Geen toeval nie

GEEN TOEVAL NIE
Die Burger, o
ngedateer

By die einde van die jaar is dit goed om daaroor terug te kyk en sommer die geleentheid te benut om die gang van ons hele lewe in oënskou te neem. Dan sal ons opnuut besef hoe eienaardig elkeen van ons se lewe verloop het, en hoe ’n bepaalde patroon daarin sigbaar word.

’n Mens kan jou daaroor verwonder hoe skynbaar toevallige dingetjies jou lewe in ’n ander rigting gestuur of ’n bepaalde inhoud gegee het. Dit gebeur omtrent nooit dat ons lewe, of ook slegs maar een jaar daarvan, presies uitval soos ons ons dit voorgestel het nie.

Ons hele lewe is vol verrassings, teleurstellings, onverwagte wendinge en onberekende “toevallighede” wat later blyk van ingrypende betekenis te gewees het. In die moment wanneer sulke dinge met ons gebeur, kan ons nooit voorsien of besef wat die draagwydte daarvan is nie.

Dikwels blyk dit dat dinge waarvan ons veel verwag het, met die loop van die tyd feitlik verbleek tot betekenisloosheid, terwyl andere waarop ons skaars gelet het, ons hele lewensloop verander. As ’n mens daaroor terugkyk, kom jy onder die indruk dat dit onmoontlik “toeval” kon gewees het wat ons lewe beheers het. Die perspektief wat deur die afstand meegebring word, laat ons sien dat daar ’n plan met ons lewe was en ’n hand wat dit alles bestuur het.

As ons werklik in God glo, is daar nie ruimte in ons lewe vir so iets as toeval nie. Ons weet dat God alle dinge regeer en dat sy sorg oor ons hele lewe gaan. Ons weet ook dat dit nie maar ’n neutrale beskikking is nie, maar dat dit die sorg van sy liefde is wat ons lewensweg bepaal. Selfs wanneer dit vir ons na presies die teenoorgestelde lyk, moet ons in die geloof aanvaar dat dit Gods goedheid is wat ons langs ’n bepaalde weg lei, en dat ons nie uitgelewer is aan die grille van die noodlot of die wisselvallighede van die toeval nie.

Aan die einde van ons weg sal ons miskien beter as vandag verstaan waarom daar in die loop van hierdie afgelope jaar bepaalde dinge met ons gebeur het waarvan die volle betekenis nou nog vir ons verborge is. En werklik ten volle sal ons eers die gang van ons lewe verstaan in die groot lig van Gods oordeelsdag.

Maar intussen is dit ons troos met die wisseling van die jare en by die onverklaarbaarheid van baie wat met ons gebeur, dat ons mag vashou aan die hand van die Vader wat in Christus aan ons die bevestiging gegee het dat ons vir Hom saak maak en dat Hy nie net met simpatie en liefde ons weg volg nie, maar ons weg baan en ons bring waar ons moet wees. – WDJ