DIE PARADIGMAVERSKIL: GEREFORMEERD-CHARISMATIES
(Referaat gelewer by die Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie, UOVS, op 23 Februarie 1999 te Mooigenoeg. )
- Verandering in spiritualiteit
Die keuse van ons tema toon dat daar binne die kerk onsekerheid bestaan oor veranderinge in die tipe spiritualiteit wat in sommige gemeentes na vore kom. Ons beleef kulturele veranderinge waarvan die volle betekenis nog nie bereken kan word nie. Die tradisionele kultuur maak plek vir ’n popkultuur. ’n Sekulariseringsproses van groot omvang het ingetree. Dit raak ook die godsdienstige lewe. Gevestigde kerke verloor hulle historiese invloed. Dit lei tot pogings om by die nuwe klimaat aan te pas. Een daarvan is om ’n spiritualiteit te stimuleer wat beter as die tradisionele reformatoriese spiritualiteit by die gees van die tyd sal pas. Verandering in spiritualiteit hang egter saam met verandering in geloofsbelewing en dit het gevolge vir die konfessionele posisie van die kerk.
Daar is basies drie paradigmata van Christelike spiritualiteit. Die eerste is die liturgies–hoogkerklike van die Oosters–Ortodokse, Rooms–Katolieke en Anglikaanse Kerke. Die tweede is die Woordmatig–reformatoriese van die gereformeerde en Lutherse kerke. Die derde is die ervaringsmatig–entoesiastiese van spiritualistiese of doperse groepe, waarby die charismatiese beweging aansluit. Ek is gevra om iets te sê oor die verskil tussen die gereformeerde en charismatiese paradigmata.
In ons tyd het die charismatiese spiritualiteit vir baie ’n groot aantrekkingskrag. Die invloed daarvan strek oor alle konfessionele grense heen. Dit hang daarmee saam dat dit ’n eenheid van belewing veronderstel, eerder as ’n eenheid van belydenis (Kuen: 1975 62 – 64). Die oorname van charismatiese vorms van spiritualiteit is egter nie sonder gevolge vir die konfessionele karakter van die kerk nie. Dit het ’n ander agtergrond en dra die gees daarvan oor op almal wat daardeur beïnvloed word. Dit kan konfessionele implikasies hê. Om dit in die visier te kry, moet ons op die paradigmaverskil tussen ’n reformatoriese en charismatiese spiritualiteit ingaan.
Wat is kenmerkend van die gereformeerde spiritualiteit?
Die gereformeerde spiritualiteit word gestempel deur die insigte waartoe daar in die Reformasie in die Woord van God gekom is, spesifiek soos dit deur Calvyn en die gereformeerde flank van die Reformasie verstaan is. Dit word gedra deur die besef van die afgrondelike kwaad van die menslike hart aan die een kant, en die heerlikheid van die Evangelie van verlossing uit genade alleen aan die ander kant. Die heil is gegrond in Gods genadige verkiesing en word enkel deur die geloof ontvang. Maar sterker as die Lutherane beklemtoon die Gereformeerdes dat God dié heil langs die weg van die verbond aan die gelowiges en hulle kinders belowe, en dat dit nie alleen persoonlik gelowig toegeëien moet word nie, maar dat ook in gehoorsaamheid aan Gods wet daaruit gelewe moet word. Heiliging is vir Gereformeerdes baie belangrik. Maar dit gaan om meer as die individuele heiliging: die totale lewe moet onder die beslag van Gods wet kom. Soos Abraham Kuyper dit geformuleer het: daar is geen duimbreedte van hierdie werklikheid waarvan God nie sê: Dit is myne nie. Hierdie oortuiging het hy breedvoerig in sy driedelige werk, Pro Rege, beredeneer.
Dit gee aan die gereformeerde vroomheid ’n profetiese karakter. Dit gaan om die heiliging van die ganse lewe. In hierdie verband dink ’n mens aan Wolterstorff se tipering van die Calvinisme as “a world formative Christianity” (1983, 3v), dit is: ’n soort Christendom wat leef by die soli Deo gloria en daarom nie net die hart van die individu nie, maar ook die gesin, die samelewing en die hele wêreld onder die tug van Gods wet wil bring. Dit is vir hulle ondenkbaar dat die diens van God, soos by die Dopers, in ’n entoesiastiese ervaring van die heil kan opgaan. Dit was van die begin af ’n kenmerkende verskil tussen die reformatoriese en die doperse spiritualiteit. Dit bestaan nog steeds tussen die gereformeerde spiritualiteit en hedendaagse gestaltes van die entoesiastiese gees, soos dit onder andere ook in die Charismatiese Beweging na vore kom.
