Laai “Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal” hier af as ’n PDF of lees dit hier onder: PDF
KERK EN WÊRELD
TEOLOGIESE STUDIES OOR DIE SENDING VAN DIE KERK IN DIE WÊRELD
DR. W. D. JONKER
DIE SENDINGBEPALINGE van die Ned. GEREFORMEERDE KERK van Transvaal
Nr. 4 – Junie 1962
Inhoudsopgawe
INLEIDING
Ons doel met hierdie reeks is om teologiese studies uit te gee wat die teologie in ons land sal dien. Maar ons wil dit toespits op die sending van die Kerk in die wêreld, soos in die titel en ondertitel ook aangedui word.
In die geskiedenis van die Kerk het dikwels geblyk dat die Kerk alleen dan in sy innerlike lewe gesond en sterk is, as hy getrou en ywerig is in sy getuienis in die wêreld.
Daarom is dit ook nodig dat die Kerk die wêreld waarin hy leef, moet verstaan; en veral teologies moet verstaan. Dit is veral in ons tyd waar, omdat daar i.v.m. die Evangelisasie en Sending besondere uitdagings tot die Kerk kom.
Ter wille van die boodskap van die Kerk is teologiese besinning oor daardie uitdagings sowel as oor die boodskap self nodig.
Die skrywer van elke stuk is alleen verantwoordelik vir die beskouings wat daarin gegee word.
Dr. D. J. Bosch, Madwaleni-sendingstasie, p/s. Elliotdale.
Dr. W. D. Jonker, Ned. Geref. Gemeente Johannesburg.
Ds. A. A. Odendaal, Ned. Geref. Opleidingskool, Witzieshoek.
Dr. J. A. van Wyk, Ned. Geref. Opleidingskool, Turfloop.
Ds. A. S. van Niekerk, (sekr.) Ned. Geref. Opleidingskool, P/s. 5260, Pietersburg.
In hierdie reeks het reeds verskyn:
Nr. 1: Die Apostolaat van die Kerk, deur dr. J. A. van Wyk. (45c).
Nr. 2: Die Heidendom in die Sendingkerk en die Weerlegging daarvan, deur A. A. Odendaal, C. T. Smith, A. S. van Niekerk, J. Alex. van Wyk en J. H. van Wyk. (70c).
Nr. 3: Die lydende Messias en ons Sendingmotief, deur dr. D. J. Bosch. (35c).
Die verskillende dele is verkrygbaar by die Ned. Geref. Kerkboekhandel, Pretoria en Johannesburg, en die Sendingboekhandel, Bloemfontein, sowel as van die sekretaris, P/s. 5260, Pietersburg
DR. W. D. JONKER
HOOFSTUK EEN – DIE HUIDIGE BEPALINGE
I
Indien die kerk sy roeping in hierdie wêreld verstaan, sal dit vir hom vanselfsprekend van die grootste belang wees om daarvoor sorg te dra dat die bepalinge wat sy arbeid in belang van die getuienis teenoor die ongelowige wêreld reël en orden, so suiwer as moontlik sal wees. Dit geld met name van die sending. Indien dit waar is dat die sending tot die wese van die kerk behoort,1 kan die kerk dit nie bekostig om sonder diepgaande skriftuurlike en prinsipiële denke bepalinge op te stel vir sy sendingaksie nie. In die sendingbepalinge het ons immers die neerslag van die kerk se gesindheid teenoor en benadering van die sending, en daardie bepalinge stempel en vorm op hulle beurt weer die denke en houding van die kerk teenoor die sending vir die toekoms.
Maar daar kom nog iets by. Die sendingbepalinge van die kerk is nie net vir homself van belang nie, maar ook vir die Koninkryk van God. Dit reël immers die wyse waarop die kerk in sy sendingaksie na buite optree. Indien dié optrede suiwer en Bybels-verantwoord is, kan daarvan vrug verwag word, maar indien dit nie die geval is nie, kan die kerk nie die geseënde vrug op sy arbeid verwag wat andersins die geval sou gewees het nie. Die kerk laat in sy sendingaksie ’n bepaalde indruk na op die heidense volkere wat hy met die boodskap benader. Dit is van die grootste belang wát daardie indruk sal wees. En dié indruk het nie net te doen met die persoonlike optrede van die indiwiduele sendelinge nie, maar word geskep deur die hele wyse van optrede van die kerk soos dit neergelê word in die “sendingbeleid” en die daarop gebaseerde sendingbepalinge van die kerk. Daarom kan die kerk dit ter wille van die Koninkryk van God nie bekostig om met sendingbepalinge te werk wat nie van A tot Z Bybels-verantwoord is nie.
En dan is daar nog ’n derde saak. Die sendingbepalinge van die kerk is ook van die allergrootste belang vir die jong inheemse kerke wat as vrug van die sendingaksie van die kerk tot stand kom. Dit is meestal so dat die jong kerk in ’n baie groot mate beheers word deur die sendingbepalinge van die “moederkerk”. As die bepalinge van die moederkerk nou nie ten volle verantwoord is nie, sal dit aan die jong kerke ’n soort erflike belastheid meegee waarvan hulle nie maklik ontslae sal kan raak nie. Dit lê ’n geweldige verantwoordelikheid op elke sendende kerk. Daarom sal die kerk met die grootste nougesetheid daarvoor moet sorg dat sy sendingbepalinge op die Skrif teruggevoer kan word, want dit is al sekerheid wat ons het, nl. dat die onfeilbare Woord van God ons ook ten opsigte van die sending, soos in alle ander dinge, nie verkeerd sal lei nie.
Dit is om hierdie redes dat ons daarvoor wil pleit dat die Ned. Geref. Kerk van Transvaal sy sendingbepalinge volledig en radikaal moet hersien. Immers, ons is daarvan oortuig dat die Ned. Geref. Kerk deur die genade van God nog steeds ten diepste deurdronge was van sy geweldige roeping teenoor die wêreld, en dan in die besonder teenoor die ongekerstende inheemse volkere van ons land2. Ook die Ned. Geref. Kerk van Transvaal is hierop geen uitsondering nie3. In dankbaarheid kan die Transvaalse Kerk terugkyk op byna tagtig jaar van georganiseerde Sendingwerk, en die bestaan van ’n afsonderlike Ned. Geref. Sendingkerk van Transvaal met ’n 145 gemeentes en werkkringe is ’n sprekende bewys van die opregte sendingywer wat nog steeds ’n kenmerk van die Ned. Geref. Kerk was. Dit is bekend dat dié ywer in die afgelope aantal jare eerder toe- as afgeneem het en dat die sendingaktiwiteite van die Transvaalse Kerk op die oomblik ’n ongekende hoogtepunt belewe. Maar juis daarom is dit vir die Ned. Geref. Kerk so uiters belangrik dat sy sendingbepalinge sterk en suiwer sal wees. Hoe groter die sendingaktiwiteit van die kerk, hoe noodsaakliker is dit om dit prinsipieel in te rig.
Buitendien neem die Ned. Geref. Kerk ’n besondere plek in ons land in. Wat die Ned. Geref. Kerk sê, doen en beplan, het altyd ’n geweldige betekenis vir die saak van Gods Koninkryk in Suid-Afrika. Vriend en vyand weet van die invloed wat van die kerk uitgaan en word in ’n sekere sin daardeur geraak. Vanweë die uitgebreidheid van die sendingaksie van die Ned. Geref. Kerk is dit dikwels so dat die heiden die Christendom moet leer ken in die gedaante waarin dit na vore tree in die sendingaksie van die Ned. Geref. Kerk. Veel is dus daaraan geleë hoe die Ned. Geref. Kerk teenoor die sending staan, hoe hy die sending aanpak, wat hy van die sending verwag, waarheen hy met sy sendingaksie wil. As hier verkeerde optrede gevolg en wanindrukke geskep word, as hier gefaal word, kan dit nie anders nie, of dit moet die Koninkryk van God groot skade aandoen. Daarom is die sendingbepalinge van die kerk, waardeur die optrede van die kerk onder die heidene gereël word, van beslissende betekenis. Voeg hieraan nog die feit toe dat die Ned. Geref. Sendingkerk van Transvaal ’n stel wette en bepalinge het wat geheel-en-al beheers word deur die sendingbepalinge van die moederkerk, wat meebring dat die Sendingkerk die toekoms ingestuur word met ’n gestalte wat ontleen is aan die gedagtes wat in die moederkerk se sendingbepalinge opgesluit lê, en dit is duidelik dat die kerk teenoor God en mens ’n geweldige verantwoordelikheid dra wanneer hy sy sendingbepalinge opstel. Daarom, weer eens, moet die kerk hier met die grootste versigtigheid te werk gaan en slegs één ideaal daarop nahou, en dit is om sy sendingbepalinge in alle opsigte Bybels-verantwoord te laat wees. Niks wat ook maar in die geringste skadelik kan wees vir die sendingwerk van die kerk, mag in dié bepalinge staan nie, maar aan die anderkant mag ook niks daaruit weggelaat word wat noodsaaklik is om die kerk op ’n ordelike weg volgens die Skrifte te lei in sy hoogs-belangrike aktiwiteit van die verkondiging van die evangelie onder die heidene nie.
* * *
Wanneer ’n mens nou die bestaande sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal bestudeer, blyk dit al gou dat daar ’n hele aantal dinge is waaragter ’n mens in die lig van die Skrif vraagtekens moet plaas. Dat daar by die kerk ’n besef gelewe het dat hierdie afdeling van sy bepalinge van groot belang is, is wel duidelik uit die feit dat daar veel meer bepalinge in verband met die sendingwerk is as in verband met enige ander werksaamheid van die kerk4. Maar afgesien van die kwantiteit, maak die bepalinge tog nie die indruk dat hulle die vrug van egte, gereformeerd-skriftuurlike studie is nie. ’n Mens kry inteendeel die indruk dat hierdie bepalinge maar in die loop van die jare uit die praktyk opgekom het en stadigaan aangegroei het totdat dit geword het wat dit vandag is. ’n Mens mis die prinsipiële lyn wat dergelike bepalinge moet beheers, sowel as die vaartbelyndheid wat by die bepalinge oor so ’n belangrike sektor van die kerk se werk pas. Een en ander van die bepalinge het dan ook al mettertyd in onbruik geraak (vgl. bv. art. 258), maar staan nog steeds tussen die andere. Indien daar ’n gedeelte van ons Wette en Bepalinge is wat om hersiening roep, dan is dit seker die bepalinge oor die sending.
Gelukkig tref dit nou so, dat daar ’n wonderlike geleentheid gekom het vir ’n algehele hersiening van ons sendingbepalinge. Immers, al ons kerklike bepalinge word op die oomblik weer heroorweeg in die lig van die feit dat die verskillende provinsiale kerke een gemeenskaplike kerkorde aanvaar het en voortaan één organisatoriese geheel gaan vorm. Dit sal ongetwyfeld noodsaaklik wees vir die Algemene Sinode om ’n algemene sendingbeleid neer te lê wat van krag sal wees vir die werk van die hele Ned. Geref. Kerk. Maar wanneer dit sal gebeur, is voorlopig nog nie duidelik nie. En intussen moet die verskillende Sinodes natuurlik in hulle aanvullende bepalinge by die kerkorde voorsiening maak vir ’n ordelike reëling van die sendingwerk. Daarom het dit betekenis om juis in hierdie stadium die ou bepalinge van die Transvaalse Kerk onder die oë te neem en vir onsself die vraag uit te maak in watter rigting ons vir die toekoms wil dink. Miskien is dit te veel gevra as ons die hoop uitspreek dat dié besinning moontlik betekenis kan hê vir die sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk in sy geheel. Dit is in elk geval wenslik dat die beleid wat uiteindelik deur die Algemene Sinode geformuleer gaan word, nie meer onderskeid sal maak tussen die sendingwerk in die buite- en binneland nie. En daarom is dit van belang dat ons in ons prinsipiële besinning oor ons sendingbepalinge moet uitgaan van die standpunt dat wat ons formuleer, so suiwer moet wees, dat dit geldigheid sou kon besit vir die sendingwerk van die kerk op watter terrein dan ook, en dat dit aanspraak daarop moet kan maak dat die hele kerk dit aanvaar as die juiste weg waarop ons in die toekoms moet beweeg.
II
Sonder om op al die bestaande sendingbepalinge afsonderlik in te gaan, wil ons graag enkele aspekte van die bepalinge na vore haal met die doel om hulle te toets aan die beginsels van die Skrif. Ons begin met die eerste saak wat ’n mens opval as jy die bepalinge bestudeer, nl. die feit dat hier uitgegaan word van die standpunt dat daar ’n afsonderlike kerk vir die bekeerlinge uit die heidendom in die lewe geroep moet word.
Dit is die agtergrond van al die bepalinge. Wanneer daar in art. 238 e.v., bepalinge neergelê word oor die “Sendingwerk onder die Inboorlinge”, dan blyk dit dadelik dat dergelike bekeerlinge in afsonderlike werkkringe georganiseer word en uiteindelik moet aanwas tot afsonderlike gemeentes wat gestig word in verband met die Ned. Geref. Sendingkerk van Transvaal (vgl. art. 240, 247 ens.). Kerkregtelik gesproke is hierdie sendingkerk ’n volledige ander kerk as die Ned. Geref. Kerk van Transvaal, ’n kerk met sy eie gemeentes, eie kerkrade, gemeentes en sinode, wat parallel naas die Ned. Geref. Kerk bestaan. Daar word in die bepalinge geen voorsiening gemaak vir enige kerkverband tussen die “moederkerk” en die “dogterkerk” nie, selfs nie eers vir ’n offisiële beraad wat kan plaasvind tussen die twee kerke nie. Dit beteken nie dat die twee kerke niks met mekaar te doen het nie, want haas al die bepalinge getuig daarvan dat die moederkerk te eniger tyd van sy kant af met die sendingkerk kan handel, selfs op die terrein van die sendingkerk kan tree en in die sendingkerk kan ingryp (soos ons later sal aantoon). Dit beteken egter wel dat die moederkerk baie duidelik vir die sendingkerk afgesluit is en teen indringing van die kant van die sendingkerk verskans is. As daar sprake is van ’n kerkverband tussen die twee kerke, is dit ’n eensydige kerkverband wat daarop neerkom dat die sendingkerk vir die moederkerk se optrede na alle kante oopstaan, maar dat die moederkerk self nêrens oopstaan vir invloed of indringing van die kant van die sendingkerk nie5. Natuurlik is die bedoeling nie dat dit altyd so sal bly nie. Daar sal ’n dag kom wanneer die moederkerk nie meer so in die sendingkerk sal ingryp nie, wanneer die sendingkerk selfstandig sal wees. Dan sal daar twee volledig-aparte parallelle Ned. Geref. Kerke in Transvaal bestaan, twee kerke met dieselfde belydenis en kerkregering, maar afgesluit teenoor mekaar: die een vir die blankes, die ander vir die nie-blankes. Of daar dan enige vorm van kerkverband tussen hierdie twee aparte kerke sal bestaan, word met geen woord in die huidige bepalinge aangedui nie. Dit is dus kerkregtelik gesproke nie volkome juis om te sê dat die Ned. Geref. Kerk hom uitbrei onder die nie-blanke bevolking van die land nie, want die bekeerlinge uit die heidendom, word nie lede van die Ned. Geref. Kerk nie. Die sendingarbeid van die Ned. Geref. Kerk stuur af op die totstandkoming van ’n volledige ander Ned. Geref. Kerk onder die nie-blankes6.
Vra ons na die motivering wat die bepalinge vir hierdie standpunt bied, dan sal ’n mens dit vanself gaan soek in Reglement I (4) (ii) waar as ’n grondliggende beginsel vir die sendingwerk van die kerk neergelê word: “Die Kerk laat geen gelykstelling toe tussen blankes en gekleurdes nie. (Vgl. Art. 9).” Artikel 9 waarna hier verwys word, het tot in 1957 gelui: “Die Kerk laat geen gelykstelling tussen blankes en nie-blankes toe nie.” Toe is dit egter gewysig na: “Die Kerk beywer hom vir die stigting van afsonderlike Kerke onder die verskillende etniese groepe van die land. Alleen blanke persone sal tot lidmaatskap van die Ned. Geref. Kerk toegelaat word. (Art. 3).” In art. 3 word dan neergelê dat “alleen blanke persone” aan die gemeentes van die Ned. Geref. Kerk behoort. In die bepalinge van die Suidstreek word dieselfde gedagte herhaal in art. 253 waar dit lui: “Lidmate uit die sendinggemeente word nie tot lidmaatskap van blanke gemeentes in die Ned. Geref. Kerk van Transvaal toegelaat nie, maar blankes wat om een of ander rede hulle status as blankes prysgegee het, mag alleen met toestemming van die Kerkraad van die blanke gemeente toegelaat word tot lidmaatskap in die sendinggemeente.” En dan is daar nog art. 248 wat bepaal: “Die lede van die sendinggemeente sal geen gebruik van die kerkgeboue van die blanke lede van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal mag maak nie.”
Hoe moet ons hierdie bepalinge interpreteer? Gaan ’n mens bloot op die klank af en interpreteer jy die gebesigde uitdrukkings in die lig van die toegespitste betekenis wat hulle gedurende die afgelope aantal jare gekry het, dan is die gevolgtrekking haas onontwykbaar dat die Ned. Geref. Kerk sy hele beleid van afsonderlike kerke bloot baseer op die kleurgevoel van die blanke. Immers, wat anders kan ’n oningeligte persoon aflei uit die herhaalde gebruik van die terme blank en nie-blank, en dit nog in kombinasie met die ou bekende politieke term gelykstelling? Wat wil die kerk presies sê as hy sonder verduideliking ’n dergelike politieke term oorneem en dit op die terrein van die kerk van Christus van toepassing maak? Kan ’n oningeligte persoon kwalik geneem word as hy uit hierdie soort uitdrukking afleidings maak wat die Ned. Geref. Kerk in ’n kwade lig stel? Is die kerk nie self die oorsaak van baie misverstande insake sy opregte bedoeling met die nie-blanke, solank as wat hy dergelike uitdrukkings bly gebruik wat tot fatale misverstande aanleiding kan gee nie?
Ons is daarvan oortuig dat die kerk dit met dergelike uitdrukkings nie so sleg bedoel het as wat dit op die oog af lyk nie, maar juis daarom glo ons ook dat die kerk van daardie uitdrukkings ontslae moet raak om alle moontlike misverstand in verband met sy gesindheid teenoor die nie-blanke en sy sendingbeleid uit die weg te ruim. Soos die bepalinge nou daar staan, word daar geen enkele Bybelse of teologiese grond aangevoer vir die beleid van afsonderlike kerke nie, daar word slegs gerep van die onwil van die kerk om gelykstelling tussen blank en nie-blank toe te laat. Nou is dit wel nie die aard van kerklike bepalinge om altyd Skrifgronde aan te voer vir ’n bepaalde reëling wat getref word as noodsaaklik vir die orde van die kerk nie, en dit sou dus nie noodwendig van die Ned. Geref. Kerk verwag kon word om in sy kerklike bepalinge alle gronde aan te voer waarop hy sy sendingbeleid baseer nie. Wanneer die egte gronde waarop die sendingbeleid gebaseer word, egter nie aangegee word nie, is dit uiters verwarrend en misleidend as daar ander uitsprake in die bepalinge gelaat word wat die indruk kan wek van die eintlike en uitsluitlike grond te wees waarop die beleid van afsonderlike kerke berus.
Daar kom nog iets by. Die hele negatiewe wyse waarop hierdie bepalinge geformuleer is, werk die misverstand nog verder in die hand, laat val ’n verkeerde lig op die motiewe van die kerk en moet noodwendig aanstoot gee aan die nie-blanke wat in die sendingwerk bereik moet word, sowel as aan almal wat daarvan oortuig is dat dergelike negatiewe formuleringe genoegsaam grond bied om die Ned. Geref. Kerk daarvan te beskuldig dat hy ’n immorele en onchristelike kleur- en rassediskriminasie duld en selfs voorstaan. En nou kan ons natuurlik verontwaardig word daaroor dat mense sulke verkeerde motiewe aan die kerk kan toeskrywe, maar as ons hulle nie deur ’n positiewe formulering help om te verstaan dat die saak waarvoor die Ned. Geref. Kerk staan, ’n positiewe saak is nie, is ons aandadig aan die voortbestaan van dergelike wanindrukke, terwyl die weiering om in ’n positiewe formulering ons opregte bedoelinge weer te gee, as die sterkste moontlike bewys gesien sal kan word dat ons wél skuldig is aan die verkeerde motiewe wat ons toegedig word. Selfs op die staatkundige vlak word daar al ’n geruime tyd gepoog om weg te kom van negatiewe formuleringe wat wanindrukke insake diskriminasie en rassevooroordeel kan verwek7, en dit sou vreemd wees indien die kerk van Christus nie nog meer as die staat begerig sou wees om sy eerlike bedoeling voor die heldere daglig te stel nie!
