DIE NOODSAAK VAN SKULDBELYDENIS1
WD Jonker
Derde Gelui vir Môre: die NG Kerk voor die uitdagings van ’n nuwe tyd, (Kaapstad, Tafelberg-Uitgewers, 1991, 94–102)
Hoe langer ’n mens nadink oor die belydenis van skuld by die Rustenburg-kerkeberaad op 6 November 1990 en hoe beter die perspektief wat die verloop van tyd bring, hoe duideliker word dit dat die belydenis ’n noodsaaklike en tydige daad was. Dit was onbeplan en het spontaan in die omstandighede gebeur. Kyk ’n mens nou agterna daarna, blyk dit dat dit reeds lank voorberei is in die gees van die NG Kerk, waar dit ryp geword het vir die oomblik dat dit moes geskied.
Soos met so baie beslissende dinge in die lewe, word die volle betekenis van hierdie belydenis van skuld eers duidelik nadat dit klaar gedoen is. ’n Mens kan verwag dat, noudat die belydenis eenmaal uitgespreek is, die besef van skuld en die insig in die diepte en omvang daarvan in die Kerk gaan verdiep. Daarnaas kan jy alleen maar hoop dat die Kerk in ootmoed sal toeneem en dat die innerlike omkeer wat geruime tyd al in die Kerk aan die plaasvind is, duideliker na die oppervlak sal kom en uitdrukking sal vind.
Die belydenis het nie uit die lug geval nie, maar was ’n noodsaaklike uitvloeisel van die proses van verandering oor die afgelope aantal jare in die Kerk. Hierdie verandering is niks minder nie as ’n breuk met die bepaalde rol wat die Kerk lank in die lewe van die Afrikanervolk gespeel het. Dit verklaar ook die skok en verwarring by sommige lidmate van die Kerk. Vir hulle kom die skuldbelydenis daarop neer dat die Kerk politieke verraad teenoor die Afrikaner gepleeg het, omdat hy voor die vyande van die volk geswig het.
Die Afrikaner is deur sy geskiedenis oortuig dat hy in ’n voortdurende stryd om sy identiteit, vryheid en voortbestaan gewikkel is. Die lewensuitkyk van baie Afrikaners word bepaal deur dié stryd, wat beslissende invloed uitoefen op hulle politieke oortuigings, maar ook op hulle godsdiens en moraal. Binne hierdie konsep word die Kerk gesien as die geestelike integrasiepunt van die Afrikanervolk in sy politieke stryd. Die Kerk geld as die religieuse sy van die volkslewe wat die volk op al sy weë deur die geskiedenis moet lei en ondersteun. Daarby kan die Kerk in politieke sake goedskiks op die agtergrond bly, sodat die indruk kan ontstaan dat die Kerk hom uit die politiek hou. In werklikheid word van die Kerk verwag om die volk in sy politieke stryd moreel te dra en te motiveer deur die religieuse sanksie wat stilswyend of hardop aan die volkstryd verleen word.
Wie uit dié oortuiging na die skuldbelydenis kyk, sal dit met ontsteltenis beskou as ’n daad van verraad en oorgawe aan die vyande van die Afrikaner. Vandaar dat in bepaalde Afrikanerkringe gesê word dat die Kerk geswig het voor die propaganda van die Kommunisties-geïnspireerde Wêreldraad van Kerke, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die bevrydingsteologie, wat al lankal daarop uit was om in ’n sielkundige oorlog ’n valse skuldgevoel by die Afrikaner te wek en sy weerstand in die stryd te breek. Die vyande van die volk sou daarmee geslaag het om die volk op sy gevoeligste plek aan te val: sy godsdiens en sy Kerk. Daardeur word die weerbaarheid van die Afrikaner aangetas. Maar, word dan gesê, geen Afrikaner met nasietrots behoort so iets te aanvaar nie. As die Kerk hiermee volhard, dan moet met die Kerk gebreek en ’n nuwe kerk gestig word wat gewillig sal wees om die rol van kerk van die Afrikaner te vervul en die volk in sy politieke stryd by te staan.