Wat is kenmerkend van ’n Charismatiese spiritualiteit?
Die charismatiese spiritualiteit is ’n bepaalde gestalte van die evangeliese (Engels: evangelical) spiritualiteit waarvan die wortels in die metodisme van John Wesley geleë is. Dit het ’n sterk Arminiaanse basis en is gebore uit die heiligheidsbeweging van die vorige eeu wat verbind was met die Keswick Convention, waarby ook Andrew Murray betrokke was. Dit gaan daarvan uit dat die gelowige ná bekering ’n tweede geestelike ervaring, die second blessing of doop met die Heilige Gees deelagtig moet word om volkome geheilig te word. Binne hierdie dampkring is die Pentekostalisme in Amerika gebore. Dit het egter ’n nuwe element daaraan toegevoeg toe nie net volmaakte heiliging gesoek is nie, maar die doop met die Gees ook verstaan is as ’n ervaring waardeur die buitengewone gawes van die Gees ontvang word, en spesifiek die gawe van glossolalie as die aanvanklike teken of bewys van die doop met die Heilige Gees (vergelyk Jonker: 1983, 212 – 213).
Hierdie entoesiastiese karakter van die Pentekostalisme wat later in die Charismatiese Beweging oorgeneem is, toon verwantskap met die spiritualiteit van die Wederdopers uit die tyd van die Reformasie. Dit is bekend dat Calvyn baie moeite gedoen het om die dopers met hom saam te neem, maar dit het geblyk nie moontlik te wees nie. Dit hang met baie faktore saam. Ten diepste kon hy homself nooit met hulle geesdrywery vereenselwig nie. Teologies gesproke is hulle nie net volledig individualisties ingestel nie, maar dit het ook steeds meer geblyk dat hulle geen oog gehad het vir dinge wat vir Calvyn se teologie basies is nie. Dit geld met name dinge soos die sola fide en die sola gratia. Die uitverkiesing en verbond, en trouens die hele oer-reformatoriese verstaan van die Evangelie, kan by hulle nie tot hulle reg kom nie (Balke: 1977).
Die Pentekostalisme is lank deur die kerke as sektaries gesien, maar sedert die veertiger jare van ons eeu ontstaan daar in Amerika ’n toenadering tussen die Pentekostalisme en die kerke. Enersyds het die Pentekostalisme in ’n proses van kerkwording betrokke geraak, en andersyds het sommige kerklidmate soortgelyke ervarings as die Pentekostaliste deelagtig geword. In die jare sewentig vind daar dan ’n deurbraak van die pentekostalistiese gees in gevestigde kerke plaas. Dit word die neo–Pentekostalisme of Charismatiese beweging genoem. Tans het dit wêreldwyd ingang by Protestantse en die Rooms–Katolieke kerke gevind. Dit stimuleer ’n entoesiastiese godsdienstige belewing waarvan gehoop word dat dit die doodsheid in die kerke kan verbreek. Selfs waar daar nie pertinent sprake is van ’n charismatiese beweging binne ’n gevestigde kerk nie, word die geestelike invloed daarvan tog meermale sigbaar.
Die rede waarom ons vandag hieroor praat, is dat dit ook in die NG Kerk die geval is. Maar dit is in terme van die gereformeerde spiritualiteit ’n metabasis eis tò alló genos, dit wil sê: iets kategoriaal anders. Laat ons duidelik sê dat ons nie twyfel aan die egtheid van die charismatiese ervaring as sodanig nie. Dit hang by talle Christene met ’n verdieping in hulle geestelike lewe saam. Maar dit kan tot vorms van entoesiasme lei en ons weet dat Paulus hierdie soort vroomheid probeer temper het en die Korintiërs eerder in ’n ander rigting wou stuur. Hy wys glossolalie wel nie summier af nie, maar prys dit ook nie aan as iets wat tot die wese van Christelike vroomheid behoort nie (1 Korintiërs 12– 14). Entoesiasme was deur die eeue vreemd aan die spiritualiteit van die kerk, al het dit telkens weer op die rand daarvan voorgekom. Eers in ons tyd het dit ’n beperkte ingang by sommige gevestigde kerke gevind. Dit staan egter haaks op die tradisioneel–gereformeerde vroomheid. Ons onderwerp praat van ’n paradigmatiese verskil van godsdienstige instelling wat aan die twee tipes ten grondslag lê. Daaroor maak ek enkele opmerkings.
