VERSLAG VAN BESOEK AAN DIE DUITSE EVANGELIESE KIRCHENTAG EN VERDERE AKADEMIESE KONTAK IN DUITSLAND EN NEDERLAND
23 Julie 1991
- Die Kirchentag as gebeurtenis
Die Kirchentag wat elke tweede jaar in een van die stede van Duits land gehou word, is ’n geweldige organisasie. Sodra een Kirchentag verby is, word dadelik weer in die hoofkantoor in Fulda begin met die organisering van die volgende een. En inderdaad: die organisasie is uitstekend, Alles is tot in die fynste besonderhede beplan en loop soos ’n geoliede masjien volgens plan af.
Die Kirchentag is hierdie jaar nie in een stad gehou nie, maar in die stedelike kompleks wat die drie stede Essen, Dortmund en Bochum in die Ruhrgebied omvat. Die rede daarvoor is eenvoudig dat een normale stad nie akkommodasie genoeg het om soveel mense te kan huisves nie, laat staan nog genoeg fasiliteite vir al die verskillende byeenkomste wat deur soveel duisende mense bygewoon word,
Die Kirchentag word in Duitsland werklik as ’n gebeurtenis van nasionale betekenis beskou, Die stede waarin die Kirchentag gehou word, word vir die halwe week feitlik “oorgeneem” deur die tienduisende mense wat van elders kom om die Kirchentag by te woon.
Besoekers aan die Kirchentag gaan tuis by gesinne wat bereid is om hulle te ontvang (en dit sluit ook gesinne in wat Katoliek is of miskien self nie meer kerklik meeleef nie), of hulle slaap in skole en ander lokale wat vir die doel tot beskikking gestel word, of hulle kry staanplekke in kampeerterreine. Uiteraard is daar ook duisende wat in hotelle tuisgaan. Daar is afslag op alle openbare vervoermiddele vir die reis na en van die plek waar die Kirchentag plaasvind, en dit geld ook alle ritte met die openbare vervoer in die plek waar dit gehou word. Daar word verversings te koop aangebied by al die plekke waar die byeenkomste plaasvind, sodat mense die hele dag daar kan deurbring, Oor die algemeen word probeer om die koste so laag as moontlik te hou, maar ’n mens kan jou voorstel dat dit tog nogtans baie geld kos, veral as daaraan gedink word dat koste nie ontsien word om die geboue te versier en groepe en sprekers uit alle uithoeke van die land en uit ander lande uit te nooi om aan die Kirchentag deel te neem en iets besonders daarvan te maak nie.
Dit is veral die Jeug wat daaraan deelneem, hoewel alle ouderdomsgroepe verteenwoordig is. Daar ontstaan al gou ’n gees van geselligheid en feestelikheid. Dit beteken onder andere dat, getrou aan die geaardheid van die Duitsers, daar baie gesing word: op die strate en in die treine, en oral waar een of ander groep lus het om daarmee te begin. Musiek en sang speel in elk geval ’n groot rol. Daar word ’n spesiale liederebundel gepubliseer vir die geleentheid, en daar is verskillende blaas- en ander orkeste om die begeleiding te doen en met hulle musiek die regte stemming te wek. By die slot diens op Sondagmôre was die groep blasers so groot dat die sogenaamde “Posaunenchor” ongeveer een derde van die voetbalveld volgestaan het, en vanaf ’n hoë platform op ’n hyskraan gedirigeer moet word. Dit is iets ongelooflik moois om in die byeenkomste, maar daarnaas ook sommer op die pleine en in die strate sommige van die bekende korale te hoor sing wat ook deur ons van die Duitsers oorgeneem is. Dit word egter afgewissel met moderne musiek en liedjies wat spesiaal vir die geleentheid gekomponeer is.