Hoewel die kerk ’n taak in die volkslewe het, is dit vir hom uiters gevaarlik om op hierdie wyse binne die volksideaal ingepas te word. Dit sal sy wese bedreig as hy hom dit sou laat welgeval. Die NG Kerk is uitgesproke daaroor dat hy hom nie as volkskerk beskou wat op die wyse in die volksbestaan ingebed is nie. Volgens sy belydenis is hy kerk van Christus en in die sin ook deel van die universele kerk, wat gelowiges uit alle volke en nasies insluit. Die kerk kan nie vir die belange van een volk ten koste van die van ander volkere kies nie, want dan verloën hy sy wese.
In die praktyk kan dit gebeur dat die kerk soms wel vir die belange van ’n bepaalde volk teenoor andere moet opkom, soos wanneer daardie volk veronreg of deur die toedoen van ander in armoede, lyding en ellende gedompel word. Maar sake word skeefgetrek wanneer die ondersteuning deur die kerk van ’n volk in die uur van sy nood ’n onkritiese, permanente en totale vereenselwiging word sodat die kerk nie meer sy profetiese rol in die lewe van die volk kan vervul wanneer daardie volk ander volke veronreg nie.
Dat die NG Kerk die Afrikaner bygestaan het in sy uur van veronregting en in tye van armoede en lyding, was noodsaaklik. Die Afrikaner het ewe veel reg as elke ander volk dat geregtigheid aan hom geskied en dat sy menswaardigheid, identiteit, taal en kultuur gehandhaaf word. Maar daardie reg is onderhewig aan morele norme, en die kerk mag hom nooit so volkome met die stryd van die volk vereenselwig dat hy blind word vir die wyse waarop daardie volk in sy stryd teen ander volke optree nie.
Deur die Bybelse verdediging van apartheid het die NG Kerk die idealisme help voorsien wat nodig was om die begeerte tot die handhawing van ’n eie volks-identiteit om te skakel in ’n rassisties ideologiese stelsel wat die belange van die Afrikanervolk beskerm en bevorder het ten koste van die van ander. Die Kerk was ongetwyfeld nie naastenby bewus van die ingrypende gevolge wat dit vir die Afrikanervolk, maar ook vir die ander volke in die land, sou inhou nie. Die Kerk het die goeie bedoelinge van “ons mense” as vanselfsprekend aanvaar, en nie besef dat mense dikwels hulle ware bedoelinge ideologies verberg agter ’n idealistiese en religieuse regverdiging daarvan nie.
As die NG Kerk van sy gevangenheid in hierdie situasie bevry wou word, was dit noodsaaklik dat hy daarvan bewus moes word en daarmee moes breek. Dat dit vir die Kerk ’n oomblik van krisis sou beteken, spreek vanself. Die Kerk is innerlik immers nog steeds nie vry van die Afrikanervolk nie. Van die gevoeligste sake vir die Kerk is die verwyt dat hy die Voortrekkers in die vorige eeu in die steek gelaat het. Rondom Cottesloe (1960) is daar gedreig dat “die volk weer sonder die kerk sal trek”. Dergelike geluide word nou weer gehoor. Dit is dus vir die Kerk ’n traumatiese ervaring om hom los te maak uit die omstrengeling deur die volk en bewus te kies vir sy wese as kerk van Christus. Alleen deur dit te doen, kan die Kerk weer sy geestelike en kritiese diens aan die Afrikanervolk lewer.
Wat die afgelope tyd gebeur het, wek die hoop dat presies dit nou in die Kerk aan die gebeur is. Die Kerk is geruime tyd reeds besig om hom aan die greep van ’n onkritiese volksverbondenheid te ontworstel. ’n Proses van teologiese reoriëntering het in die NG Kerk begin, en dit moet vroeër of later ’n uitwerking hê. Wat by Bloemfontein en Rustenburg gebeur het, was maar net die openbaring daarvan. Hoe verrassend dit ook al was vir diegene wat nie genoeg bewus was van die interne ontwikkelinge in die Kerk nie, of dit dalk onderskat het, in werklikheid was dit lankal onafwendbaar.
