Riglyne vir ‘n kontekstuele teologie.
Prof W D Jonker, Stellenbosch
(Referaat gehou by Teologiese Konferensie, 13 April 1992)
- Inleidend: Wat is kontekstuele teologie?Uit die formulering van die onderwerp lei ek of dat daar uitgegaan word van die gedagte dat teologie kontekstueel behoort te wees, sodat dit belangrik is om te vra na die kriteria of riglyne wat hanteer moet word om te sorg dat die teologie op die regte wyse kontekstueel sal wees. Aangesien daar tans nog net een soort teologie is wat uitgesproke as kontekstueel bekend staan en bewustelik as sodanig beoefen word, nl. die verskillende vorms van die bevrydingsteologie, is dit nodig dat ons daarna moet kyk en in gesprek daarmee vir onsself probeer bepaal watter riglyne in die algemeen vir ‘n verantwoordbare kontekstuele teologie behoort te geld.
Die begrip kontekstualiteit het sedert die sewentiger jare in die teologiese taalgebruik opgekom om die invloed van die ervaring en situasie van die geloofsgemeenskap op die teologiese insigte en die verstaan van die Bybel tot uitdrukking te bring. Waar die begrip konteks in die wetenskaplike taal normaalweg ‘n literêre betekenis het as aanduiding van die breër verband waarin woorde of formulerings binne ‘n geskrewe teks voorkom, word dit deur die beoefenaars van die kontekstuele teologie in ‘n sosiologiese betekenis gebruik as aanduiding van die historiese en maatskaplike situasie waarin die lesers van die teks hulleself bevind. Dit wil die aandag daarop vestig dat die sosiale situasie die lees en verstaan van die Bybel asook die teologiese denke beslissend bepaal, omdat mense die Bybel altyd lees met die bedoeling om daarin die antwoord te vind op die soort nood wat hulle ervaar.
Die bedoeling is daarby nie slegs om te sê dat dit in die geskiedenis nog altyd so gebeur het nie, maar om ook te sê dat dit so behoort te wees. Dit is al manier waarop die teologie volgens kontekstuele teoloë werklik relevant kan wees. Teologie sal volgens hulle altyd irrelevant wees as dit antwoorde bied op vrae wat nie deur mense vanuit hulle nood gestel word nie. Dit is volgens hulle die probleem met die bestaande teologie. Dit het tot ‘n wetenskaplike bedryf van teoloë binne ‘n akademiese konteks geword wat met allerlei teoretiese, historiese en wysgerige vrae besig is, sonder dat dit die praktiese nood van die gewone kerkvolk raak.
As die teologie weer relevant wil word, moet dit nie oor vrae bly redeneer wat uit ‘n ander historiese en maatskaplike konteks as die van vandag afkomstig is nie, maar doelbewus vanuit die konteks en konkrete nood van die gewone gelowiges van vandag na die boodskap van die Bybel vra. Om daardie konteks en nood wetenskaplik reg te peil, moet die teologie van die sosiologie eerder as die filosofie as hulpwetenskap gebruik maak. Die sosiologie ontleed die werklike situasie en bring die maatskaplike nood aan die lig, deurdat dit aan die teoloog ‘n sosiale analise bied wat as vertrekpunt vir sy teologisering kan dien.
Anders as die tradisionele teologie wat meestal deduktief te werk gaan deur met die Bybel en die belydenis van die kerk te begin en daaruit afleidings vir die huidige situasie te maak, wil die kontekstuele teoloog induktief te werk gaan deur met die situasie te begin en in die lig daarvan die Bybel te bevra. Dit beteken dat ‘n nuwe soort hermeneutiek hanteer word. Waar die histories-kritiese eksegese die historiese betekenis van die teks as vertrekpunt neem, word die Bybel in die kontekstuele teologie vanuit die huidige situasie gelees en verstaan. Die teks word dan verhelder deur die ervaring van die leser, maar omgekeerd verhelder dit ook weer die situasie en ervaring van die leser. Binne hierdie hermeneutiese sirkel kom die Bybel volgens kontekstuele teoloë eers werklik tot sy reg.