Die Kirchentag begin met ’n aantal openingsdienste wat op verskillende plekke in die stad gehou word. Ek self het die diens op die Kennedyplein in Essen bygewoon. Dit sluit ’n aantal kort boodskappe in van verskillende instansies, veel musiek en sang, en ’n kort preek deur een of ander besondere prediker. Die volgende drie dae verloop min of meer volgens dieselfde program. Daar word soggens begin met Bybelstudie van een-en-’n-halfuur wat op verskillende plekke gehou word. Dit word letterlik deur tienduisende bygewoon. Daarna volg die verskillende temas wat gedeeltelik gelyktydig op verskillende plekke aangebied word. Vanjaar is daar vier sulke temas aangebied. Die motto van die Kirchentag was: “Gottes Geist befreit zum Leben”, en op een of ander wyse het die verskillende temas ook daarop ingespeel. Die vier temas was: “Verantwortliches Wirtschaften”, “Die Deutschen in Europa”, “Glaube und Kultur”, en “Gelingendes Leben”. Dit toon dat die politiek-maatskaplike element die belangstelling oorheers, maar daar was vanjaar ook ’n baie sterk aksent op meer persoonlike aspekte van die geloofslewe, spiritualiteit, ens., terwyl daar baie geleentheid was vir gesprekke oor persoonlike of huweliksprobleme ens. Onder die vier groot temas is allerlei sub-temas behandel in voordragte, forums, gespreksgroepe ens. Daarnaas is daar talle aanvullende aanbiedinge en geleenthede waarby eksperimentele godsdiensoefeninge, gebedsbyeenkomste, liturgiese vieringe en gesamentlike sang en getuienisse aan die orde was. Die geheel is eintlik onoorsigtelik groot. Alles is die Sondagoggend met ’n groot en aangrypende slot diens van ruim twee-en-’n-half uur lengte in Gelsenkirchen se sokkerstadion afgesluit, waarby na skatting meer as 110,000 mense teenwoordig was – ondanks die reën.
Die Kirchentag bly ’n merkwaardige verskynsel in ’n land waar die normale godsdiensoefeninge uiters sleg bygewoon word en daar oor die algemeen min belangstelling in kerklike aktiwiteite is. Dit dien as ’n demonstrasie van die religieusiteit wat tog onder die oppervlakte aanwesig is, veral ook by die Jeug. Dit lê sterk klem op die daad-kant van die geloof, soos blyk uit die sterk politieke inslag van baie van die programme. Maar dit doen ook meer: dit spreek tog die aanwesiges ook aan op hulle emosionele betrokkenheid by die saak waarvoor die kerk staan, en veral in die sang en liturgie moet daar tog iets oorspring van die getuienis van die geloof met betrekking tot die persoonlike lewe.
- Forum Südliches Afrika
Die uitnodiging wat aan my deur die organiseerders van die 24ste Deutscher Evangelischer Kirchentag gerig is, was om aan die Forum Südliches Afrika deel te neem wat op 6 Junie 1991 in die Messehalle in Essen plaasgevind het. Dit het ’n onderdeel van die tema oor verantwoordelike ekonomiese optrede gevorm. Die Forum het in twee dele uiteengeval: gedurende die voormiddag is ’n gesprek gevoer rondom die kerklike situasie soos dit in die jongste tyd in ons land ontwikkel het, en in die namiddag is daar veral aandag gegee aan politieke en ekonomiese vrae. Die doel van die forum was om die veranderinge wat in ons land ingetree het te ontleed en toekomsperspektiewe te verduidelik. Een belangrike oogmerk was om vas te stel watter verantwoordelikheid dié kerke en Christene wat die bestryding van apartheid ondersteun het, en met name ook die Anti-Apartheidsbeweging, in die nuwe situasie het. Oor die algemeen is daarvan uitgegaan dat daar tans in Suid-Afrika werklik ’n nuwe situasie ingetree het, al is daar met sorg kennis geneem van die voortdurende geweld en die baie faktore wat ’n moontlike vreedsame skikking bedreig.
Ek het aan die eerste gedeelte meegewerk as een van die inleiers en lid van die paneel. Ander persone wat daaraan deelgeneem het, was o.a. dr. Beyers Naudé, Ds. Sam Buti, Rev Roxanne Jordaan, Dr Frank Chikane en pastor Rudolf Hinz. Die Forum het só verloop, dat Dr Naudé en ek elkeen 10 minute ontvang het om ’n inleidende woord te spreek, waarna ander lede van die paneel wat wou ’n kort bydrae kon maak, voordat ’n ope diskussie gevoer is en vrae van die vloer af gestel kon word. Die geleentheid is deur ’n groot aantal mense bygewoon, seker in die omgewing van 7000 of meer. Die aanwesiges was oor die algemeen betrokke en baie goedgesind teenoor die sprekers. Ook die vrae wat gestel is, was nie vyandig of onvriendelik nie. Volgens persone wat dit in die verlede bygewoon het, was die atmosfeer baie aangenamer en meer ontspanne as in die verlede. Lede van die Anti-Apartheidsbeweging het die geleentheid gebruik om te sê dat hulle dus klaarblyklik tog iets met hulle aksies bereik het. Die organiseerders was van mening dat die gesprek werklik geslaagd was.