Verskille tussen gereformeerde en charismatiese spiritualiteit.
4.1 Die verskil tussen hierdie twee vroomheidstipes kan breedweg getipeer word deur te sê dat Gereformeerdes hulleself verwant voel aan die geloofsbelewing wat saamhang met die teologie van Paulus, veral soos dit in sy briewe aan die Romeine en Galasiërs voorkom, en in die kerkgeskiedenis met Augustinus, Luther en Calvyn. Die charismatiese vroomheid sit egter die entoesiastiese linie van sommige Korintiërs voort, soos dit van tyd tot tyd in doperse en ander bewegings na bo gekom het. Die gereformeerde vroomheid wil op die hele Bybel rus, maar dan in groot mate soos dit deur die bril van Paulus se Briewe aan die Romeine en die Galasiërs gelees word, terwyl die charismatici die Bybel deur die bril van Handelinge 2 en gedeeltes van l Korintiërs lees. Die vroomheid van die Gereformeerdes het ’n kerklik konfessionele aard, terwyl die ervaringsmatige vroomheid van die Charismatici oor alle konfessionele grense heen strek.
Gereformeerdes voel hulleself deel van die Godsvolk van die ou en die Nuwe Verbond en leef by die beloftes wat in die ganse Bybel aan Gods volk gegee is, terwyl Charismatici ’n individualistiese vroomheid daarop nahou wat slegs by enkele perikope van die Nuwe Testament aansluiting vind.
Gereformeerdes voel aangesproke deur wat die Bybel oor die vrug van die Gees sê, terwyl die charismatiese vroomheid meer op die gawes van die Gees konsentreer. Vir Gereformeerdes is dit duidelik dat die Bybel van ons ’n godsvrug vra wat die totale lewe in al sy aspekte omvat, terwyl Charismatici sterker deur ’n entoesiastiese lofprysing van God in die samekomste getrek word. Geen ander rigting in die Christenheid maak soveel erns met die verbond as die Gereformeerdes nie, terwyl doperse rigtings heilsindividualisties ingestel is. Gereformeerdes hou daaraan vas dat die beloftes van God vir die gelowiges en hulle kinders geld, terwyl doperse Christene dit misken.
Gereformeerdes sien Abraham as hulle geloofsvader en voel hulleself verbonde met Israel, die wolk van getuies van Hebreërs 11 en die hele gemeente van die Nuwe Verbond, terwyl die doperse spiritualiteit die Ou Testament verwaarloos en hoofsaaklik aansluit by Handelinge 2 en die gedeeltes in die eerste Brief aan die Korintiërs wat oor die entoesiasme van die Korintiërs handel.
4.2 Daarom is dit vir die gereformeerde vroomheid kenmerkend dat dit aansluit by die soort vroomheid van die Ou Testament, veral van die Psalms en Profete. Geen ander rigting in die Christenheid vertoon op dieselfde wyse as die Gereformeerdes die vormende invloed van die ou Testament nie. AA van Ruler het die gewaagde uitspraak gemaak dat die Ou Testament die eintlike Bybel is, terwyl die Nuwe Testament die verklarende aantekeninge daarby is (1945: 123– 149). Dit was uitlokkend bedoel, maar beklemtoon tereg dat Gereformeerdes nie by die Nuwe Testament sonder die Oue kan lewe nie. Dit verklaar hulle liefde vir die Psalms. Daarin vind hulle hul eie behoefte aan God en die omgang met die almagtige en troue Verbondsgod verwoord. Die verdwyning van die Psalms uit ons eredienste is ’n sterk aanduiding daarvan dat ons wegbeweeg van die gereformeerde vroomheidstipe.