2
Die feit dat die uitgangspunt in ‘n sosiale analise geneem word, bring mee dat nie die geestelike nood van die enkeling soos in die tradisionele teologie op die voorgrond staan nie, maar die maatskaplike en politieke nood van die volk of gemeenskap. Die feit dat die sosiologie by hierdie soort teologie die filosofie as hulpwetenskap vervang, speel hierin ‘n beslissende rol. Die teologiese vraagstelling word daardeur verander. Die vraag na die sin van die lewe word vervang met die vraag hoe die wêreld verander kan word om die onnoembare lyding, verontregting, armoede en verdrukking wat deur groot groepe van die mensheid ervaar word, uit die weg te ruim. Daar word gewerk met die idee dat die lyding en ellende in die wêreld meer met strukturele as individuele oorsake saamhang, en dat dit verander kan word. Dit bring ‘n bepaalde openheid vir die Marxisme mee, wat van huis uit ‘n bepaalde sosiale teorie as die grondslag van alle denke probeer aanbied.
Daarin skakel die kontekstuele teologie aan by die wending tot die politiek wat sedert die Tweede Wêreldoorlog in die Westerse teologie na vore gekom het. Onder andere uit reaksie teen die onreg en lyding wat deur Wêreldoorlog II veroorsaak is, maar ook vanweë ander faktore, soos kontak met die neo-Marxisme (Bloch) en die invloed van ‘n wysgerige beweging soos die Kritiese Teorie van die Frankfurter-skool, breek daar by teoloë soos Metz, Moltmann, Sölle, e.a. die oortuiging deur dat dit in die Bybel en in die Christelike geloof om die een groot tema van die bevryding gaan. Daarop is die eskatologiese hoop gerig, maar dit is ‘n hoop wat oproep tot die daad wat in die geskiedenis die stryd teen alle vorms van onvryheid aanbind. Omdat die meeste vorms van onderdrukking en lyding in verband gebring word met politieke strukture, word ook die boodskap van bevryding hoofsaaklik in terme van politieke heil verstaan.
Die mees kenmerkende aspek van die kontekstuele teologie is die aksent op die bevryding uit die lyding, armoede en onderdrukking wat in die Derde Wêreld ondervind word. Dit spits die genoemde tendense in die Westerse politieke teologie toe deur na vore te kom as ‘n teologie wat vanuit die situasie van die armes en die verdruktes wil dink. Dit hanteer die Marxistiese maatskappy-analise met die beginsel van die klassestryd, asook die kennis-sosiologiese teorie dat die mens se insig in die waarheid bepaal word deur sy materiële belange, ondanks die ideologiese versluiering daarvan. Daarom moet die teologie ideologie-krities te werk gaan om die verskuilde sosio-politieke en ekonomiese belange van die leser van die Bybel bloot te lê. Dit gaan verder van die Marxistiese oortuiging uit dat die menslike verstaan van die wêreld in wysbegeerte en teologie nie ten doel kan hê om die dinge net te probeer verklaar nie, maar dat dit daarop gemik meet wees om die dinge te verander (vgl. Marx se bekende tweede tese teen Feuerbach). Vandaar die oortuiging van die primaat van die praxis bo die teorie, oftewel: die primaat van die daad bo die denke, van die ortopraksie bo die ortodoksie. Maar daarmee is ook die revolusionêre tendensie van hierdie soort teologie gegee. Slegs teologie wat tot revolusionêre bevrydende praxis lei, word as ware teologie beskou. In feite verstaan kontekstuele teologie homself as teorie vir die praxis van politieke en maatskaplike bevryding.
