ONRUS OOR RUSTENBURG
Die Kerkbode 146 (21), 23 November 1990
Die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die Ned Geref Kerk vergader op 4 Desember 1990 in Pretoria om die onrus rondom die onlangse Rustenburg-kerkeberaad, waar verteenwoordigers van sowat 80 kerke en 40 Christelike organisasies teenwoordig was, te bespreek en duidelike leiding aan lidmate van die NG Kerk te gee. Dié vergadering vind plaas op versoek van die moderature en dagbesture van die vier Transvaalse sinodes wat verlede Vrydag byeengekom het en ’n verklaring uitgereik het.
Die ASK is die liggaam wat tussen die vierjaarlikse sittings van die Algemene Sinode van·die NG Kerk spoedeisende sake hanteer.
Volgens ds Pieter Strümpfer, skriba van die Noord-Transvaalse Sinode, heers daar groot onrus in dele van die NG Kerk as gevolg van sommige van die besluite van die Algemene Sinode en ook die gebeure tydens die Rustenburg-kerkeberaad. Tydens hierdie beraad het prof Willie Jonker van die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch, persoonlik en. “plaasvervangend namens die NG Kerk en die Afrikaners” ’n skuldbelydenis oor apartheid gedoen. Die amptelike afvaardiging van die NG Kerk het hulle daarna met prof Jonker se belydenis ten opsigte van dié kerk vereenselwig omdat dit ooreenstem met wat in die NG Kerk se getuienis, Kerk en Samelewing 1990, staan.
Volgens ds Strümpfer het die moderature van die Transvaalse sinodes besluit om ’n verklaring uit te reik omdat daar nou in die kerk heelwat onduidelikheid oor die saak bestaan.
In hulle verklaring wys die moderature lidmate daarop dat by die beoordeling van die belydenis van prof Jonker, op die volgende gelet moet word: hy was nie ’n amptelike afgevaardigde van die NG Kerk nie; hy het geen amptelike opdrag tot so ’n skuldbelydenis gehad nie en sy belydenis ten opsigte van apartheid moet beoordeel word in die lig van die besluite van die Algemene Sinode.
Die verklaring lui voorts dat “die besluite van die Algemene Sinode in verband met apartheid duidelik, genuanseerd, gebalanseerd en teologies verantwoord is en dat lidmate hierdie besluite dringend moet bestudeer.
“Die vergadering wys daarop dat die afgevaardigdes van die NG Kerk te Rustenburg se reaksie op die belydenis van prof Jonker by die eersvolgende vergadering van die ASK beoordeel sal word. Lidmate word gevra om kalm te bly en nie oorhaastige besluite te neem nie.”
Die vergadering het verder besluit om by die dagbestuur van die ASK daarop aan te dring om so spoedig moontlik ‘n vergadering van die ASK te belê om die aangeleentheid rondom die kerkeberaad op Rustenburg te bespreek ten einde duidelik leiding aan die kerk te gee.
Volgens ds Japie du Plessis, voorsitter van die Sinodale Kommissie van Wes-Transvaal, het tientalle gemeentes uit hierdie sinodale gebied hom geskakel om hulle ontsteltenis te kenne te gee. Die dagbestuur van die Wes-Transvaalse Sinodale Kommissie het ná die gesamentlike vergadering van die Transvaalse Moderature verlede week ’n eie verklaring oor prof Jonker se skuldbelydenis uitgereik. In dié verklaring sê die dagbestuur dat hy van oordeel is dat hierdie belydenis nie in ooreenstemming met die besluite van die afgelope Algemene Sinode is nie. Die dagbestuur “onderskryf die besluite van die Algemene Sinode oor die NG Kerk en politieke modelle”, lui die verklaring.
Daar is veral ook in Noord-Transvaal, Oos-Transvaal en dele van die Vrystaat groot ontsteltenis. Die Sinodale Kommissie van Noord-Transvaal het verlede week vergader en sy lidmate tot kalmte gemaan en gevra om nie as gevolg van berigte in die media drastiese besluite te neem nie. In ’n verklaring wat uitgereik is, word lidmate en kerkrade gevra om hulle te vergewis van wat die Algemene Sinode besluit het.
Volgens dr Dirk Hattingh, moderator van die Wes-Kaapse Sinode, het hy uit die hele sinodale gebied nie een negatiewe oproep en geen briewe van persone wat ontevrede is ontvang nie. “Ek het wel gehoor dat daar hier en daar enkele mense is wat vanaf 1986 nie met die besluite van die Sinode tevrede was nie en wat nou net weer bevestig het dat hulle nie gelukkig voel nie.”
Dr Hattingh het ook gesê dat hy baie positiewe reaksie vanoor ’n wye gebied kry. Heelwat mense het bevestig dat hulle gelukkig voel oor die Algemene Sinode se besluite en dat hulle, hulle heelhartig vereenselwig met wat op Rustenburg gebeur het.
‘n Vorige moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, ds Kobus Potgieter, het op navraag aan Die Kerkbode gesê dat hy saam met ’n groep lidmate wat onrustig is oor wat gebeur het, maar graag in die NG Kerk wil bly, ’n inligtingskonferensie vir 1 Desember 1990 reël. Ds Potgieter het klem daarop gelê dat dit geen protes- of politieke vergadering is nie. “Dit is ’n poging om lojaal saam te werk en te keer dat mense uit die NG Kerk stap. Ons wil mense help om meer duidelikheid te kry.”
Dr A P Treurnicht (in sy hoedanigheid as lidmaat van die NG Kerk), en ds Potgieter sal by dié geleentheid as sprekers optree, het ds Potgieter aan Die Kerkbode gesê.