KORRESPONDENSIE
WD Jonker
20 Februarie 1991
Geagte ds Swart
Baie dankie vir jou brief van 19 Februarie. Ek merk die ergernis waarmee jy dit geskryf het, en haas my dus om dadelik terug te antwoord.
(1) My oogmerk was net om die eenvoudige Christelike en geestelike ding te doen om ekskuus te vra vir die lyding en onreg wat aan die swart mense onder die apartheidstelsel gedoen is. Dat daar baie lyding was, weet ons as blankes nie altyd nie, omdat ons so geïsoleerd van hulle lewe, maar ek dink tog dat as ‘n mens dit eers besef het, jy verplig is om minstens te sê dat jy dit weet en ekskuus te vra.
(2) Dat ek nie opdrag daarvoor van die kerk gehad het nie, spreek vanself. Niemand kan in opdrag bely nie. Behalwe in opdrag van die Gees. Elke mens het egter die reg om belydenis van sy sonde te doen, en van die sonde van diegene met wie hy homself identifiseer. Jy sou bv. voor God belydenis kon doen van die sonde van jouself, jou gesin, jou gemeente, jou volk en noem maar op. My belydenis is nie ’n kerkregtelike kwessie nie, maar ’n geestelike kwessie. Al was ek nie ondersteuner van apartheid nie, het ek tog op talle maniere binne ons hele opset daarby gebaat, is ek daardeur bevoorreg, en het ek meegedoen aan die totale opset waarbinne dit gebeur het. Buitendien: mens kan ook die skuld van andere op jou neem, veral as jy hulle liefhet en een met hulle is. So leer ons dit in die Bybel. Ek merk dat jy my een of ander motief in die skoene wil skuif, maar ek wil jou die versekering gee dat ek nie enige motief gehad het om dit te doen, behalwe die geestelike besef dat ons nooit met mekaar tot vrede sal kan kom, as ons nie die weg van Mt 5:23 wil volg nie. As jy vra of my belydenis eg was, dan kan ek maar sê: Die Here moet daaroor oordeel. Vir my eie besef was dit uit die diepte van my hart.
(3) Jou derde vraag is gedeeltelik reeds hierbo beantwoord. Dat mense wat apartheid ingestel en verdedig het, reeds dood is, beteken tog nie dat hulle verlore is nie. Dink jy dan werklik dat manne in die hemel kom net as jy al jou sondes besef en elkeen afsonderlik bely het? Van baie van ons sondes is ons nie eers by benadering bewus nie. Tog gaan die bloed van Jesus daaroor. As ons egter wel van ons sondes bewus word, behoort ons dit te bely voor God en die mense. Dit is die normale weg van heiligmaking.
(4) Jou vierde vraag is ook reeds beantwoord hierbo. Moenie toelaat dat mense jou intimideer met slegte teologie nie. Hou Jesus aan hulle voor en ons gereformeerde belydenis dat ons uit genade gered word, nie deur ons goeie bedoelinge en selfs nie eers deur ons eie belydenis of bekering nie, al is lg. ook die weg waarlangs ons die heil bewustelik ontvang.
(5) Ek dink die belydenis (wat vooraf onbeplan was en as spontane daad in die situasie gedoen is) het ‘n geweldige effek ten goede gehad. Die groot gros ander Christene in die land wantrou en verwerp die NG Kerk. Hulle glo nie eers dat ons regtig Christene is nie. lets was nodig om hulle daarvan bewus te maak dat ons tog ook Christene is, dat ons iets verstaan van hulle lyding en moeilikhede, van die ontwrigting van hulle gemeenskap, van die armoede en ellende, van die talle ontsettende negatiewe effekte wat apartheid en die handhawing daarvan op hulle gemeenskap gehad het. Ons het dit nie so besef nie. Ons het dit ook nie so bedoel nie. Maar noudat ons daarvan bewus word, wil ons tog aan hulle sê dat ons dit sien. – Die effek by die konferensie self was oorweldigend. Al die ander kerke het ook begin bely dat hulle groot skuld voor God en teenoor mekaar het. Die pad na mekaar toe is in ‘n groot mate oopgemaak deur die belydenis, veral ook omdat die NG Kerk as afvaardiging verklaar het dat hulle hulself “unambiguously” daarmee vereenselwig vir sover dit die posisie van die NG Kerk met betrekking tot apartheid betref. Die onrustigheid onder ons lidmate was te verwagte, omdat ons hulle ongelukkig nie langs die pad altyd met ons saamgeneem het in ons denke oor die dinge nie. Waar predikante na 1986 hulle kerkrade en gemeentes behoorlik voorgelig het oor wat in Kerk en Samelewing staan, het ons ook nou weinig probleme. Baie hang van die dominee af. As jy dus duidelik geestelike standpunt inneem, ken selfs die ure wat jy nou aan gesprekke bestee, vir jou die geleentheid word om die mense terug te lei na hulle persoonlike verhouding met God en met hulle medemense.
(6) Of jy lets het om te bely, is iets waarvan die Heilige Gees jou moet oortuig, nie ek nie.
(7) Ek dink glad nie jou vrae is irrelevant nie. Daar is so hard as moontlik probeer om die belydenis uit sy geestelike konteks te haal en dit vanuit politieke motiewe verdag te maak, dat die mense se reaksies te wagte was. Ek bid maar net dat die Here self deur sy Gees die hele saak op Hom sal neem. Ek gee nie om om verwerp en verguis te word vir wat ek gedoen het nie, maar ek bid dat die Here die kerk uiteindelik tog by die punt sal bring waar ons sal verstaan dat ons ter wille van Sy Naam en ons roeping ons nie deur politieke oorwegings moet laat lei nie, maar deur sy Woord en wet.
Opregte groete
jou broeder in Christus
[Antwoord van prof Willie Jonker aan ds JJH Swart van die Ned Geref Gemeente Hospitaalpark. Geplaas met die toestemming van mev Jonker – weduwee van prof willie Jonker.]