Om mee te begin, was die teologiese verdediging van apartheid ’n onhoudbare novum in die verstaan van die Bybel soos dit deur die eeue in die Christelike kerk gegeld het. Op die duur kon Afrikaanse teoloë nie daarmee volhou nie. Die teologiese gronde was té onwetenskaplik. Selfs die mees behoudende teoloë in die buiteland het hulle daarvan gedistansieer. Teoloë in Suid-Afrika kan die teologie nie volgens ander spelreëls beoefen as die wat in die res van die wêreld in die teologie gangbaar is nie. Die NG Kerk kon hom ook nie blywend van die res van die Christendom isoleer en sy ore sluit vir die getuienis wat van daar tot hom gekom het nie. En daar was geen enkele kerk in die hele wêreld wat die NG Kerk in sy ondersteuning van apartheid nie veroordeel het nie.
Daarby het die hele episode van die verdediging van apartheid ook in historiese sin op ’n slegte tydstip plaasgevind. Die gebeurde in Nazi-Duitsland het ’n onuitwisbare indruk op die teologiese en kerklike wêreld gemaak. Een van die dinge wat daartoe bygedra het, was die oortuiging dat die ordeningsteologie waarmee sommige Duitse teoloë die nasionaal-sosialistiese ideologie probeer onderbou het, ten enemale verkeerd was. Die verwerping daarvan het ’n deur laat toegaan vir die veel naïewer en biblisistiese omgang met die Bybel in die verdediging van apartheid. Sedert die Nazisme het alles wat na rassisme sweem, volledig taboe geword. Soos die mensdom in die vorige eeu bewus geword het van die onhoudbaarheid van slawerny, het hy sedert die Tweede Wêreldoorlog bewus geword van die kwaad van rassisme. Hoe idealisties apartheid ook voorgehou is, was dit van die begin af tog sterk rassisties.
Die geestelike klimaat na die Tweede Wêreldoorlog het iets soos die teologiese verdediging van apartheid, ’n volslae anachronisme gemaak. Die geslag teoloë wat sedert die jare vyftig in die NG Kerk opgegroei het, kon onmoontlik daarmee voortgaan. Toe die ouer geslag kerkleiers teen die einde van die jare sewentig uitgetree het, was die teologiese oorwig duidelik aan die kant van diegene in eie geledere wat van die begin af die Bybelse fundering van apartheid verwerp het.
Bowendien het die ervaring met apartheid al hoe meer morele vrae laat ontstaan, nie net by teoloë nie, maar ook by lidmate van die Kerk wat in ’n posisie was waar hulle insig in die werklikhede van apartheid gehad het. Ook die Afrikaner-intelligentsia, die kunstenaars en die denkers, die akademici en die professionele groepe het hulle al hoe duideliker van die koers van die volk en die Kerk gedistansieer. Die morele isolasie van die Afrikaner is ook steeds sterker aangevoel deur die jeug wat tog nie kon bly voortleef onder die las dat ons samelewing volgens die oordeel van die hele wêreld gereël word deur ’n stelsel wat ’n “sonde teen die mensheid” is nie. Kritiese vrae is gevra wat die Kerk al hoe moeiliker kon beantwoord. Die denkklimaat binne die Kerk en die Afrikanergemeenskap het veral sedert die begin van die jare tagtig merkbaar verander. By baie mense het ’n gevoel van skuld opgebou wat op die lang duur nie onderdruk kon word nie en geroep het om ’n openlike belydenis en omkeer.