4.3 Gereformeerdes is van huis uit sober in die beoefening van hulle godsdiens. Vir buitestaanders mag hulle selfs stug voorkom. Die besef van Gods soewereiniteit en heiligheid én hulle eie onheiligheid lei tot ’n soberheid by Gereformeerdes in hulle omgang met God. Dit is egter ’n misverstand om te dink dat hulle stug is. Die belydenis van Gods soewereine genade vir sondaars en die verkiesing maak hulle egter beskeie, omdat hulle weet dat Gods guns nooit deur ons verdien kan word nie. Die genadeverbond is vir hulle ’n groot troos, omdat hulle leer vashou aan die beloftes van God wat in die verbond toegesê en sakramenteel in die doop beseël is. Sakramente is vir hulle ’n bevestiging van Gods beloftes en nie soos vir alle doperse en spiritualistiese groepe, dade van die gelowiges waarmee hulle hul toewyding aan God bevestig nie.
4.4 Die paradigmaverskil tussen Gereformeerdes en entoesiastiese groepe hang ook daarmee saam dat Gereformeerdes Augustinus as hulle teologiese voorvader sien en leef by die visie op die Evangelie wat in die Reformasie deur Luther, Calvyn en die ander Reformatore in konfrontasie met die Katolieke Kerk herontdek en teenoor die spiritualisme van die Dopers afgegrens is. As ons die teenstelling oorneem wat Barth in KD I/2,304v tussen religie en geloof maak, kan ons sê dat Gereformeerdes wil leef uit die Evangelie van genade wat deur die geloof ontvang word. Dit is iets anders as religiositeit. Religie kan baie gestaltes aanneem – dié van die Rooms-Katolieke ritualisme met alles wat dit behels, maar ook dié van godsdienstige entoesiasme. Die Bybel roep ons egter nie op tot religie nie, maar tot die geloof in God en die versoening wat Christus vir ons bewerk het en deur die Gees in ons verwerklik word. Die Reformasie staan of val by die sola gratia en sola fide.
4.5 Die geslagslyn van die Pinksterchristene ontspring in 1 Korintiërs 14 en loop in die geskiedenis oor Montanus, Novatius, die Donatiste, Kathare en Waldense. Reeds die Montaniste in die tweede eeu wou die kerk na die ervaring van Handelinge 2 teruglei. Berkhof vertel in sy Geschiedenis der Kerk (39 – 40) hoe Montanus en sy twee profetesse in ekstatiese vervoering geraak en in tale gepraat het. Dit het baie mense aangetrek. Selfs iemand soos Tertullianus het ’n Montanis geword, maar soos dit in die geskiedenis altyd met sulke bewegings gegaan het, dit het na verloop van tyd getaan en verdwyn totdat die gees daarvan in ’n nuwe entoesiastiese beweging sou herleef. Ook die Anabaptisme van die 16de eeu hoort in hierdie linie tuis. Die Reformatore het dié soort spiritualiteit afgewys, maar dit het sedert die Reformasie telkens weer na vore gekom. Veral wanneer geestelike verdorring en doodsheid in die kerke ingetree het en ’n verlange na ’n inniger belewing van die heil ontstaan het, is bewegings gebore wat ruimte vir doperse elemente gemaak het.
4.6 Histories het die begeerte na ’n inniger belewing van die heil in gereformeerde kringe egter nooit die entoesiastiese vorm van die doperse vroomheid aangeneem nie. In die Puritanisme en die Piëtisme het dit soms selfs byna ’n somber en na binne gekeerde karakter gedra (vergelyk Woelderink: 1946 oor die soort vroomheid van die “swaar gereformeerde” groepe in Nederland, en H Berkhof, 1941: 176, 238, 253 ens). Maar daar is tog ’n verwantskap met die doperse spiritualiteit. Alle subjektiwisme kan die weg na die entoesiasme open. Dit sien ons in die Metodisme waarvan die invloed in die 19de eeu deur bemiddeling van die Skotse predikante, en met name van Andrew Murray, op die NG Kerk ingewerk het. Murray wou allermins ’n soort entoesiastiese vroomheid stimuleer, maar die soort spiritualiteit wat in die groot herlewing van 1860 in Worcester uitgebreek het, het tog direk met sy soort vroomheid in verband gestaan (vergelyk J du Plessis: 1920, 193v). En die Apostoliese Geloofsending is in ons land binne die onmiddellike invloedsfeer van die soort vroomheid van Andrew Murray en die herlewing van 1860 gebore (Hollenweger: 1972, hoofstuk 9).