Daar is tog ongetwyfeld ’n geweldige positiewe betekenis in die standpunt dat die verskillende bevolkingsgroepe, elk met sy eie taal- en kultuuragtergrond, elk met sy eie sielsaard en die daarmee saamhangende eie behoeftes en probleme, ’n geleentheid gegee sal word om God nie alleen in sy eie taal te aanbid nie, maar ook om die verkondiging van die Woord te ontvang in die volksidioom en met die besondere toespitsing wat noodsaaklik is vir sy eie situasie en behoeftes. En dié positiewe sin wat daar in die historiese sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk opgesluit is, kan nóg op grond van die Skrif, nóg op grond van enige teologiese en etiese beginsel afdoende bestry word. Maar dan moet dit ook volledig duidelik gemaak word dat dit dié ware grond is waarop ons staan as ons ’n sekere rigting inslaan in ons sendingaksie, en ons moet alle negatiewe formuleringe wat daardie positiewe sin verduister of selfs in die gedrang bring, uitskakel. So het die Ned. Geref. Kerk dit oorspronklik ook gedoen. As ’n mens die ontwikkeling van die sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk nagaan en die uitsprake van die Kaapse Sinode uit die vorige eeu sorgvuldig lees, moet hy tot die konklusie kom dat die stigting van afsonderlike kerke gebore is uit “’n besef van die kulturele en maatskaplike behoeftes van die nie-blankes en ’n opregte poging om hulle beter te bearbei en tot kerklike selfstandigheid en leierskap op te lei.”8 Dit het oorspronklik daarby beslis nie gegaan om rassediskriminasie of blanke meerderwaardigheid nie, maar om die noodsaaklikheid vir die kerk “om binne elke afsonderlike taal- en kultuurgroep so te getuig dat die besondere diepgeleë behoeftes van daardie groep bevredig en die besondere vrae in die lewe van daardie groep vanuit die Evangelie beantwoord word.”9 Die verskillende verklaringe wat die Ned. Geref. Kerk in die afgelope aantal jare insake rasseverhoudinge en in die besonder aangaande sy eie sendingbeleid gedoen het, wil dan ook geen twyfel daaromtrent laat dat dit vir die kerk werklik nie gaan om “’n on-Christelike eksklusivisme” wat „die beoefening van ware Christelike gemeenskap tussen Christene van verskillende rasse belemmer” nie, inteendeel, dat die kerk tendense in daardie rigting juis offisieel verwerp.9 Maar indien dit werklik die geval is, behoort alle formuleringe wat selfs ook maar die indruk van “on-Christelike eksklusivisme” kan maak – en dit geld tog sonder enige twyfel vir die aangehaalde bepalinge van die Transvaalse Kerk – liewer agterweë gelaat word om plek te maak vir ’n positiewe formulering van die kerk se doel met die beleid van afsonderlike kerke. Dit is altyd gesonder om positief as negatief te wees in sulke delikate sake as hierdie. In dié opsig moet die enigste positiewe formulering wat die Transvaalse bepalinge bevat, nl. die formulering van die eerste gedeelte van art. 9 wat in 1957 ingevoer is, as ’n daadwerklike verbetering op die ou negatiewe formuleringe waardeer word. Ons sal in hierdie opsig goed doen as ons die wenk volg van iemand van die formaat van dr. G. B. A. Gerdener as hy verklaar: “Ná honderd jaar (daarmee bedoel hy kennelik: vandag) sal die negatiewe verskansing van geen gelykstelling ten volle moet plek maak vir ’n positiewe beleid waarin uitlewing in kerk en staat vir elke rassegroep moontlik gemaak word.”11 Op ’n ander plek vestig hy die aandag op die groot skade wat die sendingaksie van die kerk gely het deur hierdie soort negatiewe formulering, en die negatiewe houding wat dikwels met dié soort formulering saamhang.12 Dit moet tog absoluut duidelik wees, dat ons op ’n positiewe manier presies dieselfde sendingbeleid wat in die verlede as gesond en vrugbaar geblyk het, kan formuleer. Daardeur sal die kerk geen skade ly nie, maar eerder ’n geweldige wins inoes.
Afgesien van die besware wat ons tot dusver genoem het teen die huidige formuleringe wil ons egter ook daarop wys dat dergelike bepalinge volledig onnodig is vir die handhawing van die kerk se aanvaarde sendingbeleid. Dit is bekend dat die Ned. Geref. Kerke in die ander provinsies nie hierdie soort bepalinge het nie, en tog volg hulle presies dieselfde sendingbeleid as die kerk in die Transvaal. Die Transvaalse kerk sit met hierdie bepalinge opgesaal sedert die kerkvereniging met die Ned. Hervormde Kerk in 1885, toe daar by wyse van ’n toegewing aan die Hervormde broeders uitdruklik neergelê moes word dat die kerk geen gelykstelling toelaat nie,13 en aangesien dit van die kant van die Hervormde Kerk veral so verstaan is dat gelykstelling te doen het met die vraag wie lidmate van die kerk mag wees, is daar ook neergelê dat aan die Verenigde Kerk slegs blanke persone mag behoort.14 Uit sy eie sou die Ned. Geref. Kerk nooit tot dergelike formuleringe gekom het nie. Dat die Hervormde Kerk so klem gelê het op hierdie soort uitspraak, kan seker uit verskillende historiese en sielkundige oorsake verklaar word. Daar was immers die hele smartlike geskiedenis met die buitelandse sendelinge wat op ’n geforseerde manier alles wou gelykskakel en nie voldoende rekening gebou het met die werklike verskille tussen mense, ook in die kerk van die Here nie. Daar was ook die hele lang geskiedenis van botsings tussen blank en nie-blank, die groot kulturele en geestelike onderskeid tussen die blanke en die nie-blanke van daardie dae en dan veral ook die vrees vir enigiets wat kan uitloop op bloedvermenging.15 En wie sal wil ontken dat daar ook soms verkeerde gesindhede by ten minste sommige van ons voorouers gevind kon word, gesindhede wat vandag wel offisieel deur die kerk veroordeel word, maar wat nietemin ’n rol in ons geskiedenis gespeel het? Hoe dit ook sy, dit is goed genoeg verklaarbaar dat die komplekse situasie van die negentiende eeu by baie lede van ons volk ’n sekere ressentiment teenoor die sending laat ontstaan het, en dat hulle slegs toestemming wou gee dat daar met die werk van die sending voortgegaan kon word, as daar baie duidelike waarborge sou wees dat dit nie sal uitloop op iets soos die buitelandse sendelinge se onrealistiese sendingpogings nie. Vandaar al die negatiewe bepalinge wat daartoe moet dien om die blanke te beskerm en van die nie-blanke af te grens. Dit was seker nie in die gees van die benadering van die sending deur die Ned. Geref. Kerk nie. Dit moet eerder gesien word as ’n afbuiging van die historiese lyn van die Ned. Geref. Kerk en ’n resultant van ’n tipiese negentiende eeuse benadering van die rassevraagstuk.16 Dat die Ned. Geref. Kerk bereid was om by die kerkvereniging aan die broeders van die Hervormde Kerk op hierdie punte in ’n baie groot mate toe te gee, moet daaruit verklaar word dat die Ned. Geref. Kerk tog ook volledig gekant was teen ’n soort sendingwerk wat alle verskille tussen die volkere ignoreer en die sendingsaak by die Boerebevolking noodwendig in ’n kwade lig moes stel. ’n Mens kan dit betreur dat daar nie uit die staanspoor ’n beter, positiewer formulering gegee is aan wat in al hierdie bepalinge volkome goed bedoel is nie, maar ons sal daarby steeds moet onthou dat die hele vraagstuk insake die kerk en die rasseverhoudinge in daardie tyd nog so goed as onaangeraak gelê het, dat dit op daardie tydstip in die geheel nie aktueel was in die sin waarin dit in ons tyd aktueel geword het nie, en dat die kerk dus met ’n groot mate van argeloosheid gespreek het sonder om te oorweeg of dit nie beter sou wees om ’n positiewe formulering te gee aan die geregverdigde intensies wat agter die verskillende formuleringe sit nie. Per slot van rekening was die teologie van die negentiende een in meer as een opsig ook onbekwaam om hier duidelike leiding te gee, want die herontdekking van die Bybelse en reformatoriese visie op die wese van die kerk is ’n gawe van God aan die kerk van die twintigste eeu.
Wanneer ons dit alles egter ter verontskuldiging van die Ned. Geref. Kerk in die negentiende eeu gesê het, moet ons dadelik daaraan toevoeg: daar is in ons tyd egter geen verskoning indien ons op presies dieselfde wyse argeloos sou spreek nie. Ons staan vandag nie slegs op ’n ander punt in die geskiedenis nie, maar ons besit die resultate van ’n intensiewe en langdurige worsteling van die Ned. Geref. Kerk om tot helderheid te kom oor die boodskap van die Skrif ten opsigte van sulke vrae as die eenheid van die kerk, rasseverhoudinge en dergelike meer. Ons word vandag boonop gekonfronteer met die epochmakende gebeurtenis dat die kerk oor die hele wêreld hom besig hou met die vraagstuk van die eenheid van die kerk, en ons kan die Bybelse resultate wat verkry is, tog nie ignoreer nie. Wat meer is, ons het ’n eeu van die toepassing van die sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk agter die rug, en dit behoort ons meer as te oortuig dat daar geen negatiewe bepalinge nodig is om te bereik wat ons deur ons sendingbeleid wil bereik nie. In die kerk het daar geen vermenging plaasgevind nie, of die kerk nou negatiewe bepalinge gemaak het of nie. Daarom het ons geen verontskuldiging om te bly staan by formuleringe of uitdrukkings wat vir misverstand vatbaar is nie. Die Koning van die kerk verwag dit seker van ons dat ons suiwer sal spreek, wat vir die Transvaalse Kerk boonop nog sal beteken om in ooreenstemming te spreek met die Ned. Geref. Kerke in die ander provinsies met wie ons vanjaar D.V. ook organisatories gaan verenig.
III
Daar is egter ook nog ’n ander gesigspunt in verband met die huidige bepalinge van die Transvaalse Kerk wat hier ons aandag moet vra. Dit geld die kwessie van die onselfstandigheid van die sendingkerk. Want hoewel die Ned. Geref. Kerk afstuur op die bestaan van ’n selfstandige Ned. Geref. Sendingkerk, is dit tog op talle punte duidelik dat die Ned. Geref. Sendingkerk soos hy vandag bestaan, nie deur die bepalinge van die moederkerk as ’n volwaardige, selfstandige, outonome kerk erken word nie. Die volgende kan dien as ’n stawing van hierdie stelling:
(i) Die moederkerk behou oor die sendingkerk ’n vaste beheer
Die moederkerk behou oor die sendingkerk ’n vaste beheer deur middel van ’n grondwet waarin die verhouding tussen moeder- en sendingkerk gereël word (Reglement IX). Hierdie grondwet, wat alleen deur die moederkerk gewysig kan word (art. 11) lê egter aan die sendingkerk verskillende dinge eenvoudig onvoorwaardelik op. Dit geld nie slegs van die belydenis (art. 2) en die stelsel van kerkregering nie (art. 4 e.v.), maar ook van sulke, betreklik onbelangrike dinge as die samestelling van die moderatuur van die sinode. Wat daaroor, sowel as oor die samestelling van die verskillende vergaderinge van die kerk in art. 4, 6 en 7 bepaal word, sal tog veel meer waarde hê as die sendingkerk self besluit om dergelike bepalinge te maak. Is dit noodsaaklik om sulke dinge aan die sendingkerk op te lê? Selfs wat die belydenis en die stelsel van kerkregering betref, is dit beter as die moederkerk dit nie van “buite” af (om nie te sê van “bo” af) aan die sendingkerk oplê nie, maar as die sendingkerk gelei word om dit self te aanvaar op grond van die feit dat ons die sendingkerk oortuig van die absolute skriftuurlikheid daarvan.17 Wat in die Grondwet egter vreemd aandoen, is ’n uitdrukking soos die volgende: „Die Sinode van die Ned. Geref. Sendingkerk word gemagtig om … “ (art. 3) Deur wie? Word kerklike mag dan nie verleen deur Christus as die Hoof van die kerk nie? Het enige kerk ter wêreld die bevoegdheid om aan ’n ander kerk ’n magtiging te gee of te onthou in verband met bepaalde regeerfunksies wat die kerk direk van Christus toekom? Kennelik is die voorstelling in die Grondwet egter dat die moederkerk al die regeermag besit, en dat hy ’n deel daarvan aan die sendingkerk oordra, onderhewig egter aan sekere omskrewe en onomskrewe reserwes. So blyk dit nl. dat die bepalinge wat die sinode van die sendingkerk opstel, in alles moet ooreenkom met die Grondwet, en dat dit buitendien ook geveto kan word deur die Sinodale Sendingkommissie van die moederkerk. In art. 3 van die Grondwet word aan die sendingsinode dan nog die reg verleen om hom teenoor ’n dergelike veto te beroep op die sinode van die moederkerk, maar in art. 10(b) blyk dit dat daar in gevalle van tug selfs ’n finale beroep mag geskied vanaf die sendingsinode na die sinodale sendingkommissie! Van ’n selfstandige uitoefening van die regeermag van die kerk deur die kerkvergaderinge van die sendingkerk kan daar dus nie eintlik sprake wees nie. Slegs in art. 12 word daar ’n ander gesigspunt gebied: die lede van die Kommissie van Revisie van die sendingsinode (wat ook nie-blankes kan insluit, soos dit vandag die geval is) het sitting met adviserende stem op die sinode van die moederkerk wanneer sendingbepalinge bespreek word.
(ii) Die moederkerk beheer die sendingkerk deur middel van verteenwoordigers van die moederkerk wat met keurstem sitting het op die meerdere vergaderinge van die sendingkerk.
Hiervoor maak die Grondwet ruim voorsiening. Art. 6 reël dat een lid van elke Plaaslike Sendingkommissie sitting het op die sendingring, art. 7 maak voorsiening vir drie lede van die Sinodale Sendingkommissie op die sendingsinode en sy sinodale kommissie. Hierby kom nog die groot aantal blanke sendelinge wat volle keurstem in die kerklike vergaderinge van die sendingkerk het. Uit art. 6 vloei ook voort dat selfs die P. S. K. van ’n gemeente waar daar geen sendinggemeente bestaan nie, maar slegs ’n sendingwerkkring, sitting met keurstem vir een blanke lid op die vergadering van die sendingring het, terwyl die leraars en evangeliste van ’n dergelike sendingwerkkring wat nog nie onder die jurisdiksie van die sendingkerk val nie, sitting met adviserende stem het.
(iii) Die onselfstandigheid van die sendingkerk word duidelik weerspieël in die posisie van die blanke sendelinge in die sendingkerk.
Dit is ’n tweeslagtige posisie. Aan die eenkant is dit sonder meer duidelik dat die blanke sendelinge beskou word as volwaardige herders en leraars van die sendingkerk wat op volkome gelyke voet met nie-blanke leraars beroep kan word (vgl. Bepalinge Suidstreek, art. 240, 245, 249, 250 ens.). Die beroepsbrief vir sendelinge en nie-blanke leraars is dieselfde (vgl. Vorms 12 en 13) en is bedoel om iemand te beroep vir gewone herderlike werk in ’n gemeente, soos dit dan ook byna volledig geskoei is op die lees van die beroepsbrief van die moederkerk, met slegs die toevoeging daarby dat die leraar verder “die getroue arbeid aan die heidene wat binne die grense van die gemeente woon” moet behartig. En tog, al is dit uit al hierdie dinge duidelik dat die blanke sendelinge saam met die nie-blanke leraars as volwaardige herders en leraars van die sendingkerk gesien word, en dus ook volledig deel het aan al die regeerfunksies van ’n egte leraar, dit ook weer aan die ander kant duidelik dat die moederkerk die sendelinge nie as lidmate van die sendingkerk beskou nie, want met name die toesig en tug oor hulle word vir die moederkerk gereserveer (vgl. Grondwet art 10a). Waarom? Omdat hulle as gesante van die moederkerk beskou word? Nee, want dan kon hulle kerkregtelik onmoontlik volwaardige Herders en leraars van die sendingkerk geword het. ’n Leraar moet tog lid wees van ’n gemeente wat hy as leraar in ’n permanente hoedanigheid bedien.18 Prof. J. du Plessis het hieroor eenvoudig gesê dat dit “ongewens is om aan inboorlingouderlinge en -leraars die reg te gee om blanke sendelinge onder verhoor te bring en te sensureer.”19 Maar is dit Bybels gesien? Gaan dit in die regering van die kerk dan om die vraag of iemand ’n inboorling is, of gaan dit om die vraag of hy ’n ampsdraer is wat met die Skrif in die hand die regering van Christus oor Sy kerk moet deurgee aan wie dan ook? Kerkregtelik gesproke is dit in elk geval volkome ongerymd dat die sendingkerk nie tugreg het oor sommige van sy eie leraars nie, en dit aksentueer die feit dat die moederkerk die sendingkerk as onvolwasse en onselfstandig beskou.
(iv) Dieselfde onselfstandigheid van die sendingkerk blyk ook uit die bepalinge in verband met sendingwerkkringe.
Volgens art. 249 van die Suidstreek moet die P. S. K. met ’n sendingwerkkring begin. Dit geskied sonder enige vorm van oorleg met die kerkraad van ’n moontlike sendinggemeente binne wie se grense die werkkring geleë is, hoewel sowel die blanke- as die inboorlingleraar in sy beroepsbrief reeds verantwoordelik gestel is vir die bearbeiding van die heidene binne hulle gemeentegrense. Daardeur word die regeermag van die sendingkerk binne sy eie grense en op sy eie terrein tog seker ernstig aangetas, tensy ons wil volhou dat daar geen verband tussen die twee kerke bestaan nie, sodat ons wedersyds nie mekaar se arbeid en gesag hoef te erken nie. Al wat vereis word, is dat die P. S .K. die ringskriba van die sendingkerk “in kennis sal stel” (art. 247) van die aanleg van ’n werkkring. Is die werkkring eenmaal aangelê, dan gaan die P .S. K. tug uitoefen oor die lede van die sendingwerkkring, en selfs oor die helpers en voorstanders wat in die werkkring gekies word (art. 249, 5) : dit alles binne die territoriale grense van ’n sendinggemeente met ’n kerkraad! Wat meer is, die P. S .K kan vir so ’n werkkring evangeliste aanstel en in oorleg met die kerkraad van die moedergemeente vir so ’n werkkring ’n leraar beroep wat almal sitting met adviserende stem op die sendingring het, hoewel die werk wat hulle verrig, nie onder die jurisdiksie van die sendingring val nie, en die leraar wat by die werkkring arbei, ook nie ’n leraar van die sendingkerk is nie (vgl. art. 258, 249 (8) ens.). En wat hier deur die P. S. K. gedoen kan word, kan mutatis mutandis ook gedoen word deur die Ringsendingkommissie en die Sinodale Sendingkommissie. Al ligpunt in die saak is dat daar deur die verskillende kommissies darem ’n verslag by die sendingring ingedien moet word oor die werk wat by die werkkring geskied – iets wat in die praktyk egter dikwels nie gebeur het nie, en groot probleme skep (vgl. art. 249 (14) en (15) ). ’n Mens moet tot die konklusie kom dat die sendingkerk na al kante toe “oop” is vir ingryping van die moederkerk op sy terrein.
(v) Byna dieselfde toestand tref ons ook aan by wat bepaal word insake bestaande gemeentes.
Dit blyk met name uit die groot rol wat die P. S. K., S.S.K. of die sendingkommissies van ring en sinode by die uitbring van beroepe in die sendingkerk kan speel. Hier duik nou egter ook ’n ander element op, en dit is die feit dat die seggenskap van die sendingkerkraad bepaal word op grond van die grootte van die finansiële bydrae wat die sendinggemeente in staat is om vir die werk te lewer (vgl. art. 250). Die ergste is hier egter die feit dat, selfs waar die kerkraad van die sendinggemeente ’n bedrag in die sendingkas kan stort wat gelykstaande sou wees aan die hele salaris van die sendeling of nie-blanke leraar, die sendingkerkraad tog nie alleen kan beroep nie. Dit moet altyd geskied in kombinasie met die lede van die betrokke kommissie wat van die kant van die moederkerk toesig hou oor die werk in die gemeente. Hier moet ons werklik ’n ernstige vraagteken plaas. Is dit reg dat daar op elke vlak toesig vanweë die moederkerk oor die sendingkerk moet wees, en dan op sodanige wyse dat die toesig wat die meerdere vergaderinge van die sendingkerk self oor die mindere uitoefen, as nie voldoende beskou word nie? As ons noukeurig op art. 250 let, dan is dit daaruit duidelik dat die werk van die sendingkommissies van die moederkerk die hele lewe van die sendingkerk omtuin, en dat die sendingkerkraad baie van die basiese regeringshandelinge waartoe ’n kerkraad volgens die gereformeerde kerkreg geroep is, slegs kan uitvoer in samewerking met die Plaaslike Sendingkommissie. En dan word daarby nog bepaal dat die gesamentlike vergadering van die sendingkerkraad en die lede van die sendingkommissie altyd moet geskied onder voorsitterskap van ’n blanke leraar of predikant van die moederkerk. Met ander woorde, as daar ’n inboorlingleraar sou wees, kan hy by die uitoefening van sekere elementêre handelinge van sy eie kerkraad nie as voorsitter optree nie.
(vi) Hierdie onselfstandigheid van die sendingkerk hang in ’n baie groot mate saam met sy finansiële onselfstandigheid.
