KORRESPONDENSIE
WD Jonker
24 Januarie 1991
Chenin Blank 29
Kleingeluk
Stellenbosch
7600
Die Voorsitter en die Kerkraad
Ned Geref Kerk Biesiesvlei,
Posbus 49
BIESIESVLEI
2755
Liewe Broeders
Baie dankie vir u brief van 22 Jan 1991. Ek waardeer dit opreg. Ook al betuig u daarin u misnoeë oor my optrede, stel ek dit as gebaar van broederlikheid op prys.
U is daarvan bewus dat ek ‘n besondere verbondenheid aan die gemeente Biesiesvlei het. Ek identifiseer myself nog steeds in liefde en dankbaarheid met Biesiesvlei en, soos u sal onthou, het ek met u meegeleef na die skeuring van 1986-87.
Daarom is dit vir my ‘n hartseer-saak dat u so negatief oor my en my optrede oordeel. Dit is vir my duidelik dat u die bedoeling en betekenis van die skuldbelydenis te Rustenburg verkeerd interpreteer. Ek wil u graag verseker dat dit nie uit politieke motiewe voortgekom het nie, maar ‘n geestelike en kerklike daad was. As predikant het ek my nog altyd buite die politiek gehou. Ek was nog nooit ‘n lid van ‘n politieke party nie. Maar as predikant het ek die roeping om oor die morele aspekte van ons individuele en gemeenskaplike lewe te oordeel en die lig van die Woord daarop te laat val. Dit raak ook die politiek, en dit kan die misverstand laat ontstaan by diegene wat met my morele oordeel verskil, dat ek vanuit ‘n bepaalde politieke keuse dink en praat.
By Rustenburg het dit vir ons gegaan oor wat Christus ons in Mat 5:23 leer, dat as ons broeders iets teen ons het, ons ons met hulle moet versoen. En die swart Christen in hierdie land het baie teen ons. Daar is groot bitterheid teenoor veral die Ned Geref Kerk by hulle, omdat hulle ons sien as die verdedigers van ‘n onregverdige maatskaplike en politieke opset wat vir hulle baie ontwrigting en lyding meegebring het. Dit is ‘n morele aanklag teen ons wat van ons selfondersoek vra. Selfs al kan ons onsself in bepaalde opsigte teenoor die siening verdedig, het ons kerk reeds sedert 1986 geoordeel dat daar tog opsigte is waarin ons dit nie kan doen nie (vgl Kerk en Samelewing 1986, 305-307). Maar as dit so is, is dit die Christelike weg om dit teenoor hulle te bely en na versoening te soek.
U verklaar dat u geen skuldgevoelens het oor die wyse waarop die kerkraad teenoor anderskleuriges optree nie, en ek aanvaar dit so. Ek weet dat u persoonlik nie haatdraende en liefdelose mense is nie en dat Biesiesvlei deur die jare ‘n hart vir die sending gehad het. Maar dit gaan in die situasie in ons land om meer as persoonlike gesindhede. Baie van die bitterheid van die Swartmense teenoor ons het nie te make met hoe ons individueel teenoor hulle voel of optree nie, maar met die opset in ons land waardeur ons bevoordeel en hulle benadeel word (vgl Kerk en Samelewing 1986, 306). Dit is iets wat bokant ons as enkelinge uitgaan en waaraan ons almal gemeenskaplik skuld het.
Miskien het ons nog altyd te weinig begrip van die armoede, lyding en ontwrigting wat die Swartmense in ons land ervaar, omdat ons te min van hulle toestande weet. Wetenskaplike ondersoeke het egter
herhaaldelik die uiterste ellende na vore gebring waarin hulle lewe. Die huweliks- en gesinslewe is deur dinge soos trekarbeid en moeilike werksure feitlik verwoes. Die opvoeding van kinders en die gemeenskapslewe is diep daardeur aangetas. Die moraliteit is afgetakel. Die hele swart samelewing het uit reaksie gepolitiseer geraak en groot seksies het onder die invloed van die revolusionêre marxistiese denke gekom.
Ons kerk kan nie ons oë vir hierdie realiteite sluit nie. In die afgelope jare het die kerk steeds gevoeliger daarvoor geword. Ons het leer insien dat ons almal deel het aan ‘n toestand wat ontwikkel het Maar dan moet ons as Christene tog bereid wees om te sê dat ons jammer is vir die aandeel wat ons daaraan gehad het en na die Swartmense as medemense uitreik, sodat ‘n nuwe begin gemaak kan word aan die opbou van hulle gemeenskap, ter wille van die voortgang van die Evangelie en die beswil van die mense.
Met die skuldbelydenis ontken ons nie die baie goeie dinge wat die Ned Geref Kerk gedoen het en nog doen nie. Ons het ook nie mense wat in die verlede of hede anders oor die dinge gedink het of nog dink, as verlorenes veroordeel nie. Uit ons eie lewe weet ons as kinders van God dat ons dikwels eers later insien dat dinge verkeerd kan wees wat ons vroeër nie so besef het nie. So is dit ook in die kerk. Ek twyfel geensins aan die saligheid van my ouers en grootouers en al die ander kinders van die Here wat anders gevoel het as wat die kerk tans voel nie. Hulle het in ‘n ander situasie geleef, het waarskynlik baie goeie bedoelinge en ideale gehad, en kon nog nie so goed as ons vandag besef watter gevolge die opset in ons land vir miljoene swart mense sou hê nie.
Daarom het hulle gewete hulle nog nie aangekla van dinge wat ons vandag as verkeerd leer insien het nie. Daar is baie sondes waarvan ons gewete ons nie aankla nie (Ps 19:13). Goddank beteken dit nie dat ‘n kind van God wat nog van bepaalde sondes onbewus is, verlore is nie. Ons word mos nie gered omdat ons sonder enige sonde is nie, maar omdat die bloed van Christus ons hele lewe en al ons sondes bedek, ook die waarvan ons nog nie bewus is nie. As ons egter eenmaal bewus geword het van ons sonde, moet ons dit bely en regmaak. Dit is maar die gewone pad van heiligmaking.
Ek is seker dat as ons rustig oor die sake kan gesels, u beslis minder ontstemd daaroor sal voel, selfs al stem u nie met my saam nie. Ek verklaar myself daarom bereid om, as u dit sou wil hé, op my eie koste vir ‘n gesprek na u te kom.
Mag die Here u in alles ryklik seën!
Die uwe in Christus,
Willie Jonker
[Skrywe van prof Willie Jonker aan die Kerkraad van die Ned Geref Kerk Biesiesvlei. Geplaas met die toestemming van mev Jonker – weduwee van prof Willie Jonker].