Wat die Kerk betref, het die spanning by elke sinode toegeneem. Die pynlike verslegting van die verhoudinge tussen die NG Kerk en die kerke binne die NG familie het daartoe bygedra. Die stemme van die jonger kerke het die Kerk verplig om steeds kritieser na homself en sy standpunte te kyk. Die sensurering van die Kerk deur ekumeniese liggame kon op die lange duur nie afgemaak word vanuit die strydmotief, as sou dit maar bloot vyandige pogings wees om die Afrikanervolk te vernietig nie. Veral die Belydenis van Belhar het ’n insnyding veroorsaak wat die NG Kerk tot verantwoording gedring het.
Dit alles het onafwendbaar gelei tot ’n oomblik van waarheid, waar die NG Kerk tot stilstand moes kom en in sy spore sou moes omdraai. Daarvoor het die Gees van God al jare lank in die harte van baie lidmate van die kerk gepleit, en dit kon onmoontlik blywend onderdruk word. Dit was duidelik dat die Kerk dit nie heimlik sou kon doen nie. Daarvoor was sy houding oor baie jare té bekend en té invloedryk. Die Kerk kon alleen maar één ding doen, en dit was om eerlik te erken dat hy gedwaal het, om sy skuld daaroor te bely en die ander kerke te vra om hom te vergewe en weer in die gemeenskap van kerke te aanvaar.
Dit was reeds duidelik in die besluite van die Algemene Sinode van 1986. In die tyd daarna het ontwikkelinge egter nie stilgestaan nie. By die Vereeniging-beraad het die verteenwoordigers van die NG Kerk reeds teenoor die verteenwoordigers van die ander kerke in die NG familie die skuld van die Kerk bely. Allerlei faktore het egter bygedra dat dit nie goed genoeg gehoor kon word nie. In werklikheid het hulle verder gegaan as wat die Algemene Sinode bereid was om te doen. Eers in die besluite oor apartheid by die Algemene Sinode van 1990 is ’n duidelik geformuleerde skuld-erkenning aanwesig.
Dáár het die beslissing geval. Vir baie sinodegangers, veral onder die jonger geslag, was dit ’n oomblik van diepe bewoënheid en innerlike bevryding. Wat later by Rustenburg gebeur het, was noodsaaklik om die besluite van die Sinode na buite kenbaar te maak en die volle belang daarvan tot die besef van mense binne en buite die Kerk te laat deurdring.
Vir die Kerk beteken dit ’n breuk met die verlede. Hy breek daarmee weg uit sy ingebedde bestaan as religieuse sektor van die volkslewe en herken homself na sy wese as volk van God wat teenoor God alleen verantwoordelik is vir sy bestaan, vir sy diens aan die waarheid en sy getuienis in die wêreld. Daarin doen die Kerk die stap van die volksreligie af na die geloof, en van die natuurlike teologie na die evangelie van sonde en genade. Hy maak hom los van die strydmoraal wat op ’n totalitêre wyse alles aan die identiteit van die Afrikaner ondergeskik maak, en soek weer die weg na die verstaan van die waardes van die Koninkryk wat haaks staan op die selfliefde en selfhandhawing van die natuurlike mens.
Baie lidmate interpreteer dit uit ’n politieke gesigshoek. Hulle sien dit as dienstigheid van die Kerk aan die nuwe koers van die Nasionale Party en as ’n oorgawe aan die gees van die tyd. Dit is uiteraard makliker om sulke bewerings te maak as om hulle te weerlê. Alles wat die Kerk doen, is in elk geval vir misverstand vatbaar. Bowendien is dit waar dat daar in die simbiose van kerk en volk oor en weer beïnvloeding plaasvind. Die kentering in die Kerk het seker ook te make met die kentering in die bewussyn van sy lidmate, en die kentering by die lidmate het hopelik ook weer te make met die kentering wat al lank in die Kerk op koms was. In albei gevalle het dit ook te maak met die historiese voortgang van die lewe en die reaksie van elke geslag daarop. Maar wat met stelligheid gesê moet word, is dat dit nie politieke dienstigheid is wat die Kerk beweeg het nie, maar die innerlike worsteling met teologiese en veral morele oorwegings. Lank voor die politieke veranderinge in die Nasionale Party was daar in die Kerk diegene wat op grond van Skrif en belydenis gewys het op die onhoudbaarheid van die standpunte van die Kerk oor apartheid. As daar van beïnvloeding sprake is, moet eerder gedink word aan die invloed wat die veroordeling van apartheid deur die hele Christenheid op die Kerk gehad het.