Dit blyk meer as duidelik uit die bepalinge in art. 250 (3) wat die mate van seggenskap van die sendingkerkraad by die beroep van ’n leraar vir die sendinggemeente afhanklik maak van die hoeveelheid geld wat deur die sendinggemeente vir die sendingkas bygedra word. ’n Mens kom onder die indruk daarvan dat die moederkerk ’n swaar aksent op die finansiële sy lê, omdat hy dit graag wil sien dat die geld wat hy vir die sending hydra, goed bestee word. Daarom bepaal die Grondwet ook dat eiendomme slegs op naam van die sending-kerkraad getransporteer mag word as die sendinggemeente meer as helfte van alle koste in verband daarmee voorsien het, anders kom dit op naam van die moederkerkraad. En selfs waar dit op naam van die sendingkerkraad getransporteer is, mag dit onder geen omstandighede vervreem word nie, tensy die kerkkantoorkommissie van die moederkerk daartoe toestemming verleen (art. 8). Kenmerkend vir die hele kyk op die administrasie wat oral in die sendingbepalinge deurskemer, is veral art. 8 (d) van die Grondwet: “Die finansiële administrasie van die fondse van of ten behoewe van die plaaslike Sendinggemeente bly in hande van die Plaaslike Sendingkommissie met gradueel groeiende seggenskap aan die kant van die Sendingkerkraad, totdat die gemeente selfonderhoudend is.” Dit is dus duidelik dat die voorwaarde vir selfstandigheid en vir ’n mondige uitoefening van die regeermag wat aan die kerk eie is, hier afhanklik gemaak word van die finansiële draagkrag van ’n gemeente, en dat die moederkerk die indruk wek dat hy wel bereid is om aan die sendingsaak geld te bestee, maar dat hy nie kans sien om die sendingkerk met die besteding van daardie geld te vertrou nie en dus liewer self wil sorg daarvoor dat wat gedoen word, goed gedoen sal word! Totdat die sendingkerk dus in staat sal wees om homself te onderhou, sal hy in ’n posisie van afhanklikheid van die moederkerk moet bly, en sal die moederkerk die reg hê om op talle maniere in te gryp in die uitoefening van die regering deur die sendingkerk. Omdat ons glo dat dit nie ’n Bybelse manier is om die saak te benader nie, kom ons graag weer later hierop terug.
* * *
Ons het in hierdie hoofstuk verskillende aspekte van ons sendingbepalinge onder die soeklig gestel. Dat ons kritiek daarop moet lewer, is gebore uit die feit dat ons daarvan bewus is dat daar in die Ned. Geref. Kerk ’n opregte begeerte is om Bybels-verantwoord te wees, ook met betrekking tot sy sendingbepalinge, en kom nie voort uit die begeerte om op ’n kritikasterige wyse fout te vind met die bepalinge van die kerk wat op velerlei wyse in die praktyk miskien goed gebruik kon word nie. Dit kom veral ook nie voort uit ’n miskenning van die groot erns en toewyding waarmee die Ned. Geref. Kerk van Transvaal sy sendingroeping gesien en aanvaar het nie. Dit wil ’n diens lewer aan die kerk in sy besinning op die steeds-aktuele vraag of ons nog die suiwer weg bewandel wat deur Gods Woord aan ons voorgehou word. Daarom is dit dat ons in die volgende hoofstuk enkele beginsels wat by ons sendingbepalinge moet geld, na vore wil haal, sodat die weg vorentoe vir ons in die lig van die Skrif duideliker kan word.
HOOFSTUK TWEE – DIE BEGINSELS WAARVAN ONS BEPALINGE BEHOORT UIT TE GAAN
Dit is nie om ‘t ewe hoe die kerk sy sendingbepalinge opstel nie. Immers, in die sending het ons met die kerk te doen. Die sending is die middel waardeur Christus Sy kerk uit die volkere van die aarde wil versamel. Daarom moet die sendingbepalinge steeds met die grootste versigtigheid te werk gaan om nie die wesensaard van die kerk aan te tas in die verskillende reëlinge nie. Die kerk het sy eie lewenswette wat met sy aard as liggaam van Christus gegee is, en daarmee sal die sendingbepalinge steeds rekening moet hou. Dit is ’n teken van deformasie as die kerk sy eie aard vergeet en oor homself gaan dink en praat asof hy ’n gewone menslike vereniging is waarvoor dieselfde beginsels van menslike wysheid geld wat vir ander vereniginge sou geld. Dit was die tipiese liberale denke van die Verligting wat eerste daarvoor verantwoordelik was dat die sigbare gestalte van die kerk as van minder waarde beskou is, sodat daarvoor enige bepaling gemaak kon word wat in die praktyk sou “werk”, sonder dat gevra is na die onverbreekbare eenheid wat daar moet bestaan tussen die onsigbare, innerlike wese van die kerk en sy sigbare gestalte.20 Daarom kan ons ons sendingbepalinge eers maak, nadat ons ’n beeld het van wat die Nuwe Testament ons aangaande die kerk en sy regering leer. Vir ons doel is dit nie nodig om hier volledig daarop in te gaan nie. Ons bring slegs enkele gesigspunte na vore wat vir ons in verband met die sending van beslissende betekenis behoort te wees.
I
Die eerste saak waarop ons hier graag wil let, is die feit dat die Bybel die kerk die liggaam van Christus noem. Daaronder moet ons verskillende dinge van die grootste belang verstaan, en die eerste daarvan is seker, dat ons die kerk moet sien as die eiendom van Christus. Net soos die beeld van die wynstok en die ranke (Joh. 15) en van die gebou waarvan Christus die hoeksteen is (1 Petrus 2 : 4-8), of van die bruidegom en die bruid (Ef. 5 : 22 e.v., Openb. 19 : 9), wil ook die beeld van die liggaam die innige eenheid tussen Christus
en sy kerk aandui.21 Al sal ons huiwer om die kerk saam met Barth aan te dui as die “irdisch-geschichtliche Existenzform” van Christus22, van die werklikheid van die eenheid tussen Christus en sy kerk waarvan die Bybel praat, mag ons niks afdoen nie. Wie met die kerk te doen het, het op een of ander wyse ook met Christus self te doen. Christus lewe in Sy kerk en die kerk lewe in Hom. Die kerk kan na sy ware wese alleen verstaan word vanuit Christus. Uit hierdie mistieke organiese eenheid van die kerk met Christus (vgl. Ef. 4: 15-16) vloei voort dat Christus vir sy kerk sal sorg (vgl. Ef. 5: 29). Die geheim van die kerk is nie die voortreflikheid van sy lede nie, maar sy onnaspeurlike heerlikheid deur sy eenheid met Christus.23
Die eenheid van die kerk met Christus het nou egter ook betekenis vir die vraag wie aan die kerk van Christus mag behoort. Die kerk is die liggaam van Christus, en elke lid van die kerk is dus ook ’n lid van Christus (vgl. 1 Kor. 6 : 15; 1 Kor. 10 : 17, 1 Kor. 12 : 13; Ef. 4 : 25). Daarom kan die kerk na waarheid omskrywe word as die vergadering van ware gelowiges in Christus wat hulle hele saligheid in Christus verwag en gewas is deur Sy bloed, geheilig en verseël deur die Heilige Gees” (Ned. Geloofsbelydenis, art. 27). Die kerk is volgens 1 Petrus 2 die versameling van diegene wat uitgeroep is uit die duisternis van verlorenheid na die lig van Christus (vgl. ook Kol. 1: 13). Dit is diegene wat deur Christus gekoop is (1 Kor. 6 : 19, 20) en met Christus beklee is (Gal. 3 : 26, 27, 29). Iemand wat aan hierdie vereistes voldoen, is ’n lidmaat van die kerk. Niemand kan aan die kerk van Christus behoort, as God hom nie red, en deur die daad van redding by die kerk voeg nie (Hand. 2 : 47). Die kerk is Gods werk (vgl. Heidelbergse Kategismus Sondag 21). Christus self versamel sy kerk. Geen mens het dus gesag om iemand by die kerk te voeg of van die kerk uit te sluit nie. Die grense van die kerk word deur niks anders gevorm as die genade van God nie . Buite en binne word met betrekking tot die kerk slegs deur een ding bepaal, en dit is die verhouding wat daar tot Christus bestaan (vgl. 1 Kor. 5 13).
Die vraag wat hier onmiddellik na vore kom, is: Van watter kerk is hier sprake? Is dit die sigbare of die onsigbare kerk? – Dit gaan ongetwyfeld om albei. Immers dit is natuurlik nie juis om te praat van ’n sigbare en onsigbare kerk nie, want daar is nie twee kerke nie. Die één kerk van Christus het twee sye, ’n sigbare en ’n onsigbare, en hierdie twee sye dek mekaar wel nie volkome nie, maar kan tog nooit heeltemal los van mekaar gemaak word nie.24 Alle uitsprake wat die Nuwe Testament oor die kerk maak, het dus betekenis vir die kerk na sy sigbare en onsigbare sy. Dis is dan ook sonder meer duidelik dat ons in die omskrywing van die kerk as die liggaam van Christus te doen het met die sigbare kerk.25 Anders sou alles wat Paulus oor die liggaam van Christus sê in Rom. 12, 1 Kor. 12, Ef. 4 en ander plekke eenvoudig van behoorlike sin ontbloot wees. Paulus gebruik juis hierdie beeld van die liggaam om te laat sien hoe konkreet die verskillende lede van die kerk in mekaar se vreugde en leed moet deel (1 Kor. 12 : 25-26), en om daarop te wys dat elke lidmaat van die kerk ’n bepaalde gawe het waarmee hy die ander lidmate moet dien (vgl. 1 Kor. 12 4 e.v.). Dit gaan daarby tog beslis nie om iets onsigbaars nie. Dit word bevestig as Paulus in verband met hierdie gawes wat elke lid ontvang, gaan spreek oor die ampte in die kerk (1 Kor. 12 : 28, Rom. 12 : 6-8, Ef. 4 : 11). Slegs die sigbare kerk het egter ampsdraers. Dit is selfs duidelik dat die beeld van die liggaam van toepassing gemaak word op die kerk in sy institutêre gestalte, want ook die kerk as organisme het geen ampsdraers nie. Wie in die lig van die Skrif oor die kerk as die liggaam van Christus spreek, sal met Grosheide tot die konklusie moet kom dat die Nuwe Testament die ekklesia sien as ’n uitwendige, konkrete, waarneembare organisasie wat selfs in die briewe aan die Efesiërs en die Kolossense nie ’n louter geestelike, onsigbare en ongeorganiseerde grootheid is nie, maar ’n konkrete, sigbare kerk met ampte en sakramente.26 So het Calvyn dit ook verstaan.27 Ook ons moet daarvan uitgaan dat wat die Skrif oor die lidmaatskap van die kerk sê, gesien moet word as van toepassing op die sigbare kerk. Die kerk mag nooit daarvan afsien om met alle middele daarna te strewe om die sigbare sy van die kerk so na as moontlik te laat beantwoord aan sy onsigbare sy nie.
Konkreet beteken dit: alle ware gelowiges behoort onsigbaar aan Christus en dus ook aan die kerk. As u wil: hulle behoort almal aan die onsigbare kerk. Maar die sigbare kerk moet sover as moontlik niks anders wees nie, as die sigbare verskyningsvorm van die onsigbare kerk! Die enigste onderskeid tussen die sigbare en onsigbare kerk moet geleë wees in faktore, waaroor die kerk self geen beskikking het nie, soos bv. dat daar in die sigbare kerk altyd huigelaars insluip wat hulle met die naam van die kerk dek sonder dat hulle werklik aan Christus behoort, en dat daar aan die anderkant vanweë misverstand en sonde mense buite die sigbare kerk verkeer, hoewel hulle innerlik daaraan behoort deur die feit dat hulle aan Christus behoort. Die kerk mag dus nooit die onderskeiding tussen sigbare en onsigbare kerk gebruik om daaruit af te lei dat hy hom na sy sigbare sy maar kan inrig soos hy wil nie. Ten opsigte van die saak van lidmaatskap aan die kerk beteken dit net eenvoudig dat niemand tot lidmaatskap daaraan toegelaat kan word, as die kerk nie aangaande hom rede het om te glo dat God hom self by die kerk voeg nie (Hand. 2 : 47), maar ook omgekeerd: dat niemand lidmaatskap aan die sigbare kerk geweier mag word, tensy ons aangaande hom moet glo dat hy buite Christus is nie. Die kerk is nooit “Ons” kerk nie, ook nie wat sy institutêre gestalte betref nie, want dit behoort aan Christus. Ons moet uit Matth. 18 : 18 leer dat die sigbare kerk en die Koninkryk van God direk op mekaar betrokke is, en dat dit onjuis is om te dink dat ons die sigbare kerk kan hanteer asof dit niks, of maar heel weinig, te doen het met die onsigbare kerk waaraan alle ware gelowiges behoort. Daarmee staan en val die hele sin van die sigbare gestalte van die kerk. As die kerk nog glo dat hy die kerk van Christus is, dan moet hy hierdie waarhede onverkort in sy midde kan laat geld; anders is daar êrens ’n radikale fout. Ook die Ned. Geref. Kerk van Transvaal kan nie met ’n goeie gewete hierby verby kom nie.
* * *
Dat die kerk die liggaam van Christus is, beteken intussen nie net dat die kerk in ’n wonderlike eenheid met Christus verbonde is nie, maar ook dat die kerk tot ’n wonderlike eenheid in Christus saamgevoeg is. Dit vloei voort uit die feit dat die kerk met Christus één is. Reeds in 1 Kor. 10 : 17 blyk dit hoe die verbondenheid van die gelowiges met mekaar daarop rus dat hulle almal aan Christus verbonde is. Die deelname aan die één liggaam (wat vir ons gebreek is, vgl. 1 Kor. 11 : 24), smee die gelowiges saam tot één liggaam, die gemeente. Herhaaldelik duik die uitdrukking “een liggaam” by Paulus op om die hegte onderlinge verbondenheid van alle gelowiges met mekaar na vore te bring (vgl. 1 Kor. 12 : 12-13; Ef. 2 : 16; Ef. 4 : 4 ens.). Die gelowiges is op ’n organiese wyse aan mekaar verbind, net soos die lede van ’n liggaam saam één organisme vorm, van mekaar afhanklik is en op mekaar aangewese is.28 In die besonder blyk dit uit 1 Kor. 12 : 12-13 dat die lede van Christus, ten spyte van die groot verskeidenheid wat hulle kenmerk, tog almal saam één liggaam is, aangesien hulle deur één Gees gedoop is tot één liggaam, of hulle nou Jode of Grieke, slawe of vrymanne is. Die eenheid wat daar tussen die lede van Christus bestaan, is nie gebaseer op hulle eie toenadering tot mekaar of op hulle besluit om iets met mekaar te doen te hê nie. Hulle eenheid is ’n wesenlike eenheid, omdat dit God self is wat deur Sy Gees in hulle woon en hulle aan mekaar verbind, al kom hulle uit hoeveel verskillende volkere of sosiale stande. Hulle eenheid is dus van ’n ander aard as die eenheid wat mense op ’n bloot menslike vlak en natuurlikerwyse kragtens hulle natuurlike verbande met mekaar het, bv. die eenheid van ’n volksverband, ’n gemeenskaplike stand of dieselfde geslag (Gal. 3 : 28). Wat hulle verenig, is die feit dat hulle almal, met Christus beklee is, dat hulle dus één Here, één geloof, één doop, één God en Vader het wat oor almal en deur almal en in hulle almal is ( Ef. 4 : 5-6). Hulle is dus broeders en susters uit dieselfde geestelike huisgesin en huisgenote van die geloof (vgl. Hebr. 2 : 11 en Gal. 6 : 10).
Ten einde die praktiese konsekwensies van hierdie duidelike leer van die Skrif te kan verstaan, wil ons graag ingaan op ’n paar algemene vrae wat in verband daarmee gestel kan word:
(i) Die eenheid waarvan hier sprake is, is tog kennelik ’n geestelike eenheid.
Beteken dit nou egter ook dat die Bybel verwag dat dié eenheid op enige konkrete en tasbare manier tot uitdrukking moet kom?
Die vraag bevat reeds sy eie antwoord. Iets wat geestelik ’n werklikheid is, is tog nie minder werklik as enige ander werklikheid nie, en as iets in Christus waar is, is dit tog op alle ander plekke en onder alle omstandighede waar, tot in die verste verte van die praktyk. As ons in Christus gered is van die sonde, dan is ons tog gered en moet dit ook in die praktyk van die alledaagse lewe tot openbaring kom, hoe gebrekkig ook, anders kan ons nie gered wees nie. As ek geestelik vernuwe is, moet my konkrete dade, woorde en gedagtes daarvan getuig, al sal dié getuienis deur die remmende invloede van die sonde maar flou wees. As iets in Christus waar is, en dit kom nie tot openbaring in die gewone alledaagse praktyk nie, kan dit slegs een oorsaak hê: sonde.29 Daarom, as dit waar is dat die gemeente geestelik en in Christus een is, dan moet dié eenheid in die praktyk tot openbaring kom, anders is daar êrens iets verkeerd. Natuurlik sal dié eenheid in hierdie sondige wêreld altyd gebrekkig tot openbaring kom, en sal die volmaakte eenheid eers eenmaal voor die Troon ten volle gemanifesteer word. Dit neem egter niks weg van die feit dat ’n beginsel van daardie eenheid in ons aardse konkrete werklikheid gesien sal moet word en dat die kerk van Godsweë daartoe geroep is om dié eenheid in die praktyk met alle mag te soek nie.
Die Bybel praat dan ook verskriklik konkreet oor hierdie dinge en roep die gemeente daartoe op om, op grond van die eenheid wat in Christus is, alles uit te ban wat ’n bedreiging vir die sigbare openbaring van daardie eenheid sal wees (vgl. 1 Kor. 1 : 10-16; 1 Kor. 3 : 1-8; Ef. 4 : 1-6 en Fil. 2 : 1 e.v.). Die Bybel sien altyd sonde of vleeslikheid as die oorsaak van alle onderlinge geskeidenheid of verdeeldheid in die kerk. Johannes praat in hierdie verband oor die Christelike liefde wat eenheid en gemeenskap tussen die gelowiges moet skep (vgl. 1 Joh. 4 : 10-12, 20). Hy word nie moeg om te wys op die onderlinge samehang van die liefde tot God en die liefde tot die broeders nie ( 1 Joh. 2 : 7-11; 5 : 2 ens.). En nou is dit tog so klaar as daglig dat liefde ’n konkrete saak is wat met ’n innerlike noodwendigheid soek om homself ook konkreet te openbaar in wedersydse gemeenskap. Die apostel Jakobus wys spesiaal daarop dat die koninklike wet van die liefde tot die naaste alle “aanneming van die persoon” by gelowiges radikaal veroordeel. Hy doen moeite om dit duidelik te maak dat klasse- en standsverskil in die gemeente van Jesus Christus nie mag ingang vind nie, want “partydigheid” is sonde (vgl. Jak. 2 : 1-13). Die kerk dui hierdie konkrete onderlinge eenheid en gemeenskap van die lede van die liggaam van Christus van oudsher af aan onder die naam: gemeenskap van die heiliges. Die Heidelbergse Kategismus (antw. 55) bind dit op ons hart dat elke persoon wat deel het aan Christus met al sy skatte en gawes, “skuldig is om sy gawes tot nut en saligheid van al die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend.” Ook ons Nagmaalsformulier spreek oor hierdie onderlinge gemeenskap baie konkreet. Net soos die brood by die awendmaal ’n eenheid is wat saamgevoeg is uit baie graankorrels, en net soos die wyn by die awendmaal een drank is wat saamgepers is uit baie druiwekorrels, so is die gemeente ook ’n hegte eenheid wat op ’n dood-konkrete wyse alle haat en vyandskap teenoor mekaar moet aflê en in die daaglikse praktyk van die lewe in eenheid, liefde en geestelike gemeenskap met mekaar moet lewe, anders maak hulle die eenheid wat in Christus gegee is, in die openbaar tot skande.
(ii) Moet hierdie eenheid van die gelowiges in Christus nou ook organisatories uitdrukking kom?
Anders gestel: Moet ons daaruit aflei dat daar net een sigbare kerk moet wees, of mag ons uitgaan van die standpunt dat die onderlinge eenheid van die gelowiges ewe goed gewaarborg is as daar verskillende “kerke” is was naas mekaar bestaan?
Die antwoord op hierdie vraag kan in die lig van die bostaande ook nie twyfelagtig wees nie. Die Bybel ken nie twee of meer kerke van Jesus Christus nie, maar slegs één. Christus kan slegs een liggaam hê en as die liggaam van Christus en die sigbare kerk nie twee verskillende entiteite is nie, maar een-en-dieselfde saak, dan is dit tog duidelik dat dit die wil van .God vir sy kerk is dat die kerk ook sigbaar één en onverdeeld sal wees.30 Die vraag is nie of daar al ooit sedert die dae van die apostels een sigbare kerk bestaan het nie, want ons weet tog dat die kerk altyd deur die sonde bedreig is, in sy eenheid so goed as in sy heiligheid. Die geskiedenis is tog nooit ons norm nie, maar alleen wat die Woord van God aan ons voorhou as die wil van God. En daarom sou dit dwaas wees om op grond van die feit dat daar nog nooit een sigbare kerk (die Una Sancta) op aarde bestaan het nie, te konkludeer dat die kerk dit nie as ideaal en as imperatief vir homself moet sien, dat daar slegs een sigbare kerk op aarde moet wees nie. Immers, die kerk op aarde was ook nog nooit volmaak heilig nie, maar niemand dink daaraan om dus die eis van heiligheid vir die te verswak nie. En die kerk op aarde het ook nog nooit en nêrens die volle waarheid van die Skrif volledig in besit gehad, sodat hy kon beweer dat daar geen enkele onsuiwer element meer in sy belydenis kan wees nie, en tog dink niemand daaraan om die kerk dus maar te ontslaan van die imperatief om die waarheid van die Skrifte elke dag naarstiglik te soek nie. Daarom mag ons nooit op grond van die bestaande verdeeldheid en verskeurdheid van die kerk tot die gevolgtrekking kom dat ons maar in die verdeeldheid van die kerk mag berus, of selfs dat ons die verdeeldheid van die kerk moet goedpraat en die kerk moet laat afsien van die taak wat hom gestel is om die sigbare eenheid van die liggaam van Christus te soek nie. Wie in hierdie stelling alleen maar ’n Roomse dwaling kan vind, moet oppas dat by nie naderhand die Skrif ook as Rooms gaan veroordeel nie.