4.7 In die oorgang vanaf die vroomheid van Murray en die heiligheidsbeweging na die Pinkstervroomheid is daar egter ’n sprong gemaak. Dit is die sprong vanaf heiligheidsverlange na die entoesiasme. Kuen haal Kurt Hutten aan: “Die Pfingstfrömmigkeit repräsentiert einen anderen Typ als die reformatorische Frömmigkeit. Sie hat einen anderen Ursprung. Sie ist eine emotionale, nicht eine Glaubensfrömmigkeit” (1975, 43). Die soort vroomheid van die Charismatiese Beweging stimuleer religieuse belewing. Dit beoog die opwekking van blydskap en entoesiasme. Dit wil die Nieu–Testamentiese charismata in eie midde ervaar, veral die buitengewone gawes. Maar daarin is hulle eensydig. Die Nuwe Testament weet van meer as twintig charismata, waarvan lank nie almal spektakulêr is nie. Geen kerk kan sonder die gawes van die Gees bestaan nie, maar die gawes wat tot opbou van die gemeente dien, is meestal nie buitengewoon nie (Kuen: 1975, 47).
4.8 Die soberheid van die gereformeerde erediens getuig van diepe eerbied vir God en sy Woord. Die Woord staan daarin sentraal, nie net in die verkondiging nie, maar ook in lied en gebed. Hierin verskil Gereformeerdes van Rooms–Katolieke en Oosters–Ortodokse Christene, maar ook van die soort entoesiastiese spiritualiteit van die Charismatiese Beweging. Geen ware omgang met God kan sonder ervaring wees nie, maar dit kom verskillend tot openbaring. Die soberheid van die Gereformeerdes verskil nie net van die mistieke kultiese klimaat van die Oosters–Ortodokse en Rooms Katolieke kerke nie, maar ook van die uitbundigheid van entoesiastiese groepe. ’n Gereformeerde erediens is nog ’n kultiese skouspel, nog ’n uitbundige happening. Dit is sober en vol eerbied in die bewustheid van Gods teenwoordigheid. Dit adem die nugterheid van die geloof wat op Gods Woord gerig is. Dit vorm ’n brandpunt in die gemeenskap van die gelowiges. Hoe saai dit vir vreemdes mag lyk, dit bevat ’n rykdom van elemente vir wie die wese daarvan verstaan (vergelyk AA Van Ruler: Waarom zou ik naar de kerk gaan?).
Die tweeslagtigheid van die tradisionele spiritualiteit van die NG Kerk
5.1 Die spiritualiteit van die NG Kerk het geblyk gevoelig vir entoesiastiese vroomheid te wees, omdat dit ’n sekere tweeslagtige karakter dra. Die NG Kerk is gereformeerd en wil dit wees. Maar die NG Kerk is nie ’n gewone gereformeerde kerk nie. Haar vroomheid het ’n sterk Evangeliese inslag. Daarin verskil dit van die historiese gereformeerde vroomheidstipe van ander kerke van Nederlandse oorsprong. Sy het ’n groter openheid vir metodistiese en piëtistiese vorms van godsdienstige belewing. Baie van ons lidmate word aangespreek deur ’n tipe vroomheid wat histories hoofsaaklik by pentekostalistiese en charismatiese groepe voorgekom het. Dit sluit wel aan by die hedendaagse kulturele situasie. Maar dit kan vir die kerk geen onverskillige saak wees nie, ten minste as sy nog prys daarop stel om gereformeerd te bly. Die oorname van ’n charismatiese spiritualiteit sal op die duur gevolge vir die konfessionele karakter van die kerk hê.