‘n Baie bondige en insiggewende oriëntering ten opsigte van die vraag wat kontekstuele teologie is, word gebied in die brosjure What is Contextual Theology? wat gepubliseer is deur die Institute for Contextual Theology in Johannesburg. Ook die werkie van Nolan en Broderick, To nourish our faith, is baie verhelderend. Daarin word uitgegaan van die oortuiging dat alle teologie kontekstueel van aard is, maar dat die beoefenaars van die teologie dit nie altyd weet nie en dus ten onregte meen dat hulle teologie algemeen-geldend is. Die tradisionele teologie wat hoofsaaklik binne die konteks van Europa en Noord-Amerika ontstaan het, is niks anders nie as ‘n teologie vir Westerse mense met hulle soort kultuur. Dit kom op uit die liberale kapitalisme en die selftevredenheid van die middestand. Die gevolg is dat dit die status quo van die Westerse samelewing bevestig. Daarom is dit ook in groot mate vir die mense van die Derde Wêreld irrelevant en betekenisloos. Die Derde Wêreld, maar ook ander groepe in die samelewing, soos by vroue en gemarginaliseerdes, het behoefte aan ‘n teologie wat ontstaan binne die konteks van die lyding en verdrukking waaraan hulle onderworpe is, en ‘n Bybelse antwoord daarop kan gee. As vorme van kontekstuele teologie word genoem swart teologie, bevrydingsteologie, feministiese teologie en politieke teologie. Oor kulturele Afrika-teologie word opgemerk dat dit ook ‘n vorm van kontekstuele teologie is, maar dit is duidelik dat dit as te min bewus van die politieke konteks beskou word.
Die bekendste voorbeelde van kontekstuele teologie in ens land is die Kairos-dokument en die boek van Albert Nolan, God in South Africa. In die Kairos-dokument word bevrydingsteologie geïdentifiseer met profetiese teologie, na analogic van die voorbeeld van die Ou-Testamentiese profete wat die oorded van God oor die politieke sondes van die magtiges aangekondig het, terwyl die saak van die armes en die swakkes opgeneem is. Maar net soos in die boek van Nolan word dit geweef op die stramien van die Marxistiese sosiale analise en die klassestryd. Die gevolg is dat ‘n betreklik eenvoudige resep hanteer word
3
en dat daar ‘n maklike onderskeiding tussen rykes en armes, boses en goeies, verdrukkers en verdruktes gemaak kan word. Die hele geestelike lewe van die mense word vanuit die aspek van die maatskaplike en politieke nood benader, en die hele boodskap van die evangelie word daarop toegesny. Daarmee bly hierdie soort teologie aan sy eie pretensie getrou: dit wil slegs ‘n kontekstuele teologie wees in die sin dat dit binne ‘n bepaalde situasie van nood die boodskap van die evangelie as die antwoord op daardie nood proklameer.
2. Waarheidsmomente in die kontekstuele teologie
Hoewel kontekstuele teologie homself aandien as iets totaal nuuts en daarvan hou om baie negatief oor die tradisionele teologie te oordeel, is dit tog duidelik dat dit nie sonder verband met bepaalde ontwikkelinge in die tradisionele teologie is nie en dat dit aspekte na vore bring wat ook deur die tradisionele teologie erken word.