Die Nuwe Testament weet maar van één kerk. Wanneer die meervoudsvorm kerke gebruik word, slaan dit op die verskillende plaaslike gemeentes waarin die één kerk van Jesus Christus tot openbaring kom. Hoewel elkeen in homself volledig kerk is, staan daardie gemeentes tog nie los van mekaar nie, maar hulle verkeer met mekaar in die aller-nouste verband.31 Daarom kan die Skrif ook die enkelvoud kerk gebruik as aanduiding van die gesamentlike gemeentes in een bepaalde landstreek (Hand. 9 : 31). Dit gaan immers om die één kerk van Christus wat tot openbaring kom op ’n bepaalde plek (vgl. 1 Kor. 10 : 32; 1 Kor. 11 : 22; 1 Kor. 12 : 28 ens.)32 Dit is juis op hierdie gronde dat die gereformeerde kerkreg nog altyd beweer het dat daar ’n kerkverband moet wees waarin die één kerk van Christus ook ’n sigbare uitdrukking vind. Indien ons redenasie hoër op korrek is, dan is die aanduiding van die kerk as die liggaam van Christus, ook in gedeeltes wat tog kennelik op die universele kerk slaan, soos bv. in die brief aan die Efesiërs, waar naas ’n plek soos Ef. 1 : 22-23 ook ’n plek soos Ef. 4 : 11-16 voorkom, tog seker ’n bewys daarvan dat God bedoel dat sy kerk oor die ganse aarde en dus sigbaar voor aller oë één eenheid sal vorm. Die wesenlike eenheid wat die een, algemene, Christelike kerk in Christus reeds besit, moet tot openbaring gebring word in ’n kerkverband wat die kerke op die verskillende plekke en in die verskillende lande omsluit. Wat die aard van hierdie verband moet wees, en hoe daarin die groot verskeidenheid tussen die verskillende volkere eerbiedig moet word en tot hulle reg moet kom, is sake waarop ons graag nog nader wil ingaan. Dit is vir ons doel hier egter genoeg om dit as die eis van die Skrif te stel dat daar ’n kerkverband sal wees, “eers van naasgeleë gemeentes (klassis), dan van verderaf geleë gemeentes (part. en nasionale sinode) ook oor lands- en volksgrense heen (ekumenies), want dit is die een Christelike kerk wat in verskillende lande tot openbaring kom onder verskillende nasies.”33
Miskien is sommige wat hier so maklik gaan spreek van ’n Roomse visie op die eenheid van die kerk, nie daarvan bewus dat Calvyn ook die saak so gesien het, dat daar maar één sigbare kerk behoort te wees nie. Hulle noem selfs die pluriformiteitsgedagte (in die sin van die legitimiteit van die bestaan van verskillende kerke naas mekaar) ’n vrug van die kerkbegrip van die Hervorming! Ons sou hoogstens kon sê dat sommige van die Kerkhervormers, gestel voor die feitelike situasie dat daar ’n breuk in die reformatoriese kerk ontstaan het, die feit aanvaar het dat die een ware kerk in ’n pluraliteit van kerke uiteengeslaan is, en dat hierdie sigbare geskeidenheid (Goddank) nie die geestelike eenheid tussen hulle vernietig het nie. Maar daar was steeds by hulle die hunkering na ’n herstel van die sigbare eenheid.34 ’n Mens moet maar die merkwaardige dissertasie van Nijenhuis lees om te sien hoe Calvyn self daarvan ten volle oortuig was dat die eenheid van die kerk ook sigbaar tot openbaring moet kom. Ons gee slegs één aanhaling: “Is de eenheid der onzichtbare kerk een gegeven realiteit, een in Christus geschonken gave, de eenheid der zichtbare kerk, die door “duivelse geesten” wordt bedreigd, is tegelijk een doel, dat bereikt moet worden, een opgave, waarvoor Calvijn de evangelische christenheid in Europa gesteld ziet.”35
En hierin het Calvyn maar net weer eens bewys dat hy die Skrif verstaan het. Dit is net nie moontlik om ’n gedeelte soos Joh. 17 anders te interpreteer, as dat dit daarin ook om die sigbare eenheid van die kerk gaan nie. Die gebed van Christus gaan daarvan uit dat die kerk wesenlik één is – geestelik in Christus – maar Hy bid dat die Vader die kerk ook een sal bewaar. Dit is nie vanselfsprekend dat kerk sou bly by sy wesenlike en gegewe eenheid nie. Onder die aanslae van die duiwel, die wêreld en die vlees sou die kerk kon swig en (juis die sigbare) eenheid van die kerk verbreek. Wanneer Christus in vers 21 sy gebed om die eenheid van die gelowiges motiveer met die woorde: “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het”, dan is dit tog duidelik dat dit daarby onmoontlik om ’n onsigbare eenheid kan gaan. Ons sal daaronder moet verstaan dat Christus bid dat die gelowiges ’n eenheid moet vorm, “iets dat organisch onlosmakelijk samen hoort en in al zijn levensuitingen zich één organisme voelt en toont.”36
Die gevolgtrekking is dus onontwykbaar dat dit seker Gods wil vir Sy kerk is dat dit ook sigbaar één sal wees; dat dit ’n blywende ideaal vir die kerk moet wees om daarna te strewe, en dat die kerk alles in werking moet stel om dié eenheid sover enigsins moontlik, sigbaar tot openbaring te laat kom. Gebeur dit nie, dan vertroebel dit dikwels ook die geestelike eenheid. Daar word soms gesê dat sigbare, organisatoriese eenheid niks tot stand kan bring wat nie ook daarsonder geestelik reeds bestaan het nie, en dit word dan gebruik as ’n argument om die sigbare eenheid te degradeer tot iets onnodigs, en soms selfs: tot iets skadeliks. Hierdie soort redenasie gaan altyd mank aan dié tipe spiritualisme wat poog om ’n dualisme te konstrueer tussen die sigbare en die onsigbare, en dit kan nie anders as om in botsing te kom met die Skrif nie. Maar al kan ons dit geredelik toegee dat ’n sigbare organisatoriese sameflansing van mense as sodanig nog geen geestelike eenheid tot stand kan bring nie, is dit tog duidelik dat as die geestelike eenheid reeds daar is, die sigbare, organisatoriese openbaring daarvan nie alleen geen skade kan doen nie (watter skade sou daarin kan lê om iets wat geestelik reeds bestaan, na buite openbaar te laat word?), maar feitlik deurgaans noodsaaklik is vir die belewing en uitlewing van daardie eenheid in die onderlinge gemeenskap, wedersydse hulp en alles waarvan ons tevore gehoor het dat dit van die lede van die liggaam van Christus verwag word. Die organisatoriese eenheid van die kerk besit ’n getuieniskrag en ’n bindende krag, en skep die geleentheid vir die geestelike eenheid van die liggaam van Christus om konkreet en prakties tot openbaring te kom. Daarom mag dit nie verkleineer word of geïgnoreer word nie. Die kerk mag dit nooit en nêrens as van minder belang beskou nie.
(iii) Maar is daar dan geen legitieme pluriformiteit van die kerk nie?
Hoe moet ons die huidige situasie beoordeel waar ons te doen het met so baie kerke en kerkies?
Omdat die woord pluriformiteit in tweërlei sin gebruik kan word, is dit noodsaaklik dat ons in ons beantwoording van hierdie vrae ’n duidelike onderskeiding moet maak, sodat ons volkome helderheid kan verkry.
(a) Die woord pluriformiteit word soms gebruik om die groot verskeidenheid van kerke aan te dui wat náás mekaar bestaan, en dikwels ook téénoor mekaar staan, as die gevolg van die proses van afskeiding. Daarby kom daar dan tussen die verskillende kerke kleiner of groter verskille in belydenis, kerkregering en dergelike meer voor, en die skeiding tussen die kerke bestaan hoofsaaklik as uitvloeisel van daardie verskille. Dit het daarby meestal so gegaan, dat ’n groep gelowiges op ’n bepaalde tydstip geroepe gevoel het om die band wat hulle aan ’n sekere kerklike instituut verbind het, los te maak, omdat hulle van oortuiging was dat dit onmoontlik was om verder die Here na waarheid te dien in gemeenskap met daardie kerklike instituut. Elke ernstige afskeiding het homself daarmee gewettig, dat hy die instituut wat verlaat word, as die valse kerk moes sien (anders kan die afskeiding tog nie in erns plaasvind nie), en het homself verstaan as ’n poging om die ware gestalte van die kerk van Jesus Christus tot openbaring te laat kom. Soms is die verskille tussen die groepe wat op hierdie wyse uiteen gegaan het, in die begin maar klein, maar in die loop van die geskiedenis groei die verskille aan, en uiteindelik is daar ’n kloof wat nie meer oorbrug kan word nie. Die vraag is nou, kan ’n mens die term pluriformiteit op hierdie verskynsel van toepassing maak? Ons meen dat dit nie mag nie, want dit misken die erns van die verskille waarom dit dikwels tussen sulke kerke gaan, en wek die indruk dat dit slegs verskille in vorm is, in die uiterlike gestalte. Dit misken ook die erns van die Skriftuurlike eis dat die kerk één moet wees en nie verdeel mag word op grond van enkele formele verskille nie, en wek dus die indruk dat dit nie sonde is wat agter die verdeeldheid van die kerk sit nie. Dit is veel suiwerder om hierdie verskynsel van die veelheid van kerke wat teenoor mekaar staan, as ’n sondige verskeurdheid van die kerk van Christus aan te dui. Een of ander vorm van sonde is immers altyd by so ’n afskeiding aan die orde. Dit kan wees dat die instituut waarvan afgeskei word, deur dwaling en ongehoorsaamheid so verval het, dat dit nie wil terugkeer tot die Woord van God nie, selfs al word daar van die uiterste middels gebruik gemaak om dit tot die waarheid te roep. Dan is afskeiding vir die ware gelowiges ’n plig. Die skuld rus dan op die ou instituut. Dit is die enigste vorm van geregverdigde afskeiding (vgl. art. 29 Nedl. Geloofsbelydenis). Dit kan egter ook gebeur dat ’n groep gelowiges hulle van die instituut van die kerk afskei, sonder dat hulle die ou instituut as die valse kerk kan bestempel, sonder ook dat hulle die weg tot die einde deurloop het om die instituut van die kerk van sy moontlike deformasie op sommige punte terug te roep. Miskien berus so ’n afskeiding selfs op kleinere, ondergeskikte punte wat nie ’n afskeiding regverdig nie.37 In so ’n geval rus die sonde van die verskeuring van die liggaam van Christus op albei die kerke gesamentlik: die ou instituut het skuld daaraan dat daar in sy midde rede was tot aanstoot; die nuut-gestigte instituut het skuld daaraan dat hy die liggaam van Christus verskeur het sonder genoegsame grond, sonder genoegsame geduld en dikwels uit hardkoppigheid. Dan ontstaan daar naas mekaar twee kerke wat elk daarop aanspraak maak dat by die kerk van Jesus Christus is, sonder dat die een die ander in alle erns daarvan kan beskuldig dat hy die valse kerk is.
Hoe moet ons hierdie situasie beoordeel? Ons moet daarvan uitgaan (a) dat die kerk van Jesus Christus nie verdeel mag word nie maar (b) dat die kerk van Christus geen gemeenskap met die valse kerk moet hê nie. Dit beteken dat ons nie mag rus, voordat die verskillende kerke van wie ons nie kan sê dat hulle die valse kerk verteenwoordig nie, ook sigbaar hulle eenheid tot uitdrukking sal bring nie. Alles wat nog kerk is, moet in gehoorsaamheid aan die Woord van God saamgevoeg word. Dit sal nie vanself kan gebeur nie. Daar sal geworstel moet word om in die lig van die Woord dit met mekaar eens te kan word. Maar dit alleen sal verantwoorde ekumenisiteit wees, dat die waarheidsvraag in alle erns gestel sal word en dat die eenheid met die ganse kerk van Jesus Christus naarstiglik gesoek sal word. Alleen só kan daar ook ’n werklike verantwoordelike gemeenskaplike getuienis gelewer word teenoor die valse kerk, in watter gestalte hy homself ookal openbaar. Wat werklik van God is, daarby hoort ons (Art. 28 Nedl. Geloofsbelydenis) ; maar wat nie van God is nie, mag ook nie in die eenheid van die kerk sy ingang vind nie. Dit gaan in die naas-mekaar-bestaan van die verskillende kerke nie om “pluriformiteit” nie: dit gaan enersyds om sondige verskeurdheid, andersyds om die antitese tussen die ware en die valse kerk.
(b) Die woord pluriformiteit word egter ook in ’n ander sin gebruik, nl. om aan te dui die verskeidenheid wat daar. in die kerk tot openbaring kom vanweë talle natuurlike faktore waaroor die kerke self geen beskikking het nie. Hierby moet ons veral dink aan die groot verskeidenheid wat gegee is in die feit dat daar verskillende volkere is elk met sy eie aard, kultuur en taal, dikwels ook met sy eie land, en besondere omstandighede. Hierdie faktore het in die geskiedenis ’n groot rol in die kerklike lewe gespeel – hoe kan dit ook anders? – en het aanleiding gegee tot die ontstaan van ’n hele aantal volkskerke: elke volk het sy eie kerk. Hierdie soort “pluriformiteit” van die kerk moet baie duidelik van die bogenoemde onderskei word.38 Dit gaan hier immers nie om die verskeurdheid van die kerk nie (hoewel dit daarheen kan lei), want hier staan nie verskillende kerke teenoor mekaar op grond van verskille in belydenis nie, maar hier staan verskillende kerke naas mekaar op grond van die feit dat die evangelie ingang gevind het by verskillende volkere wat elk sy eie taal spreek, sy eie vormgewing aan die belydenis gee en in die liturgie sy volkskultuur aan die woord laat kom. Hoe moet ons teenoor hierdie verskynsel staan?
Wie die voorafgaande betoog gevolg het, sal begryp dat ons ook hier maar weer net kan sê: Daar moet slegs één kerk van Jesus Christus in die wêreld wees. Landsgrense, volks-, taal- en kultuurverskille behoort nie die kerk van Jesus Christus te verdeel nie. Dit het selfs Kuyper, die man wat so vuriglik gepleit het vir ’n erkenning van die verskeidenheid in die kerk, geredelik toegegee. Hy verwerp die idee van ’n nasionale kerk en sê: “Een nationale Kerk is een contradictie, want er is in Christus geen Jood of Griek of Barbaar, maar allen zijn in hem één.”39 Die hele ontwikkeling van verskillende volkskerke sonder ’n hegte verband met kerke in ander lande wat min of meer dieselfde belydenis handhaaf, moet afgewys word as strydig met die Woord van God. Net soos die verskillende plaaslike gemeentes (kerke) hul eie besondere omstandighede het en hulle spesifieke eienaardighede sal vertoon, maar tog met al die ander plaaslike gemeentes wat dieselfde belydenis en kerkregering het, in die allernouste verband staan, omdat in hulle almal saam die één kerk van Jesus Christus tot openbaring kom, so behoort ook die kerke onder die verskillende volkere en in die verskillende lande met mekaar in één verband te staan as die sigbare openbaring van die één kerk van Jesus Christus.40 Natuurlik is daar baie God-gegewe verskille tussen mense en veral tussen volkere, en die kerk het geen enkele rede om daardie verskille te ignoreer of te probeer wegwerk nie – soos ons ook hoërop aangedui het toe ons gesê het dat daar ’n baie positiewe sin is in die gedagte dat mense van verskillende volkere die voorreg moet hê om die evangelie in hulle eie taal te hoor ens. – maar nie een van daardie verskille is genoeg om die eenheid van die kerk te bedreig en die bestaan van verskillende kerke tot gevolg te hê nie. Uitdruklik word daar juis in die Woord van God aangetoon dat mense uit allerlei volkere en nasies, met allerlei spraak, kultuur en sosiale stand, tot die één kerk van Jesus Christus behoort (vgl. 1 Kor. 12 : 12-13, Gal. 3 : 28 – 29, Kol. 3 : 11, Openb. 7 : 9). Die kerk is immers die vergadering van alle ware gelowiges, vergadering watter verskille daar ookal ouderling tussen hulle mag bestaan. Tensy ons sou wil aanneem dat die kerk ’n privaatsaak is van mense, sodat hulle soos by elke ander vereniging van mense, die kerk na hulle eie smaak en voorkeur kan inrig, het ons geen reg, om parallelle kerke in die lewe te roep vir mense net omdat hulle Engelse of Duitsers, Afrikaners of Skotte, Franse of Bantoes is nie. Graag haal ek in hierdie verband weer prof. W. J. Snyman aan: „Daarom glo ons nie in een Bantoekerk en daarnaas een Blanke kerk nie. Want ons glo nie in twee of meer Christelike kerke nie, maar in een Christelike kerk onder blankes en nie-blankes.”41 Dit is omdat Calvyn hom op hierdie standpunt gestel het, dat hy sy lewe lank geywer het vir die eenheid van die ecclesia universalis visibilis, en wie hierdie standpunt nie wil aanvaar nie, loop altyd gevaar om nie alleen Calvyn nie, maar ook ons belydenisskrifte te kritiseer, en om uiteindelik selfs te sê dat die Skrif ons nie genoeg lig oor die saak bied nie, want daar was die kerk nog maar in sy beginstadium – gevolglik moet ons ons maar deur die geskiedenis laat lei en dit tot norm verklaar!42
Beteken ons standpunt nou egter dat ons geen rekening wil hou met die bestaan van die God-gegewe verskille tussen die verskillende volkere nie? Beteken dit nou dat mense van verskillende taalgroepe, van verskillende volksverbande en met verskillende kultuuragtergronde, waaruit noodwendig ook verskil in behoefte sal voortvloei, noodwendig in één kerkgebou saamgebring moet word en aan een-en-dieselfde plaaslike gemeente moet behoort? – Nee, dit beteken niks van dié aard nie. Die kerk het geen enkele opdrag uit die Skrif om te probeer om die wesentlike verskille tussen mense wat gegee is met die ryke verskeidenheid van God se skepping, weg te redeneer of te negeer nie. Die kerk het immers geen enkele opdrag om dwaas of kortsigtig en onprakties te wees nie. En dit sou die kerk beslis wees as hy die natuurlike verskeidenheid van die mense nie sou eerbiedig nie. So min as wat die verlossing in Jesus beteken dat die natuurlike gawes die taal of kulturele ontwikkeling van die persoon wat gered word, opgehef word, so min beteken die kerstening van ’n volk dat daardie volk se natuurlike gawes, taal, kultuur en volks-eie opgehef word. Die verlossing in Christus bring geen mens in ’n lugleegte nie en neem nie sy persoonlikheid weg nie, maar heilig dit en neem dit in diens. Net so word die volkseie ook deur die verlossing in Christus geheilig en in diens geneem. Die Bybel verwag nêrens van ons dat ons, omdat ons gelowiges is, van taal of kultuur moet verander of aan ’n ander volk moet gaan behoort nie. En daarom mag die kerk ook nie mense denasionaliseer hulle vervreem van hulle eie land, volk, taal en kultuur nie.
Maar juis daarom is dit gebiedend noodsaaklik dat mense van verskillende volkere die evangelie in hulle eie taal sal hoor, dat die kerk sal ingaan in die volkseie van elke afsonderlike volk en dat die volk as sodanig gekersten moet word. Oor hierdie dinge is lank en uitvoerig in die nuwe sendingwetenskap geredeneer, en ons ag ons dus ontslaan van die plig om te moet aantoon dat die kerk werklik “bodenständig” of “volkstümlich” (in die regte sin van die woord) moet word.43 Dit staan tog seker vas, dat as die Christendom nie daarin kan slaag om werklik “inheems” te word nie, hy nooit al die lae van die bewussyn en die sielslewe van ’n volk kan deursuur nie, en dus altyd iets “vreemds” vir daardie volk moet bly, iets van die “Weste” of van die “blanke” of van die “koloniale moondhede”. En waar dit die geval is, is dit ’n ernstige vraag of die Christelike godsdiens daar sal kan voortbestaan as die sendeling om een of ander rede die dag nie meer daar is nie. Daar kom nog iets by. Elke volk het vanweë sy eie aard ook ’n besondere bydrae om te lewer tot die begrip van die openbaring van God in Christus-Jesus soos dit in die Skrif aan ons gegee is. Dit hang nie slegs saam met die feit dat elke volk vanuit sy eie sielsgesteldheid die openbaring anders sal ontvang en anders sal weergee as ’n ander volk nie, maar dit hang ook daarmee saam dat elke volk lewe te midde van bepaalde gevare en probleme waarvoor juis daardie volk (en miskien geen enkele ander volk nie) gestel is. Daarop sal daardie spesifieke volk moet reageer met die boodskap van die evangelie, en dit sal moet beteken dat die kerk in die midde van daardie volk en deur die oë van daardie volk en in die taal van daardie volk sal moet gaan bely en getuig, gaan sing en bid, sodat juis daardie volk deur die woord geraak kan word.44 Om dit te kan doen, moet die kerk tuis word in die eienaardige lewenstruktuur van elke volk, en die gelowiges uit elke volk moet werklik tuis word in die kerk. Juis as reformatoriese kerke, wat die Woord van God voorop stel en glo dat Jesus Christus deur sy Woord in die kerk moet regeer, sal ons uit beginsel daaraan moet vashou dat die natuurlike verskeidenheid van die volkere in die kerk van Jesus Christus eerbiedig sal word, en dat elkeen die volle geleentheid moet kry om tot in sy hart geraak te word deur die Woord.
