Vereenselwiging

Die Burger, 13 Oktober 1979, bladsy 6
VEREENSELWIGING

Dit het ’n gemeenplaas geword om te sê dat ons gemeenskap hom in ’n oorgangsfase bevind. Op talle terreine ervaar ons verskuiwings en veranderinge waarvan ons in hierdie stadium nog nie die konsekwensies kan voorsien nie. Ons belewe ’n kulturele reoriëntasie wat op een of ander manier ons hele lewe raak. Dit is nie vreemd dat dit ook weerklank vind in die kerklike en godsdienstige lewe nie.

’n Mens sou blind moet wees as jy nie sien dat daar onder ons ’n nuwe geslag opstaan wat op ’n nuwe manier na die betekenis van die Christelike geloof vir die totaliteit van ons lewe vra nie. Ou gebruike en oortuigings word opnuut op hul houdbaarheid en draagkrag in ’n nuwe situasie getoets. Vrae word gestel oor sake wat in die verlede as vanselfsprekend aanvaar is. Soos op alle ander terreine, word ook op die gebied van die kerklike en godsdienstige lewe krities gekyk en soms hard geoordeel oor die bestaande.

Dit is nie vreemd dat dit so is nie. Dit moet selfs in beginsel verwelkom word dat dit gebeur. As ons kerklike en godsdienstige lewe nie moet stagneer nie, is dit noodsaaklik dat elke geslag opnuut die wesenlike betekenis van die evangelie vir homself moet toeëien en dit moet leer interpreteer in woorde en dade – gesindhede en beslissings wat vir sy eie tyd noodsaaklik is. Dat daar in hierdie proses dikwels iets van die generasiegaping sigbaar sal word, spreek volledig vanself. Dat daar kritiese woorde van weerskante van die kloof tussen die generasies sal val, is ook verstaanbaar. Aan albei kante word daar met sorg kennis geneem van wat by die ander kant as ’n verwaarlosing van wesenlike elemente van die evangelie gesien word. Veral met betrekking tot die praktiese vrae wat lewenstyl en sede betref, kan die verskille soms byna onoorkomelik groot lyk.

Wat in hierdie situasie van die grootste belang is, is dat albei groepe mekaar moet vashou. Dit kan alleen gebeur as albei groepe hulle met mekaar vereenselwig en mekaar aanvaar as eerlike gespreksgenote oor die vraag wat die evangelie vandag vir ons beteken. Dit kan egter nie tot stand kom as mense hulself die reg toeëien om hooghartig oor andere te oordeel en te maak of hulle alleen weet wat reg is en andere moedswillig die evangelie verloën nie. Die jeug kan so maklik sonder deernis die kerk bespot en afskryf, en die ouer geslag kan so maklik die jeug misken in sy eerlike intensie om die evangelie werklik te laat geld.

As albei groepe hulself met die kerk, maar meer nog, met die saak van die kerk, die evangelie van Christus vereenselwig, behoort dit moontlik te wees om in liefde mekaar in die waarheid te dien, selfs in ’n tyd van moeilike reoriëntasie. – WDJ