KORRESPONDENSIE
Ds JJH Swart
19 Februarie 1991
Prof WD Jonker
Teologiese Kweekskool
Dorpstraat
Stellenbosch
7600
Geagte Prof Willie
OP SOEK NA LIG BY DIE BRON
Na lang oorweging het ek besluit om die brief aan u te skryf en persoonlik om duidelikheid te vra. Ek doen dit omdat ek hoop en vertrou dat die saak van die Evangelie – soos toe ek nog student by u was – nog steeds vir u die hoogste prioriteit het. Ek hoop nie dit het verander nie.
Ek is bevoorreg om in ’n wonderlike gemeente van die Here Jesus te werk. Hier kon ons deur Sy genade die afgelope jare bouwerk doen wat ek glo van werklike ewigheidswaarde is. Sinodes het gekom en gegaan. Ons lidmate het gebuig voor die Woord en steeds in gehoorsaamheid probeer leef. Tot u “belydenis” by Rustenburg gekom het. Nou moet ek egter in plaas van bouwerk aan die Koninkryk van God van huis tot huis probeer verantwoord wat ’n “professor wat nou al vir jare nie meer agter die kateder voeling met die werklikheid het nie” gesê het. In alle respek wil ek regtig sê ek is nou al hartlik siek daarvoor! Lojale gelowige lidmate is oral onseker en in die war, en arme dominee weet nie wat om hulle te antwoord nie, want ook hy verstaan nie wat sy geliefde en hooggeagte professor bedoel het nie. Ek het al gewonder of u werklik weet hoeveel kosbare ure verlore gegaan het en hoeveel “beroering” die belydenis van Rustenburg gebring het. Omdat ek egter steeds aan u lojaliteit aan die Kerk van die Here Jesus glo, en omdat ek oortuig is u bedoeling was nie “beroering” en onsekerheid of skade aan die Koninkryk nie, glo ek dat u aan my ’n paar antwoorde sal verskaf sodat ek in gesprekke met lidmate daarvan gebruik kan maak, as’t ware “uit die perd se bek”.
DIE VRAE IS DIE VOLGENDE:
Wat was die oogmerk met en motivering vir die belydenis, aangesien u geen sanksie namens die Ned Geref Kerk gehad het nie en veral gesien in die lig van die feit dat dit deur die jare heen tog bekend was dat u nooit ’n aanhanger of ondersteuner van apartheid was nie. Is daar iets wat ons almal mis?
Op grond van bogenoemde, hoe eg was die belydenis?
Hoe verantwoord ons dit Skriftuurlik dat een namens ander belydenis doen. Waar gee die Skrif daartoe die sanksie of bevel? Veral in die lig van die feit dat baie van diegene namens wie u bely het reeds dood is. As die dooies se sondes nie meer vergewe kan word nie, waarom dan tog die belydenis?
Hoe verduidelik ek aan lidmate hul voorgeslagte se “sonde” wat dan nie vergewe sou wees nie, omdat hulle nie soos u ook die skuld daarvan ingesien en bely het nie. Baie van hulle het tog net probeer goed doen!
Is u tevrede dat die belydenis sy doel gedien het, al is daar soveel “onrustigheid” by lidmate daarna.
Laastens: As ek nou na die “skade” van u belydenis kyk, beteken dit dan dat ek dit ook later sal moet bely?
Prof Willie, ek besef dat bogenoemde dalk vir u irrelevant of onbenullig mag klink. Ek hoop egter nie so nie! Dan sou ek ook moet glo dat u kontak met die werklikheid verloor het. Dit wil ek nie graag glo nie.
Daarom vra ek van u: GEE MY ASSEBLIEF ANTWOORDE, SODAT EK AAN ANDER ANTWOORDE KAN GEE EN UITEINDELIK WEER UIT DIE WOORD IN PLAAS VAN OOR RUSTENBURG SE BELYDENIS OP HUISBESOEK KAN GESELS…
Ek sien uit om van u te hoor.
Die Uwe
[Brief van ds JJH Swart van die Ned Geref Gemeente Hospitaalpark aan prof Willie Jonker oor die Rustenburg-belydenis. Geplaas met toestemming van mev Swart – weduwee van ds JJH Swart.]