg oorgedra het nie.
  2. In sy Systematische Theologie bied Kraus ’n beknopte, maar uitstekende oorsig oor die onbehae wat in die Duitse Evangeliese Kerk ervaar word rondom die leer van die regverdiging. Dit gaan veral oor die aktualiteit en die verstaanbaarheid daarvan. In aansluiting by Kraus noem ons die volgende probleme in verband met die prediking oor die regverdiging: (a) Mense voel dat die vraag van Luther: “Waar vind ek ’n genadige God?” vandag nie meer só gevra word nie. Veel eerder wil mense weet of God bestaan en of die lewe sin maak. (b) Die begrip “regverdiging” is vir baie ’n vreemde term uit die juridiese sfeer. Hulle vereenselwig godsdiens eerder met die liefde as met die reg. (c) Die boodskap van die regverdiging uit genade alleen veronderstel die onvermoë van die mens tot die goeie, maar dié idee ondermyn die selfbeeld van die mens, wat liewer aangemoedig moet word om positief oor hom-/haarself te dink. (d) Hierdie leer is verlammend, want dit diskrediteer die werke ten gunste van die geloof. Die moderne mens wil liewer van goeie dade hoor. (e) Moderne mense is nie geïnteresseerd in die geregtigheid van God nie. Hulle stel eerder belang in geregtigheid tussen die mense, spesifiek geregtigheid in die samelewing.
  3. Eichholz sê dat die betekenis van die leer van die regverdiging deur die geloof vandag weer van nuuts af ontdek sal moet word. Die selfbewuste moderne mens hang alles op aan sy/haar eie ervaring, en het daarom min begrip vir die leer van die regverdiging. Dit blyk ook uit die vergadering van die Lutherse Wêreldbond te Helsinki in 1963, waarop die verleentheid van die Lutherane met die articulus stantis et cadentis ecclesiae (die artikel waarby die kerk staan en val) sigbaar geword het. In die slotwoord van die byeenkoms is gesê dat die mens van vandag ’n radikaler vraag as Luther stel: nie die vraag na ’n genadige God nie, maar die vraag of God werklik bestaan. Hierdie uitspraak is sedertdien talle kere herhaal.

Dit is duidelik dat die moderne tydsgees min begrip het vir die werklikheid van die skuld voor God, wat vir Paulus en Luther so beklemmend was. Die besef van die ewige gerig van God en die vrees vir die verdoemenis het uit die moderne bewussyn verdwyn. Die aandag van die moderne mens is meer gerig op die horisontale as die vertikale dimensie van die lewe. Ook die prediker in Suid-Afrika kan hierdie ontwikkelings nie ignoreer nie, al is dit hier minder uitgesproke as in Europa aanwesig.

Die prediker moet egter daarvan uitgaan dat nie die tydsgees nie, maar die evangelie die norm vir geloof en verkondiging is. Dis nie die Skrif wat in die lig van die tydsgees beoordeel moet word nie, maar die tydsgees wat in die lig van die Skrif gestel moet word. Daarom moet eenvoudig daarmee voortgegaan word om die boodskap van die Skrif te verkondig, in die vertroue dat die evangelie self sy eie legitimasie sal verskaf. Egte sondekennis en berou oor die verkeerdheid van die eie lewe en dié van die gemeenskap was nooit ’n vrug van die tydsgees nie. Dit is in alle tye die vrug van die Heilige Gees, wat gebruik maak van die kennis van die wet en die evangelie om die ware bekering te bewerk (Berkouwer: De zonde I). Daarom moet die prediking geskied in die geloof dat die Heilige Gees die harte daarvoor sal open.