Maar nadat dit alles gesê is, moet ons nogtans volhou dat dit nie moet beteken dat daar vir elke volk ’n aparte kerk sal ontstaan nie. Die verskeidenheid van die volkere moet binne die een verband van die kerk van Jesus Christus op aarde tot openbaring kom. Niemand het nog ooit aangetoon dat die handhawing van die verskeidenheid van die volkere ook in die kerk, noodwendig moet beteken dat daar aparte kerke moet wees nie. Gewoonlik word daar pragtige argumente aangevoer om te bewys dat daar ’n eerbiediging van die verskeidenheid moet wees, en dan word daaruit ten onregte gekonkludeer dat daar dus aparte kerke moet wees.45 Hierdie konklusie moet veral afgewys word in die geval waar die verskillende volkere in dieselfde land woon. Te maklik word daar in ons sendingwetenskap van afsonderlike “jong kerke” gepraat in navolging van wat in die Europese sendingwetenskap gedoen word, sonder dat daar genoegsaam aandag geskenk word aan die feit dat ons in Suid-Afrika nie, soos die kerk in Europa, te doen het met ’n sendingveld wat in ’n ander kontinent lê nie, maar dat ons tesame met ons sendingveld in één land woon. Hoewel dit oral en altyd van toepassing behoort te wees, geld dit te meer in ons geval, dat die één kerk van Jesus Christus onder die verskillende volkere moet bestaan en die verskeidenheid van die volkere in sy eie bestaan moet reflekteer, sonder egter om sy eenheid daardeur prys te gee. In een-en-dieselfde kerkverband moet opgeneem wees gelowiges uit alle volkere, tale, stamme en nasies.
Die vraag is natuurlik hoe die aard van die verband moet wees waardeur die eenheid van die kerk enersyds tot uitdrukking kan kom sonder dat dit die verskeidenheid dooddruk, en aan die anderkant die verskeidenheid tot uitdrukking kan kom, sonder dat dit die eenheid in gevaar sal stel. Miskien is daar verskillende moontlikhede wat almal prinsipieel verantwoord sal wees.46 Vir ons wil dit voorkom asof dit die beste sal wees om daarvan uit te gaan dat ons in die Dordtse Kerkorde van 1618 ’n baie mooi oplossing vir hierdie probleem het, wat terselfdertyd tyd baie sterk prinsipieel gefundeer kan word. Art. 51 lui immers: ,Alsoo inde Nederlanden tweederley sprake gesproken wort, is voor goet gehouden, dat de Kercken der Duytscher ende Walscher Tale, op haer selven haren Kercken-raet, Classicale vergaderinghen ende particuliere Synoden hebben sullen (Kerk dui in hierdie aanhaling steeds aan wat by ons bekend is as die plaaslike gemeente). Daar mag dus afsonderlike gemeentes wees, met hulle eie kerkrade. En omdat dit gewens is dat die verskillende gemeentes van dieselfde taalgroep ook oor mekaar sal toesig hou en die verband tussen hulle om verskillende redes hegter is as tussen hulle en die gemeentes van die Nederlandssprekendes, kan die Waalse gemeentes saamkom in afsonderlike klassisse (ringe) en in ’n afsonderlike partikuliere sinode (streeksinode). Sodoende word genoegsaam geleentheid gebied vir die ontplooiing van die eie-aard van die Waalse gemeentes. Hulle kan hulleself ten volle uitlewe en uitdrukking gee aan alles wat “eienaardig” aan hulle kerklike lewe is. Tog bly die een kerkverband bewaar, en wel op twee duidelike maniere: dieselfde kerkorde geld vir albei die groepe gemeentes, en hulle kom saam in een Algemene Sinode.47 In die algemene sinode waar dit gaan om sake wat die algemene belange van die kerk raak, om die belydenis en die groot lyne van die kerkregering en die optrede van die kerk, is hulle dus gesamentlik. Daar word die eenheid van die kerk duidelik openbaar, hoe “eie-soortig” die gemeentelike lewe en die arbeid van die mindere kerklike vergaderinge ook al mag wees. Opmerklik is dit dat die Sinode van Dordrecht in art. 52 nog iets daaraan toegevoeg het om die eenheid tussen die twee groepe doeltreffend te bewaar: op vergaderinge van “sommighe Dienaren ende Ouderlingen van beyde zijden” word die korrespondensie ook op kerkraadsvlak bewaar met die doel om “soo veel mogelijk is na gelegenheyt des noodts met rade malcanderen by te staan.” Hierdeur word dit haas volkome uitgesluit dat die twee groepe deur hulle afsonderlike bestaan naderhand volledig uit mekaar kan drywe en die verskeidenheid in verskeurdheid kan oorgaan.
Die enigste beswaar wat moontlik teen hierdie reëling ingebring kan word, is dat dié groep gemeentes wat teologies en andersins nog die minste geleentheid gehad het om die Christelike godsdiens werklik inheems te laat word in hulle eie midde, in dié proses gestrem mag word wanneer hulle in so ’n eenheidsverband staan met ouer kerkgroepe wat ’n eeue-oue tradisie agter hulle het. Sal die belydenis en die inrigting van die groep met die ouer tradisie nie vanself domineer, en die jonger groep van die moontlikheid berowe om eie weë te vind wat beter by hulle eie volkseie en hulle eie sielseie aanpas nie? – Die enigste antwoord wat ons hierop kan gee, is dat dit natuurlik altyd moontlik is. Indien die ouer groep ’n onbuigsame houding inneem, en bv. sou weier om enige nuwe belydenis van die kant van die jonger groep te erken wat nie noodwendig dig in die taal, styl en denkvorm van die ouer groep gestel is nie, en indien hulle op ’n rigoristiese wyse sou weier om enige vorm van eie aanpassing in die kerkregering by die jonger groep te erken en te duld, sal dit op ’n frustrasie by die jonger groep uitloop. Tog dink ons nie dat hierdie gevaar te groot is nie. Ons moet immers onthou dat die ouer groep gemeentes juis alle belang daarby het dat die jonger groep daarin sal slaag om die Christelike belydenis werklik inheems te maak in hulle eie kring. Maar dan moet dit tog só geskied, dat niks wat Bybels en wesenlik is, daarin verkrag word nie. Dieselfde geld van die kerkregering. ’n Mens kan tog nie enige kant uitgaan met belydenis en kerkregering nie. Die Bybel bly tog norm. En as ons glo dat die gereformeerde belydenis en kerkregering werklik Bybels is, dan sal ook jonger groepe gemeentes wat in kerkverband staan met ouer groepe gereformeerde gemeentes, tog nie deur die gebruik van hulle eie taal, denkvorme en in die toepassing van die evangelie op hulle eie besondere situasie tot ’n wesenlik ander belydenis en stelsel van kerkregering as die gereformeerde kan kom nie. Voorwaarde is alleen dat die kerkorde wat alle groepe gemeentes omvat, slegs die werklike essensiële beginsels van die kerkregering sal bevat, sodat daar genoegsaam ruimte sal wees vir elke streeksinode om aanvullende bepalinge te maak wat die eie struktuur van die gemeentes wat daarop verteenwoordig is, die beste sal pas, en dat die kerk in sy geheel voortdurend oop bly vir die erkenning en bekragtiging van enige getuienis of belydenisuitspraak wat deur ’n bepaalde groep gemeentes na vore gebring word en in die taal en styl en denkvorme van daardie besondere groep dieselfde waarheid van die evangelie aktueel wil bely. Dan sal daar natuurlik variasies wees, soos daar ook verskillende gereformeerde belydenisse is, elk met ’n eie inkleding en segging, en soos daar in die fyner, besonderhede van die kerkregering heelwat “lokale kleur” kan voorkom, sonder dat die gereformeerde stelsel van kerkregering daardeur verkrag word. Dit is juis gesond. Die voordeel is boonop dat die jonger groepe voortdurend deel in die ryker teologiese insig en die kontrole van die ouer groepe, en die ouer groepe omgekeerd gestimuleer kan word deur die vitaliteit en aktualiteit van die jonger groepe. Langs dié weg word die beeld van die liggaam van Christus wat in 1 Kor. 12 geteken word, ’n realiteit: elke lid het sy besondere gawes, en elkeen is verskillend, maar die verskeidenheid breek nie die eenheid nie, en die eenheid demp nie die verskeidenheid nie. Inteendeel: die verskeidenheid dien die eenheid, en so word die gawe van elkeen aangewend tot nut van die geheel, wat saam staan in die ryke wasdom wat die Heilige Gees wil gee.
* * *
En nou ten slotte dan die antwoord op die gestelde vraag: Is dit dan in orde om te praat van die pluriformiteit van die kerk, as ons daarmee aandui die bestaan van verskillende kerke van dieselfde belydenis naas mekaar onder verskillende bevolkingsgroepe? Ons antwoord kan nie twyfelagtig wees nie. Ons glo dat daar ook vir hierdie soort pluriformiteit geen goeie Bybelse grond is as dit moet uitloop op die bestaan van verskillende kerke nie. Wel meen ons egter dat daar grond is vir die bestaan van groot verskeidenheid binne die kerk, en daarom moet ons miskien met Kromsigt liewer praat van die pluriformiteit in die kerk.48 Dit is te sê as die term pluriformiteit nie te erg belas is deur sy historiese gebruik nie. Ons meen dat dit beter is om te spreek van die eenheid-in-die-verskeidenheid wat in die kerk openbaar moet word, en die verskeidenheid-in-die-eenheid.49
II
In die eerste gedeelte van hierdie hoofstuk het ons die aandag gevra vir die betekenis van die Skriftuurlike waarheid dat die kerk die liggaam van Christus is. In hierdie tweede gedeelte wil ons in die besonder stilstaan by ’n ander waarheid wat in die nouste moontlike samehang daarmee staan, nl. dat Christus alleen die Hoof van Sy liggaam, die kerk is (Ef. 1 : 22-23; Ef. 4 : 15; Ef. 5 : 23; Kol. 1 : 18; Kol. 2 : 19). Die feit dat Christus die Hoof van die liggaam genoem word, aksentueer enersyds die innige verbondenheid van Christus en sy kerk (bv. in Kol. 2 : 19 en Ef. 4 : 15), maar andersyds word daarmee baie beslis gewys op die heerskappy van Christus oor sy kerk (vgl. Ef. 1 : 22; Ef. 5 : 23). In die eksegese van Luther en Calvyn word juis hierdie betekenis van die Hoofskap van Christus herhaaldelik na vore gehaal. Hieruit trek hulle dan ook die mees praktiese konklusies vir die regering van die kerk. As Christus die Hoof van die kerk is, kan die kerk nie alleen geen ander hoof hê nie, maar mag die regering van die mens in die kerk nie geduld word nie. Christus moet in die kerk regeer deur sy Woord en Gees, en alle kerklike bepalinge moet slegs daarop gemik wees om ruimte te maak vir die persoonlike regering van Christus en om alle menslike heerskappy en hiërargie uit die kerk uit te sluit.
Met klem wys Calvyn daarop dat Christus altyd in die kerk teenwoordig sal wees en dus geen plaasvervanger nodig het om in die kerk te regeer nie.50 Die woord: “Luister na Hom!” (Matt. 17 : 5) keer telkens weer by Calvyn terug as bewys daarvoor dat Christus alléén deur God aangedui is as die Een wat gesag oor die kerk het, aangesien Hy die enigste Meester van die kerk is.51 Eintlik staan alles wat Calvyn oor die regering van die kerk te sê het, in die teken van die één groot waarskuwing, “dat aan Christus niks ontneem moet word nie.”52 In die praktyk van die lewe van die kerk beteken dit net eenvoudig dat alle regeermag in die kerk aan die Woord van God alleen toe kom. Niks en niemand anders het gesag in die kerk nie. Mense het geen mag in die kerk nie. Die ampsdraers is daar om diens te verrig aan die Woord van God, sodat die Woord met volmag op alle terreine in die kerk kan regeer. “Daarom moet ’n mens in gedagte hou dat alle gesag of waardigheid … in sy geheel eintlik nie gegee word aan die mense self nie, maar aan die diens waarvoor hulle aangestel is, of (om duideliker te spreek) aan die Woord waarvan die bediening aan hulle toevertrou is.”53 Daarom kan daar in die kerk nie sprake wees van laer of hoër gesag nie, want daar is maar één gesag: die van die Woord. Waar Gods Woord regeer, is ’n laaste woord gespreek, want daar regeer Christus as die Hoof van die kerk.
Maar as dit so is, dan is dit ook duidelik waarom die reformatore so ’n sterk aksent laat val het op (wat ons maar kan noem) die selfstandigheid van die plaaslike gemeente. Miskien is die woord selfstandigheid nie baie geskik om uitdrukking te gee aan die saak waarom dit hier gaan nie, want dit kan maklik die indruk wek dat die plaaslike gemeente op homself kan staan en homself sou kan afsluit van die res van die openbaringe van die liggaam van Christus. Maar dit is so ’n on-Bybelse gedagte, dat ons dit as by voorbaat uitgeslote moet beskou. Wanneer ons praat van die selfstandigheid van die plaaslike gemeente, dan bedoel ons daarmee die feit dat Christus self en persoonlik deur sy Woord en Gees in die plaaslike gemeente regeer, en dat die .plaaslike gemeente geen ander heerskappy nodig het nie. Ons dui daarmee aan dat die plaaslike gemeente deur sy verbondenheid aan Christus ’n bepaalde eienaardige kwaliteit besit, ’n kwaliteit wat hom nie van buite gegee kan word, of gegee hoef te word nie: die kwaliteit dat dit kerk is.54 Ons het tevore gesê dat die kerk die vergadering van ware gelowiges is. Dit is ’n aanduiding van die kerk na sy materiële prinsipe. Wil ons egter die kerk na sy formele prinsipe aandui, dan moet ons sê: die kerk is dáár, waar twee of drie in die Naam van Christus vergader is (Matt. 18 : 20). Om in die Naam van Christus vergader te wees, beteken om vergader te wees onder die lig en die tug van die openbaring van God in Christus. Dit is in ooreenstemming daarmee as die reformatore verklaar dat die kerk dáár is, waar die Woord suiwer gepreek, die sakramente (as die sigbare Woord) volgens die instelling van Christus bedien, en die kerklike tug (as konkrete toepassing van die Woord) gehandhaaf word. Waar dit gebeur, is Christus self deur sy Woord teenwoordig. Daar regeer Hy direk en persoonlik. Daar versamel, bewaar en vermeerder Hy sy kerk. Daar word die liggaam van Christus openbaar: die gemeentelede, elkeen met sy gawes waarmee hy die geheel moet dien, en die ampsdraers met hulle besondere funksie van diens aan die Woord, sodat dit oor die gemeente kan regeer en op die lewe van die gemeente beslag kan lê. Wanneer ’n versameling van gelowiges só rondom Woord en sakrament gekonstitueer is, en daar deur die arbeid van die besondere ampte ’n gereelde bediening tot stand gekom het, dan het ons ’n kerk. Dan is die ganse volmag waarmee Christus oor Sy kerk regeer, daar teenwoordig. Dan mag daar alles geskied wat die Woord van God van die kerk verwag, want dan is die sleutels van die hemelryk aan daardie gemeente gegee.55
Dit is wat daarmee bedoel word as gesê word dat ’n plaaslike gemeente “selfstandig” is. Dit wil ons iets laat verstaan van die volmag waarmee Christus self die gemeente beklee het toe Hy sy Woord daaraan toevertrou het. Miskien is dit beter om te praat van die “volwaardigheid” of die “volledigheid” van die plaaslike gemeente as kerk van Jesus Christus. Omdat dié terme egter ook vir misverstand vatbaar is, word daar in die nuutste sendingwetenskaplike literatuur meermale gepraat van die “Christonomie” of “Christusständigkeit” van die gemeente, om aan te dui dat die gemeente slegs van Christus afhanklik is en deur Hom alleen regeer mag word. Dit is wat ons gereformeerde vaders bedoel het met die stelling dat geen kerk oor ander kerke heerskappy mag voer nie.56 Dit behels nie, soos soms beweer is, ’n verswakking van die kerkverband of die bindende gesag van besluite van meerdere vergaderinge nie, want in die meerdere vergaderinge is die plaaslike kerke almal saam teenwoordig in ’n gemeenskaplike beraad. In die toesig en sorg van die meerdere vergaderinge oor die plaaslike gemeente gaan dit nie om ’n heerskappy van buite nie, maar om ’n gemeenskaplike poging van daardie plaaslike gemeente saam met al die ander binne die kerkverband om die alleen-heerskappy van Christus deur sy Woord in die gemeente te dien en te beskerm. Hierdie ou-gereformeerde beginsel is egter bedoel om te voorkom dat deur ’n ander plaaslike gemeente ingegryp word in die regering en die praktiese belange van ’n gemeente van Jesus Christus. Dit wys spesifiek die gedagte van ’n metropolis of moederkerk van die hand. Een gemeente mag nie oor ’n ander regeer nie. Dit gaan dus nie om die gesag van die meerdere vergaderinge nie, want daar is albei die gemeentes op gelyke vlak onder die gesag van die Woord van God en in gemeenskaplike beraad besig om die lig van Gods Woord vir hulle albei saam te soek. Wanneer een gemeente egter uit sy eie ingryp in die belange van ’n ander gemeente en dus van buite oor hom heers, is dit hiërargie en on-Bybels.
Toe ons vaders daardie stelling geformuleer het, het die moontlikheid van die heerskappy van een kerkverband oor ’n ander kerkverband nie eers in hulle gedagte opgekom nie. Ons kan egter stellig sê dat as dit van die plaaslike gemeentes binne dieselfde kerkverband geld, dit nog meer geld van twee verskillende kerke (kerkverbande) wat naas mekaar bestaan, want daar val selfs alle moontlikhede weg om sodanige regering van die een oor die ander te regverdig vanuit die eenheid binne dieselfde kerkverband. Dit is eintlik ’n deur-en-deur vreemde saak dat kerke wat in ’n sodanige noue verband met mekaar verkeer, dat hulle voortdurend met mekaar in aanraking is, op mekaar betrokke is en met mekaar dieselfde belydenis handhaaf, in aparte kerkverband kan staan, maar dan tog nog so, dat die een haas alles oor die ander te sê het. Dit sal uiters moeilik gaan vir ’n mens om te verduidelik dat dit as Bybels-gereformeerd kan deurgaan. Dit eer nóg die alleenheerskappy van Christus oor sy kerk, nóg die volwaardigheid van elke geïnstitueerde gemeente, waar gelowiges rondom Woord en sakramente vergader.
Ook in die sending het ons te doen met die kerk. En wat van die kerk op ander plekke geld, geld ook van die kerk op die terrein van die sending. Daarom sal hierdie groot beginsels van die Woord van en ’n gesonde Bybelse kerkreg ook tot in die verste punt van die sendingpraktyk deurgetrek moet word. Dit is gevolglik nodig dat ons hier op enkele punte moet ingaan wat met die genoemde beginsels saamhang en daaruit voortvloei. Ons doen dit graag weer in die vorm van antwoorde op enkele algemene vrae.
(i) Wanneer word ’n kerk selfstandig?
Na wat ons hierbo gesê het, is dit seker duidelik dat ons hier nie anders kan antwoord nie, as dat selfstandigheid nie iets is wat deur ’n kerk eers na verloop van tyd verwerf of verkry hoef te word nie, maar dat dit aan die kerk by sy geboorte meegegee is kragtens die feit dat Jesus Christus die Hoof van die kerk is.57 Ons moet immers daaraan vashou dat ’n kerk kerk is, of hy is dit nie. Daar kan nie ’n tussenstadium bestaan waarop die kerk nog nie kerk is nie. Waar daar ’n versameling van gelowiges gekonstitueer is rondom die Woord en die sakrament, daar is die kerk. Daar regeer Jesus Christus. Daar is al die volmag waarvan die kerk van Jesus Christus op aarde weet, teenwoordig. Ook al is daar maar één plaaslike gemeente, dan is dit daar die ware kerk van Jesus Christus. En waar die kerk van Christus is, daar is vryheid, volwaardigheid, selfstandigheid. Tree daardie een gemeente nou met ander gemeentes in verband om die kerk van Jesus Christus in ’n bepaalde land of onder ’n bepaalde bevolkingsgroep sigbaar te laat word, dan geld dit alles onverkort van die geheel. ’n “Onselfstandige kerk” is Bybels gesien ’n contradictio in terminis. Die ware kerk is aan Christus gebonde en onderworpe, maar juis daarin is hy van alle ander bindinge vry.
