VERKLARING
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 4 Desember 1990
Op sy vergadering van 4 Desember 1990 het die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) kennis geneem van die ongelukkigheid by ’n aantal lidmate en kerkrade oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode in Oktober, en veral oor gebeure by die Kerkeberaad te Rustenburg in November.
Ná indringende bespreking oor die aangeleentheid wys die ASK op die volgende:
Die ASK volstaan met· die besluite van die Algemene Sinode soos vervat in Kerk en Samelewing 1990 en doen ’n ernstige beroep op lidmate en kerkrade om dit in samehang met mekaar te verstaan.
Die ASK beklemtoon ten opsigte van die besluite van die Algemene Sinode die volgende:
In aansluiting by vroeëre uitsprake oor apartheid het die Algemene Sinode dit noodsaaklik geag om sy standpunt ten opsigte van apartheid duideliker te stel.
Die Algemene Sinode het daarop gewys dat daar ook eerlike en opregte bedoelings ten opsigte van die optimale ontwikkeling van alle bevolkingsgroepe binne hulle eie kulturele tradisie was, en dat dit onbillik sou wees om alles wat binne die politieke bestel van apartheid plaas gevind het as verkeerd en sleg te bestempel en die positiewe ontwikkelinge wat daar op verskeie terreine was, te ontken.
Die Algemene Sinode het daarop gewys dat apartheid ’n sisteem geword het wat uiteindelik
deur die grootste deel van die landsbevolking as onderdrukkend ervaar is;
deur gedwonge skeiding tussen mense in werklikheid een groep onregmatig bo die ander bevoordeel;
die menswaardigheid van die medemens aantas;
in stryd gekom net met die beginsels van liefde en geregtigheid.
Op grond van hierdie bevindings het die Algemene Sinode tot die slotsom gekom dat apartheid – en dit sou ook kon geld van enige ander sisteem wat in die praktyk so funksioneer – in die lig van die Skrif en die christelike gewete onaanvaarbaar is en as sodanig van die hand gewys word.
Die ASK wil daarop wys dat die Algemene Sinode apartheid binne ’n gekwalifiseerde verband beoordeel het en hierdie gedefinieerde apartheid as sondig afgewys het.
Daarmee het die Algemene Sinode nie die goeie reg van liefde vir die eie volk en die eie kultuurwaardes ontken nie. Aan alle mense moet die vryheid gegun word om hulleself binne hulle eie kulturele milieu uit te lewe.
Oor die Rustenburg-gebeure wys die ASK op die volgende:
Die skuldbelydenis van prof WD Jonker moet gesien en beoordeel word teen die agtergrond van die besluite van die Algemene Sinode.
Prof Jonker was nie ’n amptelike afgevaardigde van die Ned Geref Kerk nie maar is deur die reëlingskomitee van die Kerkeberaad as spreker genooi. Dit het hom vrygestaan om in sy persoonlike hoedanigheid ’n skuldbelydenis oor apartheid te doen. Hy het egter nie ’n opdrag gehad om dit namens die Ned Geref Kerk te doen nie.
In sy belydenis oor apartheid, het prof Jonker hom op die besluite van die Algemene Sinode beroep, ofskoon hy nie die hele verband van die Sinode se besluite vermeld het nie.
Die ASK oordeel dat die afvaardiging van die Ned Geref Kerk tydens die Kerkeberaad by die besluite van die Algemene Sinode gebly het toe hulle verklaar het dat prof. Jonker hom, vir sy skuldbelydenis oor apartheid beroep het op die besluite van die Algemene Sinode, hoewel ook die afvaardiging nie die hele verband van die Sinode se besluite vermeld het nie. Dit kon by lidmate verwarring veroorsaak het.
Die ASK neem kennis van die Deklarasie van Rustenburg en onderskryf die voorbehoude van die afvaardiging van die NG Kerk daaroor.
Die ASK benadruk dat die Algemene Sinode ’n Bybelse maatstaf gestel het aan die hand waarvan elke politieke sisteem beoordeel moet word en waarin elke lidmaat hom persoonlik moet meet. Daarom moet elke lidmaat self in sy eie gewete voor die Here uitmaak of hy skuldig is of nie.
Die ASK verklaar dat die Algemene Sinode geensins gekies net vir ’n bepaalde partypolitieke beleid nie, maar alleen ’n Bybels-verantwoorde standpunt wou stel.
Die ASK beklemtoon met groot erns dat die mate van onrustigheid wat tans in die Ned Geref Kerk aanwesig is ons almal tot diepe verootmoediging voor die Here oproep. Lidmate word daaraan herinner dat die waarheid van die Woord en ons eenheid in Christus vir ons kosbaar is, en daaraan moet ons steeds vashou.