  1. Die moderne vlaag van subjektivisme en modernisme blyk soveel ernstiger te wees as onthou word dat dit ingetree het ná die sterk invloed wat die dialektiese teologie tussen die twee wêreldoorloë uitgeoefen het. Die wyse waarop Barth, Brunner en andere na die Bybelse waarheid teruggeroep het, en veral die wyse waarop hulle die objektiewe betekenis van die regverdiging in Christus beklemtoon het, word tans as passé beskou. Eichholz haal Barth (KD) aan wat reeds in 1953 dié soort uitsprake van die Lutherse Wêreldfederasie as oppervlakkig van die hand gewys het. Volgens Barth het die Reformasie die vraag na God op ’n veel radikaler wyse gestel as die moderne mens. Ongelukkig word die teologie van Barth en sy geesgenote vandag as agterhaal beskou.
  2. Dit alles is soveel ernstiger as ‘n mens verstaan dat die boodskap van die regverdiging deur die geloof so sentraal in die evangelie staan dat wie dit laat val, ook die hele evangelie kwytraak. Eichholz wys met name daarop dat die regverdigingsleer by Paulus direk met die Christologie saamhang. Wie dit wil prysgee, gee daarmee Christus self ook prys. Dit is daarom nie vreemd dat teoloë soos Wiersinga, wat die leer van die “objektiewe” versoening van die sonde in Christus prysgee, ook die kerklike belydenis aangaande Christus moet aantas nie (vgl. sy De verzoening in de theologische discussie 1971). Die ironie is dat hy en andere die regsterme wat in die klassieke leer oor die regverdiging gebruik is, van die hand wys as onverstaanbaar vir die moderne mens, terwyl die hele lewe, óók dié van die moderne mens, juis gevul is met die roep om reg. So kan Kraus sê: “Der Mensch ist ein rechtlich denkendes, rechthaberisches Wesen das sein eigener und anderen Menschen Richter sein will.” Dit kan dus nie die regsterme as sodanig wees wat die leer van die regverdiging vir die moderne mens onaanvaarbaar maak nie. Dit moet die wyse wees waarop die Nuwe Testament die reg wat God op ons lewe het en ons eie onreg aan die orde stel. Dit oorstyg die morele en horisontale begrip van reg wat in ons tyd so sterk op die voorgrond staan. Die moderne mens moet daarom deur die prediking tot die besef gebring word dat hy/sy voor God as ’n onregverdige geld wat slegs gered kan word deur die herstel van die reg in Christus.
  3. By alle waardering wat ‘n mens daarvoor het dat Barth die objektiewe betekenis van die versoening in Christus beklemtoon het, is dit tog duidelik dat sy teologie ook daaraan meegewerk het dat die prediking van die regverdiging deur die geloof geloof verswak is. Hy beklemtoon so sterk dat God in Christus ons geskiedenis op Homself geneem en ons met die vreemde geregtigheid van Christus bedek het, dat die eis van bekering en geloof dikwels by hom op die agtergrond tree (KD IV/1, 590ev). Natuurlik ontbreek dit nie heeltemal nie, maar dit word by Barth verswelg in die objektiewe waarheid van die versoening as voldonge feit Iets daarvan sien ons ook by Eichholz en by Kraus. Eichholz sê dat die evangelie van regverdiging vandag beter verstaan sal word as dit nie individualisties versmal word nie, maar verkondig word as God se eskatologiese daad in Christus waarin sy regsheerskappy oor die wêreld opgerig is. En Kraus sê dat die betekenis van die evangelie van die regverdiging nie afhanklik is van die skuldgevoel oor die sonde nie. Die boodskap van die kruis en opstanding as God se eskatologiese oorwinning oor die sonde van die wêreld roep self die egte besef van skuld by mense op en lê die diepte daarvan bloot. Sondebesef is nie ’n voorwaarde vir die regverdiging nie, maar die vrug daarvan.

7.Ongetwyfeld is daar waarheid in bogenoemde stellings, maar tog het Berkhof reeds dekades gelede daarteen gewaarsku dat die aksente van Barth en die Nederlandse midde-ortodoksie daartoe lei dat die prediking van die wet as die teenhanger van die evangelie afgeswak word. Dit lei tot ’n uitholling van die skuldbesef en die behoefte aan vryspraak in Christus. Die prediking word tot ’n aansegging van die heil, sonder die oproep tot bekering. So verloor die prediking van die regverdiging sy impak. Die gebrek aan skuldbesef by die gemeente word nie werklik aangeraak nie. Volgens Berkouwer word die ware skuldbesef deur wet en evangelie gesamentlik bewerk (De Zonde). Betekenisvolle prediking van die regverdiging vereis dus ’n konfrontasie met wet én evangelie. Deur die prediking moet ’n skuldbesef by die gemeente opgeroep word. Die prediking van die regverdiging moet reg gehoor kan word, sodat dit veral die individu persoonlik konfronteer met sy/haar skuld voor God. Anders gebeur wat Berkhof by die midde-ortodoksie gekonstateer het: genade word verkondig sonder die gerig van God, verlossing sonder dankbaarheid, vreugde sonder vrees, voorsienigheid sonder gebod.