Ook die diskussie van die middag oor die politieke en ekonomiese vooruitsigte het goed verloop, Prof. Willie Breytenbach van ons Universiteit het daaraan deelgeneem en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. My indruk was dat die deelnemers aan die forum baie goed ingelig was en dat die besprekings in ’n goeie gees plaasgevind het. In elk geval is die vuur van vyandskap teenoor Suid-Afrika klaarblyklik weg. Ook die swart persone wat opgetree het, het hulleself gematig uitgedruk, en ’n swart toneelgroep wat die aand opgetree het, het selfs die boodskap gebring dat bevryding nie teen elke prys gesoek moet word nie. As dit die lewe self bedreig, hoe kan dit dan bevryding wees?
As geheel genome, meen ek dat dit ’n geslaagde dag was. Ek het verneem dat dit die laaste keer was dat daar ’n forum oor Suidelike Afrika gehou is. In die toekoms sal die forum oor Afrika gaan. Dit is ’n duidelike teken dat besef word dat Suid-Afrika nie die enigste land in Afrika is waar daar probleme is nie.
- Besoek aan die EKD
Ek het twee dae eerder as wat noodsaaklik was, na Duitsland vertrek op uitnodiging van die EKD (Evangelische Kirche in Deutschland) om ’n besoek aan hulle hoofkantoor in Hanover te bring. Hulle was baie vriendelik teenoor my en ek kon ’n aand aan huis van biskop Dr Joachim Held deurbring, waarin ons indringend oor allerlei sake in Suid-Afrika kon praat. Ek het hom nog weer later by die Kirchentag ook ontmoet, en hy het my herhaaldelik verseker van hulle intense belang by wat in ons land gebeur. Ek is ook getref deur sy nugtere en gematigde kyk op sake, en ek kon ook teologies baie goeie aansluiting by hom vind.
Die belangrikste gebeurtenis in hierdie besoek was egter ’n gesprek wat ek voer met ’n verteenwoordigende groep uit die kerkleiding waarby ek verslag moes doen oor die rigting van die NGK en oor die Rustenburg-konferensie. Dit was ’n lang, maar ’n aangename gesprek, en ek meen dat veel van die skepsis wat aan die begin tog voelbaar was, langsamerhand verdwyn het. Ek hoop maar net dat alles wat ek gesê het, ook werklik deur die NGK waargemaak sal word.
Ek is ook deur Herr Köhler, die publisiteitsman van die EKD, aan huis ontvang en kon met hom ’n onderhoud voer met die oog op publikasie in hulle nuusbrief. Ook hier het ek groot welwillendheid ondervind.
- Besoek aan Oos-Duitsland
Dit was vir my ’n besondere voorreg om in aansluiting by die Kirchentag ’n reis na Oos-Duitsland te kon maak. Die reëlings is vir my getref deur ’n amptenaar van die Wêreldbond van Lutherse Kerke in Berlyn (Diakon Herrbruck). Ek het twee nagte in Oos-Berlyn geslaap, twee nagte in Leipzig en twee nagte in Eisenach, maar dit het aan my die geleentheid gebied om naas hierdie genoemde plekke ook nog Wittenberg en Erfurt te besoek.
Dit is ’n vreemde gewaarwording om in Oos-Berlyn, maar ook in die hele gebied waarin ek besoek kon aflê, die groot kontras met Wes-Duitsland op te merk. Die tekens is oral daar dat die land ekonomies veertig jaar lank absoluut stagnant gebly het. Die uiterlike van die stede laat ’n mens dink aan die toestand in Nederland direk na die oorlog. Dit vorm ’n skerp kontras met die welvarende Wes-Duitsland. Ek het goeie gesprekke gehad met heelwat mense. Daar is wel vreugde oor die beëindiging van die kommunistiese bewind, maar daar is ook ’n sekere huiwering oor wat die hereniging met Wes-Duits land alles sal inhou. Die mense vrees oor die algemeen tog die gevolge van die oorname van hulle land deur ’n sterk kapitalisties-georiënteerde Weste. Die werkloosheid sal aanvanklik geweldig toeneem. Daar sal van hulle gevra word om mee te ding met andere wat ’n veel beter opleiding en groter ervaring van die werking van ekonomiese kragte het. Hulle is eintlik nie opgewasse daarvoor nie. En sulke probleme is daar nog meer.