Maar hoe ook al, die innerlike verandering wat in die Kerk ingetree het, het die Kerk vanself gedring tot ’n belydenis van sy skuld. In Kerk en Samelewing (1990) staan die uitspraak dat “kerke nie self-regverdigend sal staan op hulle eie standpunte as onfeilbaar nie, maar bereid sal wees tot ootmoedige selfondersoek, om werklik te luister na andere, eie skuld te erken waar nodig en voortdurend te reformeer” (par. 71). Met sy skuldbelydenis het die NG Kerk die daad by die woord gevoeg. Daarin is die Kerk getrou aan sy wese, want dit behoort tot die wese van die kerk dat hy belydenis van sonde sal doen. Die kerk pretendeer nie dat hy onfeilbaar is nie. Die kerk bely wel dat God in sy trou altyd weer die kerk van sy dwaalweë terugroep. Daarom is die kerk ook die gemeenskap van mense wat, soos Bonhoeffer dit uitdruk, deur die genade van Christus tot insig in sy eie skuld teenoor Christus gekom het (Bonhoeffer 1966:118).
Waarom sou die kerk dan terugskrik om konkrete dwalinge te bely? Die kerk kan hom nie deur strategiese berekeninge laat lei nie. As hy onder die werking van die Gees van God sy skuld ontdek en bely, werp hy hom op die genade van God en bid om nie as onbruikbare instrument eenkant geplaas te word nie (1 Korintiërs 9:27).
En het die kerk nie baie om te bely nie! Die kerk het rede om voor God sy eie afval, skuld en nalatigheid in die verkondiging van die Woord van God te erken, en daarom ook sy aandadigheid aan die skuld van ander. Bonhoeffer skryf: “Die kerk erken dat hy sy verkondiging van die één ware God, wat Hom in Jesus Christus vir alle tye geopenbaar het en geen ander afgode naas Hom duld nie, nie openlik en duidelik verrig het nie. Hy erken sy vreesagtigheid, sy afwykinge, sy gevaarlike toegewings. Hy het sy wagtersamp en troosamp dikwels verloën. Daardeur het hy dikwels die uitgeworpenes en die veragtes die verskuldigde barmhartigheid geweier. Hy was stom, waar hy moes uitgeroep het, omdat die bloed van die onskuldiges ten hemel geskree het. Hy het nie die regte woord op die regte wyse en die regte tyd gevind nie. Hy het nie ten bloede toe teen die afval van die geloof weerstand gebied nie, en daardeur skuldig geword aan die goddeloosheid van die massas.”
Dit is dinge wat elke kerk sal moet bely. Maar die NG Kerk is op ’n besondere wyse skuldig aan die situasie in ons land. Die Kerk het wel die pad van verlossing vir die enkeling en persoonlike heiligmaking verkondig, maar te weinig oog gehad vir die kollektiewe sonde van die volk en strukturele onreg in die maatskaplike en politieke lewe. Daarom is die Kerk skuldig aan die sondes van die Afrikanervolk, en spesifiek aan die sondes van apartheid. Die Kerk is aandadig daaraan dat mense dit as onskuldig interpreteer, as sou dit volgens die Bybelse eise van geregtigheid wees, sonder dat hulle die implikasies daarvan vir die ander bevolkingsgroepe besef.