Ons moet ons hierin deur die Nuwe Testament laat lei. Daar sien ons dat, sodra daar ’n groep gelowiges op ’n bepaalde plek as vrug van die verkondiging van die evangelie ontstaan, daar ’n kerk geïnstitueer word deurdat daar ampte vir die gereelde bediening gekies word (vgl. Hand. 14 : 23; Titus 1 : 5; Fil. 1 : 1 ens.). So ’n kerk word dan egter van meet af aan as ’n volwaardige en volledige kerk van Jesus Christus aanvaar en erken. Die Nuwe Testament ken nie eers die onderskeiding tussen ’n sendende kerk en ’n sendingkerk, tussen ’n moeder- en dogterkerk of tussen ’n ouer en jonger kerk nie.58 Die nuwe gemeentes staan deurgaans op dieselfde vlak as al die ander. Die gemeente Antiochië wat aanvanklik Paulus en Barnabas afgesonder en uitgestuur het, verkry daardeur in geen enkele opsig seggenskap oor die nuwe gemeentes wat ontstaan nie. Ons hoor wel dat Paulus in Antiochië verslag doen van die werk deur hom verrig (Hand. 14 : 27), maar ons hoor niks van enige kontrole wat deur Antiochië oor daardie gemeentes uitgeoefen word nie. Selfs die moedergemeente in Jerusalem het geen bevoorregte posisie bo die ander gemeentes nie. Wat ons in Hand. 15 voor ons het, is in beginsel die eerste meerdere vergadering waar afgevaardigdes van een gemeente samespreking voer met die ampsdraers en gemeentelede van Jerusalem, en wel nog in die teenwoordigheid van die apostels. Dit gaan egter nie daar om ’n seggenskap wat die moedergemeente sou besit oor wat wel en wat nie in die jonger gemeentes moet geld nie. Die beslissing wat uiteindelik gevel word, het niks met die seggenskap van een gemeente oor ’n ander te doen nie, maar is die resultant van ’n gesamentlike soeke na wat die Heilige Gees vir al Gods gemeentes te sê het.59
Bavinck trek uit hierdie gegewens van die Nuwe Testament die konklusie „dat de Schrift ten aanzien van de kerk en haar onderlinge verhoudingen het begrip voogd en voogdij niet kent.”60 Ook die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (Potchefstroom, 1953) het daarop gewys dat die kerk met ’n begrip soos “voogdyskap” versigtig moet omgaan en dit moet suiwer van alle “bybedoelinge”.61 Indien dit geskied, bly daar in die begrip eintlik niks anders meer oor as die plig tot diens wat ons van Godsweë opgelê is teenoor alle mense wat minder as ons bevoorreg is nie. Die begrip moet in die kerk liewer vermy word, aangesien dit so maklik met allerlei byklanke en bybedoelinge besmet kan word. En veral in die sending kan dit maklik lei tot ’n aantasting van die gesonde beginsels van die gereformeerde kerkreg. Immers, die begrip wil op die terrein van die kerk telkens maar weer aanleiding gee tot die misverstand dat die volwaardigheid en selfstandigheid van die kerk aan die einde van ’n lang ontwikkelingsproses staan, terwyl die Nuwe Testament dit sien as iets wat aan die kerk met sy geboorte meegegee is.62 Te lank is die Sendingwetenskap beheers deur die gedagte dat daar ’n evolusionistiese groeiproses in die kerk moet plaasvind, voordat dit uiteindelik mondige en selfstandige kerk kan word. Dit was veral Gustav Warneck, die groot Duitse Missioloog, wat in sy werk Evangelische Missionslehre uitgegaan het van die gedagte dat die sending tot taak het om die jong inheemse kerke “op te voed” tot selfstandigheid.62 Daarin het by aangesluit by andere, onder andere by Henry Venn, wat verantwoordelik daarvoor is dat daar tot onlangs nog geglo is dat ’n kerk eers dán selfstandig kan heet, as dit selfonderhoudend, selfuitbreidend en selfregerend is.64 Die gevolg is dat daar voortdurend gespreek is oor die selfstandigwording van die jong kerke op ’n veraf geleë dag, ’n onbepaalbare dag, want wanneer sal ’n jong kerk kan beantwoord aan al die gestelde vereistes? En intussen gaan die sendende kerke voort om ’n on-Bybelse gesag uit te oefen. Feitlik oral moet dit dan gebeur dat die jong kerke opstandig word en hulle verset teen die oorheersende houding van die sendende kerke, voordat daar besluit word om daardie jong kerke “selfstandigheid” te gee.65 Dit alles ruik na die verlening van selfstandigheid of onafhanklikheid aan ’n kolonie deur ’n koloniale moondheid. Op die terrein van die kerk ontstaan egter dadelik die vraag waar die kerk die bevoegdheid vandaan haal om só met ’n ander kerk te handel, om dit as ‘t ware tot kerk te sanksioneer, terwyl dit tog die kerk van Jesus Christus alleen is, waaroor Hy alleen oordeel? Buitendien, hierdie hele siening let veels te veel net op uiterlike, organisatoriese dinge, waarby die eis van selfonderhouding altyd ’n dominerende posisie inneem. Ons moet egter daarvan uitgaan dat, hoewel dit die ideaal van elke kerk moet wees om selfonderhoudend en selfuitbreidend te wees (selfregerend lê ook al weer op ’n ander vlak), dit nie as maatstaf kan geld vir die vraag of ’n kerk werklik kérk is nie. Die maatstaf moet altyd wees: het ons hier te doen met die ware kerk van Christus of nie? Waar die antwoord bevestigend moet lui, kan daar geen sprake wees van ’n groeiproses tot selfstandigheid, waarby die sendende kerk as ’n groot pedagoog ’n beslissende rol moet speel nie.66
Prof. J. du Plessis, wie se werk Wie sal Gaan? so ’n gewigtige woord meegespreek het by die vasstelling van die sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerke, stel ook die vraag wanneer ’n inheemse kerk tot selfstandigheid sal kom. Hy antwoord dan dat daar geen geformuleerde antwoord op dié vraag moontlik is nie, aangesien daar by die antwoord rekening gebou sal moet word met (a) die karakter en natuurlike begaafdheid van die volk, (b) die peil van sedelike en maatskaplike ontwikkeling wat die volk bereik het, en (c) die sosiale en politieke (!) toestande waarin die volk verkeer.67 Wat hy dan onder hierdie hoofde te berde bring, mag getuig van groot praktiese sin, maar is nie uit die Nuwe Testament geput nie, en laat ’n mens verwonderd vra watter kerkbegrip daar agter hierdie siening skuil. Merkwaardig is juis die wyse waarop die Nuwe Testament nie die selfstandigheid van die kerk afhanklik maak van die oordeel wat die sendeling daarop nahou oor die persoonlike kwaliteite van die bekeerlinge nie. Paulus erken bv. die waarheid van die gesegde dat alle Kretense leuenaars, ongediertes en luibuike is (Titus 1 : 12 – 13), maar dit weerhou hom geen oomblik daarvan om kerke op Kreta te laat oprig nie (Titus 1 : 5), en ons het geen rede om daaraan te twyfel dat hy die gemeentes op Kreta as absoluut gelykwaardig met alle ander gemeentes beskou het nie. Wat ’n gemeente tot gemeente van Christus, en dus ook tot ’n volwaardige, selfstandige gemeente maak, is nie die persoonlike hoedanighede, geleerdheid, fatsoenlikheid, stand, kulturele of politieke ontwikkeling van sy lede nie, maar dit is die Woord van God wat aan daardie gemeente toevertrou is.
Gelukkig is daar in die Sendingwetenskap gedurende die afgelope die afgelope aantal jare ’n meer Bybelse geluid gehoor. Daardeur het die pendulum weer teruggeswaai na beginsels wat sedert jaar en dag in die gereformeerde kerkreg gegeld het, maar wat in die negentiende eeu met sy gebrek aan kerkregtelike kennis haas oral vergeet is. ’n Gelukkige uitsondering word hier gevorm deur die sendingbenadering van die Gereformeerde Kerke in Nederland, wat uit die staanspoor daarvan uitgegaan het dat die kerke wat deur hulle sendingaksie tot stand kom, as selfstandige, volwaardige kerke beskou moet word. So verklaar die Sinode van 1896: ,Overmits elke plaatselijke kerk, ook op Java, in zich zelve compleet is, en rechtstreeks onder Koning Jezus staat, mag de zendende Kerk, als moederkerk, zulk een Kerk op Java wel steunen en raden, maar zich nooit enige autoriteit over haar aanmatigen. De Javaansche Kerk is met ons gecoördineerd, niet aan ons gesubordineerd.” Dit is Bybels gesien. Die jong kerk word direk in sy verantwoordelikheid voor God geplaas, en nie voor ’n moederkerk van wie by een of ander tyd sy selfstandigheid moet ontvang nie. Dit is duidelik dat dit ook hier, soos oral, die beste is om van die suiwer beginsel uit te gaan, want baie van praktiese probleme wat die sending oor die hele wêreld omknel en wat tog maar diep in saamhang met die gedagte dat die sendende kerk die jong kerk in ’n afhanklike posisie sien en dikwels ook hou, word daardeur by voorbaat uitgeskakel.
Dit is so jammer dat die Ned. Geref. Kerk hom in sy sendingbeleid nie meer laat lei het deur die suiwer gereformeerde beginsels nie, maar deur die beginsels van die sendingwetenskap wat aan die orde van die dag was. Dit kan slegs maar gehoop word dat die dag nie meer ver is dat daar sonder enige reserwe tot die Bybelse beginsels teruggekeer sal word nie.68
(ii) Wat is die posisie met ’n hulpbehoewende kerk?
Ons het indie vorige paragraaf van die standpunt uitgegaan dat ’n kerk nie onselfstandig kan wees nie, omdat selfstandigheid aan die kerk meegegee is in sy kerk-wees. Dieselfde kan egter nie gesê word van die hulpbehoewendheid van die kerk nie. ’n Kerk kan as komplete, selfstandige kerk nog op talle punte behoefte hê aan daadwerklike hulp van buite.
Ook dit laat die Nuwe Testament ons sien. Die verskillende gemeentes wat deur die arbeid van Paulus en sy medestanders tot stand gekom het, was aanvanklik nog uiters hulpbehoewend, en dit nie in die eerste plaas wat die finansiële betref nie, maar veral geestelik. Paulus moos voortdurend aan hulle aandag skenk. Hy kan hulle nie maar aan hulle lot oorlaat nie, maar moet hulle voortdurend besoek, aan hulle skrywe, hulle vermaan, bemoedig, vertroos, berispe en lei. Hy noem in die besonder as een van sy kwellings die daaglikse bekommernis oor die gemeentes (2 Kor. 11 : 28). Soms was dit ’n harde stryd om hulle weer op die regte weg te kry (vgl. 1 Kor. 5; 2 Kor. 10-13; Gal. 4 : 19). Nou is dit volkome waar dat Paulus kragtens die feit dat hy ’n apostel was, met besondere gesag hierdie sorg vir die gemeentes kon behartig, ’n gesag wat die sendeling van later tye nie meer vir homself sal kan toeëien nie,69 maar tog bly dit waar dat die sendende kerk van alle tye geroepe is om met sorg en liefde alle moontlike hulp aan die jong kerke wat deur sy sendingwerk tot stand kom, te betoon. Die belange van die jong kerk mag vir geen oomblik deur die ouer kerk uit die oog verloor word nie, want daar is duisende gevare wat die jong kerk bedreig en daarop gemik is om die werk wat gedoen is, weer te verydel (vgl. Gal. 4: 11). Daarom sal daar nie bespaar mag word op die hulp wat aan die jonger kerk gebied moet word nie, en langs talle weë soos die verskaffing van lektuur, mannekrag, teologiese voorligting, finansiële steun en veral voorbidding sal die sendende kerk voortdurend geroep wees om daadwerklike hulp te bied.
Maar — en onder hierdie “maar” moet daar ’n dubbele streep kom — dit mag nie beteken dat die selfstandigheid van die jong kerke deur die hulpbetoon van buite in die gedrang kom nie. Selfs Paulus wat op grond van sy apostoliese gesag met outoriteit teenoor sy gemeentes kon optree, sien daarvan af. Hy lê die jong gemeentes geen wette op nie. Hy worstel vir hulle en met hulle in die gebed en pleit by hulle totdat by hulle oortuig en oorreed het dat hulle ’n bepaalde weg moet gaan, sodat hulle uit eie beweging en vrywilliglik die koers inslaan wat deur sy verkondiging aangedui is. Dit is merkwaardig met hoeveel wysheid en takt Paulus met die gemeentes omgaan het om nie hulle verantwoordelikheidsin te beskadig en hulle beslissings uit hulle hande te neem nie. Dink maar aan die klassieke gedeelte 2 Kor. 8-9. Deur sy vriendelikheid en inskiklikheid het hy selfs die beskuldiging op die lyf geloop dat hy in die omgang “skugter” of selfs swak sou wees.70 Dit was egter sy metode om die geestelike selfstandigheid van die gemeentes te eer. As Paulus dit nodig geag het, hoeveel te meer moet die kerk van later tye dit nie doen nie! Daar moet afgesien word van alles wat ook maar in die minste daartoe kan meewerk om die jong kerk onselfstandig te laat voel. Dit sou fataal wees indien ’n sendende kerk die hulp wat hy aan die jong kerk verleen, as ’n instrument gebruik om die jong kerk onselfstandig te hou. Die Nuwe Testament weet van geen gesag wat ’n gemeente sou verkry oor ’n gemeente waaraan hulp verleen word nie. Aan die moedergemeente in Jerusalem word finansiële hulp verleen deur die “dogterkerke” wat oral elders ontstaan het, maar dit gee hulle geen seggenskap oor die kerk in Jerusalem nie, en sanksioneer geen ingryping van buite in die huishoudelike aangeleenthede van daardie gemeente nie. Selfs in ons dag dink niemand daaraan om ’n hulpbehoewende gemeente wat dikwels lewe uit die bydrae wat van elders geskenk word, as ’n onselfstandige gemeente te beskou nie. Waarom sou dit dan op die terrein van die sending moet gebeur?
In die praktyk is dit natuurlik altyd so, dat die hulpbehoewende kerk in die gevaar verkeer om afhanklik te voel en selfs te word van die kerk wat aan hom hulp (veral finansiële hulp) verleen, en die kerk wat die hulp verleen, verkeer weer in die gevaar om meerderwaardig te voel teenoor die minderbevoorregte kerk. Maar dit is versoekinge wat weerstaan en oorwin moet word. Sowel die hulpbehoewende as die hulpverlenende kerke moet verstaan dat hulle as kerke volledig gelykwaardig is voor God, en dat daar slegs Een is wat oor Sy kerk regeer. Enige hulp wat in die kerk van die Here verleen word, moet uit liefde aangebied word en mag onder geen omstandigheid seggenskap oor die hulpbehoewende kerk “koop” nie.
Dit spreek daarby vanself dat hulpverlening wat hierdie karakter dra, die hulpbehoewende kerk sal aanspoor om hoe langer hoe meer onafhanklik te word van die hulp wat gebied word, juis omdat die hulp ’n voortdurende versoeking beteken om die eie Christelike plig nie te doen nie. En die kerk wat die hulp verleen, sal versigtig moet handel, sodat die hulp op sodanige wyse verleen word, dat dit die hulpbehoewende kerk prikkel tot ’n steeds vollediger voorsiening in eie behoefte. In alle geval moet die hulp sodanig verskaf word, dat dit onder geen omstandighede die goeie verhouding tussen die twee kerke in die, gedrang bring nie. Daarom is dit die beste om dit aan te bied binne die raamwerk van ’n verhouding van samewerking tussen die ouer en die jonger kerk, terwyl elkeen tog op sy eie terrein vry en ongekompromitteer bly.
III
Daar is egter nog ’n derde saak waarby ons kortliks moet stilstaan, en dit is die posisie van die ampsdraers; en in die besonder die bedienaars van die Woord, in die liggaam van Christus. Ook hieroor laat die Skrif ons nie in die duister nie.
Dit is veral opmerklik dat die Skrif dit deurgaans so sien, dat die ampsdraer, hoeseer hy ookal ’n geroepene van God is en dus ook as ’n verteenwoordiger van Christus71 onder die mense optree, sy posisie in die liggaam inneem, ’n wesenlike deel daarvan is, en in geen enkele opsig ’n vreemde element is wat buite die liggaam of teenoor die liggaam staan nie.72 Wanneer Paulus oor die liggaam van Christus praat, sien hy dit as organiese geheel waarvan die verskillende lede elkeen sy bepaalde gawe en taak het wat tot nut van die geheel aangewend moet word (vgl. 1 Kor. 12 : 7; Ef. 4 : 16). Tussen die ander lede is daar nou ook sekere lede aan wie Christus besondere gawes geskenk het, gawes wat hulle in staat stel om die liggaam te dien in sake wat van soveel lewensbelang is as die verkondiging van die Woord, die handhawing van die goeie orde in die liggaam, die regering ens. (vgl. 1 Kor. 12 : 28; Rom. 12 : 7-8; Ef. 4 : 11). Calvyn baseer sy hele leer oor die ampte op die uitsprake van die Skrif oor die liggaam van Christus, en hy kom telkens weer terug op Ef. 4: 1173 Daarom kon Calvyn ook deurgaans die ampte en bedieninge in die kerk sien as ingebed in die organiese struktuur van die kerk. Die kerk as liggaam van Christus is vir hom ’n lewende geheel met baie lede in wie die ganse bediening van die kerk versprei is, terwyl die krag vanuit die Hemelse Hoof die kerk toevloei.74
Niemand sal Calvyn daarvan kan beskuldig dat hy ’n laagkerklike ampsbeskouing daarop nagehou het nie. Inteendeel, by Calvyn word daar op ’n baie positiewe wyse oor die noodsaaklikheid, waardigheid en gesag van die amp gespreek, en ’n gedagtegang soos wat in ons tyd deur E. Schweizer ontwikkel is, sou vir Calvyn totaal onmoontlik wees.75 Vir Calvyn staan dit sonder meer vas dat die ampsdraers in eerste instansie organe van Christus is, en nie in eerste instansie organe van die gemeente is nie.76 Hy gaan dan ook maklik verby aan die probleem wat daar vir Luther was in die fundering van die amp op die priesterskap van al die gelowiges, deur eenvoudig te konstateer dat daar bepaalde ampte deur God ingestel is vir die opbou van Sy kerk, en dat die Skrif ’n duidelike taal spreek oor die waardigheid wat aan daardie ampte toekom.77 Maar — ten spyte van hierdie swaar aksent op die ampte, beklemtoon Calvyn deurgaans die verbondenheid van die ampte aan die liggaam van Christus en die feit dat die ampte uit die liggaam opkom. Dit kom in die besonder daarin uit, dat Calvyn daarop staan dat die ampte deur die gemeente self aangewys moet word. Aan ’n gemeente mag geen ampsdraers opgedring word nie. Die wettige roeping van ’n dienaar van die Woord bestaan vir Calvyn volgens die Woord van God daarin, dat hy deur “die eenstemmigheid en goedkeuring van die volk” gekies word.78 Hierin kan Calvyn hom met reg op die Skrif beroep (vgl. Hand. 1: 21; Hand. 6: 2, 3; Hand. 14: 23).
Die lede van die liggaam van Christus is immers geen onmondige “leke” wat met die regering van die kerk niks te make het nie. Hulle het almal gawes van Christus ontvang en is profete, priestess en konings (vgl. Sondag XII van die Heidelbergse Kategismus). Bouwman sê in hierdie verband: “Zij moeten hunne gaven tennutte van anderen aanwenden, met elkander samenwerken tot een getrouw kerkelijk leven, tot de bediening van Woord en sacrament, tot het opzicht op elkander, tot het dienen van elkander en het bewijzen van barmhartigheid aan lijdenden, verdrukten en ellendigen. Zij zijn geroepen, mede te werken tot de formatie en reformatie der kerk, en hen, die door Christus met bijzondere gaven versierd zijn, te roepen en te verkiezen tot het ambt.”79
Maar ons moet hier nog verder gaan. Dit is nie slegs so dat die ampte uit die gemeente opkom en dus wesenlik aan die gemeente behoort nie, en ook nie slegs so dat die gemeente die ampte moet aanwys nie, maar dit is ook Skriftuurlik dat die gemeente ’n bepaalde kontrolerende taak ten opsigte van die besondere amp het. Die gemeente staan wel onder die tug van die besondere ampte, maar die ampsdraers staan op hulle beurt weer onder die oordeel van die gemeente. In die besonder moet die gemeente beoordeel of die prediking van die Woord volgens die evangelie is en die geeste beproef, of hulle uit God is (I Joh. 2 : 27; 1 Joh. 4 : 1-3; Gal. 1 : 9; 1 Thess. 5 : 19 e.v.). Die gemeente het nie slegs die reg nie, maar ook die plig om in die regering van die kerk op allerlei wyse mee te werk, al is dit dan maar deur hulle stilswyende approbasie of die reg van beswaar waarvan hulle gebruik mag maak in alle gevalle, maar veral met betrekking tot die tug (vgl. I Kor. 5).80
Nou is dit wel waar dat die gemeente baie van hierdie funksies uitoefen deur middel van die ampte wat uit die gemeente opkom en in wie die gemeente in ’n sekere sin verteenwoordig is, en wat deur Christus op ’n besondere wyse geroep is tot die vervulling van die taak van die aktiewe regering en leiding van die gemeente. Dié feite doen egter geen afbreuk aan die waarheid dat dit in wese tog die gemeente, die kerk is wat daardie funksies uitoefen nie.81 Dit is ’n basiese reg van die gemeente van Jesus Christus — of daardie gemeente sou plaaslik, of in wyer verband gedink word — om te sorg vir die toesig oor, die opsig en tug oor die ampsdraers wat in die kerk arbei. Wie die tugreg van die kerk van hom wegneem, tas die kerk in sy wese aan. Dit geld in ’n besondere sin van die tug oor die ampsdraers, want wanneer die ampsdraers nie funksioneer soos hulle moet nie, en veral: wanneer die verkondiging van die Woord nie voortdurend beoordeel word, en alles geweer word wat in stryd is met die gesonde leer nie, kan die kerk sy karakter as ware kerk van Jesus Christus nie behou nie. Die kerk wat dan ook nie daaraan toe is om die tug oor sy eie ampsdraers te handhaaf nie, is te swak toegerus om die toekoms in te gaan. Dit moet, veral in die Sending, vir ons voorop staan, dat die gemeente van Jesus Christus elke dag opnuut daartoe opgeroep moet word om die tug te handhaaf, in die besonder die tug oor diegene wat die Woord verkondig en gevolglik in ’n besondere verantwoordelike posisie staan.