5.2 Die kerklike distansiëring van die soort godsdiensbelewing van die Pentekostaliste het meegebring dat daar tot onlangs ’n uiters geringe drang by lidmate van die NG Kerk was om by Pinksterkerke aan te sluit. Maar die Pinksterkerke het onder leiding van iemand soos Justus du Plessis ’n ontwikkeling in die rigting van kerk–wording deurgemaak wat hierdie situasie laat verander het. Daarby het die invloed van die Charismatiese Beweging in die jongste tyd beteken dat daar binne in die kerk ’n openheid vir entoesiastiese vroomheid ontstaan het. Lidmate en selfs predikante voel hulleself daartoe aangetrokke. Dit kan ingrypende gevolge vir die gereformeerde karakter van die kerk hê (Theron:1989, 322 – 323).
5.3 Die NG Kerk het histories ’n onbeskermde flank teen die soort vroomheid van die Charismatiese beweging. Ons opwekkingsdienste, Pinkster–bidure en tweeslagtige liedereskat adem ’n Evangeliese gees. Dit is wel teruggedring deur die teologiese vloed wat die Gereformeerde Kerke in Nederland in hierdie eeu op ons gehad het. In die afgelope dekades is die gereformeerde karakter van die kerk in sekere opsigte versterk. Maar dit lyk tans of die effek daarvan nie groot genoeg was nie. Trouens, dit wil voorkom of die ineenstorting van die openbare beeld van die NG Kerk in die nuwe politieke situasie die neiging tot Evangeliese vroomheid verder versterk (vergelyk Jonker: 1998).
5.4 Dit kan meebring dat die teosentriese paradigma van die gereformeerde spiritualiteit meer as tevore plek sal maak vir die antroposentriese paradigma van die pentekostalisties–charismatiese spiritualiteit. Gereformeerdes gee prioriteit aan die Woord van God en wil in ’n geloofsverhouding God op ’n nugter wyse aanbid, vrees en gehoorsaam. As ’n charismatiese spiritualiteit egter oorneem, maak ’n nugter en eksegetiese verkondiging plek vir religiositeit wat beoog om ’n bepaalde ervaring op te wek en tot groot dade in die Naam van God aan te spoor.
Geloofsvroomheid wat bestaan in ’n lewe van gehoorsaamheid op alle terreine, word vervang met ’n ervaringsvroomheid van individualistiese karakter.
5.5 Adrio König skryf in sy boek Vernuwe of Verdwyn (1998) tereg dat die NG Kerk ’n tweeslagtige karakter dra, omdat sy in haarself twee strominge verenig: die gereformeerde en Evangeliese. Hy is van mening dat wat die NG Kerk tans ervaar, die invloed is van die Evangeliese tradisie, maar in ’n gewysigde vorm en met ’n beperkte invloed van die Pinkster–Charismatiese spiritualiteit. Sy boek is ’n pleidooi dat die NG Kerk dit moet aanvaar, terwyl daar tog ook ruimte gelaat moet word vir tradisionele gereformeerde eredienste (König: 88). Dit is egter uiters onwaarskynlik dat dit werklik ’n vernuwing van die NG Kerk as ’n gereformeerde kerk sal beteken. Dit sal eerder beteken dat die gereformeerde karakter van die kerk nog verder verswak sal word in ’n Arminiaanse en entoesiastiese rigting. Maar dit is ’n vraag of dinge nie reeds sover ontwikkel het, dat ons dié tendens eintlik nie meer kan keer nie.
Waarom die charismatiese paradigma vir baie aantreklik is.
6.1 Lidmate is dikwels opgewonde oor die charismatiese invloed op ons eredienste, omdat dit die weg open vir ’n lewendiger en minder formele karakter van die diens en in pas is by die moderne kultuur met sy sterk klem op subjektiewe belewing. Charismatiese vorms van lofprysing en aanbidding skep ’n klimaat wat aansluit by die popkultuur en kan groter opkomste by eredienste bevorder. Waar die kerk as stug, saai en vervelig ervaar word, skep die nuwe soort aanpak ’n atmosfeer wat in die moderne smaak val. Psalms, gesange en die orrel maak plek vir sang en musiek van ’n ligter en populêre aard onder begeleiding van ander instrumente. Dit sluit eerder by die styl van die Pinksterkerke aan as by die protestantse tradisie. ’n Klimaat word geskep wat vreemd aan ’n gereformeerde erediens is, en dit blyk baie gewild te wees.