Wat vir my egter die meeste beteken het, was die besoeke aan die historiese plekke. Veral Wittenberg het ’n diep indruk op my gemaak. Die Lutherhaus en Melanchtonhaus, die ou gebou van die eertydse Universiteit van Wittenberg sowel as die Slotkerk waarin die graf van Luther is, sal my altyd bybly. Ek het heelwat tyd daarin bestee. As ’n mens die geskiedenis ken en dan al die historiese plekke persoonlik kan besoek, kan dit jou nie onbewoë laat nie.
In Leipzig het ek tuisgegaan in die Missionshaus. Dit is ’n internaat vir studente wat vroeër opgelei is om sendelinge te word in die buiteland. Dit is ook verbonde aan ’n Missionsinstitut waar die sendelinge hulle opleiding ontvang het. In die periode van die DDR is die kerk egter nie toegelaat om sendelinge na die buiteland te stuur nie. Die Missionsinstitut is toe verander in ’n Kirchliche Hochschule waarin predikante opgelei word. Dit bestaan onafhanklik van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Leipzig (tydens die periode van die DDR die Karl Marx-Universiteit genoem).
Tans is daar ’n beweging om die twee inrigtings met mekaar te verenig. ’n Mens kan begryp dat daar heelwat probleme aan die eenwording verbonde is omdat die Kirchliche Hochschule graag konfessioneel in hulle opleiding wil wees, wat natuurlik nie die geval by die Fakulteit is nie. Ek het nie alleen ’n uiters aangename kennismaking met Dr Joachim Schlegel gehad wat die Missionsdirektor is nie, maar ook ’n lang gesprek met Prof Wolfgang Ratzmann, die rektor van die Hochschule en professor in Praktiese Teologie. Hy was baie geïnteresseerd in ons Fakulteit en sou baie graag sien dat studente tussen ons twee inrigtings uitwissel. Ek het ook goeie kontak gehad met Prof Ernst Koch, die vise-rektor en professor in Kerkgeskiedenis Ek kon een aand die maandelikse gespreks- en gebedsbyeenkoms van die personeel bywoon en hulle van Suid-Afrika en ons situasie vertel. Hulle simpatie en meelewing was voelbaar en sigbaar, en ek dink dat ons met ’n bietjie moeite ’n baie goeie verhouding met hulle sou kon opbou. Ek het by dié geleentheid ook Prof Kretschmar van die Fakulteit Teologie ontmoet. Ek het oral slegs welwillendheid ervaar.
Ek moet nog noem dat ek in Leipzig groot vreugde daarin gehad het om die Thomaskerk te besoek waar Johann Sebastian Bach so lank orrelis was en waar hy ook begrawe lê. Ek het ook die Bach-museum besoek, wat op sigself ’n wonderlike ervaring is. Ek het onthou dat Leipzig ook die stad is waar die beroemde disputasie tussen Luther en Dr Eck plaasgevind het, en waar Luther tot helderheid gekom het oor die vraag of konsilies kon dwaal. Ongelukkig bestaan die gebou waarin dit plaasgevind het, vandag nie meer nie. Origens is Leipzig net eenvoudig ’n mooi stad. Dit het my ook opgeval dat die tekens van die stagnasie van die afgelope 40 jaar ook minder sigbaar was in die middestad, by die Universiteit en by die mees besogte plekke. Later het ek verneem dat daar in die tyd van die DDR ’n spesiale poging aangewend is om minstens die meer “sigbare” dele van Leipzig ’n bietjie beter in stand te hou ter wille van die toerisme.
