PW, Andries loop hul vas

PW, ANDRIES LOOP HUL VAS
Rapport, 11 November 1990
Mariechen Waldner en Johan Krüger

’n Ontstoke oud-president P.W. Botha het die telefoon in sy aftreehuis opgetel en die moderator van die NG Kerk laat weet: Die kerk se openbare skuldbelydenis oor sy aandeel in apartheid staan hom nie aan nie.

Die moderator het voet by stuk gehou.

Die leier van die Konserwatiewe Party, dr. Andries Treurnicht, het dadelik ook ergerlik op die skuldbelydenis gereageer.

Die moderator het steeds voet by stuk gehou.

Hy en die ander leiers in die NG Kerk se amptelike afvaardiging by die groot kerkeberaad op Hunter’s Rest naby Rustenburg hierdie week, maak die rug styf teen die politieke druk en staan by die belydenis by monde van prof. Willie Jonker, wat self ’n oproep van oud-pres. Botha op die lyf geloop het.

Twee dae ná die telefoonoproep van ’n ontstoke mnr. PW Botha het die moderator van die NG Kerk, prof. Pieter Potgieter, nog sonder voorbehoud aan ’n mediakonferensie gesê die NG Kerk staan by die openbare skuldbelydenis.

Só is die kerk voor die internasionale kerk- en mediagemeenskap verbind tot die skuldbelydenis. Sowat dertig jaar gelede het die NG Kerk wel geswig onder politieke druk. Hy ly vandag nog daaronder.

Dit was ná die Cottesloe-beraad toe die druk van die destydse Eerste Minister. dr. Hendrik Verwoerd, te sterk geword het.

Hierdie keer kom die druk egter nie vanuit Regeringskringe nie.

Mnr. Botha is uit die openbare lewe uit, hoewel hy van tyd tot tyd sy verontwaardiging te kenne gee oor vanjaar se gebeure in Suid-Afrika. En dr. Treurnicht lei die Amptelike Opposisie.

Maar albei is lidmate van die NG Kerk. Hulle kan wel probeer om hulle invloed te laat geld. Daar is ook tekens van ontevredenheid met die openbare skuldbelydenis onder sommige ander lidmate.

Nog mnr. Botha nog prof. Potgieter wou kommentaar lewer op navrae Nóg mnr. Botha nóg prof. Potgieter wou kommentaar lewer op navrae of so ’n telefoongesprek plaasgevind het.

Maar op ’n onthaal vir buitelandse waarnemers Woensdagaand het die assessor van die NG Kerk, prof. Johan Heyns, die aap uit die mou gelaat. Die nuus van die telefoonoproep het soos ’n veldbrand deur die kerkeberaad versprei.

Die gesprek tussen Rapport se verteenwoordiger by die beraad en prof. Potgieter het só verloop: “Ek verneem mnr. P.W. Botha het u gebel en gekla oor die openbare skuldbelydenis?”

Prof. Potgieter: “Geen kommentaar.”

Rapport: “Was dit erg?”

Prof. Potgieter, ná ’n kort stilte: “Hoe dink jy?”

Ook teenoor Rapport het die oud-staatspresident geen twyfel gelaat oor sy ergernis nie:

By navraag sê hy vanuit sy aftreehuis Die Anker by die Wildernis hy kan hom nie neerlê by die bewerings en besluite by Rustenburg sonder inagneming van die geskiedenis van die Afrikaner in Suid-Afrika nie.

Mnr. Botha sê ook: “Biskop Tutu (aartsbiskop Desmond Tutu, wat die belydenis op die beraad aanvaar het) het nou al jare lank deelgeneem aan agitasie wat daarop gemik was om sanksies teen Suid-Afrika te bevorder en om revolusionêre elemente in Suid-Afrika te steun. As daar belydenis afgelê moet word, moet dit ook van sy kant af kom.

“Die onreg wat hy en die ANC, met wie hy bevriend is, gepleeg het teenoor onskuldige vroue en kinders in Suid-Afrika, is verwerplik.”

(Op die kerkeberaad het aartsbiskop Tutu inderdaad wel ook ’n skuldbelydenis gedoen in reaksie op dié van prof. Jonker.)

Mnr. Botha sê dat “dr. D.F. Malan by sy bewindsaanvaarding in 1948 gesê het apartheid is nie die karikatuur wat so dikwels daarvan gemaak word nie. Inteendeel, dit beteken vir die nie-blankes die opbou van groter selfstandigheid en hul gevoel van selfrespek, sowel as die verskaffing van ruimer geleentheid vir vrye ontwikkeling ooreenkomstig hul eie aard en vatbaarheid.

“Tot vandag toe glo ek nog in dr. Malan se standpunt soos destyds gestel. Dat daar van tyd tot tyd foute gemaak is, kon wel erken word, maar enige mens maak foute.”

Hy sê “onderdrukking in hierdie land spruit voort uit die kolonialisme van die verlede, en rassediskriminasie is onder die Britse Imperialisme ingevoer. Daarvan getuig ons geskiedenis.

“Wat by Rustenburg gebeur het, is myns insiens ’n vernedering van groot Afrikaner-kerkleiers van die verlede, sowel as ’n onreg teenoor die Afrikanervolk wat so veel gedoen het vir die kerstening en opheffing van ander bevolkingsgemeenskappe in ons land.

“Belydenis van sonde is ’n saak tussen die mens en God.”

Teenoor Rapport sê dr. Andries Treurnicht dat hy die hele kwessie van die openbare skuldbelydenis langs kerklike weë verder gaan voer. Hy kan nie Sondae onder dié wolk van beskuldiging in die kerkbank sit nie.

Dit was egter ook in sy hoedanigheid as politieke leier dat hy dié week vasgeskop het.

“Dit het tyd geword dat die kerke aandag gee aan die dwaling van die anti-Apartheidsbeweging en sy verband met die teologie van bevryding en vandaar sy skakeling met kommunistiese en revolusionêre organisasies en doelstellings,” het hy in ’n verklaring gesê.

Op ’n vergadering op Ficksburg het hy gesê as politikus en kerkman distansieer hy hom daarvan dat oor die sonde van apartheid gebieg word. Volkereverskeidenheid is nie sonde nie, maar die direkte bemiddeling van God met die Skepping.

Die NG Kerk se leiers beplan nou ’n deeglike inligtingsveldtog oor die beraad onder hulle lidmate.