  1. In die lig van die Nuwe Testament blyk dit hoe flou die huidige probleme met die leer van die regverdiging is (vgl. by II,2). Dit is sonder begrip vir die diepte van die mens se ellende en die heerlikheid van Gods genade. Dit bly vassteek in moralisme en oppervlakkigheid. Veral die beswaar dat die leer van die regverdiging deur die geloof alleen aan die mens ’n slegte selfbeeld gee, omdat dit uitgaanvan sy/haar onmag en sonde in plaas daarvan om sy/haar selfbeeld op te bou, is openbaring van volkome onbegrip vir die bedoeling van die regverdigingsleer. Die konsep van ’n positiewe selfbeeld is humanisties en psigologisties, sonder ruimte daarvoor dat ’n mens eers in die lig van die openbaring van God ’n ware kyk kan hê op hom- of haarself. ‘n Egte positiewe selfbeeld kan eers gebore word wanneer ’n mens sy/haar eie ellende ken en tóg weet dat hy/sy in Christus aanvaar is en deur die Gees tot ‘n nuwe lewe gelei word. Eers die mens wat in Christus vrygespreek is, kan werklik besef uit watter nag van sonde hy/sy verlos verlos is, en kan daarom met Paulus sê dat hy/sy tot alles in staat is deur Christus wat ons krag gee (Fil 4:13). Die moderne prediker hoef nie te meen dat die boodskap van die regverdiging vandag betekenisloos is nie. Wie dit op die regte wyse verkondig, mag ook daarmee reken dat dit tot vreugde en bevryding sal lei.

III HOMILETIES

  1. Die grondpatroon van die Heidelbergse Kategismus (sonde, verlossing, dankbaarheid) is ontleen aan die brief aan die Romeine. Die meeste preke bevat ook altyd hierdie drie elemente. As dus oor Romeine 1:16-17 gepreek moet word, is dit voor die hand liggend om te vra: Wat onthul hierdie teks aangaande die mens se nood? Wat is die goeie nuus wat daarin na vore kom? en: Watter beroep word op die hoorder gedoen? Die antwoord op hierdie drie vrae kan net wees: (a) Alle mense (Jode en Grieke) het behoefte aan die vryspraak van God, omdat almal gesondig het en ver van God af is (3:23). (b) God spreek mense vry enkel ter wille van Christus. (c) God gebied ons om te glo dat Jesus ook vir ons sondes gesterwe het, sodat ons vergewe en vernuwe kan word om voortaan uit die vryspraak te lewe.
  1. Die gevaar bestaan dat ‘n dergelike preek tot ’n soort kategetiese les kan word, terwyl ’n preek tog proklamasie en uitnodiging moet wees. Daarom is die wyse waarop die stof aangebied word van groot belang. In die postilles wat hierbo onder die literatuur genoem word, is daar verskillendes waarvan die aanpak teleurstellend is.

Mönnich stel voor dat begin moet word deur iets mee te deel oor Paulus se ontdekking van die evangelie by sy bekering, en watter ingrypende gevolge dit vir sy hele lewe gehad het. Langs die weg sal dan geprobeer kan word om ook die gemeente te laat ontdek dat die ervaring van Christus se troos in ’n angssituasie vir hulle groot waarde kan hê. Die probleem met hierdie voorstel is dat dit eintlik nie teksprediking is nie. Dit mis die eintlike punt waarom dit in die teks gaan, wat nie troos in benoudheid is nie, maar die regverdiging van die sondaar.

Karl Heim neem sy uitgangspunt in die feit dat Christus ’n krag tot redding is, maar hy maak nie duidelik dat daardie redding volgens Paulus juis die regverdiging van die sondaar is nie. Dit geld ook van Hunter, wat kragtig preek oor die goddeloosheid van die mense, maar dan net sê dat God in Christus die geneesmiddel teen hierdie kwaal het, sonder om op die vreemde vryspraak as sodanig in te gaan.

  1. Klaarblyklik is dit beter om juis klem te lê op die hart van die saak: die vryspraak van sondaars. Maar dit veronderstel dat die mens hom-/haarself as sondaar moet ken. Daarom sal die preek nie geslaag wees as dit nie minstens duidelik maak waarom God so ’n radikale geneesmiddel as die dood van sy Seun nodig geag het nie.

