Oorspronklike handgeskrewe Skuldbelydenis

OORSPRONKLIKE HANDGESKREWE SKULDBELYDENIS

Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek dit om dit ook namens die NGK te doen, waarvan ek ’n lidmaat is, en vir die Afrikaner in sy geheel. Ek het die vryheid om dit te doen, want die NGK het apartheid op sy laaste Algemene Sinode tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid beken deurdat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.