* * *
Ons het by ons ontleding van die bestaande bepalinge van die Transvaalse Kerk daarop gewys dat die moederkerk op die oomblik leraars uit eie midde beskikbaar stel vir beroeping in die sendingkerk. Daardie leraars word dikwels nie deur die gemeentes van die sendingkerk self beroep nie, maar deur die moederkerk beroep vir die sendingkerk, of as die sendinggemeente reeds voldoende hydra “vir die sendingkas”, kry hulle ’n kleiner of groter aandeel in die beroeping. In geen geval beroep hulle egter alleen, sonder enige verteenwoordiging van die kant van die moederkerk nie. In die lig van die voorafgaande beginsels kan ons nie anders oordeel nie, as dat dit in stryd is met die gesonde siening van die Skrif en die gereformeerde kerkreg. ’n Gemeente behoort sy eie leraar te kan beroep, want dit is ’n basiese reg van elke gemeente, ook al is hy finansieel hulpbehoewend, en hy behoort dit te kan doen sonder inmenging van buite, al sal advies van buite meermale van groot waarde kan wees.82
Ons ontleding het egter nog verder aan die lig gebring dat die blanke sendelinge beroep word as herders en leraars van die gevestigde sendinggemeentes en dat hulle daar as volwaardige ampsdraers van die sendingkerk optree met volledige regeer-bevoegdhede, maar dat hulle intussen tog nie as lede van die sendinggemeentes beskou word nie en ook nie onder die tug van die sendingkerk staan nie. In die lig van die voorafgaande moet dit ook hier seker volkome duidelik wees dat dit nie kan deurgaan nie. Ons het immers gesien, dat. die ampsdraers uit die gemeente opkom en dus wesenlik aan die gemeente moet behoort. Geen persoon kan volgens die gereformeerde kerkreg dan ook ’n ampsdraer wees van ’n kerk waarvan by nie lid is nie. Elke leraar is lidmaat van die gemeente wat hy as leraar bedien (vgl. art. 133, Wette en Bepalinge, Suidstreek). Dit moet konsekwent gehandhaaf word, ook in die sending. En wat geld van die kwessie van lidmaatskap, geld ook van die tug. Dit is totaal onmoontlik dat iemand wat nie onder die tug van die kerk staan nie, die kerk as ampsdraer kan bedien. Uit wat ons hierbo aangevoer het, moet dit duidelik wees dat dit die sendinggemeentes van ’n basiese reg berowe, as hulle nie toegelaat word om opsig en tug uit te oefen oor sommige van hulle leraars nie. Nóg oor die leer, nóg oor die lewenswandel van dergelike leraars het hulle iets te sê. Hulle word nie eers geraadpleeg as dit gaan om tug oor daardie leraars nie. Dit kan tog nie Bybels genoem word nie. Buitendien ontstaan die vraag hoe die jong gemeentes ooit “opgevoed” kan word om hulle verantwoordelikheid vir die handhawing van die tug ten volle te aanvaar, as hulle geslagte lank met hierdie toestand te doen moet kry.
Waarom het die Ned. Geref. Kerk hierdie ongerymde posisie geskep? Sou dit wees, omdat die gedagte was dat die jong gemeentes die geleentheid moet hê om volgens hulle eie-aard te ontwikkel, en dat dit vanuit daardie gesigspunt ongewens is dat die Westerse sendeling enige permanente posisie in die jong kerk moet inneem? Dit sou ’n geldige uitgangspunt wees, en kan nie anders as om aanspraak te maak op algemene instemming nie.83 Volgens dié gesigspunt sou die sendelinge van die moederkerk dan nie lidmate van die sendinggemeentes moet word nie, en kan hulle ook derhalwe nie onder die tug, van die jong kerk val nie. Dit sou egter vanself ook meebring dat hulle nie leraars van die jong gemeentes mag wees nie en ook geen regeer-bevoegdheid in die jong kerk besit nie. Indien dit die gesigspunt van die Ned. Geref. Kerk was toe hy die huidige posisie geskep het, dan het hy egter deur sy reëlings in die verband sy eie doel verydel. Immers, deurdat dit moontlik gemaak is dat ’n blanke sendeling beroep kon word as herder en leraar van die sendinggemeente met al die regte en voorregte aan die leraarsamp verbonde, het die blanke sendeling .’n sodanige invloed en permanensie in die jong kerk gekry, dat dit geen sin het om teoreties te handhaaf dat hy tydelike diens daar verrig en dus nie lidmaat van die sendingkerk moet wees nie.
Omdat hierdie saak van soveel gewig is, is dit noodsaaklik dat ons hier sal probeer ingaan op die beginsels wat ons in hierdie verband moet lei. Waar beginsels kromgetrek word, sal daar vroeër of later skade gely word. Ons kan nie op twee stoele probeer sit nie. As die aangeleentheid van die posisie van die sendeling in die jong kerk nie ’n tydige en suiwer oplossing kan vind nie, kan dit ’n uiters nadelige gevolg, vir sowel die moeder- as die dogterkerke meebring.
* * *
Die enigste manier om hierdie saak suiwer te benader, is om duidelik te onderskei tussen ’n leraar en ’n sendeling. Dié twee kan nie dieselfde wees nie, en wie probeer om die verskil tussen hulle te ignoreer, moet noodwendig in allerlei kerkregtelike ongerymdhede verval.
In ’n leraar het ons te doen met ’n gewone amp in die kerk. Die pligte en ampswerk van ’n leraar is oorbekend, en hoef ons hier nie verder besig te hou nie. In hoofsaak kom dit egter daarop neer dat hy ’n bedienaar van die Woord is wat aan ’n bepaalde plaaslike gemeente as herder en leraar verbonde is met die oog op die geestelike versorging en opbou van die lidmate van daardie gemeente “in hulle allerheiligste geloof.” Ten einde dit te kan doen, verrig hy die gewone ampswerk van prediking, kategese, huisbesoek, krankebesoek en (saam met die ouderlinge) die opsig en tug oor die gemeentelede.
By die sendeling daarenteen, het ons te doen met ’n buitengewone amp van die kerk. Dit is seker nie onvanpas om hierdie ou gereformeerde onderskeiding tussen gewone en buitengewone ampte by te haal nie. Immers, daar is meermale gewys op die verwantskap tussen ’n sendeling en die evangelis waarvan die Nuwe Testament spreek.84 Calvyn verklaar dat die evangelis na sy oortuiging ’n persoon was wat diens moes verrig waar daar van te vore nog geen kerk was nie en kerke opgerig moes word. Hy ontken nie dat God in die na-apostoliese tyd telkens weer apostels en evangeliste opgewek het om die kerk onder buitengewone omstandighede terug te roep van die afwyking van die antichris nie, maar hy spreek nogtans oor die evangelis as ’n buitengewone amp, omdat daar in ’n behoorlik ingerigte kerk geen plek vir ’n evangelis is nie.85 So oordeel ook Voetius. Die enigste rede waarom Bouwman nie die missionêre leraar ’n evangelis wil noem nie, is die feit dat daar in sommige kringe die gebruik opgekom het om opwekkingspredikers met die naam “evangelis” aan te dui. Ten spyte daarvan sê hy egter: “Wel is heden ten dage elk missionaris een evangelist, maar niet elk evangelist een missionaris. In elk geval was de evangelist, zooals wij hem in het N. Testament zien, geen ambtsdrager in eene plaatselijke kerk, maar tijdelijk ergens werkzaam om het evangelie te verkondigen, of om de pas gestichte gemeente te sterken en te ordenen.”86 Ook Bavinck spreek hom in min of meer dieselfde sin uit.87
Daar is dus ongetwyfeld ’n opmerklike ooreenkoms tussen ’n sendeling en die Bybelse evangelis, selfs al is daar nie volkome ooreenstemming nie.88 Daarom neem ons die vrymoedigheid om ook in die geval van die sendeling te spreek van ’n buitengewone amp. Ook die sendeling is immers ’n uitgestuurde, ’n gesant wat afgesonder word vir ’n taak buite die gewone ampsbediening in ’n plaaslike gemeente. Hy arbei waar daar nog geen kerk is nie, met die uitsluitlike doel om ’n gemeente op te rig onder ’n heidense volk. Hy is dus aan geen plaaslike gemeente as leraar verbonde nie, en hoewel hy in sy kersteningsarbeid werksaamhede sal verrig wat ook deur ’n leraar verrig word (hoe kan dit anders, waar albei geroep is om die evangelie te verkondig?), is dit tog nie sy eintlike taak nie. Hy het nie tot opdrag om ’n gevestigde gemeente te bedien nie, maar om die heidene te roep tot bekering, en dan ’n gemeente onder die heidene te versamel. Sodra daar êrens ’n kerk gevestig is, is hy nie meer nodig nie, behalwes om met raad en daad (soos Paulus) die gemeentes wat ontstaan het, te hulp te kom. Hy kan nooit ’n ampsdraer van een van die gemeentes wat deur sy arbeid tot stand gekom het, word nie, want dan sou hy sy eintlike taak waarvoor hy uitgestuur is, verruil vir die taak van ’n leraar. Dit spreek dan ook vanself dat hy nie lid kan word van die gemeentes wat deur die kersteningsarbeid tot stand gekom het nie, en dat hy ook nie regeerfunksies in daardie gemeentes kan vervul nie. Hy is en bly lid van die kerk wat hom afgesonder en uitgestuur het, kan te enige tyd deur daardie kerk teruggeroep of na ’n ander plek gestuur word, en staan dan ook onder die tug van daardie kerk.
Dit spreek dan ook vanself dat by ook geen leraar van ’n plaaslike gemeente kan wees in die kerk wat hom uitstuur nie. ’n Plaaslike gemeente sou hom wel kon roep, afsonder en uitstuur om sendingwerk te gaan doen, maar dan is hy daardie plaaslike gemeente se sendeling, nie hulle leraar nie. Eweneens sou ’n meerdere vergadering hom kon afsonder en uitstuur vir die spesifieke arbeid wat ’n sendeling moet gaan verrig, terwyl ’n meerdere vergadering tog nooit ’n leraar vir ’n bepaalde gemeente kan beroep nie.
Dat ons met hierdie siening van sake nie van die goeie spoor af is nie, word daardeur bevestig dat die Gereformeerde Kerke in Nederland van hierdie gesigspunt uitgegaan het. As vastrapplek daarvoor het hulle art. VII van die Dordtse Kerkorde gevind waarin neergelê word dat elke leraar verbonde moet wees aan ’n bepaalde gemeente, “ten waer dat hy gesonden worde om hier oft daer te predicken inde Gemeente onder ‘t cruyce, ofte andersins om Kercken te vergaderen.” By die Sinode van Utrecht (1905) is besluit om hierdie laaste uitdrukking in die kerkorde te laat as beginsel wat sal geld vir die sending. “Ook in het geval van de zending is het dus geoorloofd, dat een of meer kerken in Nederland een dienaar des Woords uitzenden, om door de prediking des Evangelies onder de heidenen en mohammedanen te arbeiden en aldaar kerken te vergaderen, zonder dat hij nog aan een vaste standplaats verbonden is.”89
Dit is duidelik dat hierdie uitgangspunt baie voordele vir die praktyk bied. Dit maak dit moontlik dat die inheemse karakter van die jong kerk nie deur die permanente aanwesigheid van Westerse sendelinge teëgehou sal word nie, want die Westerse sendeling kan geen leraar in die jong kerk word nie, is ook nie permanent daar nie, maar slegs tydelik, terwyl hy tog al sy dienste tot beskikking van die jong kerk kan stel. Hy kan eenvoudig nie in die versoeking kom om vir hom te neem wat eintlik aan die inheemse leraars toekom nie, want dit is kerkregtelik uitgeskakel dat hy enige regeermag in die jong kerk kan uitoefen. Alle gesag wat hy daar kan uitoefen, is die gesag van sy verkondiging, raad, leiding, en hulp. Dit is meer as genoeg. Ook die gevaar dat die jong kerk hom as ’n bedreiging sal sien, is feitlik uitgeskakel. Daar kan geen onheilige wedywering tussen hom en inheemse leraars voorkom nie. Dit is weer ’n belangrike faktor met die oog op die bewaring van die verhouding tussen die moeder- en die dogterkerke. Daar kom egter nog iets verders nog by. Die feit dat by ’n gesant van die moederkerk is, hou nie slegs die voordeel in, dat die moederkerk hom altyd weer kan terugroep, en op ’n ander plek kan gebruik as sy dienste in die jong kerk nie meer nodig is nie, maar bring vanself mee dat sy lewensonderhoud deur die moederkerk gedra sal word. Dit maak dan die weg oop om die jong kerk voor die uitdaging te stel om self te sorg vir die lewensonderhoud van die inheemse leraars wat in die gemeentes bevestig is, en dien ook so die taak van opvoeding tot selfonderhoud by die jong kerk.
Daar kan seker geen twyfel bestaan nie dat die Ned. Geref. Kerk se uitgesproke beleid van die eerbiediging van die volkereverskeidenheid in die arbeid van die kerk, eenvoudig eis dat ’n sendeling in hierdie lig beskou moet word, en dat dit eintlik ook die enigste weg sal wees waarlangs daar sonder enige reserwe gehoor gegee sal kan word aan die Skriftuurlike eis om die volwaardigheid en eiendomlikheid van die jong gemeentes te erken. Waar daar nou egter reeds ’n bepaalde posisie ontstaan het wat nie so ligtelik verander sal kan word nie, sal dit noodsaaklik wees om ook die moontlikheid oop te hou dat die moederkerk aan die sendingkerk vaste leraars uit eie midde moet verskaf. Die logiese konsekwensie is dan egter dat hulle lidmate moet word van die gemeentes wat hulle as leraars bedien en dat hulle onder die tug van die sendingkerk moet staan, net soos dit duidelik is dat, sendelinge wat tydelike hulpdiens in ’n gevestigde jong kerk verrig, ten minste gedeeltelik onder die opsig van daardie kerk sal moet staan. Dit is egter sake van ’n meer praktiese aard, wat altyd maklik nader gereël kan word.
HOOFSTUK DRIE – DIE JUISTE KOERS
Kyk ons terug oor die weg wat ons afgelê het in die voorafgaande twee hoofstukke, dan is dit noodsaaklik dat ons hier enkele baie praktiese gevolgtrekkings moet maak en ook moet aandui hoe ons meen dat die bepalinge in verband met die sending in die toekoms sal moet lyk.
Hoewel ons uitgangspunt die sendingbepalinge van die Transvaalse Kerk was, is dit nou tog ook weer duidelik dat die Transvaalse Kerk hopelik binne enkele maande sal ophou om as ’n organisatoriese grootheid op homself te bestaan, en hom binne die groter eenheid van die Ned. Geref. Kerk wat die hele Suidelike Afrika omspan, sal bevind. As vanself bring dit mee dat die bepalinge wat dan in die plek van die bestaande bepalinge moet kom, rekening sal moet hou met die algemene sendingbeleid soos dit deur die Algemene Sinode vasgestel sal word. Aangesien ons van oortuiging is dat die beginsels wat ons in die vorige hoofstuk genoem het, betekenis het ook vir die sendingwerk van die hele Ned. Geref. Kerk, sal die gevolgtrekkings waartoe ons hier geraak, eintlik veel wyer implikasies bevat as wat net op die Transvaalse Kerk van toepassing kan wees.
Ons glo dat dit tans die aangewese tyd is vir die verskillende Provinsiale Kerke om die Sendinggrondwette wat hulle aan die Ned. Geref. dogterkerke meegegee het, te herroep. In die plek daarvan behoort dan één omvattende sendingorde te kom wat deur die Algemene Sinode opgestel moet word. Daarin kan sowel die algemene sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk neergelê word, asook die groot beginsels waarop die toekomstige verhouding van die Ned. Geref. Kerk teenoor al die verskillende Ned. Geref. dogterkerke gebaseer sal wees. Hierdie stap sal die voordeel meebring dat daar dan eenvormigheid sal kom in die benadering van die verskillende provinsies teenoor die verskillende dogterkerke, eenvormigheid in die beleid vir die buite-en binneland, en eenvormigheid in die beginsels wat ten grondslag sal lê aan die praktiese hulp wat die moederkerk in die verskillende provinsies aan die dogterkerke gaan bied. Dit alles kan alleen maar tot voordeel strek van die sendingaksie van die kerk, want onduidelikheid en ongelykheid van optrede moet noodwendig die werk van die kerk êrens strem.
Wanneer so ’n sendingorde deur die Algemene Sinode opgestel word, behoort die volgende sake daarin aandag te geniet en min of meer op die volgende wyse daarin vasgelê te word, terwyl die verskillende Provinsiale of Streeksinodes aanvullende bepalinge daarby kan maak om die sendingaksie binne hulle eie ressorte nader te reël.
(i) Die vraagstuk van afsonderlike kerke.
Uit die voorafgaande bespreking sal dit wel duidelik genoeg wees dat ons van oortuiging is dat dit nóg in die lig van die Skrif, nóg volgens die beginsels van die gereformeerde kerkreg toelaatbaar is om verskillende Ned. Geref. Kerke (in die sin van afsonderlike kerkverbande vir die verskillende volkere) parallel naas mekaar te laat bestaan. Die Ned. Geref. familie handhaaf immers deurgaans dieselfde belydenis en dieselfde gereformeerde kerkregering. Daar is ’n geestelike band wat almal saam tot één verbind. Dié eenheid moet sy uitdrukking ook vind in ’n kerkverband wat al die verskillende bevolkingsgroepe omsluit. Die grense van die kerk kan nie saamval met die grense van taal, kleur of ras nie. Die kerk van Christus moet prinsipieel almal insluit wat deur ’n ware geloof aan Hom verbind is en lede is van Sy liggaam. Wel is dit noodsaaklik dat daar binne die één Ned. Geref. Kerk afsonderlike voorsiening gemaak moet word vir die eieaard van die verskillende bevolkingsgroepe. Indien dit nie geskied nie, kan die kerk nooit werklik inheems word onder die Bantoe, die Kleurlinge, die Asiate nie. Maar hierdie afsonderlike voorsiening vir die verskillende bevolkingsgroepe moet organisatories sodanig ingerig word, dat dit nie die groot eenheid van die kerk verbreek nie.
Dit beteken dat daar sover moontlik afsonderlike gemeentes tot stand moet kom vir gelowiges uit die verskillende taalgroepe. Dit is nie genoeg as daar net een kerk ingerig word vir die nie-blankes, van watter taal of etniese groep hulle ook al mag wees nie (soos dit op die oomblik is). Dit eerbiedig nie die onderlinge verskille wat daar tussen die verskillende Bantoevolkere bestaan nie. Dit gaan tog nie om ’n groepering op grond van die huidskleur nie, maar om ’n groepering op grond van verskillende behoeftes. Ter wille van die doeltreffende toesig oor mekaar en die bevordering van die proses van inheemswording van die kerk onder die verskillende bevolkingsgroepe, is dit verder gewens dat elke groep gemeentes van ’n bepaalde taal- en kultuuragtergrond in ringsverband sal saamgesnoer word, en waar daar voldoende gemeentes is, ook in een afsonderlike streeksinode. Is daar nie voldoende gemeentes in een groep om ’n afsonderlike streeksinode te regverdig nie, kan hulle hulself in een streeksinode verenig met ’n ander groep wat die naaste aan hulle verwant is, en waar daar om geografiese redes ’n noodsaak is vir die bestaan van meer as een streeksinode van gemeentes wat dieselfde taal praat, is daar geen beswaar dat meer as een streeksinode gevorm sal word nie. Ter wille van die groot gemeenskaplike behoeftes wat daar sal wees by verskillende taalgroepe wat die naaste aan mekaar verwant is, soos bv. die Bantoegroepe, is dit seker ook nog in orde dat al die Bantoe¬streeksinodes met mekaar mag saamkom in een sinodale vergadering wat al die verskillende groepe verteenwoordig, net soos dit gewens is dat al die streeksinodes waarop die huidige moedergemeentes verteenwoordig is, in een sinode sal saamkom. Maar êrens moet dit tog sy duidelike uitdrukking ook organisatories vind, dat die Ned. Geref. Kerk één is. Die beste sal wees as dit kan geskied op ’n Algemene Sinode waarop verteenwoordigers van al die verskillende streeksinodes sitting sal neem.90 Die bevoegdhede en pligte van so ’n Algemene Sinode kan baie beperk gehou word, soos bv. dat dit slegs sake sal behandel wat op die terrein van die belydenis en die groot beginsels van die kerkregering lê. Hoe dit ook sy, in daardie een Algemene Sinode moet dit openbaar word dat die Ned. Geref. Kerk van die Kaap tot ver in Midde-Afrika een is, hoe groot die verskeidenheid binne daardie eenheid ook al is.
Die verband tussen al die verskillende groepe gemeentes behoort ook daarin tot uitdrukking te kom dat, terwyl almal tog dieselfde gereformeerde belydenis handhaaf, hulle almal ook dieselfde kerkorde sal aanvaar. Om dit te kan bereik, sal die kerkorde werklik net die hoof¬beginsels van die gereformeerde stelsel van kerkregering moet bevat, terwyl elke streeksinode (en verskillende streeksinodes gesamentlik) die vryheid het om aanvullende bepalinge by die kerkorde te maak wat op elkeen se eie, besondere behoeftes beteken is. Hier kan nie as beswaar aangevoer word dat ’n dergelike kerkorde die jong gemeentes te veel sal bind nie, want op die huidige oomblik is dit so dat die Sendinggrondwette van die verskillende provinsiale kerke die sending-kerke absoluut bind aan dieselfde stelsel van kerkregering wat in die moederkerke geld, en die wette en bepalinge van die sendingkerke is meestal maar net ’n replika van die wette en bepalinge van die moederkerke. Die weg wat ons voorstel, het egter nog die voordeel dat die grondwette dan maar opgehef kan word sonder vrees dat die sendingkerke sal ontwikkel in ’n rigting wat hulle uiteindelik totaal vreemd teenoor die moederkerke sal laat staan, want dit word dan in die aanvaarding van ’n. gemeenskaplike belydenis en kerkorde genoegsaam gedek.