‘n Preek oor hierdie gedeelte moet dus die vinger op die mens se sonde lê, op die asebeia en die adikia van die mense waaroor 1:18-3:20 handel. Die radikale vervreemding van die mens voor God moet duidelik uitgespel word. Die hele Bybel getuig daarvan, maar daar is gedeeltes in die Nuwe Testament wat dit op ’n toegespitste wyse doen (vgl. Ef 2:3-4,9-10; Tit 3:3-4; 2 Tim 3:1-5, ens). In Romeine 7:13-15 en die boetepsalms (vgl. in die besonder Totius se beryming van Ps 51!) word die omvattende en vernietigende beslag wat die sonde op die mens lê, geteken. Die prediker moet deurdronge wees van die kwalitatiewe aard van die kloof van die sonde wat ons van God skei. Sonde is veel meer as die afsonderlike verkeerde dinge wat mense doen. Dit is iets wat met die eksistensie van die mens self gegee is, ’n Total Akt van rebellie teen en afkeer van God, ‘n innerlike verwording wat altyd weer gekamoefleer word en daarom vir die mens self nie kenbaar is nie tensy sy/haar oë daarvoor geopen word in ‘n geestelike ontmoeting met Christus (vgl. in hierdie verband die uiteensetting oor die aard van die sonde deur Brunner in sy Dogmatik II, al het ’n mens beswaar teen sy Skrifkritiese instelling).

  1. Dis nie genoeg as die prediker op allerlei sensasionele vorms van sondes wys wat “baie mense” doen en waarvan die koerante (veral die Sondagkoerante!) vol is nie. Die prediker moet deurstoot na die onthulling van die sondige hart en natuur van ons almal, van elke mens, die selfliefde, ingeboënheid in onsself, die verborge haat teen God en sy gebod. Die Heidelbergse Kategismus vat dit saam in die woorde dat die mens onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad is (vraag 8). Veral die moderne mens moet gehelp word om dieper te kyk as die moralistiese en humanistiese vlak om die afgrondelikheid van sy/haar Godsvervreemding te ontdek. ’n Boek soos Jan Bakker se Coram Deo kan help om te sien hoe diepgaande Luther die menslike bederf gepeil het. Die prediker sal egter ook deur selfinkeer en meditasie by hom-/haarself moet ontdek hoe diep die kwaad in die eie binneste lê en die hele menslike wese deurdring, anders sal dit moeilik wees om dit betekenisvol aan die gemeente deur te gee.
  2. Die heerlikheid van die prediking oor hierdie teks is juis dat van Godsweë geproklameer mag word dat elkeen wat glo, van sy/haar sonde vrygespreek word. Dit geld die Jood, maar ook die Griek; die godsdienstige mens én diegene wat onverskillig en roekeloos lewe. Dit geskied enkel en alleen uit genade, ter wille van Christus (Rom 3:22-24). Die geloof gee Gods oordeel oor die sonde gelyk, maar hou dan vas aan Christus se betaling daarvoor. Die geloof gryp God in sy liefde en barmhartigheid vas, neem Hom op sy Woord, vertrou op sy belofte. Die oersonde en kern van alle sonde is ongeloof en daarom ook hovaardigheid. Duisend stemme van buite en binne die mens fluister dat dit betekenisloos is om net op Gods Woord te vertrou, maar die geloof verlaat hom net maar op Gods belofte, net maar op Christus. Die prediking moet ’n kragtige appèl tot almal laat uitgaan om te glo. Egte prediking kom tot alle mense met die bevel om te glo (Dordtse Leerreëls II/5). Dit roep tot ’n beslissing (Jos 24:15). Daar is niks wat God meer behaag nie as dat mense Hom op sy woord neem, die evangelie omhels en daarop vertrou. Daarop moet die prediking afstuur, telkens weer.
  3. Die prediker kan die stof op verskillende maniere rangskik. Die eenvoudigste is om te begin met Paulus se stelling in 1:16 dat hy hom nie skaam vir die evangelie nie. Dan kan voortgegaan word om te sê dat selfs Christene dikwels skaam is vir die evangelie, omdat andere so vernaam, ryk, geleerd, begaafd en selfversekerd lyk. En tog is dié mense, ondanks alle vertoon, dikwels nie gered nie – wat vir Paulus die allerbelangrikste saak was. Hulle is nog slawe van die sonde. Hulle het nie vrede met God nie. Hulle lewe is sinloos en vol van die pyn wat die sonde bring – veral die pyn van verlorenheid. Daarom moet ook aan sulke mense, wie hulle ook is, die evangelie verkondig word: die blye tyding dat daar vryspraak van die skuld van die sonde is en ’n nuwe verhouding tot God, tot hulleself, en tot die hele lewe. Die evangelie is ’n krag tot redding, tot bevryding uit sinloosheid, uit verderf en die vernietiging van alles wat betekenis het. Maar dan moet dit geglo word. Die prediker behoort daarom ’n kragtige appèl tot almal te rig om hulle vertroue in Christus te plaas, Hy met wie se geregtigheid God hulle wil bedek.