Verbryseling
Die Burger 9 September 1989
Daar is niks waarvoor ons so bang is as vir pyn nie. Alles wat in ons is, skreeu daarteen. Ons hele geskape bestaan roep na heelheid, vreugde, vervulling en versadiging. Pyn is die negasie van al hierdie dinge, en vir ons natuurlike besef sinloos en weersinwekkend. As ons dit kon regkry, sou ons van alle pyn wou wegvlug.
Tog is lyding in ons lewe nie net sinloos en negatief nie. God kan van ’n negatief ’n positief maak. In die Bybel word ook gepraat van die positiewe betekenis wat beproewing in ons lewe kan lê as ons dit as tugtiging verstaan wat deur die hand van God oor ons lewe gebring word (Heb. 12:11-12).
Die diepsinnige boodskap van die Bybel is immers dat ons deur die lyding van Jesus Christus gered is. Lyding is nie maar iets toevalligs nie. Dit is deel van die vloek oor die sonde wat op die skepping rus. Jesus is die Kneg van die Here wat die vloek van ons sonde op Hom geneem het. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jes. 53:5).
Die genesing wat Jesus vir ons gebring het, beteken egter nie dat ons in hierdie lewe reeds van alle lyding onthef word nie. Sy lyding bevry ons van die straf van die sonde wat op ons gerus het, maar dit beteken nie dat ons nie nog steeds in die wêreld sal ly nie. Solank ons op aarde lewe, sug ons saam met die ganse skepping onder die lyding, verydeling en verganklikheid wat die gevolge van die sonde is (Rom. 8:17-25).
Dit is waar dat daar baie lyding in die wêreld is waarin ons geen sin kan ontdek nie. Maar vir wie in Christus glo, is ten minste die karakter van sy persoonlike lyding tog verander. Dit is nie meer lyding as straf nie, maar lyding as weg tot die afsterwing van ons ou sondige natuur wat deur die sonde beheers word. Daarom is ons lyding tans ’n lyding saam met Christus, ’n ingaan in die dood van Christus, sodat ons kan opstaan in ’n nuwe lewe van gelykvormigheid aan Hom.
Vir die kind van God is lyding die ingaan saam met Christus in die verbryseling wat Hy ter wille van ons sonde moes ondergaan sodat ons innerlik bevry kan word van ons sondige aard om steeds meer gelykvormig aan Hom te word. Dit geld in die besonder die smaad wat ons moet ly as ons aan Christus gehoorsaam is. Maar in ’n sin geld dit van alle lyding. Ons moet deur baie verdrukking gaan voor ons in die koninkryk van God kom (Hand. 14:22).
Selfs die pynlike doring in ons vlees word daarom vir Paulus ’n middel wat meewerk tot sy heiliging. Dit is geen sieklike masochisme as Paulus sê dat hy bly is oor swakhede, beledigings, vervolging en pyn ter wille van Christus nie (2 Kor. 12:10). Immers, Gods genade is vir hom genoeg. Juis as hy swak is, is hy sterk.
Laat ons getroos in die verbryseling met Christus ingaan. Die weg van die kruis is die weg na die lig. – WDJ