Teen hierdie reëling om uitdrukking te gee aan die eenheid van die Ned. Geref. Kerk behoort daar geen beswaar te bestaan nie. Dit is nie alleen ten volle in ooreenstemming met die besluite van die Sinodes van 1834 (die stigting van afsonderlike “Presbyteriaansche Gerefor-meerde Gemeenten der Naturellen” binne die kerkverband van die Ned. Geref. Kerk) en 1857 (gemeentes uit die heidene mag hulle kerklike voorregte in ’n afsonderlike gebou of gestig geniet) nie, maar lê ook opgesluit in die gedagte wat maar nog steeds in die Ned. Geref. Kerk lewe, dat die moeder- en dogterkerke saam één kerk is. Op talle wyses lê die praktyk daarvoor getuienis af. ’n Mens moet maar die jaarlikse voorwoord van die Jaarboek lees, om te verstaan dat die kompilator van die Jaarboek nog nooit daaraan getwyfel het dat by die statistieke verstrek van die een Ned. Geref. Kerk wat sy lidmate tel uit talle verskillende nasies nie.91 Dit is die standpunt wat ook sit agter die offisiële berigte in die Kerkbode en die kerknuus oor die radio (Dink met name aan die kennisgewings van beroepe). Tereg sê prof. T. N. Hanekom: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is nie ’n Kerk vir blankes alleen nie, maar tel onder sy aanhangers vandag sowat ’n driekwart miljoen inboorlinge, onder wie Kleurlinge, Bantoe en Asiate … In werklikheid behoort hulle dan ook nie aan ’n ander kerk as ons nie, maar aan dieselfde kerk in ’n ander kerkverband, aangepas aan hulle besondere behoeftes ens.”92 Die laaste onlogiese opmerking (dieselfde kerk in ’n ander kerkverband) is ’n duidelike weerspieëling van die onlogiese en vreemde situasie waarin ons verkeer, dat die één kerk nie ook (soos dit boort) sy eenheid in een kerkverband tot uitdrukking laat kom nie. Ons is daarvan oortuig dat hierdie toestand ontstaan het vanuit die praktyk en nie vanuit enige duidelike en omlynde beginsel nie, en dat die stigting van die eerste Ned. Geref. Sendingkerk in 1881 nie die resultant was van ’n ernstige besinning oor die lig van die Skrif en die beginsels van die gereformeerde kerkreg nie, maar die uitvloeisel van die begeerte om die beste moontlike voorsiening vir die nie-blanke lidmate te maak. Wanneer ons vandag egter die geleentheid het om dit alles in heroorweging te neem en veral te vra na die regte beginselstandpunt, behoort daar niks te wees wat ons verhinder om dit duidelik te laat wees, dat die Ned. Geref. Kerk werklik een is nie.
Intussen staan ons natuurlik voor die feitelike situasie soos dit in die loop van jare ontwikkel het. Sommige van ons Ned. Geref. dogterkerke het al verbintenisse met ander kerke aangegaan wat dit nou moeilik sal maak om hulle so maklik in te skakel in één Algemene Sinode, en al die dogterkerke het al gewoond geword daaraan om hulleself te hou aan die ideaal van onafhanklikheid van die moederkerk, van selfstandige inheemse kerke te wees sonder enige duidelike verband met die moederkerk. Ook daaroor kan nie so maklik heengestap word nie. Dit sal tyd neem om te kom waar ons kerkregtelik behoort te wees. Dit is veral duidelik dat geen uitingsvorm van ons eenheid geforseer behoort te word nie. Ons moet na mekaar toe groei, mekaar vertrou en weet dat ons met mekaar staan in één eenheidsfront in die gistende Afrika. Miskien is die tyd dus nog nie ryp om daarop aan te dring dat ons die verband tussen al die groepe in die Ned. Geref. familie tot uitdrukking laat kom soos dit behoort te geskied nie. Ons sal dus maar moet uitgaan van wat tans die gegewe situasie is en daarvan die beste probeer maak wat daarvan gemaak kan word. Dit sal kan gebeur as ons ten minste voorlopig ’n federale band tussen die moeder- en dogterkerke lê soos wat dit gedurende die afgelope dekades tussen die Ned. Geref. Kerke in die verskillende provinsies die geval was. Die bestaande Raad van Kerke van Gereformeerde Belydenis waarin verteenwoordigers van moeder- en dogterkerke saamkom vir gemeenskaplike beraadslaginge, is beslis ’n goeie begin in die regte rigting, maar behoort verder uitgebou te word tot ’n definitiewe, lewenskragtige skakel tussen al die lede van die Ned. Geref. familie. En sodra die tyd daarvoor ryp is, kan dan gevorder word op die weg wat ons hierbo aangedui het as die juiste Skriftuurlike en kerkregtelike weg.
(ii) Die selfstandigheid van die dogterkerke.
Indien ons die standpunt wat hierbo geformuleer is, aanvaar, kom die hele vraagstuk van die sg. selfstandigwording van die jong kerke op ’n ander vlak te staan as wanneer ons sou uitgaan daarvan dat daar volledig aparte volkskerke tot stand moet kom. Op die standpunt wat ons in hierdie studie as die enigste juiste probeer aantoon het, kan daar slegs sprake wees van een ding, en dit is die erkenning en aanvaarding van elke afsonderlike gemeente van gelowiges uit ’n ander bevolkingsgroep as volwaardig en selfstandig, presies net soos ons dit doen in die geval van moedergemeentes. Dit bring vanself mee dat ook die ringe en die streeksinodes wat saamgestel word deur die afgevaardigdes van sulke jong gemeentes, ten volle die bevoegdhede moet hê wat in die kerkorde aan enige ring of streeksinode van elke groep gemeentes toegeskrywe word.
Dit bring gewigtige implikasies mee. Immers, as ons dit ten volle aanvaar, moet ons uitgaan van die standpunt dat die jong gemeentes as volwaardige, selfstandige gemeentes van Jesus Christus alleen aan die Woord van God gebonde en onderworpe is en volle vryheid moet hê om in hulle meerdere vergaderinge hulle eie bepalinge op te stel, mits dit nie in stryd kom met Gods Woord en die aanvaarde kerkorde nie. Van alle veto-reg moet die “moederkerk” sonder meer afstand doen. Daar kan raad gegee word, daar kan by die jong gemeentes gepleit word, daar kan getrag word om hulle te oortuig van ’n bepaalde saak (vgl. die optrede van Paulus), maar hulle besluite mag nie maar sommer van “bo af” nietig verklaar word nie, wat nog te sê van “buite af.” Ons moet tevrede wees met die kontrole oor die jong gemeentes wat geleë is in die feit dat daar nog soveel arbeidskragte uit die boesem van die moederkerk in die jong gemeentes staan, in die voortdurende wedersydse kontak en korrespondensie met mekaar op die terrein van die kerkraad, ring en sinode en in die gemeenskaplike belydenis en kerkorde. Dit is nie nodig dat daar verteenwoordigers die kant van die moederkerk met keurstem op die kerkvergaderinge van die jonger gemeentes sitting moet neem nie. Die sending kommissies van kerkraad, ring en sinode kan voortdurend in verbinding bly met die vergaderinge van die jonger gemeentes en hulle op allerlei wyse dien en help, sonder om egter besluite vir hulle te neem en so hulle volwaardigheid en selfstandigheid aan te tas.
Hieruit vloei ook nog ’n ander gewigtige beginsel vir ons optrede voort, en dit is dat die moederkerk moet verstaan dat dit absoluut noodsaaklik is dat by sy sendingaksie verder nie meer op sy eie sal voortsit sonder erkenning van die bestaande jonger gemeentes uit die verskillende bevolkingsgroepe nie. Die kerk moet in sy sendingaksie saamwerk met die jonger gemeentes en gebruik maak van die “kanale” wat daarvoor in die jonger gemeentes aanwesig is.93 Moedergemeentes moet dus nie maar op eie houtjie ingryp op die terrein van ’n bestaande jong gemeente en sonder hulle toestemming en medewerking ’n sendingaksie onder daardie bevolkingsgroep gaan onderneem nie. Dit sou ’n verkragting wees van die verband wat daar tussen moeder- en dogtergemeentes bestaan. Net so sal weiering aan die kant van die jonger gemeentes om met die moedergemeentes op die terrein van die sending saam te werk, eintlik neerkom op ’n verbreking van die kerkverband met die moedergemeentes. As die verhoudinge oor en weer goed is, sal so iets eintlik nie kan voorkom nie, en as die verhoudinge sleg is, sal dit buitendien geen doel dien om ’n bepaling in die moederkerk se reglemente op te neem met die oog daarop om die jonger gemeentes te verplig om te aanvaar wat die moedergemeentes in selfstandigheid en op eie houtjie wil doen nie.
Erkenning van die volwaardigheid van die jonger gemeentes as kerke van Jesus Christus sal egter ook beteken dat aan hulle die onbelemmerde reg gelaat moet word om te beroep wie hulle wil, en dat daar nie deur die moedergemeentes mense aan hulle opgedring moet word nie. Die moedergemeentes moet dit as hulle voorreg en eer beskou om aan die jonger gemeentes finansiële hulp te bied waardeur hulle in staat gestel sal word om doeltreffender die kerstening van hulle eie bevolkingsgroepe aan te pak. Waar ’n sendingwerk onderneem moet word binne die grense van ’n bestaande jong gemeente, behoort daar nooit sonder hulle medewerking en hulp opgetree te word nie. Dit moet dan daarop uitloop dat ’n kerkvergadering van die moederkerk en ’n kerkvergadering van die dogtergemeentes met mekaar ’n ooreenkoms aangaan, waarin vasgelê word watter aandeel en verpligting elk van die twee in verband met die werk sal onderneem. Dit sal dikwels moet beteken dat die kerkraad van die moedergemeente belowe om finansiële hulp aan die dogterkerkraad te bied, sodat laasgenoemde addisionele arbeidskragte in die veld kan instuur. Die hele bestaande gedagte dat die werkkringe onder die moederkerk se jurisdiksie val en nie onder die van die sendingkerk nie, is volgens hierdie beginsels buite orde en behoort nie langer gehandhaaf te word nie.
Natuurlik vorm die finansies maar altyd die teer punt. Ons wil graag waarde vir ons geld hê. Ons sien nie altyd kans om te dien met ons gawes sonder om ook nog daaroor te wil beskik nadat ons dit afgestaan het nie. Nou is dit waar dat ’n kerkvergadering met groot verantwoordelikheid moet omgaan met die finansies wat aan hom toevertrou word vir die arbeid in diens van die Here, en daarom is dit begryplik dat geen kerkvergadering bereid sal wees om “in die blinde” finansiële steun aan die jonger gemeentes te bied, sonder dat hulle ten minste jaarliks ’n volledige verslag ontvang oor wat daarmee gedoen is nie. Daarteen behoort geen beswaar te bestaan nie. Die jonger gemeentes moet dit as hulle eer sien om daardie verslag met die grootste nougesetheid te lewer. Waar ’n werk gesamentlik onderneem word deur kerkvergaderinge van die moeder- en die dogtergemeentes, geskied daar natuurlik vanself verslag aan beide kerk¬vergaderinge.
Die tyd het seker ook aangebreek dat daar geleidelik aan ’n oordrag van alle vaste eiendomme deur die moedergemeentes aan die jonger gemeentes sal wees. Die moedergemeentes het dit tog bedoel as ’n geskenk aan die dogtergemeentes, en dit het geen sin om dit langer as die besittings van die moedergemeentes te beskou nie.
Dit is duidelik dat ons aan al hierdie dinge nog nie toe is nie. Ons moet egter met groot haas in hierdie rigting voortgaan, anders kan die tyd ons ontbreek en groot skade kan aan die werk van baie jare berokken word. Die feit dat ons op die oomblik nog te doen het met die bestaan van afsonderlike kerke en nie met afsonderlike, volwaardige gemeentes binne die één groot Ned. Geref. Kerkverband nie, hoef aan die lyne wat ons hier getrek het, geen wesenlike verskil te maak nie. Alles kan ewe good toegepas word waar dit gaan om verskillende kerke wat hulle eenheid met mekaar besef en dus met mekaar saamwerk. Ons kan maar slegs vertrou dat daar in die kerk bereidheid sal wees om in hierdie rigting te beweeg.
(iii) Die posisie van die blanke sendeling.
Erkenning van die volwaardigheid en selfstandigheid van die dogtergemeentes (of, as u wil: die verskillende dogterkerke) eis egter ook dat ons aan elke afsonderlike geïnstitueerde jonger gemeente die vryheid moet laat om sy eie leraar te beroep, of daardie gemeente nou al in staat is om die grootste gedeelte van die lewensonderhoud van die leraar byeen te bring of nie. Die feit dat moedergemeentes finansiële hulp aan ’n hulpbehoewende jong gemeente bied, mag nie meebring dat die moedergemeente dus ook seggenskap verkry by die uitbring van die beroep nie, presies soos dit by ons altyd gesteld is met ’n hulpbehoewende gemeente. Ten einde die ideaal van self-onderhoud by die jonger gemeentes lewend te hou, moet daar steeds gepoog word om die hulp wat gebied word, volgens ’n glyskaal te laat verminder, sodat dit die jonger gemeente kan prikkel tot groter offervaardigheid.
Dit is waarskynlik dat die jonger gemeentes voorkeur daaraan sal gee om ’n inheemse leraar te beroep. Dit sal die geval wees, nie slegs vanweë sy laer lewenskoste nie, maar ook omdat by een van hulle eie mense is. Dit moet aangemoedig word. Die ideaal is tog dat elke jonger gemeente ’n leraar sal he uit sy eie taal- en kultuurkring. Solank daar egter nog nie voldoende inheemse leraars beskikbaar is nie, of in die geval waar daar reeds ’n blanke leraar in ’n sending gemeente bevestig is, sal daar ’n ander reëling gemaak moet word wat as ’n oorgangsmaatreël gesien moet word. Dit kom daarop neer dat die blanke leraar eenvoudig lid moet word van die gemeente wat by bedien en onder die opsig en tug moet staan van daardie gemeente en die kerkvergaderinge van die verband waarin daardie gemeente ingesluit is. In hierdie opsig is daar ’n baie duidelike presedent geskep deur die onlangse besluit van die Kaapse Sinode om sy sendelinge binne die ressort van die Sinode van Mkoma lede te laat word van die gemeentes wat hulle bedien, en om alle leke-arbeiders vir alle praktiese doeleindes as lede van daardie kerk te beskou94. Daar is geen rede waarom dit nie ook in die binneland kan gebeur nie. Dit is altyd moontlik om ’n praktiese reëling te tref waarvolgens die huisgenote van ’n dergelike sendeling, veral die kinders, kan inskakel by die blanke gemeente binne wie se grense hulle woon of wat die naaste is, ter wille van die taal- en kultuurfaktor.
Dit alles sal natuurlik slegs kan gebeur mits daar voldoende fondse beskikbaar is vir die jong gemeente (uit eie bronne of deur hulp van die moedergemeentes) om te sorg vir die lewensonderhoud van ’n blanke sendeling. Kan dit nie geskied nie, is daar slegs een ander weg oop om voorsiening te maak gedurende die tyd waarin daar nog nie voldoende inheemse leraars vir die jong gemeentes beskikbaar is nie, en dit is dat hulle gebruik sal maak van die diens van sendelinge van die moederkerk wat hulpdiens van ’n tydelike aard in die jong gemeentes verrig. Op grond van wat ons tevore gesê het, spreek dit vanself dat dergelike sendelinge van die moederkerk nie lidmate word van die jong gemeentes nie en ook nie onder hulle tug kan val nie. Dit is wenslik dat die moederkerk in alle tuggevalle wat die ampswerk van hulle sendelinge raak, sal raadpleeg met die betrokke kerkvergaderinge van die jong gemeentes in verband met wie hy arbei, maar uiteindelik is dit tog die moederkerk wat tug op hom moet toepas. Dit is wenslik dat die moederkerk die volle lewensonderhoud van hierdie sendelinge sal dra, sodat die finansies wat uit die jong gemeentes kom, uitsluitlik aangewend kan word vir die uitbreiding van die sendingwerk onder hulle eie bevolkingsgroep of vir die opbou van hulle eie gemeentes.
Sulke sendelinge van die moederkerk kan uitgestuur word deur plaaslike gemeentes afsonderlik of in kombinasie of deur meerdere vergaderinge. Hulle hooftaak is die verkondiging van die evangelie aan die heidene. Dit moet as ’n blote tydelike reeling gesien en behandel word dat hulle soms ook in gevestigde jonger gemeentes pastorale werk moet verrig. Om dit moontlik te maak, sal daar ’n ooreenkoms aangegaan moet word tussen die kerkraad van die betrokke jonger gemeente en die kerkvergadering wat daardie sendeling afgesonder en uitgestuur het. Dit spreek vanself dat die sendelinge geen regeermag kan uitoefen in die jonger gemeentes waarin hulle op hierdie wyse tydelike hulpdiens verrig nie.
In eerste instansie is dit die voorreg en plig van die plaaslike gemeente om ’n sendeling te beroep, af te sonder en uit te stuur. Wanneer hy ’n dergelike sendeling beroep met die oog daarop om hom binne eie grense onder die heidene te laat arbei, sal dit nodig wees om, soos ons hierbo gesê het, daaroor te onderhandel met die kerkraad van die “sendinggemeente” binne wie se grense die werk onderneem word. Word hy egter beroep met die doel om gestuur te word na ’n arbeidsterrein buite die grense van die plaaslike gemeente, sal daarvoor eers die toestemming en samewerking verkry moet word van die betrokke meerdere vergadering van die moederkerk binne wie se ressort die arbeidsveld val, wat op sy beurt weer die samewerking moet soek van die betrokke kerkvergadering van die “sendingkerk” binne wie se ressort die arbeidsterrein lê. Slegs langs hierdie weg kan daar behoorlik orde op sake gestel word. Dit is verder ook duidelik dat ’n sendeling wat deur ’n plaaslike gemeente afgesonder en beskikbaar gestel word vir ’n werkkring buite die grense van daardie gemeente, onder die toesig moet arbei van die sendingkommissie van die meerdere vergadering binne wie se ressort die arbeidsveld geleë is, en dat hy moet staan onder die tug van die ring binne wie se ressort hy woon. Natuurlik moet hy ook lidmaat word van die naaste gemeente van die moederkerk, tesame met sy huisgenote. Die plaaslike gemeente wat hom uitstuur en sy lewensonderhoud dra, moet tevrede wees daarmee om van tyd tot tyd van hulle gesant verslag te ontvang oor die vordering van die werk, maar hulle mag hom nie opdragte gee wat enigsins inbreuk maak op die feit dat hy onder die toesig arbei van die sendingkommissie van die meerdere vergadering binne wie se ressort die arbeidsterrein val nie. So iets as ’n medeleraar met sendingopdrag wat deur ’n plaaslike gemeente buite hulle eie grense gestuur kan word, maar wat tog predikant en lidmaat bly van die gemeente wat hom beroep en gestuur het, is kerkregtelik ontoelaatbaar.
Maar al is dit die voorreg en plig van die plaaslike gemeente om sendelinge te beroep, af te sonder en uit te stuur, kan dit soms tog ook gebeur dat hulle dit nie kan doen nie. Dan kan twee of meer gemeentes saamwerk. Kan dit ook nie gebeur nie, moet die ring onderneem om te doen wat die plaaslike gemeentes andersins moes doen, en waar dit ’n arbeidsterrein geld wat selfs vir een ring te veel word, moet die sinode dieselfde werksaamhede onderneem. Daarby moet dit egter die uitgangspunt wees van die sendingkommissie van ring en sinode dat hulle sal probeer om ’n plaaslike gemeente, of enkele plaaslike gemeentes in kombinasie, te beweeg om ’n sendeling af te sonder vir ’n bepaalde arbeidsterrein. Eers as hulle nie kan slaag nie, sal hulle daartoe oorgaan om self ’n sendeling af te sonder. Langs hierdie weg behoort daar nie die minste inbreuk gemaak te word op die sendingsreg van die plaaslike gemeentes sowel as op die reg van toesig en kontrole van die meerdere vergaderinge nie. En dit behoort die werk van die Here op allerlei vlak ten goede te kom.
* * *
Aan die erode van die weg wil ons dit nog eens bevestig dat ons hierdie aanbevelinge nie as ’n laaste woord oor die aangeleentheid van ons sendingbepalinge kan beskou nie. Dit is maar ’n eenvoudige poging om te probeer verstaan wat die juiste koers vir ons sal wees. Indien dit mag meehelp daartoe om die gedagtes oor hierdie sake in ons kerk te stimuleer, is ons meer as dankbaar, ook al mag dit bevind word dat ons op sommige punte verkeerde gevolgtrekkings gemaak het of die eise van die praktyk nie genoegsaam onder die oog gehad het nie. Mits ons almal saam onthou dat die praktyk geen maatstaf is nie. Ons maatstaf is slegs die Woord van God. Wie daarby bly, hoef ook nie te vrees dat hy in die praktyk verkeerd sal gaan nie.