Ons het reeds daarop gewys dat dit aansluit by die Europese politieke teologie, maar daar is ook ander dinge wat genoem kan word. Om mee te begin, is die feit dat subjektiewe en ander faktore ‘n groot invloed op teologiese insigte uitoefen, reeds lank bekend. Ons weet uit ervaring baie goed dat die Skrif deur verskillende mense en in verskillende situasies verskillend verstaan word. Die Christelike kerk ken die verskynsel van ‘n verskeidenheid van teologieë, soos by die Oosterse, die Westerse, die Middeleeuse of die Moderne – om maar enkele voorbeelde te noem – wat as bewys daarvan kan dien dat dieselfde boodskap van die Skrif in verskillende tye, omstandighede en kulture van verskillende kante benader en op verskillende wyses bevra is. Minstens sedert die aanbreek van die sg nuwe tyd (agtiende eeu) is die Westerse wêreld deur die moderne wysbegeerte daarvan bewus gemaak dat al ons kennis subjektief van aard is. Dit geld ook van ons teologiese kennis, want selfs al aanvaar ons die normatiewe betekenis van die Bybel vir die teologie, weet ons maar alte goed dat die menslike subjektiwiteit by die omgang met en verstaan van die Skrif ‘n ingrypende rol speel. Sedert Schleiermacher word gewerk met die idee dat teologie ‘n hermeneutiese karakter dra, omdat dit daarin om die vertolking van die waarheid van God en die heil in terme van subjektief-menslike verstaanskaders gaan. Sells die protes van Barth teen die subjektivisme in die teologie neem niks daarvan weg nie dat sy eie teologie die spore dra van ‘n tydbepaalde poging om die boodskap van die Skrif te hoor, sodat dit selfs aanvanklik as teologie van die krisis bekend gestaan het. Dus: die basiese idee dat ons insig in die teologiese waarheid baie sterk situatief en subjektief bepaald is, is niks nuuts nie en moet as korrek aanvaar word.
Ons kan dit kontekstuele teologie ook gelyk gee dat teologie the ‘n belangelose wetenskaplike bedryf is the, maar altyd gedra dew die drang om van die Bybel ‘n antwoord te kry op ‘n bepaalde vraag of met betrekking tot ‘n bepaalde nood. In ons omgang met die Skrif is ons hele mens-wees betrokke. Dit bepaal die vraag waarmee ons na die Bybel gaan. Dit is ook inderdaad waar dat daar so-iets as ‘n hermeneutiese sirkel (of verstaanspiraal) is. Die geskiedenis van kerk en teologie lê getuienis daarvan of dat die vraag waarmee na die Bybel gegaan is, in verskillende tye en situasies verskillende vorms aangeneem het. Vir lang tye was daardie vraag die persoonlike heilsvraag, soos die van Luther: Waar vind ek ‘n genadige God? Soms was dit ook die morele vraag: Hoe behoort ek te lewe? Sedert Schleiermacher en veral die eksistensialisme is die vraag gestel of die Skrif my bestaan kan verhelder of my kan help om tot my identiteit as mens te kom. Waarom sou die Skrif dan nie ook benader mag word met die vraag van die onderdrukte en lydende mensheid nie?
Daarom kan ons ook nie ontken dat alle teologie ‘n kontekstuele karakter dra nie. Iets daarvan het ons altyd al besef, maar dit is tog waar dat ons oë eers deur die opkoms van ‘n volbloed en bewuste kontekstuele teologie regtig geopen is vir die feit dat alle teologiese denke binne ‘n bepaalde kulturele en sosiale konteks geskied, en dat dit die spore daarvan dra. Ons moet dit as ‘n werklikheid aanvaar en dat daar nie so-iets is as ‘n standaard-teologie is wat vir alle tye en plekke die volle waarheid tot uitdrukking kan bring nie. Teologie is mensewerk en daarom altyd beperk, tydgebonde en relatief. Die teologiese bedryf kom nooit klaar nie. Daar moet altyd weer in elke tyd en in elke nuwe situasie opnuut gevra word na die betekenis van die Woord van God. Daardeur kom die veelkleurige wysheid van die Woord van God ook steeds meer na vore. Geen teoloog, geen geslag is in staat om die volle waarheid van God te sien en te ken nie. In telkens nuwe situasies word nuwe aksente (en ou, vergete aspekte) van die evangelie ontdek of herontdek. Dit is ‘n uitdaging wat aanvaar moet word, en dit moet ons daarvan genees om die teologie van enige tyd of beweging – selfs die van die Reformasie – te verabsoluteer. Omdat teologie nie bedoel is vir abstrakte wesens the, maar vir konkrete mense in hulle konkrete en historiese situasies, is dit ook reg en goed dat dit so is.