6.2 Hopelik sal niemand vernuwing in die kerk wil afkeur of probeer om alles te hou wat dit altyd was nie. Maar alle vorms van vernuwing lei nie in die regte koers nie. Die vrees bestaan dat die huidige veranderinge die aard, vroomheidstipe en konfessionele karakter van die kerk in gedrang sal bring. Daar is immers ’n onlosmaaklike band tussen geloofsbelewing en geloofsoortuiging. Waar die reformatoriese geloofsbelewing op die Woord en beloftes van God gerig is, is die geloofsbelewing van doperse groepe op die ervaring van die heil gerig. Subjektiewe belewing en religiositeit kry dan prioriteit. Religiositeit is ’n algemeen–menslike fenomeen wat welig kan tier ook waar die Evangelie nie geken of begryp word nie, terwyl ware geloof uit die Evangelie leef en daarop bou. Dit kan wees dat dit tans ook om die verskil tussen geloof en religie gaan (om ’n Barthiaanse onderskeiding te gebruik). Gereformeerdes stel egter geloof in die Woord voorop, nie die stimulering van religiositeit nie. Die kerk het die Dopers altyd afgewys, omdat ons nie deur die religie gered word nie, maar uit Gods genade langs die weg van die geloof. ’n Doperse soort spiritualiteit kan teruglei na die dienshuis van religie in plaas van na ’n lewe uit Gods genade alleen.
Bedoel die NG Kerk om charismaties te word?
7.1 Dit is natuurlik ’n vraag of die NG Kerk werklik bedoel om ’n charismatiese soort vroomheid te aanvaar en of dit nie maar net ’n kokettering is met die populêre smaak nie. Dit is nie so seker dat ons mense regtig die spiritualiteit van die charismatiese beweging na sy wese sal oorneem nie. Die spreek in tale word sover ek weet nie gesoek of onder ons beoefen nie. Die raserigheid en wanorde wat uitstekend in ’n charismatiese byeenkoms pas wat ure lank kan duur, sal nie maklik in ’n NG Kerk inslag vind nie. Die prediking is by ons ook nog eerder in die styl van die evangelical en revival tradisie as in ’n egte charismatiese gees.
7.2 Dit lyk eerder asof die huidige tendens daarop gemik is om ’n Evangeliese vroomheidstipe te stimuleer wat ’n voorstadium van die charismatiese spiritualiteit is. Dit skep ’n vrolike klimaat van sang en musiek en ’n atmosfeer van vertroulikheid met God wat die subjektiewe belewingsaspek van die byeenkoms versterk. Dit verskil in karakter van die tradisionele gereformeerde erediens, maar is nie werklik charismaties nie. Dit is ’n oorname van die Amerikaanse Evangeliese paradigma en in ’n sin ’n terugkeer na die gees van herlewing wat aan die Pentekostalisme en Charismatiese Beweging voorafgegaan het.
7.3 Dit wek ’n begeerte na grootse en buitengewone dinge, magtige demonstrasies en geestelike byeenkomste, groot projekte wat oor die hele wêreld heen aangepak word, visies vir die sending in verre dele van die wêreld, ensovoorts. Dit sluit eerder aan by die Amerikaanse tradisie van groot predikers wat groot skares lok en begeester (vergelyk Smail, Walker en Wright: 1995). Dit stimuleer ’n verlange na die grootse, spektakulêre en buitengewone. Dikwels word entoesiastiese jongmense daardeur bekoor en is hulle bereid om alles prys te gee vir groot visies van die herkerstening van Europa of Rusland, ensovoorts. Ongelukkig word dié ideale nie altyd met die nodige wysheid nagestreef nie. Jongmense sonder opleiding of behoorlike steun word soms in die post–Christelike Europa of Oos–Europa ingestuur om te gaan getuig. Entoesiasme sonder praktiese sin loop egter dikwels op harde ontnugterings uit.