Op pad na Eisenach het ek my reis onderbreek om in Erfurt rond te loop. Dit is die stad van Meester Eckhardt, maar natuurlik ook van Martin Luther. Hier was hy monnik in die Augustiner-klooster. Ek het by die altaar gestaan waar hy sy eerste mis opgedra het. Dit was vir my ’n aangrypende ervaring om in die klooster te wees en die kamertjies te besoek waar Luther as monnik gewoon het. Erfurt het altyd naby aan Luther se hart gelê, en in die hitte van sy stryd het hy Erfurt op pad na Worms aangedoen en daar gepreek. Hy het altyd gevoel dat Erfurt eintlik sy stad was – en baie inwoners daar het ook so gevoel. Hoeveel keer het ek met studente oor hierdie dinge gepraat, maar nou het ek ’n keer op die plekke gestaan waar dit alles gebeur het, en dit het my diep bewoë gemaak. Ek het baie aan Eddie Brown en Pieter Coertzen gedink, en geweet hulle sou my beny. Ek kan nooit dankbaar genoeg wees dat ek dit kon beleef nie.
Vanaf Erfurt is ek na Eisenach. Dit is ’n pragtige stadjie. In Eisenach is daar die Lutherhaus waar Luther op skool was. Hy moes, om sy daaglikse kos te verdien op straat voor die huise sing om ’n geldjie of brood te ontvang. Omdat hy so mooi kon sing en vroom kon bid, is hy egter deur die familie Gotta in huis geneem – en die kamertjie waarin hy gewoon het, word nog vir ’n mens gewys. Natuurlik is die vernaamste besienswaardigheid van Eisenach die Wartburg, waar Luther in bewaring gehou is na die edik van Worms (1521). Hy was werklik voëlvry en Frederik die Wyse het hom laat ontvoer om sy lewe te beskerm. Hier in die Wartburg het hy agt maande lank gewerk aan die vertaling van die Nuwe Testament in Duits, terwyl hy boonop nog agt stryd- en ander geskrifte die lig laat sien het. Die kamertjie word nog daar vir ’n mens gewys, ook die lessenaartjie waarby hy sou gewerk het· Duisende Duitsers het reeds van die sestiende eeu af hulle name op die houtmure uitgekrap. Luther was vir die Duitsers meer as ’n godsdienstige reformator: hy was vir hulle ook ’n nasionale held en kultuurleier.
- Kontakte in Nederland
Vanaf Eisenach het ek na Kampen gereis waar ek sou bly tot my terugkeer na Suid-Afrika op 5 Julie 1991. Ek het die geleentheid gehad om in Kampen kontak te vernuwe met verskillende van my oud-kollegas (Proff H. N. Ridderbos, J. Bakker, G. P. Hartvelt en drs. Cor Schippers) asook met Prof K Runia, my opvolger na my vertrek vandaar in 1971. Ek het by hulle almal groot welwillendheid ervaar en blydskap oor die nuwe verwikkelinge in ons land. Ek het ook die versekering gekry dat die moontlikhede vir groter akademiese kontak tans weer oop is. Daar was ’n tyd dat die swart studente uit Suid-Afrika geëis het dat geen wit studente uit Suid-Afrika meer daar toegelaat moet word nie, en die Hogeschool (Universiteit) het eintlik daaraan toegegee. Dit lyk of die moontlikheid tans bestaan dat dié reëling nie meer toegepas sal word nie. Die vraag is egter of dit nog baie relevant is, want die moontlikheid is sterk dat Kampen as inrigting na Utrecht sal verskuif.
Tydens my verblyf in Nederland kon ek ook baie goeie kontakte maak met proff V Brümmer, C Graafland en H. W. de Knijff van Utrecht, prof WH Velema van Appeldoorn en prof A van de Beek van Leiden. Veral wat Utrecht betref, het ek die versekering ontvang dat ons studente daar welkom sal wees, en met prof Van de Beek het ek ook die moontlikheid bespreek dat van ’n soort skakeling tussen inrigtings waarin die gereformeerde teologie gedoseer word. Oor die algemeen kan ek daarvan getuig dat almal my met die grootste hartlikheid ontvang het, en ek meen dat dit baie belangrik vir ons is om met die kontak met Europese teoloë te verstewig.
Ek is innig dankbaar teenoor die Universiteit wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie tydjie in Europa deur te bring. Dit het my in staat gestel om, naas ’n eenmalige besoek aan die biblioteek in Utrecht, in Kampen heelwat dae in die biblioteek deur te bring en myself bloot te stel aan allerlei nuwe publikasies waarvan ekself nie tevore kennis gedra het nie, of wat ons nie in ons eie biblioteek beskikbaar het nie.