Beraad vol aspirasies

BERAAD VOL ASPIRASIES
Beeld, Briewekolom, 18 November 1990
Holm

Vir my as lidmaat van die NG Kerk die afgelope sestig jaar was die nuwe gril van teoloë soos dié van prof. Willie Jonker by die onlangse “beraad” by Rustenburg ’n ontnugtering

Waaroor het hy presies gebieg? Het dit gegaan oor die leerstelling van die NG Kerk of het dit gegaan oor uitsprake van individue?

Dit kan seker nie oor eersgenoemde gaan nie, want dit is aan my voorgehou as die suiwer leer tot saligheid, met die leer van die Ou en Nuwe Testament, die Twaalf Artikels, die Dordtse reëls en die Heidelbergse Kategismus as die enigste weg tot die ewige lewe. Hierdie belydenis is reeds vir my die suiwer leer van die Christen. Hiermee saam natuurlik ook die bediening van die twee sakramente.

Deur die jare heen was daar optredes en uitsprake van enkelinge waarmee ek as belydende Christen my nie kon vereenselwig nie. In ’n erediens in ’n sekere gemeente tydens die Tweede Wêreldoorlog is soldate wat lidmate van die gemeente was, byvoorbeeld versoek om die kerkgebou te verlaat.

By ’n ander geleentheid is gekleurdes toegang tot ’n kerkgebou geweier tydens die begrafnis van hul blanke werkgewer. By geleentheid het ’n leraar ook geweier om ’n lidmaat van die NG Kerk se begrafnis te behartig omdat die betrokke broer nie aan hom bekend was nie.

Só kan ek nog vele insidente aanhaal wat dui op menslike swakhede. Kan my geliefde kerk hiervoor veroordeel of gekruisig word?

Was die optredes van die ander kerke en hul leiers by genoemde “beraad” te alle tye konsekwent korrek en bo alle kritiek verhewe? Dink maar net aan die revolusionêre uitsprake en openlike verset teen regeringsgesag.

Soek hulle die suiwer wil van God in alles? Hoekom aanvaar die teoloë van die NG Kerk dan nie summier nuwe belydende skrifte nie?

’n Mens moet jou swakhede en tekortkominge voor God bely eerder as om te bieg teenoor mense wat ook geensins volmaak is nie. Die “beraad” was in ieder geval deurspek met menslike aspirasies en politiek gemotiveerde eise.

Ek vertrou dat ek nie alleen staan om my geliefde kerk se lering te verdedig en sy sendingaksie te loof nie. Ek het dit nie teen ander kerke nie, maar wel teen ’n biegrede waarmee ek nie kan en durf saamstem nie.

As ons werklik iets in Suid-Afrika wil bereik, moet elke Christen hom/haar voor God verootmoedig en Sy genade afsmeek om ware vredemakers te word, om in alles te strewe om Sy wil te doen en Sy naam voor die ganse mensdom te verheerlik.