7.4 Robert Terwilligers skryf: “The charismatic movement has focused the attention of the Church on the Holy Spirit, but it has had a tendency to concentrate too exclusively on the experiential aspects of the Holy Spirit. There is more to the Spirit than being moved, either as individuals or as groups. There are infinite dimensions to the life of the Spirit. In the history of the Church the theology of the Spirit has been neglected, though more in the Western than in the Eastern church. Now, as seldom before, we need thought as well as feeling concerning this doctrine. We need an intellectual experience of the Spirit as much as an intellectual experience of Christ”(1974, 70). Tom Smail, wat eers ’n Skots-gereformeerde Charismatikus was, maar intussen by die Oosters-Ortodokse Kerk aangesluit het, kla daaroor dat die charismatiese Christene altyd net wil loof en prys, maar dat hulle nie aan die belydenis van skuld of voorbidding aandag gee nie. Hulle konsentreer op die ministry of healing, maar vergeet dikwels die prayer for healing. Hy vrees dat hulle geestelike ervaring ’n diepte-dimensie kortkom, en dat hulle met baie min verstaan van ons totale afhanklikheid van God (1995, 110v).
7.5 Die beste teenvoeter teen eensydighede is dat die kerk moet probeer om in die hele Skrif te lewe: Ou en Nuwe Testament, wet en Evangelie, belofte en eis. Teoreties het die Gereformeerdes ’n beter insig daarin as die Charismatici. Ook hulle wil oop wees vir die werking en leiding van die Gees, maar hulle spiritualiteit het ’n breër skopus as dié van die Charismatici. Hulle erfenis is die katolieke volheid van die Christelike geloof. Hulle verstaan die heil as iets wat betrekking het op die totale menslike lewe in al sy verbande. Hulle wil in alles deur die geloof uit die objektiewe heil en beloftes van God lewe. Dit is my hartsbegeerte dat ons die rykdom van die leer van die Heilige Gees mag ontdek, sodat ons die saak van die Evangelie op die beste moontlike wyse kan dien.
BEKNOPTE LITERATUURLYS
Balke, W: 1977. Calvijn en de doperse radikalen. Amsterdam. Ton Bolland.
Barth, K: 1938. Die Lehre vom Wort Gottes. KD I/2. Zollikon. Berkhof, H: 1941. Geschiedenis der Kerk. Nijkerk.
Callenbach.
Bruner, FD: 1970. A Theology of the Holy Spirit. Grand Rapids. Eerdmans.
Du Plessis, J: 1920. Het leven van Andrew Murray. ZA Bijbelvereniging. Kaapstad, 1920.
Hollenweger, Walter J: 1972. The Pentecostals. Londen. SCM.
Hollenweger, Walter J: 1976. De Geest spreekt in alle talen. Ekumene. Baarn, Bosch en Keuning.
Hummel, Charles G: 1979. Fire in the Fireplace. Intervarsity.
Jonker, WD: 1983. Die Gees van Christus. Pretoria. NGKU.
Jonker, WD: 1989. Die eie aard van die gereformeerde spiritualiteit. NGTT, Julie 1989, 288v.
Jonker, WD: 1998. Kragvelde in die kerk. Aambeeld, Junie 1998, 11–13.
König, Adrie: 1998. Vernuwe of Verdwyn. Lux Verbi.
Kuen, Alfred: 1975. Die Charismatische Bewegung. Wuppertal. Brockhaus.
Kuyper, A: 1911. Pro Rege of het Koningschap van Christus. 3 dele. Kampen. Kok.
Ramsey, M, Terwilliger, R en Allchin, AM: 1974: The charismatic Christ. Darton, Longman en Todd.
Srnail, T; Walker A en Wright N: 1995. Charisrnatic Renewal. SPCK.
Suenens, LJ: 1975. A New Pentecost? Seabury Press. New York.
Theron, JPJ: 1989. Die invloed van die NG Kerk op liturgiese verwikkelinge binne die AGS van Suid–Afrika: die rol van pastoor JT du Plessis, in: NGTT, Julie 1989, 312v.
Van Ruler, AA: 1945. Religie en Politiek. Nijkerk. Callenbach.
Van Ruler, AA: Ongedateerd. Waarom sou ik naar de kerk gaan? Nijkerk. Callenbach.
Woelderink, JG: 1946. De gevaren der doopersche geestesstrooming. ‘s, Gravenhage. Guido de Bres.
Wolterstorff: 1983. Until justice and peace embrace. Grand Rapids, Eerdmans.