4
Ons kan ook nie ontken dat die politieke teologie gelyk het as dit beweer dat baie van die veronderstellings waarmee ons die Bybel lees en wat dikwels onbewus by ons aanwesig is, ons lees en verstaan van die Bybel affekteer nie. Ons het in ons eie geskiedenis ‘n goeie voorbeeld daarvan. Die bybelse verdediging van apartheid is ‘n voorbeeld van ‘n kontekstuele teologie wat in alle erns bedryf is (en nog bedryf word) deur mense wat vir hulleself op ‘n ideologiese wyse die selfbelang van die Afrikaner waarom dit daarin gaan, op sodanige wyse rasionaliseer, dat hulle vas glo dat hulle na niks anders as die onvervalste Woord van God wil luister nie. Daarom kan ons nie tans meer op ‘n onkritiese en ongereflekteerde wyse teologie bedryf, sonder om aan onsself rekenskap te gee van wat ons uitgangspunte en voorveronderstellings is nie. As dit waar is dat alle teologie ‘n kontekstuele karakter dra, moet ons die uitdaging aanvaar om aan onsself krities rekenskap te gee van ons konteks en die voorwaardes vir ‘n verantwoordelike omgang met die teologie binne daardie konteks. Alleen so sal dit moontlik wees om op ‘n relevante en Bybelse wyse teologie te beoefen.
3. Riglyne vir ‘n kontekstuele teologie
En dit bring ons dan by die vraag watter riglyne vir ‘n verantwoordbare kontekstuele teologie behoort te geld. In die lig van wat so pas gesê is, wil ek sê dat die heel eerste riglyn vir ‘n legitieme kontekstuele teologie moet wees dat die teoloog daarop ingestel moet wees om in sy situasie in alle ems teologie te beoefen. As alle teologie in elk geval kontekstueel blyk te wees, dan spreek dit vanself dat kontekstualiteit nie die hoofdoel is waarna die teoloog hoef te streef nie. Waarna hy moet strewe, is om werklik te vra wat Gods openbaring hier en nou beteken. Hy moet betrokke wees by wat hy doen en werklik glo in wat hy doen. Ons kan dit die geestelike kant van die beoefening van teologie noem. Teologie is nie maar ‘n akademiese spel nie, maar moet ‘n omgang met die Woord van God wees wat ‘n antwoord bied op die konkrete vrae van die mensheid in die konkrete situasie van sy bestaan. As die teoloog sy/haar geestelike roeping verstaan en betrokke is by die nood van die wêreld, sal sy/haar teologie vanself kontekstueel wees, omdat dit gebore is uit die worsteling van die geloof. Alle ware teologie ontstaan op hierdie wyse, en alle ware teologie is kontekstueel.
En tog sou ons as tweede riglyn vir ‘n kontekstuele teologie daaraan moet toevoeg dat die teoloog helderheid moet verkry oor wat die konteks is waarbinne daar geteologiseer word. Dit is die verdienste van die kontekstuele teologie dat dit die aandag daarop gevestig het. Daar is ‘n sin waarin alle teoloë, soos alle predikers, dit spontaan doen. Maar die ervaring leer dat ‘n mens daarby dikwels blind kan wees vir spesifieke werklikhede in die konteks. Daar is waarheid in die ideologie-kritiese oortuiging dat ‘n mens se belange jou visie op die werklikheid kleur, en dat jy dit dikwels vir andere, maar ook vir jouself verberg. Baie oortuigde en vir hulle eie besef toegewyde Christene is bv. blind vir die sosiale onreg rondom hulle, en dit pas hulle belange goed. Daarom moet ons beklemtoon dat daar ook ‘n sedelike kant aan die beoefening van teologie is. Teoloog en prediker moet geopende oë vir die nood en die kwaad in hulle self en rondom hulle hê. Dit verleen die profetiese element aan die teologie. Dit is die verdienste van die bevrydingsteologie dat dit die aandag hierop gevestig het. Ongelukkig lê dit uitsluitlik klem op die sosiale analise. Dit lei daartoe dat feitlik net op die politieke en maatskaplike aspekte van die menslike bestaan gekonsentreer word. Dit hanteer die Marxistiese sosiale analise as ‘n universeel-geldige beskrywing van die konteks, verstaan Bybelse terme feitlik deurgaans polities en binne-wêrelds (dink bv. aan die term koninkryk van God of die opvatting van sonde, verlossing en heiliging), en reduseer die evangelie prakties tot ‘n boodskap van politieke bevryding. So word die teologie ‘n instrument in diens van ‘n ideologiese stryd, eerder as dat dit die heilswaarheid van die Skrif kontekstueel reflekteer. Daarom is dit so belangrik dat daar by die bepaling van die konteks na meer as die ekonomie en die politiek gekyk moet word. Ook die kulturele, sedelike en veral die geestelike en religieuse aspekte van die konteks moet in aanmerking geneem word as die hele situasie deur die Skrif deurlig moet word.
