Die Transvaler se Kersfees-Fonds

DIE TRANSVALER SE KERSFEES-FONDS
Die Voorligter, Briewekolom, Deel XXV, Nr. 11, Oktober 1962, 31.
Dr WD Jonker en dr AC Barnard

In u uitgawe van September verskyn daar ’n artikel van ds LP Spies onder die opskrif “Kersfees-fonds deurstaan Vuurproef”. Hoewel ondergetekendes groot respek en waardering het vir die persoon en werk van ds Spies en dus uiters ongraag op sy artikel reageer ag ons dit egter noodsaaklik om dit te doen: enersyds omdat dit vir ons lyk asof ds Spies die eintlike punt in die sinodale besluit wat hy bestry, nie goed raakvat nie, en andersyds ter wille van moontlike wanindrukke by lesers. Ons goeie verstandhouding met ds Spies gee ons juis ook die vrymoedigheid om in hierdie saak broederlik van hom te verskil.

Laat dit heel van die begin gesê word dat ons nie téén Die Transvaler se Kersfees-fonds is nie, net so min as wat die Sinode dit is. Trouens, in die rapport wat voor die Sinode gedien het word daar met waardering oor die Fonds gespreek. Maar ons begeer – en daarin staan ons lojaal by die besluit van die Sinode – dat die lyne prinsipieel korrek en duidelik getrek moet word. Dit kan egter alleen gebeur as die terreine van kerk en volk (en daarby kerk en politieke party duidelik onderskei word – iets wat met Die Transvaler se Kersfees-fonds nie maklik tot sy reg sal kan kom nie solank as wat die kerk as instituut op die huidige wyse met Die Transvaler by die insameling van die fonds saamwerk. Niemand is daarteen dat ons as Afrikaners en as lesers van ’n bepaalde blad saamwerk met die insamelingspogings vir liefdadigheid wat ’n dergelike blad mag loods nie, maar die kerk as instituut moet versigtig wees hoe en waarmee hy hom inlaat en waarvan hy vir sy werk afhanklik word, daar dit moontlik sy profetiese vryheid in die gedrang kan bring.

Die sinodale besluit in verband met die Kersfees-fonds is enkel daarop bereken om hierdie punt prinsipieel duidelik te stel en enige bestryding van die besluit sal eers dan werklik ter sake word as dit daarvan afsien om vanuit die praktyk met allerlei argumente die fonds te verdedig, en liewer aantoon waar die Sinode teologies-prinsipieel gefouteer het. Die Sinode – en ons almal waardeer die Kersfees-fonds as ’n gebaar van die volk vir die volk, maar uit die betrokke besluite is dit duidelik dat die Sinode ’n verbintenis tussen die kerk en ’n politieke dagblad, en wat meer is: ’n afhanklikheid van die kerk van daardie politieke dagblad as ’n gevaar beskou, omdat dit op die ou end kan eindig in ’n bedreiging van die kerk se profetiese vryheid. Juis waar ds Spies se hele artikel die afhanklikheid van die kerk van die blad se insamelingspogings beklemtoon. behoort ons die tydige en geregverdigde waarskuwing van die sinodale besluit ter harte te neem.

Dit is dan ook nie oortuigend om die sinodale besluit te bestry deur te wys op verlede jaar se groot insamelings nie. Het die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid dan nie persoonlike afvaardigings gestuur om by elke Ring te pleit om die Fonds tog te ondersteun, omdat die Diens van Barmhartigheid finansieel in so ’n benarde posisie verkeer nie? En is dit nie moontlik dat sommige wat graag die prinsipiële weg bewandel sal wil sien, toe maar kop gegee het ter wille van die situasie nie. Maar afgesien daarvan, lyk dit vir ons of die ware toets vir die Fonds nie geleë is in die vraag hoeveel mense daartoe bydrae nie, maar of die Fonds soos dit tans ingesamel word en deur die kerk as instituut gesteun en as ’n insamelingsmetode omhels word, die ware toets van suiwer beginsels kan deurstaan. Die Sinode het daaragter ’n vraagteken geplaas.

Ons as dit gevolglik ook nie heeltemal billik om Die Transvaler se Kersfees-fonds gelyk te skakel met alle ander bronne van buite waaruit die kerk op een of ander manier voordeel trek nie. Wie dit doen, weier om in aanmerking te neem dat ’n politieke dagblad iets anders is as ’n onderneming soos Pro Regno wat ’n maatskappy is, gestig deur lidmate van die kerk met die uitsluitlike doel om alle winste vir die werk van die Here te gee. Hoe bedreig dit die profetiese vryheid van die kerk as hy ’n groep lidmate se eerlik verdiende geld, wat die kerk onvoorwaardelik aangebied word, aanvaar? Maar kan dieselfde gesê word van die fonds van ’n politieke dagblad wat uit volksmotiewe byeengebring word en die kerk inskakel by en afhanklik maak van die diens wat die mondstuk van ’n bepaalde politieke party aan die volk wil lewer? Om presies dieselfde rede is dit nie heeltemal billik om Die Transvaler se Kersfees-fonds op een lyn te stel met die subsidies van die staat nie. Ons is nie ten gunste daarvan dat die kerk van die staat geld moet ontvang vir direkte geestelike arbeid maar ons meen tog dat daar terreine is waarop die staat sekere fasiliteite beskikbaar stel waarvan die kerk op gelyke voet met ander openbare instellinge gebruik kan maak sonder dat dit die kerk kompromitteer of sy profetiese vryheid in die gedrang hoef te bring. Daardie fasiliteite is nie afhanklik van die party wat op die oomblik aan bewind is nie en bind die kerk aan geen bepaalde politieke party nie. Die staat is ’n onpartydige en objektiewe grootheid. Maar kan dieselfde gesê word van die mondstuk van ’n bepaalde politieke party?

Ons is daarvan oortuig dat die sinodale besluit probeer het om die saak suiwer te stel, sonder enige bedoeling om Die Transvaler en sy mooi pogings as sodanig te na te kom daarom word daar in die algemeen gespreek van “enige blad se Kersfees-fonds”. Kerk en volk sal egter albei daarby baat as ons die terreine suiwer onderskei en nie vermengings laat plaasvind wat ons later almal in groot verleenthede kan laat beland nie. Dit is eintlik al wat die Sinode baie duidelik wou sê.