Die Kerk is skuldig daaraan dat hy nie genoeg gewaarsku het teen die strydmoraal wat die lewe van die Afrikanervolk oorheers het, en teen die ideologiese karakter van die politieke denke wat steeds intensiewer geword het tot op die punt dat die eise van medemenslikheid en naasteliefde nie meer genoeg besef en ongekwalifiseerd op die gekleurde naaste van toepassing gemaak is nie. Ook het die Kerk skuld daaraan dat hy nie genoeg die gevaar van die sorg vir die self en die drif tot selfbevordering by die Afrikanervolk aangetoon het nie, sodat materialisme en verwêreldliking al hoe meer toegeneem het en dreig om alle geestelike waardes dood te druk. Ons het in groot mate weerloos geword teen die Westerse sekularisme en immoraliteit.
Daarmee het die Kerk ook skuldig geword teenoor die ander volke in die land, omdat hy hulle belange nie genoeg op die hart gedra het nie, hulle noodkrete nie genoeg gehoor het nie en dus nie soos hy moes, by hulle gestaan het in die tyd van hulle nood en lyding nie. By gebrek aan profetiese suiwerheid en priesterlike bewoënheid het die Kerk medeskuldig geword aan die lyding en veronregting van die ander bevolkingsgroepe in die land. Hy moet erken dat hy deur sy optrede meer as een teen die Christendom verbitter het en dit makliker gemaak het vir groot groepe van die swart bevolking om hulle met die revolusionêre Marxistiese ideologie te vereenselwig.
As die kerk sy skuld op hierdie wyse bely, doen hy dit as ’n gemeenskap. Dit gaan om kollektiewe skuld. Die skuld wat bely word, is die skuld van die kerk as geheel, as struktuur en as gemeenskap. Daarmee onthef die kerk nie die enkeling van sy eie skuldbelydenis nie, maar roep hy hom juis op tot deelname aan die erkenning van skuld. Die kerk kan immers nie met die belydenis van skuld wag totdat elke lidmaat bereid is om dit te doen nie. Binne die gemeenskap van die kerk moet daar diegene wees wat die skuld van die geheel op hulle neem en plaasbekledend daarvoor namens die hele kerk vergiffenis by God en die mense vra. Dit het by Rustenburg gebeur.
In hierdie stadium is dit nog te vroeg om te voorspel wat die volle implikasies van die Rustenburg-belydenis gaan wees. Baie sal daarvan afhang of die NG Kerk daaragter gaan staan en daarby sal bly. Dan kan dit die begin wees van ’n proses van verootmoediging en belydenis waarin die omvang van die kwaad steeds duideliker erken en die pad van bekering en restitusie steeds duideliker word. Dit is merkwaardig dat die belydenis van die NG Kerk by Rustenburg gelei het tot die skuldbelydenis van ander kerke en groepe Christene. In die verklaring van Rustenburg is selfs ’n groot deel van hierdie belydenisse ingesluit. Dit kan die weg baan tot ’n nuwe openheid teenoor mekaar en ’n nuwe begin op die pad na gemeenskaplike getuienis in ons land.
Dit is belangrik omdat die kerk telkemale voor nuwe versoekings staan. Ons beleef vandag die situasie dat kerke hulleself vereenselwig met die swart bevolking in sy stryd om bevryding en emansipasie. ’n Teologiese visie op die “struggle” waarin die “people” betrokke is, is ontwikkel en kerke kan hulleself maklik onkrities daarmee vereenselwig, op gevaar af dat hulle in die proses ook hulle identiteit op die spel plaas. Dit word wel anders gemotiveer as die verhouding tussen die NG Kerk en die Afrikaner en sy stryd, maar eintlik dreig dieselfde gevaar: godsdiens en moraal kom te staan in diens van die groot stryd. Deur hom op ’n nuwe pad te begewe, kan die NG Kerk miskien diensbaar daaraan wees dat die ander kerke hierdie pad nie in sy volle konsekwensies sal hoef te bewandel nie, sodat ’n herhaling van die geskiedenis voorkom kan word.
Mag God aan ons die genade bewys dat ons in alle eerlikheid en nederigheid die pad van gehoorsaamheid aan sy Woord mag gaan!