Ons moet egter daarby ‘n derde riglyn voeg, en dit is dat die ware betekenis van die konteks in die proses van teologisering reg verstaan moet word. Daarmee bedoel ek dat die konteks self nie normatiewe betekenis kan hê met betrekking tot die waarheidsvraag nie. Die konteks is wel die situasie waarin die evangelie gehoor en verkondig moet word, en as sodanig speel die konteks ‘n rol by die lees van die evangelie, maar die konteks self kan nie die inhoud van die antwoord bepaal of die norm vir die waarheid van die antwoord wees nie. Relevansie kan nie die norm vir die waarheid wees nie. Die norm vir die waarheid kan alleen die evangelic self wees, en dan ook die evangelie in sy volheid. Die evangelie korrigeer ons vraagstelling en deurkruis ons prioriteite. Die gevaar is altyd dat die evangelie deur die definisie van die konteks gereduseer
5
word tot wat ons as relevant beskou. So verkort die bevrydingsteologie die evangelie tot die boodskap van politieke en maatskaplike bevryding. Die lewe is egter meer as politiek – daarin het Kuitert gelyk. Die menslike nood is volgens Jesus en Paulus veel omvattender as materiële of politieke nood. Dit bly maar ‘n groot probleem vir bevrydingsteoloë om duidelik te maak waarom basiese elemente van die boodskap van die evangelie nie eintlik by hulle funksioneer nie.
Dit bring ons by ‘n vierde riglyn, en dit is dat die klem in die teologiese bedryf nie op die konteks moet val nie, maar op die boodskap van die Bybel soos dit in die konteks gehoor moet word. Die Bybel kom na ons met ‘n bepaalde inhoud, ‘n evangelie, ‘n openbaring van God wat binne die konteks geïnterpreteer moet word. Daar is ‘n normatiewe Woord van God waaraan die geloof en die hoop van die gemeente hang. Daardie Woord van God het ons in die Heilige Skrif, met as sentrum die Woord wat vlees geword het. Die eenmalige, historiese openbaring van God mag byvoorbeeld nie verstaan word as ‘n kontekstuele vormgewing van ‘n algemeen-menslike hoop op bevryding as die oer-gegewe waarmee gewerk word nie. Watter erkenning daar ook aan die kontekstuele faktore in ons omgang met die Skrif verleen mag word, dit moet ons nie laat vergeet dat dit alles slegs relatiewe betekenis in die omgang met die Skrifwoord as objektiewe gegewene het nie. Die Skrif staan krities teenoor ons verstaan van sowel ons konteks as van die Skrifteks. Die worsteling met die Skrifwoord self, en dan veral in gemeenskap met al die heiliges wat die Bybel in ander kontekste as ons eie gelees het en nog lees (Ef 3:18), bly altyd belangriker as ons ontleding van ons eie konteks en kan ons help om van ons eie vooroordele bewus te word. Teologie kan dus nie net induktief beoefen word nie. Dit moet eerder beoefen word binne ‘n verstaanspiraal waarin op ‘n dialektiese wyse tussen konteks en Skrifwoord beweeg word, terwyl die primaat daarby aan die Skrifteks behoort. Anders word die Skrif skeefgetrek vanuit vooraf-ingenome posisies.
