SÓ MOES DIE KERK IN DIE EERSTE PLEK GEPRAAT HET.
Mandag 20 Januarie 1991. Die Burger, bladsy 13. FORUM
Die kerk moes van die begin af die aard en wese van apartheid ingesien het, skryf W.A. DE KLERK na aanleiding van prof. Willie Jonker se belydenis by die kerkeberaad.
AL die onvermoeide, toegewyde pogings deur die jare om regverdiging in die Bybel te vind vir ideologiese (dit is radikale) apartheid is net maar soorteg.
Geen sekulêre (politieke) heilsplan is ooit anders nie: politieke absolutes word vyande tot die dood toe, nie omdat hulle so van mekaar verskil nie maar omdat hulle so eenders is.
Dit is die ware betekenis van L-S. Mercier se woorde: Les extrêmes se touchent – die uiterstes ontmoet mekaar; oplaas meestal gewelddadig.
Deur die geskiedenis is daar ’n magtige oprog hiervan: van die Pax Romana (eers polities, daarna kerklik); die Pax Britannica (waarvan die Afrikaners ook lank aan die lykant was); die Pax Sovietica, (wat pas verbrokkel het); die Pax Germanica, waarvan die hewig gestorwe Derde Ryk die finale beslag sou gee.
Voeg by al die variasies, klein, middelmatig, groot: met apartheid, vreemd maar waar, as miskien die een wat wêreldwyd die ongunstigste impak gehad het.
Elkeen hiervan, soos die historikus F.A. van Jaarsveld uitvoerig aangedui het, wou God aan hulle kant kry. Net maar die Pax Sovietica het die Groot Uitverkieser in die geskiedenis gaan soek: dít toe met ’n eie misterie beklee. Die Leniniste was dus eintlik tóg gelowiges – in hulle eie selfgemaakte godheid. En die ander hierbo genoem was ook nie anders nie; hulle taal was net meer ortodoks.
Die groot kollektiewes – ras, volk, nasie, staat, kerk, ryk – het hiertoe gedien; maar ook die lotbewuste enkeling wat hom/haarself as spesiaal geroepe tot die taak van redding beskou het.
Dié wat graag vertel dat apartheid slegs misluk het, omdat dit nie behoorlik toegepas is nie, het geen begrip van die aard en wese van die radikale politiek nie.
Wanneer mense glo dat hulle self die argitekte/ingenieurs van die toekoms kan wees, daartoe geïnspireer deur die hoogste idealisme (onthou die nobele ideaal van die kommunisme en Marxisme), die fascisme, die nasionaal-sosialisme, die demos (the people), aparte ontwikkeling (apartheid): gelowende met die edelste motiewe dat hulle en net maar hulle met die toekoms vertrou kan word), kan hulle toenemend geen teenstand duld wat hierdie ideaal in gevaar kan stel nie.
Baie gou moet hulle dan hardhandig, oplaas tiranniek, teenoor opposisie optree: niemand mag die uiteindelike welslae van die ideaal probeer keer nie. Hierdie geroepenheid om die heilstaat van die toekoms te bou lê aan die wese van alle ideologiese, alle radikale politiek.
Die dwaling is presies dié van die mitiese Adam wat deur die spreekbuis van die mitiese Slang gesê het: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Niemand het dit treffender gestel nie as Denis de Rougemont (Frans-Switserse Calvinis) in sy merkwaardige La Part du Diable, wat die skrywer hiervan in Afrikaans bewerk het as Die Aandeel van die Duiwel.
Daaruit word aangehaal: “Dit is nie die kwaad self wat versoek nie; dit is altyd die verbeelde goeie: die goeie wat beter is as wat God self ons kan bied; die goeie wat die mens as … ‘meer geskik’ ag … Omdat Adam en Eva ’n kortpad op hulle weg na goddelikheid soek, word hulle uit die Tuin verban na ’n woestyn wat vervloek is. Omdat hulle hulle status as beelddraers van God te bowe wou gaan en hulself tot gode wou maak, ontdek hulle die verlies van hulle eie menslikheid. Dié wat ’n engel wil wees, word ’n bees, sou Pascal van sulkes gesê het. Die versoeking is derhalwe altoos ‘n utopie …”
’n Mens kan jou goed voorstel dat so iets onder die Christelike Afrikaners ten stelligste ontken sal word. Hulle het nooit só gedink nie, sal hulle verseker. Het hulle dan vergeet wat die leuse van dr. H.F. Verwoerd was, bo almal die een wat as die Profeet van Apartheid (Aparte Ontwikkeling) gesien moet word? Steeds het dr. V. dit aan sy mede-Afrikaners voorgehou: Skep u eie toekoms.
Hieraan het hy hartstogtelik geglo. En so sterk en oortuigend was sy leierskap, so kragtig sy charisma, dat die grootste deel van die Afrikanerdom dit van harte kon onderskryf; kon hulle dit self op hulle beurt in wisselende vorme verkondig.
Maar natuurlik, soos reeds aangedui, was dit geen sonde eie aan die Afrikaners nie. Dit was net maar weer ons eie weergawe van die oersonde van die mens.
Prof. Willie Jonker se belydenis voor die onlangse kerkeberaad het eintlik hierop neergekom. Moontlik sou dit minder misverstand tot gevolg gehad het as dit, soos aangedui, in ’n universele verband geplaas is: nie as verskoning vir wat ook ons gedoen het nie, net maar as konkretisering weer eens van wat deur die eeue met volke en nasies en enkelinge gebeur het. Die Woord moet steeds weer Vlees word.
Daarmee kan gesê word: die kerk moes van meet af aan die aard en wese van apartheid ingesien het. Dit was juis dr. Verwoerd se leuse wat dit bo alle twyfel geplaas het.
Die kerk moes toe reeds aan dr. V. en almal wat so getrou hulle om hom geskaar het, gesê het: “Die mens kan nie die mantel van die Voorsienigheid wil aantrek nie. Die mens moet steeds weer, ook in die politiek (die bestuur van die polis), sy eie perke besef: sy onvermoë om op enige manier die toekoms as ‘t ware te kaap.
Die apostel Jakobus het dit treffend in sy sendbrief gestel: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, sal ons dit of dat doen.”
Ons kerklike leiding moes al in die jare sestig gesê het: “Kom nou, dr. Verwoerd, as u glo dat u die toekoms kan skep, dat ons almal dit kan skep, kan u nie ’n belydende Christen wees nie. Dit is nie u taak om die rol van die Voorsienigheid te probeer speel nie.” Dit het ook die geskiedenis bo alle twyfel bewys.
Dom Sebastian Moore het in sy pragtige God is a New Language dit anders gestel: “It is not a question of the new at all costs, but of what exists as opposed to what no longer exists. And the attempt to restore a past order brings out unpleasant characteristics in those who engage in it. Leave resurrection to God. He knows how it’s done. He raises dead men not dead things.
Ek glo graag dat die huidige vernuwing dít bo alles besef.