14. Maar daarom moet ons as vyfde riglyn ook stel dat ‘n egte kontekstuele teologie versigtig moet wees vir die soort Entführung wat in die bevrydingsteologie met sy eksklusiewe klem op die praxis voltrek word. Daardeur word die kriterium vir die waarheid van die teologie nie meer in die Woord van God gesoek nie, maar in die bevrydende praxis. Ook hier moet ons erken dat die bevrydingsteologie ons help om te verstaan dat die geloof prakties moet wees. Geloof sonder werke is dood, leer Jakobus ons. Geloof sonder ‘n bepaalde commitment is nie die naam van geloof werd nie. Die groot gevaar van die teologiese ortodoksie is dat dit so maklik alles by die bestaande laat. Die blote feit dat die bevrydingsteologie ons dikwels so mateloos irriteer, wek die agterdog dat dit die geval is omdat ons nie regtig vir die saak van die armes en verdruktes wil opkom nie. Dit sou vreeslik wees as ons uit reaksie teen die bevrydingsteologie ‘n soort teologie sou voorstaan wat ongeregtigheid sanksioneer en ‘n sondige status quo regverdig. En tog is die wyse waarop die praxis in die bevrydingsteologie funksioneer, teologies onaanvaarbaar. Naudé het daarop gewys dat die korrelasie tussen geloof en teologie in die bevrydingsteologie vervang word deur die van liefde en teologie. Nie wat ‘n mens glo nie, maar wat hy doen word kriterium van die waarheid. Dit lei maklik tot die aanvaarding dat ook die heil nie soseer te make het met die verhouding van geloof en Gods beloftes the, maar met die goeie praxis, die goeie werke, die lewensoriëntering as grond vir die heil. Dit is waar dat die egtheid van die geloof uit die vrugte moet blyk, maar dit is gevaarlik om die primaat van die ortopraksie bo die ortodoksie op ‘n wyse te beklemtoon wat die ortodoksie van betekenis beroof. Daarby kom nog die ernstige beswaar dat die klem op die ortopraksie daartoe kan lei dat die teologie dienstig gemaak word aan politieke aktivisme en uiteindelik maar net weer die politieke ideologie religieus sanksioneer.
As sesde riglyn sou ek dus wil noem dat ‘n kontekstuele teologie ‘n katolieke karakter moet dra, in die sin dat dit die Skrif bly lees in gemeenskap met die Vaders en die broeders van alle tye en alle plekke, en dat dit die volheid van die heil in die gegewe konteks tot uitdrukking moet bring. Teologie moet aktueel wees en in die sin ook kontekstueel. Dit is egter noodsaaklik om die spesifieke konteks waarin daar geteologiseer word, in verband te bring met die algemeen-menslike situasie waarvan dit ‘n deel is. Die eensydigheid en betekenisloosheid van die moderne teologie het nie daarin gelê dat dit nie kontekstueel was nie – dit wou immers die evangelie relevant maak in die konteks van die moderne Westerse mens – maar dat dit nie die totale nood van die mens onder oë gehad het nie, en daarom die maatskaplike nood van miljoene mense oor die hoof gesien het, om net te konsentreer op die selfrealisering van die Westerse individu. Die bevrydingsteologie het ons gehelp om ook ander kante van die menslike nood in berekening te bring. Dit het ons met verbasing laat ontdek watter plek die nood en die reg van die armes, verdruktes en verstotelinge in die Bybel inneem. Dit behoort tot die katolieke volheid van die teologie om aandag daaraan te gee. Tog is dit ook weer eensydig wanneer die bevrydingsteologie so kant kies vir die armes en verontregtes, dat dit tot ‘n politieke teologie word wat alles oor die boeg van die vryheidstryd gooi, die wapens seën van diegene wat ‘n nuwe revolusionêre bewind tot stand wil bring, en in naïwiteit die sondes van die
6
nuwe volksbewegings ignoreer. Teologie en kerk word dan dienstig gemaak aan ‘n politieke stryd, met al die fanatisme daarvan, maar ook met prysgawe van die katolieke volheid van die Christelike waarheid.
Daarom moet daarteen gewaak word dat kontekstualiteit nie die katolisiteit van die teologie vernietig nie. ‘n Verbinding tussen kontekstualiteit en katolisiteit is noodsaaklik. Dit kan m.i. in die gereformeerde teologie baie maklik bereik word. Die gereformeerde teologie is een van die mees katolieke gestaltes van die teologie, omdat dit van die begin af oog gehad het vir die totaliteit van die menslike lewe en nie (soon dit ‘n bietjie by die Lutherane en later by sommige Evangelicals was) net op die engere soteriologiese betekenis van Christus as die Verlosser van sonde gekonsentreer het nie, maar ook verstaan het dat Jesus die Here is wat oor alle terreine van die lewe wil regeer. As die gereformeerde teologie reg beoefen sou gewees het, sou daar veel minder behoefte gewees het aan die huidige teologie van bevryding.
Afsluitend wys ek daarop dat ons ‘n goeie voorbeeld van ‘n gereformeerde kontekstuele teologie in die Belydenis van Belhar vind. Daarin word die regmatige sake wat in die bevrydingsteologie aan die orde gestel word, opgeneem op ‘n wyse wat tog buite die ideologiese suigkrag van die bevrydingsteologie bly. Gereformeerdes het vanweë hulle historiese erfenis die roeping en moontlikheid om kontekstualiteit en katolisiteit so met mekaar verbind, dat die volle nood van die wêreld en die boodskap van die volle hell van God op mekaar betrek word. Mag dit aan ons in hierdie beslissende uur gegee word om dit op die regte wyse te kan doen!
Literatuur
Bühler, P: 1981. Kreuz and Eschatologie. Tübingen. Mohr.
De Gruchy, J W: 1990. Towards a constructive South African Theology, in: Missionalia, Apr 1990, 61-64.
De Gruchy, J W: 1991. Liberating Reformed Theology. Grand Rapids? Cape Town. Eerdmans/ David Philip.
Dyrness, William A: 1990. Learning about Theology from the Third World. Grand Rapids. Zondervan.
ICT Publication: What is Contextual Theology? Braamfontein.
Jonker, W D: 1987. Kerklike en teologiese implikasies van die Kairos-dokument, in Kairos. Kaapstad. Lux Verbi, 74-88.
Kuitert, H M: 1985. Alles is politiek maar politiek is niet alles. Baarn. Ten Have.
Naudé, P J en Jonker, W D: 1988. Bevrydingsteologie as ortopraktiese teologie: ‘n metodologiese evaluering. NGTT, 1988, 236-245.
Nicol, W: 1990. The Cross and the Hammer: Comparing Bosch and Nolan on the role of the Church in Social Change. Missionalia, Apr 1990, 86-98.
Nolan, A en Broderick, R: 1987. Theology of Liberation for Southern Africa. Hilton. Order of Preachers.
Nolan, A: 1988. God in South Africa. Grand Rapids/ Cape Town. Eerdmans/ David Philip.
Nürnberger, K: 1990. Salvation or Liberation? in: Missionalia, Apr 1990, 205-219.
Sölle, D: 1971. Politische Theologie. Stuttgart. Kreuz Verlag.
Smit, D J: 1987. “Christologie uit ‘n Derdewêreld-perspektief”. Scriptura nr 23, Sept 1997,1-49.
Smit, Dirkie: 1987(6). Hoe verstaan ons wat ons lees? Kaapstad. NG Kerk-Uitgewers.
Van der Merwe, C F: 1989. Context and Theology in Southern Africa. DTh Thesis, UWC.